Die Wandelende Zombie Sindroom
Om mee te begin
Een van die grootste bydraes wat die mediese hipno-analise aan die terapeutiese gemeenskap bied, is die sogenaamde Wandelende Zombie Sindroom (Walking Zombie Syndrome). Hierdie benaming mag ‘n bietjie grusaam klink, maar dit is myns insiens ‘n uitstekende beskrywing van hierdie toestand, hoewel die naam daarvan nie noodwendig afbreuk doen aan die diagnose nie.
Verduideliking van die Wandelende Zombie Sindroom
Die sogenaamde Wandelende Zombie Sindroom (WZS) word beskryf as ‘n toestand waarin iemand ‘n gevoel van depressie en onttrekking van die lewe ervaar. Hierdie gevoel mag op ‘n onbewustelike manier ‘n gevoel soos die dood wees. Hierdie sindroom kom veral voor by mense wat ‘n nabye dood ervaring (near death), ernstige siekte, ‘n koma, hoë koors en veral mense wat operasies onder narkose ervaar het. Bogenoemde is slegs maar enkele van die situasies waardeur ‘n sogenaamde dood-suggestie onbewustelik aanvaar word.
Die meeste emosionele en psigosomatiese uitdagings het dikwels dieselfde oorsaak. Hierdie oorsaak mag dalk ‘n ongeluk, besering, operasie, siekte of kragtige verlies wees. Dit is egter vir ons wel bekend dat iemand wat hierdie traumas beleef, of beleef het, ‘n oorweldigende negatiewe suggestie of suggesties aanvaar het. Hierdie tragiese omstandighede skep ‘n natuurlike hipnotiese omgewing wanneer die onderbewuste besonder ontvanklik vir negatiewe suggesties is.
Tydens hierdie gebeure, ervaar ons onderbewuste die bogenoemde ervaring as ‘n bedreiging vir ons lewe. Tydens hierdie gebeure, raak ons gedagtes ontsettend gefokus en mag ons enige oortuiging wat ons in ons stryd om lewe en dood as die waarheid aanvaar. Hierdie mag tot blywende gevolge hê. Hierdie nuut ontwikkelde oortuigings kan ‘n baie skadelike suggestie inhou wat ‘n impak kan hê op ons vermoë om te kan aanhou leef. Ons is dikwels nie eens bewus van so ‘n suggestie nie, aangesien die sogenaamde bedreiging van ons lewe nie deur ons bewuste redenasies geregistreer word nie.
Die Wandelende Zombie Sindroom (WZS) ontwikkel meestal na ‘n naby-doodservaring, soos bewusteloosheid, narkose, amperse verdrinking of ‘n gevoel van ek gaan nou doodgaan en meer. As ons, as ‘n voorbeeld, hospitaal toe gaan vir ‘n operasie, is ons nie verbaas om narkose te ontvang nie. Ons logiese verstand weet dat ons bewusteloos moet wees ten einde nie pyn te ervaar of om bewus te wees van die werk van die sjirurg (inderdaad die Afrikaanse spelling van chirurg nie. Ons emosionele sensoriese brein fokus op ons huidige bewustheid van gemak en die hoop op groter gemak as gevolg van die operasie. Daar is egter ‘n ander soort denke wat ons het. Hierdie denke is ons lewensondersteunende stelsel.
Hierdie denke gebeur in ‘n baie eenvoudige deel van ons brein wat min tot geen vermoë het om logies te redeneer nie, ons sogenaamde reptielbrein. Die reptielbrein dink in terme van swart en wit, dood of lewe. Die denke in hierdie deel van ons brein is baie ver verwyderd van ons logika en emosies. Hoewel ons logika narkose verstaan en ons selfs goed voel daaroor, voel ons lewensondersteunende stelsel egter dat die dood op hande is, veral as ‘n masker oor jou neus en mond geplaas word om asemhaling te inhibeer. Dit teken die gebeurtenis aan as doodgaan en reageer dienooreenkomstig daarop.
Daar kan heelwat verskillende gevolgtrekkings gemaak word wanneer hierdie deel van jou denke glo dat jy besig is om te sterf (of selfs reeds gesterf het) en elkeen van hierdie gevolgtrekkings het kragtige nagevolge. As ons glo dat ons op die punt staan om te sterf en dan ook ons bewussyn op enige manier verloor, sal daardie deel van ons denke glo dat ons reeds gesterf het. Wanneer hierdie oortuiging in hierdie deel van die brein aanvaar word, kan dit ons tot ‘n mate verander. Wanneer ek ‘n kliënt van die Wandelende Zombie Sindroom vertel, sê hulle dikwels: maar ek het nie aan lewe of dood gedink nie. Meeste mense, selfs al is hulle in ‘n redelik diep hipnotiese staat, sal dit moeilik vind om in terme van hierdie redenasie te dink. Dit gebeur juis omdat daardie denke in jou oerbrein of jou limbiese stelsel – jou onderberbewuste – geleë is. Dit maak net nie sin vir jou neokorteks, of dan, jou rasionele denke, nie. Dit maak egter wel sin vir jou oerbrein, jou onlogiese brein.
Wanneer iemand dan wel sterf as gevolg van ‘n beeld in hul gedagtes, glo ‘n deel van hulle dat hul wel dood is. Indien hierdie deel van jou glo dat jy dood is, is jy geneig om diensooreenkomstig dood op te tree. Jy kan lusteloos en moeg, energieloos, of selfs heeltemal emosieloos voel, soos ‘n Wandelende Zombie.
Depressie
Simptome van depressie mag hier tot die toneel toetree. Dit mag vir jou voel asof jy nie meer vol lewe is nie en dinge geniet nie. Jy stel nie meer belang in dinge wat jou voorheen geïnteresseer het nie. Jy voltooi dalk nie take waarmee jy begin het nie en jy mag ‘n gebrek aan vreugde ervaar in amper alles wat jy vantevore geniet het nie.
Ons voel dikwels dat ons net bestaan. Ons bestaan net en ons ervaar geen opwinding of bevrediging of ‘n gevoel van prestasie of bevrediging uit die lewe nie. Die lewe self word nou ‘n probleem en depressie kan in die prentjie ingevleg word. Jy voel nie dat jy beter word of dat jou pyn weggaan nie.
Vir die gebrek aan ‘n beter naam, het ons in hipno-analise hierdie soort ervaring, die Wandelende Zombie Sindroom gedoop.
Bewys dat jy lewe
Jy mag dalk soms sogenaamde bewyse benodig om jouself te oortuig dat jy inderdaad steeds lewe. Voorbeelde van sulke oortuigings kan die volgende wees:
- jy mag dalk pyn, fisiese probleme of ‘n soort stimulasie wil ervaar om te bevestig dat jy steeds hier is;
- sommige mense sal hulself beseer, sny of selfs vermink. Sodoende voel hulle pyn op ‘n fisiese vlak. Hulle kan ook hul bloed sien vloei of dit selfs proe. Die feit dat daar bloed is, is ‘n bewys dat jy nog lewe;
- rook is nog ‘n goeie voorbeeld. Die enigste manier waarop jy jou asem kan sien, is wanneer jy die rook uitasem, as nog ‘n bewys van lewe;
- ander voorbeelde is om jou hare te trek en te kyk hoe dit teruggroei; of om
- jouself te krap en soveel meer.
Om mee te eindig
Al daardie moeë gevoelens, die depressie, die lusteloosheid, die pyn en die onttrekking uit die lewe, die vrees en die angs – kortom, al daardie dooie gevoelens kan verdwyn om deur die lewe vervang te word. Hierdie gevoelens van die lewe was nog altyd daar, maar dit was so lank al onderdruk. Jou vermoë om te lewe is lamgelê met dood-suggesties. Inderdaad is die lewe die oplossing vir die Wandelende Zombie Sindroom.