Vry van rook
Belangrike nota
Voordat jy ʼn afspraak skeduleer om jouself te bevry van rook, is dit van uiterste belang dat jy eers die onderstaande artikel, asook die artikel oor hipnose op my webtuiste bestudeer, aangesien ons reeds, anders as in ander gevalle, met hipnose in ons eerste sessie begin.
Hierdie artikel alleen gaan jou nie laat ophou rook nie, maar dit sal die saadjies saai in jou proses om op te hou rook. Die inhoud van hierdie artikel word inderdaad seeding genoem in die hipnose-wêreld. Jy sal in hierdie artikel vele idees en voorstelle kry om jou te help om te begin om anders te dink rakende rook. Gedurende die proses van hipnose is waar ons die saailinge letterlike water gee om te groei en vrug te dra.
Die grootste ironie
Ek het in my jare van praktyk baie rokers ontmoet wat vir my baie verskillende verhale vertel in hul pogings om los te breek van rook.
Ek het kontrasterende stellings gehoor, soos:
- om op te hou rook is een van die moeilikste dinge wat ek nog gedoen het, of – ek kry dit glad nie reg om op te hou rook nie;
- om op te hou rook was die maklikste ding ooit. Ek het net nooit weer ‘n sigaret opgetel nie en dit het my nie die minste gepla nie.
Die verskil wat hierdie program bied
Die meeste ophou-rook programme maak gebruik van logiese, bewustelike en rasionele benaderings. Hierdie proses is verskillend in die sin dat ‘n kragtige proses van hipnose gevolg word.
Jy kan losbreek van rook sonder:
- enige onttrekking;
- irritasie; of
- honger
In Brittanje word die gebruik van hipnose deur die British Medical Association erken as die mees effektiewe hulpmiddel in die bevryding van rook.
Motivering is die belangrikste motiveerder tot sukses
Oorweeg gerus die volgende:
- ‘n 65-jarige man kom sien my vir hulp om van rook los te breek. Hy het meer as 60 sigarette per dag gerook en kon die effek van sy rook op sy liggaam voel;
- ‘n jongerige dame kom sien my vir hulp om op te hou rook. Sy rook net tydens sosiale byeenkomste en voel nie dat rook haar enigsins negatief raak nie;
- ‘n man in sy middel 50’s kry ‘n hartaanval en ondergaan ‘n dringende hart-operasie met vier hart-omlynings. Nadat hy uit die hospitaal ontslaan is, het hy nooit weer gerook, of enigsins ‘n sigaret begeer nie;
- ‘n Groep jong mense aan ‘n bekende Universiteit besluit om op te hou rook. Nie een van hulle was suksesvol nie. Hulle was jonk en lewenslustig en het nie die gevare van rook aan hul eie bas gevoel nie.
Die mislukkingsmorivering
Het jy al male sonder tal probeer om van rook weg te breek, maar telkens gevind dat jy onsuksesvol was? Dit het jou dalk oortuig dat jy ‘n slagoffer is en dat dit moeilik, selfs onmoontlik is om los te breek. Die gemiddelde roker probeer tussen vyf en sewe keer om op te hou rook. Hierdie idee mag jou demotiveer. Jy sal egter onsuksevol bly indien jy dieselfde ding oor en oor doen, maar ‘n verskillende uitkoms verwag. Wanneer jy anders begin dink, kan jy maklik en gemaklik jouself van rook bevry, sommer met die eerste poging.
Sogenaamde verslawings kan hier baie interessant raak. Navorsing bewys dat mense met ‘n verslawing waar daar geen substanste teenwoordig is, bv dobbel, inkopies, sosiale media en meer, tog dieselfde effek ervaar as in die geval waar daar wel substanse teenwoordig is. Enige sogenaamde verslawing is die resultaat van vrystelling van endorfiene in die brein, veral die vrystelling van dopamine. Dit is egter nooit genoeg nie en daarom word herhaling van dieselfde gedrag hier vereis.
As jy probeer om op te hou rook met een van die idees soos hieronder bespreek, kan dit moeilik raak om los van rook te breek.
Rook is ʼn verslawing
Jy word gekondisioneer om te glo dat jy ʼn verslaafde is, ʼn slagoffer sonder enige keuse. Jou liefdevolle regering en tabakmaatskappye het dit reeds reggekry om jou te kondisioneer om te glo dat jy ʼn verslaafde is. Farmaseutiese maatskappye het ook op die lawaaiwa gespring en jou vertel dat jy vasgevang is en dat jy hulle magiese dwelms nodig het.
Daar is geen bewys daarvoor dat ‘n sigaret breinveranderend is nie. Inteendeel weet ek van ‘n dwelm-verslaafde wat enigiets gebruik wat hy kan rook, drink, spuit, snuif of sluk. Hy rook egter nie sigarette nie. In sy woorde: As ek ‘n middel neem, moet dit vir my ‘n kick gee. ‘n Sigaret doen absoluut niks vir my nie.
Hierdie sogenaamde ontrekkingsimptome is niks anders as die simptome van angs nie.
Rook is ʼn gewoonte
Die bogenoemde mag aanleiding gee dat ons dink dat as rook nie ʼn verslawing is nie moet dit seer sekerlik ʼn gewoonte wees. Rook kan nooit ʼn gewoonte wees nie. ʼn Sogenaamde gewoonte is wanneer jy ʼn bepaalde gedrag oor en oor herhaal, ten spyte van die negatiewe gevolge op ‘n onbewustelike vlak. Dit bly egter elke keer jou keuse wanneer jy ʼn sigaret opsteek. Hierdie keuse raak later onbewustelik wanneer jy vir die soveelste keer ʼn sigaret opsteek.
Jy is altyd in beheer – jy maak altyd ʼn keuse om te rook.
Rook help my ontspan
Meeste rokers is van mening dat ʼn sigaret hulle laat ontspan. ʼn Sigaret laat jou nie ontspan nie. Inteendeel, dit veroorsaak eintlik net nog meer spanning!
Wanneer jy ‘n sigaret opsteek registreer jou primitiewe brein rook (soos die rook van ʼn veldbrand) wat onnatuurlik is vir mens en dier wat tot die dood kan lei. Jou outomatiese verdedigingstelsel wat ons ken as die veg-of-vlug reaksie word ge-aktiveer. Wanneer dit gebeur, is jou liggaam in ʼn japtrap gereed om maksimum krag en inspanning te gebruik om of weg van moontlike gevaar te hardloop (die vlug-reaksie) of om dit te beveg (die veg-reaksie). Adrenaline en noradrenaline galop nou deur jou sisteem om jou te beskerm en die krisis te oorleef. Dit het verhoogde spanning en angs tot gevolg.
Jou liggaam bly in ʼn verhoogde staat van gereedheid en onderdruk jou immuunstelsel. Dit kan nogal die moeite werd wees om jou polsslag voor en na ʼn sigaret na te gaan.
Jy mag dalk, ironies genoeg, glo dat rook jou laat ontspan. Dit is egter die diep asemteue wat jy neem wanneer jy ‘n sigaret intrek eerder as die sigaret self.
Rook verhoog my konsentrasie
Rokers glo dat rook hulle beter laat konsentreer en fokus. Inteendeel, die fokus van ‘n roker is soveel swakker as die van ‘n nie-roker. Die progressiewe blokkasie van jou are ontneem jou brein van suurstof.
Indien jy steeds dink dat rook jou help om te ontspan, dat jy meer ontspanne voel en derhalwe beter kan konsentreer, is die waarheid eerder dat ‘n gebrek aan konsentrasie eerder ‘n simptoom van angs is. Dit is dus ‘n denkfout om te dink dat rook jou beter laat konsentreer.
Rook verhoog my selfvertroue
Die ouer garde kan dalk nog die rook-advertensies onthou. Heroïese figure wat voorgestel word waar hulle al die genot van die ryk en beroemdes geniet, waar hulle net gemaklik deur elke situasie gaan met daardie skynsel van selfvertroue en sukses wat die aantreklike man of die pragtige vrou aantrek. Rokers is voorgestel as glansryke, gesofistikeerde en elegante mense. Hulle het alles gesimboliseer wat elke mens wou wees: selfversekerd, aanloklik, onweerstaanbaar… met ʼn tikkie gevaar.
Maar inderwaarheid gee rook vir jou geen selfvertroue nie. Dit beeld jou uit as ʼn afhanklike en swak mens wie gyselaar gehou word deur ʼn sigaret.
Rook help met verveling
Jy rook omdat jy verveeld is. Hoeveel beter sou jy daardie rooktyd nie kon benut nie?
Allen Carr sê dan ook tereg dat daar niks interessant is aan ʼn sigaret nie.
Dit vat wilskrag
Jy hoef nie jou lewe te verander nie.
Wilskrag kan eenvoudig net nie hou nie. Iewers gaan jou wilskrag ingee. Wilskrag is soos om aan ʼn tak te hang. Jou arms gaan uiteindelik moeg raak en ingee. Jou liggaam is eenvoudig nie ontwerp vir wilskrag nie. Jou liggaam is geprogrammeer om spontaan te reageer. Jy dink nie oor asemhaling, spysvertering ens. nie.
Jy kan losbreek van rook sonder enige moeite of wilskrag. Niks gaan verander nie, behalwe dat dit net meer pret gaan wees.
Jy moet ophou rook
Rook is nie onwettig nie. Niemand verbied jou nie. Daar is geen rede hoekom jy moet ophou nie. Dit is jou keuse. Rook mag wel al mense doodgemaak het, of dalk bygedra het tot hul dood, maar die teendeel is ook waar. Daar is rokers wat jonk gesterf het en daar is rokers wat baie oud geword het.
Niemand hou daarvan om voorgeskryf te word wat om te doen nie. Veral nie as jy aan jouself voorskryf nie. Hoeveel keer het jy gehoor dat jy iets moet doen of nie mag doen nie, om agter te kom dat jy net uit beginsel die teenoorgestelde sal doen.
Hoe harder jy probeer om nie aan daardie sigaret te dink nie, hoe meer sal jy daaraan dink en hoe aantrekliker raak daardie sigaret.
Hoe sou dit voel om sommer net jou rook onder sy jis te skop en te fokus op jou vryheid daarvan. Om los te breek van rook, beteken nie die verlies van jou vryheid om te rook nie. Dit beteken nie jy is gedepriveerd van rook en uiteindelik nie lewe nie. Dis juis hierdie gevoelens van ek moet en ek kan nie wat gevoelens van deprivasie veroorsaak. Hierdie gevoelens veroorsaak gevoelens van woede, verwyt, verlies, frustrasie en selfbejammering omdat jy mag voel dat jy iets wat jy graag wil hê, nie mag kry nie.
Dit is ‘n big deal
Sekere skrywers beklemtoon dat jou vryheidsdag ʼn groot dag in jou lewe moet wees. Jy moet almal vertel daarvan. Dit gaan egter net meer stres op jou sit en jou laat voel dat jy aan verwagtinge sal moet voldoen. Hierdie verwagting veroorsaak juis meer angs wat ‘n bose kringloop veroorsaak.
Daar is nie so iets soos die regte dag nie. Daardie dag kan enige tyd, sommer nou wees en dit is op sigself ook geen big deal nie.
Netso is jou laaste sigaret nie ʼn big deal nie. Dit is net nog ʼn sigaret. Elke keer as jy ʼn sigaret dooddruk, het jy in elk geval opgehou rook. Dit gaan dus nie daaroor om daardie laaste sigaret dood te druk nie – dit gaan eerder daaroor om nie weer ʼn sigaret op te steek nie.
Jy sal bly smag na ‘n sigaret
Ek wonder of jy al stories gehoor het soos: rook gaan sit vir sewe jaar in jou sisteem. Of: ek het al 30 jaar terug opgehou rook en ek smag steeds elke dag na ʼn sigaret? Sulke stellings hoort enige roker dadelik na ʼn sigaret te laat gryp en dit sluit aan by die wanpersepsie dat jy verslaaf is.
‘n Smagting hou egter net sowat een tot drie minute, daarna hou jy dit self in jou kop, in jou gedagtes in stand. Daar is nie iets soos ʼn fisiese smagting nie.
Allen Carr noem ʼn smagting slegs ʼn leë onsekere gevoel. Carr het dit baie goed raakgevat met die woord onsekere. Daar is nie iets soos ʼn smagting na ʼn sigaret nie, maar ʼn sogenaamde craving is eerder ʼn angstigheid of stres of selfs ʼn depressie.
Die waarheid is egter dat na die doodmaak van elke sigaret, jou liggaam begin om ditself te genees.
Jy moet jou lewe verander
Die slegte nuus is dat dit nie vir jou gaan voel of jou lewe radikaal anders gaan wees soos wat die groot guru’s jou probeer wysmaak nie. Jy gaan wel gesonder wees, makliker asemhaal, meer energie hê ens. ens., maar jy gaan dit nie juis agterkom nie.
Die goeie nuus is dat jy jou lewe nie hoef te verander nie. Jy hou per slot van sake net op met rook – dit is nie asof jy jouself bekeer of jou lewe radikaal omkeer nie. Jy hoef nie die oog om die hoek te vermy nie, jy hoef nie wilde partytjies en roker-vriende te vermy nie. Behalwe dat jy nie hierdie situasies kan vermy nie, kom ons ou vriend: watookal jy weerstaan, sal sterk staan, weer in die prentjie. Dit klink net na hopeloos te veel moeite!
Jy sal gewig optel as jy ophou rook
Wanneer jy ‘n wilskrag manier volg om op te hou rook, of indien jy rook met ander dinge wil vervang, gaan jy vet word. Dis nou wanneer jy aanneem dat dit kos is wat jou vet maak. Dit is egter nie die geval nie. Dit is eerder negatiewe emosies soos stres en depressie wat jou gewig laat optel. Sien my artikel Verloor gewig op hierdie webuiste.
Wat wel waar is, is dat jou smaakpapille weer hul sensitiwiteit terug sal kry wanneer jy ophou rook. Dit is wel waar dat jou kos en ook drank lekkerder mag smaak. Jy hoef dit nie te beperk nie. Jy kan dit inteendeel nog meer geniet sonder om vet te word.
Jy hoef nie jou drankie te laat staan nie
Jy hoef dus ook nie op te hou drink of jou drankies te tel nie.
Jou smaaksensasies sal terugkeer en jy kan jou drankie selfs meer geniet, sonder die verdowende effek van rook op jou smaakpapille.
Jy het kunsmatige nikotien-vervanging nodig
Daar is soveel nikotien-vervangingsterapieë soos pille, plakkers, kougom, neussproei, e-sigarette en inhaleerders wat jou kan help om op te hou rook.
Navorsing wys egter dat daar net ʼn tien present suksessyfer met hierdie terapieë behaal word. Jy het nie nikotien nodig nie. Jy hoef dit nie te vervang nie. Jy is immers nie ʼn hulpelose slagoffer van nikotien nie. Die oplossing hier is selfs nog makliker as dit. Baie kundiges wys die gebruik van Nikotien-vervangingsterapieë af omdat dit jou harttempo en jou adrenalienvlakke opjaag; jy mag simptome soos naarheid en slaapprobleme ervaar en dit mag jou ʼn spul geld uit die sak jaag. Maar dit is ten minste beter as rook (die tien present van kere dat dit wel werk)!
Jy weet reeds dat nikotien nie verslawend is nie.
Dit is moeilik
Sommige mense maak dit net so moeilik vir hulself wanneer hulle glo dat hul iets moet opgee.
Hulle probeer onsuksesvol om minder en minder te rook.
Om minder en minder te rook beteken dat jy begin om uit te sien na die volgende sigaret.
Om ligter sigarette te rook gaan net veroorsaak dat jy ‘n ligter sigaret net soveel dieper wil intrek en meer daarvan wil rook om dieselfde effek te verkry.
Hoe langer jy rook, hoe moeiliker is dit om los te breek
Die waarheid is eerder die teenoorgestelde: hoe langer jy rook, hoe meer ervaar jy die effekte en gevolge van rook. Jonger mense mag dit moeiliker vind om hulself van rook te bevry, aangesien hulle (net soos mense wat minder rook, of ligter sigarette rook) nog nie die negatiewe effekte van rook ervaar het nie.
Hoe duurder dit raak, hoe groter is die kans dat jy rook sal laat gaan
Daar is die irrasionele idee dat hoe duurder dit raak om te rook, hoe makliker dit sal wees om op te hou rook.
Mense sal eerder geld op ander dinge besnoei as op hulle sigarette. Die behoefte aan sigarette word op dieselfde vlak as kos gereken. Dit is deel van vaste uitgawes.
Aangesien dit nie gaan oor ʼn verslawing of oor nikotien nie, is daar bewyse dat daar in Engeland meer en meer sigarette gerol word juis om kostes te bespaar.
Maar wat van die onttrekkingsimptome?
Wanneer jy vry van rook is, sal jy dadelik begin om:
– skoon, vars lug in te asem;
– meer ontspanne te raak;
– meer energiek te voel;
– gesonder te wees en voel;
– beter te konsentreer;
– dit te geniet om na openbare plekke te gaan;
– ʼn beter geheue te hê;
– vars te voel en ruik;
– beter te lyk;
– gesonder tande te hê;
– minder angstig te voel en oor die algemeen beter oor jouself te voel;
– meer in beheer van jou lewe te voel;
– meer geld te hê om iets spesiaal daarmee te doen;
– ʼn gelukkiger en gesonder gesin te hê.
Sien jy die verskil tussen die mislukkingsmotivering en die suksesmotivering?
Die mislukkingsmotivering fokus op wat jy nie wil hê nie soos hierbo gesien. Die suksesmotivering fokus op wat jy wel wil hê.
Dit is die verskil wat die verskil maak. Dit is die verskil wat hipnoterapie as tegniek suksesvol maak.
Dit is soveel makliker om te beweeg na wat jy wil hê as om weg te beweeg van dit wat jy nie wil hê nie. Om dit te illustreer: probeer om nie aan ‘n sigaret te dink nie… Probeer regtig hard. Waaraan bly jy dink?
Ons fokus op die suksesmotivering met hipnoterapie – om jou te help om anders oor rook te dink. Sodra jy die suksesmotivering navolg sal dit die maklikste ding wees om moeiteloos op te hou rook.
Groot dinge kan gebeur vanaf die eerste oomblikke wanneer jy jouself bevry het van rook. Hierdie groot dinge sal nog jare voortduur aangesien die liggaam ditself vinnig herstel.
Wat jy kan doen
Nie net sal hipnose jou help om rook te los nie, maar jy sal ook leer om self-hipnose te doen om jou verder te help. Die kern van hipnose is ontspanning, in jou diep asemhaling. Sodra jy ontspanne is, kan jy jou gedagtes verander. Dit is wat ons met hipnoterapie gaan doen.