‘n Keuse tussen twee wêrelde.
Die mens se gebrek aan selfbewussyn is die oorsaak van alle sondes en misdade – Martin Versveld, Afrikaanse filosoof - © Jorgan Harris

Sielvolheid (Mindfulness)

Afrikaanse kant-nota voordat ons begin

Daar is tans ‘n onsekerheid oor die vertaling van Mindfulness in Afrikaans. Die groot Afrikaanse Mindfulness-guru, Johannes De Villiers, wat ‘n lieflike boek oor Mindfulness geskryf het, verkies die term Mindfulness.  My vertaling as Sielvolheid kry nie groot aftrek nie, aangesien die term siel maklik met godsdiens verwar kan word.  Mindfulness het egter niks met ons spirituele siel te make nie. Ons vind dieselfde dilemma by die Afrikaans vir PsychologyPsychology hoort nie Sielkunde te heet nie, aangesien Psychology niks met die siel te make het nie, maar eerder met die psige van die mens.  Die korrekte Afrikaanse woord vir Sielkunde hoort eerder Psigologie te heet, maar hierdie term het nog nooit aftrek gekry nie.  Daarom volstaan ek met die woord Sielvolheid in die Afrikaanse idioom, synde die psige.

Die twee wêrelde

Jy staan voor ‘n keuse tussen twee wêrelde wat ek vir jou wil beskryf. Die een wêreld is ʼn beperkte en vreesaanjaende klein wêreldjie. Die ander een is ʼn eindelose, pragtige, wonderlike, vreugdevolle en triomfantlike wêreld.

Die eerste wêreld is die een waarin die meeste van ons leef. Hierdie wêreld is ‘n bewustelose, siellose, vervelige, dog gejaagde lewe.

Jare gelede was daar ʼn bier-advertensie op televisie. Hierdie advertensie speel af in ‘n kroegtoneel waar al die mense dieselfde lyk: almal dra dieselfde swart pakke en wit dasse; almal drink ʼn spesifieke tipe bier en die agtergrondklanke (die sogenaamde white noise) klink soos die geblêr van skape. Die volgende oomblik kom daar ʼn karakter die kroeg binne, met ʼn wit broek en ʼn blommetjieshemp aan. Hy is heeltemal anders en bestel dan ook ʼn ander tipe bier as al die ander. Almal gaap hom aan. Hoe kan hy so anders wees? Hy pas net nie in nie. Staan uit soos ‘n seer vinger.

Die meeste van ons leef egter soos ons groot gemaak is. Ons word geleer om te lewe soos al die ander mense om ons lewe. Ons moet groot word, skool klaar maak en as ons gelukkig is, kry ons tersiêre onderrig en ons begin werk op ‘n sekere ouderdom. Ons werk om ons lewe so gemaklik moontlik te maak deur bloot net te lewe en dalk in die proses ryk te word. Ons trou, kry kinders op ʼn sekere ouderdom, werk en kry ʼn huis met ʼn white picket fence, ʼn tuin, ‘n kanarie en ʼn hond. Ons maak ons kinders groot en doen ons werk elke dag getrou. Ons werk om eendag suksesvol af te tree, ontvang ʼn goue horlosie, ontspan op die ouetehuis se stoep, maak seker ons testament is in orde en dan dood ons. Ten minste kan ons ‘n kis met goue handvatsels bekostig. Wat ʼn miserabele, voorspelbare lewe om te leef!

Dis immers hoe meeste mense leef. Is dit hoe ons hoort te lewe, wat ons lewensverwagtinge hoort te wees? Ons jaag prestasie, geld en ʼn spoglewe na, waarmee ons, op Facebook, oor ons en ons kinders se prestasies kan spog?

Maar dis ook ʼn vreesaanjaende lewe. In hierdie lewe word jy wat die gemeenskap van jou verwag om te wees en te doen. Die maatstaf is nou nie meer jyself nie, maar faktore vanuit die omgewing om jou. Jy vergelyk jouself met mense om jou en voel miserabel en al meer na ʼn mislukking indien hulle meer as jy bereik het. Jy het geen selfrespek oor nie en begin bang en angstig te voel. Jy voel bloot nie goed genoeg nie.

In hierdie wêreld is daar geen doel en sin nie. Dit is ʼn wêreld wat leeg en sinneloos is. Jy is verward en probeer net oorleef. In hierdie wêreld raak jy net meer en meer negatief en gaan die skoonheid van ons bestaan by jou verby.

Dan is daar ‘n ander wêreld.

In hierdie wêreld is daar ʼn om te wees (to be). Daar is bestaan. Daar is suiwer denke. Daar is die Groot Gedagte (God, as jy wil). Hier is jy ʼn produk van die Groter Gedagte, hoe jy uniek uitgedroom is. In hierdie wêreld is jy oneindig uniek. In hierdie wêreld weet jy net dat jy ʼn taak het om te voltooi, al weet jy nie aldag wat hierdie taak is nie. In hierdie wêreld voel jy nie minderwaardig nie. Jy voel nie asof jy hoef te ontsnap van die werklikheid af nie. Jy het nie skadelike en kunsmatige hulp van buite af nodig nie.

In hierdie wêreld is jy nie langer bang nie, maar vol verwondering. Vol verwondering oor die wonder van die heelal, die onverstaanbaarheid van die grootsheid daarvan en die afwesigheid van ruimtelike- en tydsbeperkings. Daar is geen einde aan die grense van ons uitspansel nie. In hierdie hele uitspansel is jy so klein dat jy eintlik niks is en tog is jy so groot… In hierdie wêreld het jy net nodig om mooi na jouself om te sien en om te weet dat jy altyd keuses het. In hierdie wêreld is daar ʼn nimmereindigende vreugde en geluk – die avontuur van die lewe self!

Jy kan die eerste wêreld en dan ook jou uitdagings kies of jy kan die tweede, vrye wêreld, sielvol geniet. Die keuse is joune.

Die sielvolle lewe

Sielvolheid beteken om in elke oomblik te lewe. Om elke oomblik van jou lewe aan te gryp en die beste daarvan te maak. Wanneer jy sielloos lewe, mag jy jouself bekommer oor die toekoms, wat lei tot angsversteurings. Om in die verlede rond te dwaal, lei weer tot depressie. Om oorweldig te voel deur die toekoms of die verlede, neem ons weg van ʼn lewe in die hede.

Mindfulness of te wel, sielvolheid, beteken ten diepste om in die hier -en-nou te lewe. ‘n Siellose lewe is waar die lewe sonder sin net by ons verby gly. Navorsing toon dat sielvolheid benewens angs en depressie suksesvol is in ook die behandeling van psoriase, fibromalgie en chroniese pyn.

Om sielvol te lewe is so bevrydend. Wanneer jy sielvol leef is jy minder krities. Sielvolheid bevry jou van oordeel. Jy is minder krities op ander, maar veral minder krities op jouself. Dit laat jou toe om dinge te ervaar sonder om jouself te beoordeel, assesseer of analiseer. Wanneer jy jouself analiseer, lei dit tot analise paralise. Dit bring jou nêrens.

Met sielvolheid geniet jy bloot net dit wat jy in die hier-en-nou ervaar.

Mense wat sielvol lewe:

  • is geneig om minder benoudheid en bekommernis te ervaar.
  • hulle het ʼn groter begrip en aanvaarding van hulle emosies en herstel gouer van ʼn slegte gemoedstoestand.
  • hulle het ook minder negatiewe gedagtes en kan makliker van hierdie gedagtes ontslae raak wanneer hulle op die voorgrond tree;
  • is meer in beheer en het ʼn groter vermoë om hulle innerlike gedagtes en gevoelens te oorwin of te verander sodat hulle nie reageer op hulle onmiddellike negatiewe impulse nie;
  • het ʼn beter en meer stabiele self-esteem en is minder afhanklik van faktore van buite om hulle beter te laat voel.

Sielvolheid is net ʼn wees in die wêreld, om net teenwoordig te wees en bewus te wees van onsself en van die wêreld om ons. Dis ʼn bewustheid wat jou toelaat om te ervaar met ʼn bewustheid en te observeer sonder kritiek, oordeel, assessering of analise. Dit gaan oor deernisvolheid met jouself en met jou wêreld om jou. Sielvolheid is om uitdagings en krisisse bloot te observeer en met ʼn vriendelike nuuskierigheid te kyk hoe dit soos donker wolke net verby jou sweef, sonder om daarin vasgeval of betrokke te raak. Jy verstaan dat dinge wat gebeur net moeilik, sleg, verkeerd ensovoorts is wanneer jy kies om só daaraan te dink. Jy vra nie vrae oor of dit reg of verkeerd, goed of sleg is nie. Jy raak bloot net bewus van jou ervaring daarvan. Jy raak net bewus van wat nou om en in jou gebeur.

Sielvolheid is ʼn baie stil ervaring. Daar is nie noodwendig verrukkende gevoelens van saligheid en ekstase nie. Dit is eerder ʼn kalm en stil gevoel sonder enige angs. Vir my is dit soos om ‘n kat in stilte te streel en bewus te raak van die ritmiese gespin van die kat en die rustigheid wat dit teweeg bring.

Met sielvolheid is daar ook nie noodwendig ʼn bepaalde fokus betrokke nie. Dit is eerder ʼn bewustheid van wat nou aan die gang is, sonder om enigiets te probeer. Dit is wanneer jy nie noodwendig ʼn strewe het nie, nie ʼn smagting beleef nie, nie ʼn soeke het nie, nie ʼn doelwit het nie. Dit is asof jy net bewus raak van wat nou gebeur en dit net toelaat om te gebeur, sonder om dit te interpreteer of enige iets daaraan te doen. Sielvolheid gaan oor observasie met jou vyf sintuie, eerder as ʼn reaksie, monitering of analisering van wat jy nou ervaar. Dit is soort van ʼn meditasie.

Jy is net ten volle bewus van die hier-en-nou. Bewus van jou gedagtes en gevoelens en om hulle net te laat gaan eerder as om te probeer om hulle te verstaan, hanteer of te bestuur. Jy raak nie oorweldig daardeur nie. Dit is asof jy net terugstaan en kyk hoe hierdie gevoelens verby gaan sonder enige betrokkenheid van jou kant af. Soos om na ‘n vertoning of film te kyk, so op ‘n afstand.

Die teenoorgestelde hiervan is sielloosheid. Die gevoel van sielloosheid is ʼn gevoel van auto pilot.  Om buite jouself te voel. Om geïsoleerd van jouself te wees. ʼn Obsessie met die verlede en ʼn vrees vir die toekoms.

Met sielvolheid kan jy dus net stilweg bewus raak van jou negatiewe gevoelens en dit te identifiseer, te aanvaar, eerder as om dit te analiseer, te probeer onderdruk of selfs daarteen te veg. Hoe harder ons probeer om dit te onderdruk of om daarvan ontslae te raak, hoe meer sal dit op die voorgrond verskyn.

Wanneer ons hierdie gevoelens en gedagtes bloot net aanvaar, is wanneer hulle weg sal gaan. Dit is juis hier waar ons met volle bewustheid werklik kan lewe. Hier kan ons kalm en in die hier-en-nou leef.

Dit is ook so dat wanneer ons probeer om positiewe gevoelens op onsself af te forseer, dit nie sal werk nie. Ons kan bloot net toelaat dat hierdie gevoelens op hul eie tyd kom, soos hulle wil. Dit is wanneer hulle toevallig kom.

Die kernkomponente van sielvolheid

Jy is met alles geskape wat nodig is om suksesvol te wees.

Die fokus hoort dus nie te wees op wat verkeerd met die mens is nie, maar eerder op dit wat reg is met die mens. Dit gebeur ook wanneer daar vrae gevra word oor wat die positiewe intensie agter gedrag was, eerder as om die gedrag self te veroordeel. Dit vra dalk van ons om nie te oordeel nie, maar om te vra wat die intensies van ander persoon is.

Jy kan dus jou emosie aanvaar en bewus raak van die boodskap wat jou emosie vir jou wil gee, sonder om dit te analiseer, daarby betrokke te raak of om jouself in ʼn boksie te plaas. Wanneer jy hierdie verstaan, kan jy jou wêreld ʼn beter plek maak.

Breek weg van jou denke

Ons gedagtes beïnvloed ons gevoelens. Hoe meer aandag ons aan ons gedagtes gee, hoe meer sal ons besef dat ons gedagtes nie feite is nie, maar blote interpretasies. Depressie, as ʼn voorbeeld, kan net ontstaan wanneer ons harde negatiewe gedagtes of oordele fel aan ons emosies. Angs, aan die ander kant, kom van irrasionele gedagtes oor die toekoms. Sulke gedagtes begin altyd met: wat as? Deur krities of veroordelend te wees beperk jy net jouself.

Dis ʼn om te wees eerder as ʼn om te doen

Om te doen is doelwit ge-oriënteerd. Dit is gefokus op ʼn doel, om byvoorbeeld beter te voel. Dit is veroordelend wanneer ons ons gevoelens beoordeel as goed of sleg. In die om te doen modus word daar voortdurend gefokus om van die negatiewe gevoelens (in die verlede) ontslae te raak, of om te vrees vir die toekoms in plaas daarvan om net van hierdie gevoelens bewus te raak sonder om hulle te be-oordeel as noodwendig negatief of sleg.

Dit is juis hier waar sielvolheid vir ons Westerlinge ʼn skok behels. In ons kultuur gaan dit oor die volgende:

  • hoe meer jy insit, hoe meer suksesvol sal jy wees;
  • hoe meer jy werk, hoe suksesvoller sal jy wees;
  • hoe meer jy saamwerk, hoe beter.

Hoe meer jy doen hoe meer probeer jy om jou huidige uitdagings te vermy, in plaas daarvan om te fokus op wat jy wil hê.

Sielvolheid gaan daaroor om net bewus te wees van waar jy nou is op hierdie oomblik, met volle diepte, rykheid en ʼn breër ervaring, soos wat ek dit hieronder verder bespreek.

Skakel in op jou intuïsie

Intuïsie is niks anders as om net bewus te wees en om in te skakel op jou vyf sintuie. Maar dit is ook ʼn bewustheid van jou eie aanvoeling, vry van jou denke. Jy kan maar jou voorgevoel, jou intuïsie vertrou. Dit het jou nog nooit in die steek gelaat nie. Hoeveel keer in jou lewe het jy bloot net gevoel om iets te doen, net om later agter te kom dat dit presies die regte ding was om te doen?

Ons word beroof van ons bewustheid en die inskakeling van ons bewustheid deur al die dinge wat rondom ons gebeur. Ons word so geabsorbeer deur die dinge wat om ons gebeur, deur al die slegte nuus, al die negatiwiteit, dat ons ons eie sielvolheid vergeet.

Luister na jou liggaam

Sielvolheid beteken ook om weer in kontak met jou liggaam te kom. Om te luister na wat jou liggaam jou vertel. Wanneer jou liggaam jou vertel dat iets reg of verkeerd voel kan jy dit maar ernstig opneem, daarna luister. Dit gebeur wanneer jy die distorsies van jou denke uitskakel. Jy voel net aan dat iets reg of verkeerd voel.

As jy ongemaklik oor iets voel, sonder jou denke, mag jou gevoelens jou waarsku dat iets nie reg is nie. Jy kan hierdie gevoelens maar vertrou. Dit is jou gevoelens wat jou nog altyd vertel het dat iets reg of nie reg is nie. Dit is jou gevoelens wat nog altyd gesorg het dat jy oorleef.

Die proses van sielvolheid

Asemhaling

Om asem te haal is om te lewe. Volgens die Heilige Geskrifte het God die mens geskape as net ‘n lewelose liggaam. Dit is eers nadat God Sy eie asem in die mens ingeblaas het, dat hy begin lewe het. Asemhaling is om te wees en is seker die heel belangrikste aspek van sielvolheid. Ons asemhaling is die verskil tussen lewe en dood – nie net in ‘n fisiese sin nie, maar ook in ‘n spirituele sin. Die Latynse woord vir asemhaling is die woord spiritum. Hierdie woord verwys nie net na asemhaling nie, maar dit vewys ook na die siel.

Ons asemhaling verander soos ons gemoedstoestand verander. Wanneer ons kwaad of gespanne is, word ons asemhaling kort, vinnig en vlak. Ons asemhaling raak vinniger as ons opgewonde is en stadiger en voller wanneer ons gelukkig is. Wanneer ons bang is, hou ons selfs op asem haal. Wanneer jy stadig en diep asem haal, kry jy ook beheer oor jou gedagtes en gevoelens. As jy daaraan dink, is jou asemhaling die een ding waaroor jy altyd absolute beheer het.

Jou asemhaling kan jou help om alles stadiger te maak. Om jou in die oomblik van die nou te bring sodat jy die kans kry om bewus te raak van wat jy dink en voel en waarmee jy besig is.

Dis juis wanneer jy asemhaal dat jy in die oomblik van die hier-en-nou is.

Jy kan jouself voorstel dat jy by die see is. Branders kom in en gaan uit. Met elke teug wat jy inasem, is dit soos die see wat terugtrek en elke teug wat jy uitasem, is die brander wat breek op die strand. Miskien kan jy wonder hoe ver die volgende brander op die strand sal uitspoel, soos jy uitasem. Of wonder hoe ver die see weer sal terugtrek met die volgende teug wat jy inasem.

Ons is so haastig en probeer altyd soveel moontik in ons dag in te prop. Ons multitask en ons sit nie meer stil en haal diep asem nie. Vlak asemhaling hou jou liggaam in ʼn vorm van paniek wat gepaard gaan met ʼn vinnige hartklop, koue of sweterige hande en nekspasmas. Paniek is die direkte gevolg van chroniese woede, angs en skuldgevoelens. Dit veroorsaak die sogenaamde veg-of–vlug reaksie. Die reaksie om te oorleef in gevaar of wat deur ons denke as gevaar geïnterpreteer word. Dit is hierdie wrede siklus wat gebreek moet word.

Ons raak so gespanne oor ons valse sin van sekuriteit en oorlewing dat ons hiperventileer as ʼn onmiddellike reaksie op spanning en die gedagte dat jy nie goed genoeg is nie.  Jy raak uit voeling met die wêreld. Jy fokus op vrese oor dinge wat moontik mag gebeur, wat in elk geval nooit gebeur nie. Jy hiperventileer uit angs oor die gevolge, fisies en emosioneel as jy jou teikens by die werk nie sou bereik nie.

Jy gaan net in kontak met jouself kom wanneer jy stadig en diep asemhaal. Gelukkige mense haal stadig en diep asem. Gaan kyk gerus na ʼn gelukkige baba of jou troeteldier. Hulle haal rustig en diep asem.

Indien jy diep asemhaal, het jy:

  • ʼn ontspanne fokus;
  • ʼn kreatiewe visualisering;
  • laterale denke;
  • insigvolle probleemoplossing;
  • ʼn heel-brein funksie;
  • topprestasie;
  • transformerende en transendentale ervaringe;
  • diep asemhaling kan help met pyn, woede, verhoudings- en daaglikse spanning.

Dis juis jou asemhaling wat jou van die kern van jou fisiese welsyn neem na die vereniging met jou verstandelike en spirituele vermoëns.

Om die belangrikheid van diep asemhaling te beklemtoon, word die endorfiene wat tydens ʼn diep asemteug vrygestel word, vergelyk met ‘n pynstiller wat meer effektief as morfien is. Watter kragtiger manier is daar om emosionele pyn te verlig teenoor die eerste wêreld? Dit het die vermoë om nie net fisiese pyn nie, maar ook emosionele en selfs spirituele pyn te verlig.

Ontspanning

Ontspanning is die teenvoeter vir spanning en die gevoel van nie goed genoeg nie. Ontspanning begin by diep asemhaling. Wanneer jy ontspanne is, is wanneer jy al die energie wat in jou liggaam verlore geraak het as gevolg van spanning weer kan terugsit in jou denke; dit is wanneer jy meer breinkrag tot jou beskikking het. Jy weet reeds hoe meer jy jouself forseer om iets te doen of nie te doen nie, hoe meer die teenoorgestelde sal gebeur. Soos Jung se stelling: whatever you resist, persists of my vertaling in Afrikaans: watookal jy weerstaan, sal sterk bly staan. Hoe meer jy iets probeer weerstaan, hoe meer sal dit weer en weer opduik in jou pad en voor jou kom staan. In plaas daarvan om die woorde van moet en moenie te gebruik, kan jy nou die woorde: Ek kies om…, ek wil… te gebruik. Jy het nog altyd keuses. Met hierdie wete kan jy bloot toelaat dat jou hele liggaam meer en meer ontspan met elke diep asemteug wat jy neem.

Jy kan enige tyd ontspan, selfs al is jy besig met ʼn bepaalde taak. Navorsing bewys dat asemhaling die kragtigste manier is om spanning te hanteer en ontspanning teweeg te bring.

Ontspannig help om jou kop helderder te kry, jou energievlakke te verhoog en jou bui te verbeter. Aanvanklik is die voordele subtiel, maar dit raak al hoe meer sigbaar, hoe meer jy leer om te ontspan. Dis hier waar jou intuïsie oorneem en vir jou al die vreugde verskaf om net dekadent te leef. Dis ook hier waar jy dieper insigte verkry.

Die stadige lewe

Life moves pretty fast. If you don’t stop and look around once in a while, you could miss it – Ferris Bueller.

Soms jaag ons in ons lewe die materiële soveel na, dat ons heeltemal van onsself in die proses vergeet. Ons verloor voeling met onsself.

Voorstelle vir ‘n meer sielvolle lewe:

  • boek vir jouself tye in jou dag uit vir jouself;

In hierdie tyd, al is dit aanvanklik net 10 minute per dag, sit net en wees.  Doen niks, wees in die oomblik. Raak stil en in voeling met jouself.

  • doen een ding op ‘n slag

    Doen een ding op ʼn slag, maar doen dit sielvol. Daar is ʼn Zen spreekwoord wat sê: Wanneer jy loop, loop. Wanneer jy eet, eet. Dis wanneer jy een ding op ʼn slag doen, dat jy dit klaar sal doen en ʼn goeie werk daarvan sal doen.  Bloot omrede jy daarop fokus, sonder die modewoord van multitasking.

  • doen minder

Ons jaag na wind. Ons wil te veel dinge op ‘n slag doen en lewer dan halwe, afskeep werk.  Deur minder op ‘n slag te doen gee jou nie net die geleentheid om dit ordentlik, volledig te doen nie, maar deur een ding op ‘n slag te doen help jou om dit juis sielvol te kan doen en egter te geniet.

  • neem jou tyd

Wanneer jy ʼn ding doen, neem jou tyd. In aansluiting hierby, help dit jou om te fokus en verbeter dit die kwaliteit werk wat jy lewer.

Jy kan gerus ook die volgende doen:

  • wanneer jy eet, eet sielvol en met ʼn gewaarwording van jou kos sowel as jouself. Maak ‘n punt daarvan om by ‘n tafel te gaan aansit vir ete, al is dit vir net ‘n toebroodjie.
  • jy kan stil raak in jou tuin – net vir ʼn slag weer na elke blom in die fynste besonderhede gaan kyk, elke blaar en takkie. Sielvol soos ʼn kind wat ʼn blom vir die eerste keer sien.
  • jy kan op jou stoep sit en lank net kyk na die sproeier. Met jou vyf sintuie bewus raak van hoe die water in alle rigtings spat, jy kan luister na die gespuit van die water, die reuk van water op gesnyde gras. Selfs ʼn briesie van die water teen jou vel en tong voel en proe.
  • wanneer jy jou vyf sintuie maksimaal benut, kan jou pad werk toe ook vir jou nuut en vars word.
  • jy kan selfs sielvol tande borsel, stort of jou naels knip!
  • jy kan ‘n oomblik neem om ‘n potjie heuning te vat en ‘n lepel daarin te druk. Laat die heuning van die lepel afloop, terug in die potjie. Raak met jou vyf sintuie bewus van hoe hierdie heuning rustig, sonder enige haas, net terugloop. Dink aan absoluut niks, behalwe om net bewus te raak van jou gedagtes, sonder om dit te analiseer of daarby betrokke te raak. Fokus alleenlik op die vloei van die heuning terug in die potjie. Haal asem en ontspan en wag tot die laaste druppel heuning terug in die potjie afgedrup het. 

Hier-en-nou

Sielvolheid plaas die klem op die ervaring, nie op die resultaat nie. Die ervaring is so belangrik. Die reis selfs is eerder ons bestemming as die bestemming self.

Die enigste tyd wat bestaan, is nou. Die verlede bestaan alleenlik in jou brein, as ʼn herinnering. Die toekoms bestaan alleenlik as ʼn fantasie, of ʼn vrees.

Sielloosheid is wanneer ons nie meer in die nou lewe nie en wanneer die oomblikke by ons verbygaan.

Die hele lewe bestaan net uit oomblikke. Dit bestaan uit die een oomblik tot die volgende oomblik – vry van die beperkinge van tyd en ruimte. Wanneer ons dus die oomblik van nou verloor, is wanneer ons sielloos raak en sielkundige uitdagings ontstaan.

Wanneer jy in die nou bewus raak van ʼn emosie en wat dit vir jou probeer vertel, is jy sielvol. Dis hier waar ons bloot reageer op dit waarvan ons bewus geraak het (in daardie oomblik) eerder as om te dink waarop ons moet reageer.  Dis ‘n geval van ervaar eerder as reageer.

Met skuldgevoelens, skaamheid, hartseer, woede en depressie, is jy vasgevang in die verlede. Dit gaan oor wat verkeerd gegaan het, of oor wat jy verkeerd gedoen het.

Vrees en angs gaan weer oor die toekoms en oor dinge wat moontlik mag gebeur. In die hier en die nou verloor jy die oomblik deur jouself die heeltyd voor te wil berei vir die dinge wat moontlik mag gebeur, maar selde ooit gebeur.

Met sielvolheid reageer jy in die nou op daardie gebeure in die verlede of daardie gevare van die toekoms. Daardie gebeure in die verlede of in die toekoms kan in die hede anders beleef word deur jou bewustheid in die hier-en-nou.

Dankbaarheid is iets wat ons in die hede beleef, gebaseer op ‘n positiewe respons oor wat in die verlede gebeur het.  Dankbaarheid gebeur wanneer ons stil kan raak, asem kan haal, ontspan en kan fokus op wat ons van die verlede kan leer wat vir ons iets in die hier-en-nou kan beteken.

Positiewe response wat in die toekoms mag gebeur, word in die nou beleef as hoop, optimisme en opwinding.

Aanvaar jou emosies en gevoelens soos wat dit is

Om te verhoed dat jy in die verlede of in die toekoms vasgevang raak, kan dit baie help om bloot net jou emosies te aanvaar, sonder om dit te analiseer of om te probeer om daarvan ontslae te raak.

Haal diep asem en ontspan. In plaas daarvan om daardie negatiewe emosies te onderdruk, kan jy eerder net bewus raak van daardie emosies of denke en dit bloot net aanvaar sonder om enigsins daarby betrokke te raak. Wanneer jy daardie negatiewe denke of emosies probeer onderdruk, word dit juis sterker.

Aan die ander kant, wanneer jy positiewe gevoelens op jouself probeer af forseer, sal hierdie gevoelens jou bly ontwyk.

Jy gee bloot erkenning aan hoe jy voel en laat dit daar sonder om dit te analilseer, te evalueer, te takseer of om dit te beoordeel.

Sensoriese bewustheid

Jy is geskape met vyf sintuie. Sensoriese bewustheid gaan oor hoe jy jou vyf sintuie gebruik om soveel moontlik bewus te wees van jouself en alles om jou in die hier-en-nou.

Hoe meer gefokus jy op jou 5 sintuie is hoe meer inligting sal jy inwin. Met jou vyf sintuie kan jy jou reaksie op die wêreld rondom jou asook jou innerlike wêreld verfyn.

Wanneer jy weer werk toe stap of ry, kan jy weereens bewus raak van die wonder van die dinge rondom jou. Daar word so dikwels van ons mense wat in Kaapstad bly gesê dat ons so gewoond geraak het aan die berg dat ons dit nie eens meer sien nie. Wanneer laas het jy net by Lovers Lane gestop om die berg te waardeer? By Bloubergstrand gestop, net om die see te hoor en te ruik? Met jou voete in die see gestap om die koel seewater daaroor te voel, selfs te proe? Of gekyk na die skoonheid van ʼn sonsondergang in die Bosveld?

Maar dit verwag van jou om vir ʼn slag stil te raak, stil te sit en van die eerste wêreld te vergeet. Vra jouself: wat is werklik belangrik?

Beginnersbrein

Beginnersbrein is wanneer jy soos ʼn kind alles van nuut af in die hier-en-nou met jou vyf sintuie beleef. Dis wanneer jy jouself en die wêreld beleef voordat jou kognisies en rasionele denke van analise, beoordeling, veroordeling, ens. ontwikkel het. As jy na ‘n baba kyk en sien hoe ʼn baba sorgvry na alles staar, waar alles nuut is vir hom of haar. Vir daardie kind is alles vars en nuut. ʼn Baba kan vir ure na sy of haar hande staar, sonder om dit te beoordeel of te kritiseer… heeltemal nuut. Babas of jong kinders het al die bewustheid en selfvertroue, want hulle het nog nie geleer om te dink, of negatief en krities te dink nie.

Dit is wanneer ons van vooraf gebore word en alles onkrities en as nuut sien en ervaar. Om elke sonsopkoms of sonsondergang te sien asof dit die eerste een is wat jy nog ooit gesien het. Dit is om al die kleure, wonder en die skoonheid te sien asof jy dit vir die eerste keer sien. Dis wanneer jy elke voël, elke boom, elke ding, ook in jou alledaagse lewe weer van voor af sien, asof dit die eerste keer is wat jy dit sien. Dis wanneer jy na jou gunsteling musiek luister asof jy vir die eerste keer daarna luister, dit vir die eerste keer hoor. Wanneer jy sielvol daarna luister, gaan jy altyd iets nuuts ontdek wat jy dalk nog nooit vantevore gehoor het nie. Dis wanneer jy ʼn stortbad ervaar asof vir die eerste keer. Dis wanneer jy kos eet of geure ruik asof vir die eerste keer. Dit is wanneer jy jou wêreld sielvol van voor af ontdek, geniet en ervaar. Dít is wanneer jy alles in jou alledaagse lewe nuut begin ervaar!

Beginnersbrein vra van jou om vir daardie oomblik al jou oortuigings, oordele en gevolgtrekkings wat jy reeds in die verlede gemaak het, vir ‘n slag eenkant te skuif en alles net weer observeer, soos ‘n jong kind.  Asof vir die eerste keer. 

Elke keer wanneer jy in die oomblik van die hier-en-nou lewe met ʼn nuwe belangstelling en nuuskierigheid, is wanneer jy ook begin om nuwe neuropaadjies in jou brein te skep. Dit verander jou ervaring van jou lewe, geheel en al.

Ten slotte – ervaring van die sielvolle en siellose lewe

Doen hierdie oefening terwyl jy op jou voete staan, met ʼn spasie van ongeveer ʼn meter voor jou.

  1. Kry vir jouself ʼn gemaklike posisie. Staan gemaklik op altwee jou voete, eweredig gebalanseerd.
  2. Voel jouself nou staan in jou huidige wêreld van sielloosheid en ʼn gejaag na wind.
  3. Raak bewus van hoe dit voel.
  4. Stel jouself voor dat daar ʼn nuwe wêreld van sielvolheid en bewustheid, ongeveer ʼn meter voor jou is.
  5. Gebruik jou sensoriese bewustheid en raak net bewus van die kleure, klanke, reuke, smake, gevoelens en aanvoeling wat jy sou ervaar wanneer jy in daardie wêreld is. Is daar enige objekte in daardie wêreld?
  6. Kry die idee van hoe jy sal voel wanneer jy in daardie nuwe wêreld sou wees. Hoe en wat wil jy voel? Wil jy meer selfversekerd voel? Of dalk meer ontspanne?
  7. Plaas nou daardie gevoelens binne daardie wêreld, op watter manier dit ookal vir jou reg voel om te doen.
  8. Gee nou ʼn tree vorentoe – tree dus in jou nuwe wêreld in. Laat jouself nou toe om al daardie gevoelens te voel wat jy graag wil ervaar.
  9. Tree weer een tree terug, uit die nuwe wêreld uit, terug in jou huidige wêreld en raak bewus van die verskil wat jy ervaar.
  10. Kyk na die tweede wêreld. Is daar enige verstellings wat jy nou aan jou ervaring van daardie nuwe wêreld wil maak?
  11. Tree terug na jou nuwe wêreld en maak dit nog lekkerder in jou kop, nog meer intens en raak net meer bewus van die verandering in gevoel wat jy ervaar.
  12. Watter verskil ervaar jy?

Sy laat gaan

Sonder ‘n gedagte of ‘n woord het sy laat gaan.
Sy laat gaan die vrees.  Sy het net daar bly staan.
Sy was nie gewillig nie.  Sy was nie onverskillig nie
Sy laat gaan al die veroordelings.
Sy laat gaan die sameloop van bevooroordeling wat haar hart bly slaan.
Sy laat gaan die bestuur van besluiteloosheid in haar.
Sy laat gaan al die ‘regte’ redes.
Alles, sonder aarseling of bekommernis,
Al breek die wal, laat sy net gaan.
Sy het niemand om raad gevra nie.  Sy het nie ‘n boek gelees
oor hoe om te laat gaan nie… Sy het nie die voorskrifte gevrees nie.
Sy het dit net laat gaan sonder om noodwendig te verstaan.

Sy het die herinneringe laat gaan wat haar terug gehou het.
Sy het al die angs laat staan wat haar laat aanhou het.
Sy het beplannings en somme laat gaan oor hoe om dit reg te doen.
Sy het nie belowe om dit te laat gaan nie.
Sy het nie dagboek daarvan gehou nie.
Sy het nie ‘n datum in haar dagbeplanner aangeteken nie.
Sy het dit nie aangekondig of dit swart-op-wit laat staan nie.
Sy het nie haar sterre-voorspelling gelees of haar numerologie bereken nie.
Sy het net laat gaan.

Sy het nie ‘n analise gemaak of sy moet laat gaan of nie.
Sy het nie ‘n vriend vertel om haar te help verstaan nie.
Sy het nie in ‘n vyf-stap Spiritual Mind Treatment haar hart belê nie.
Sy het nie ‘n gebedslyn gebel nie,
of vir ‘n engel gewag om aan haar te verskyn nie.
Sy het nie ‘n enkele woord gesê nie.  Sy het net laat gaan.
Daar was niemand daar toe dit gebeur het nie.
Daar was geen handeklap of gelukwense nie.
Mense het haar nie bedank of geprys nie.
Niemand het iets gesien
of iets nuuts vir haar gewys nie.

Soos ‘n blaar van ‘n boom afval, laat sy net gaan.
Daar was geen inspanning.  Daar was geen gesukkel.
Daar was geen beplanning of ‘n skop teen die prikkels nie
Dit was nie goed nie en dit was nie sleg nie.
Dit is wat dit was en dit was maar net dit.
In die spasie van laat gaan, het sy alles net daar laat staan.
Toe al haar twyfel verdwyn,
het ‘n klein glimlag oor haar gesig
‘n ligte bries deur haar pyn gebiggel.
En die son en die maan het vir ewig aanhou skyn.

~ Rev. Safire Rose ~  Vertaal en aangepas deur Jorgan Harris

via Devi Moksh     www.awakeningwomen.com

Scroll to Top