Psychological-Defence-mechanisms
Ons onbewustelike skokbrekers - © Jorgan Harris

Sielkundige verdedigingsmeganismes

Wat is hierdie sogenaamde verdedigingsmeganismes?

Ons is almal maar net mense.  Soms voel ons bang of bedreig. Ons mag soms selfs voel om onsself te verdedig teen die ongenaakbare realiteit van die wêreld daarbuite.

Sielkundige verdedigingsmeganismes is onderbewuste strategieë wat deur ons verstand gebruik word om ons te beskerm teen spesifieke emosionele skade of pyn. Dit beskerm ons soms selfs van fisieke ongemak en pyn.  Hierdie meganismes kan ons help om stresvolle situasies te oorleef, maar dit kan ook ons bewustheid van ons ware emosies blokkeer en ons geestesgesondheid en verhoudings beïnvloed.

Dit kan selfs vergelyk word met ‘n toestand van bewusteloosheid of ‘n koma na ‘n fisiese trauma, om nie die pyn en trauma op ‘n bewuste vlak te ervaar nie.  Ons kan verdedigingsmeganismes op ‘n sielkundige vlak ervaar om nie ons trauma of emosionele pyn te ervaar nie. 

Ons sielkundige verdedigingsmeganismes kan die werklikheid manipuleer, ontken of verdraai om ons angs, gevoelens van bedreiging of ongewenste gevoelens te hanteer of te vermy. Ons kan selfs hierdie angstige of onseker mense sien as manipuleerders, baasspelerig of intimiderend. Hierdie mense gebruik egter hul eie verdedigingsmeganismes om hulself emosioneel te beskerm.

Die probleem met sielkundige verdedigingsmeganismes

Ons kan alle, of ten minste sommige van ons verdedigingsmeganismes (soos later in hierdie artikel bespreek) gebruik om ons uitdagings te hanteer.

Hierdie meganismes mag jou help om emosionele trauma te verwerk.  Wanneer hierdie trauma egter nie aangespreek word nie, mag:

  • jou verdedigingsmeganisme jou dalk verhoed om met jou uitdaging gekonfronteer te word;
  • jy dalk nie in staat te wees om jou uitdaging op te los nie;
  • jy dalk emosionele reaksies, soos woede, hartseer ens. ervaar;
  • hierdie emosies langtermyn angs, depressie en ander sielkundige probleme tot gevolg hê;
  • jy jou sielkundige verdedigingsmeganismes gebruik om hierdie negatiewe gevoelens te hanteer, maar;
  • dit selfs somatiseer, wat beteken dat die uitdaging ditself op fisiese vlak kan manifesteer in die vorm van pyn, ongesteldhede of siektes.

Het ons almal sielkundige verdedigingsmeganismes nodig?

Alhoewel ons nie almal noodwendig sielkundige verdedigingsmeganismes benodig nie, gebruik ons dit almal in ‘n mindere of meerdere mate. Elkeen van ons manipuleer, lieg of verdraai die werklikheid net so ‘n bietjie om te oorleef.

Aan die ander kant egter, sal die Antisosiale persoonlikheidsversteurings, ook genoem psigopate of sosiopate nie emosies op dieselfde manier as die res van ons ervaar nie. Hul verdedigingsmeganismes het tot stilstand gekom, selfs heeltemal gevries en derhalwe is dit onmoontlik om deur hul verdediging te breek.   Jy kan meer daaroor lees deur na my webwerf te kyk, www.jorganharris.co.za en klik op Emosionele mishandeling.

Soos met die meeste dinge in ons lewe, kan te min netso skadelik wees as te veel.  Daar is ‘n lieflike balans waar optimale voordeel gevind kan word. Jy mag dalk voel om jouself te verdedig teen emosionele benadeling, sonder om die werklikheid te hoef uitsluit.

Aan die ander uiterste is daar diegene wat so uitgesorteerd is dat hulle die werklikheid eerder reguit in die gesig sal staar en prakties wil uitwerk hoe om enige emosionele uitdagings te hanteer.  Hulle ontken dat emosies enige waarde het en is bloot logies oor hoe dit bestuur kan word.

Die meeste van ons gebruik verdedigingsmeganismes soos en wanneer benodig. Ons gedagtes oor ons emosies, oor wat dit is en hoe om dit te hanteer, gaan duisende jare terug in die geskiedenis van die mensdom.

Die Griekse filosoof, Plato, het aan emosies en logika gedink as ‘n spanning wat in teenoorgestelde rigtings trek. Meeste mense sal ervaar dat dit nie altyd waar is nie; op ‘n hoër vlak, werk die twee wonderlik saam.

Nog ‘n Griekse filosoof, Aristoteles, het gedink aan emosies as ‘n ervaring van plesier of pyn. Die ervaring hiervan, afhangende van die feit dat dit met plesier of pyn geassosieer word, is hoe jy dit in jou gedagtes ervaar.

Verdedigingsmeganismes kan gebruik word om emosionele pyn of selfs plesier te onderdruk, oor die algemeen meer pyn. Ons gebruik hierdie meganismes meestal om ons selfbeeld, selfwaarde en ons selfidentiteit te beskerm.

Ons maak gebruik van verdedigingsmeganismes, soos:

  • Ontkenning

Ontkenning is waarskynlik die bekendste van al die verdedigingsmeganismes. Dit is nie bloot net ‘n aan-af of afsit knoppie nie, maar hoort eerder iewers op ‘n kontinuum:

  • van blote weiering om feite te aanvaar, of
  • ‘n gedeeltelike weiering om die waarheid te aanvaar, of
  • om enige verantwoordelikheid te aanvaar,
  • tot aanvaarding van die feite en die verantwoordelikheid maar die ontkenning van intensie agter hul gedrag en alle skakerings tussenin.

Hier is ‘n paar voorbeelde om die omvang van ontkenning beter te verlig:

  • ek het niks gehad om te drink nie;
  • dit het nooit gebeur nie;
  • dit pla my glad nie;
  • ek het aanbeweeg;
  • iemand het my drankie gedokter (ge-spike);
  • ek het nie geweet hoe sterk daardie drankie was nie;
  • ja, ek was ‘n bietjie gekuier (tipsy), maar ek was nie van plan om …

Baie van die verdedigingsmeganismes oorvleuel met mekaar en dit is heeltemal moontlik om meer as een van hierdie verdedigingsmeganismes gelyktydig te gebruik.

    • Rasionalisasie

Rasionalisasie, ofdan rasionalisering is die regverdiging van iets wat iemand as onaanvaarbaar erken op ‘n manier wat hul motiewe, of ware redes vir die gedrag, verduister. Ons kan enigiets regverdig deur ons redenasies, byvoorbeeld:

  • ek het nie versuim om my teiken te bereik nie, omstandighede het verander;
  • ek het nie misluk nie, ek het net nie belanggestel nie; want die belonings was nie die moeite werd nie;
  • ek is nie afgedank nie, ek is bloot oorbodig verklaar.
  • Repressie (of onderdrukking)

Jy kan selfs kies om nie te dink aan ‘n gebeurtenis wat vir jou emosionele pyn kon veroorsaak het nie. Hierdie verdedigingsmeganisme word onderdrukking genoem. Soos met alle verdedigingsmeganismes, gebruik ons dit, welliswaar onbewustelik aangesien dit baie effektief kan wees as ‘n emosionele oorlewingsinstrument. Dit kan jou in staat stel om die lewe se uitdagings te kan hanteer totdat jy die krag en tyd het om die negatiewe emosies aan te spreek en te prosesseer.

In sommige omstandighede kan onderdrukking jou uitdaging selfs versterk. Byvoorbeeld, die keuse om nie aan jou liefdelose, toksiese huwelik te dink nie, gaan nie hierdie uitdaging oplos of laat verdwyn nie.  Dit is die een rede waarom mense wat van onderdrukking gebruik maak, veral as iemand in so ‘n situasie is dat hulle geen ander keuse het as om in die aaklige omgewing te bly nie.  In so ‘n geval kan dit hulle help om die situasie te hanteer. 

    • Projeksie

Projeksie is die denkproses waartydens ons dit waarvan ons van onsself nie hou nie, op ander projekteer. Wanneer ons oorkrities teenoor onsself is, kan ons verkeerdelik dink dat ander mense netso krities teenoor ons is. Dan gebeur die teenoorgestelde ook – ons wil ons eie negatiewe eienskappe nie erken nie, sien dalk ons eie onaanvaarbare eienskappe in ander raak en kritiseer hulle dan sonder om te besef dat dit eintlik ons eie uitdaging is wat ons vir een of ander rede nie raak wil sien nie.

Iemand kan byvoorbeeld sê:

  • moet niemand ooit vertrou nie;
  • jy het ‘n lelike neus ;
  • ek dink jy is onnosel.

Ons kan egter nie in iemand anders se gedagtes ingaan en presies verstaan wat hulle dink nie en projekteer dus dit wat ons van hulle dink as ‘n perfekte replika van wat ons eintlik van onsself dink:

  • ek is nie die een wat so voel nie – jy is;
  • ek kan my obsessie rondom my neus nie hanteer nie en daarom vertel ek vir jou dat jy ‘n lelike neus het;
  • ek vertel vir jou dat jy pateties is, net om my eie gevoelens van hulpeloosheid te ontken;
  • ek kan jou nie vertrou nie (aangesien ek nie vertrou kan word nie);
  • op ‘n sosiale vlak, mag verskynsels soos rassisme, seksisme, xenofobie, homofobie en ander houdings teenoor mense wat nie soos ons is nie, gedeeltelik aan projeksie toegeskryf. Daar is byvoorbeeld navorsingsbewyse dat mans, veral diegene met sterk homofobiese houdings hoër as gemiddelde opwekking van dieselfde geslag het, waarvan hulle nie bewus is nie en natuurlik glad nie wil erken nie.
  • Verplasing

Wanneer jy dit moeilik of selfs onmoontlik vind om vir mense vir wie jy kwaad is, te wys of te vertel dat jy ‘n probleem met hulle het, mag jy geneig wees om jou gevoelens te verplaas, of jou woede uit te haal op iemand anders – gewoonlik ‘n onskuldige, swakker persoon of self iemand wat na-aan jou is.

Jou baas mag, as ‘n voorbeeld op jou skree. Jy kom tuis en skree op jou kinders of lewensmaat. Dalk het die baas se baas op hulle geskree en toe haal hulle dit op jou uit. Daarom trek jy nou aan die agterent en gevolglik trek jou kinders of maat aan die ent nog agterder as jou agterent.

Verplasing vernietig verhoudinge.  Mense weet nogal wanneer die emosies waaraan hulle onderwerp word, buite verhouding is met dit wat met hulle gebeur. Soos wanneer iemand hul geduld verloor oor ‘n misplaaste tandepasta-proppie.   Ons haal dan ons negatiewe gevoelens op ander uit. Dit hou egter geen voordeel vir enigeen in nie en veroorsaak net skade.

Sommige sielkundige verdedigingsmeganismes is meer bemagtigend en positief as ander. Selfs die meer positiewe verdedigings kan skadelik wees as dit te ver gevat word.

    • Kompartementalisasie

Sommige mense kies om elke aspek van hul lewe apart te hou.  Hulle mag, as ‘n voorbeeld nie oor hul gesin praat of dink terwyl hulle by die werk is nie en vice versa.

    • Sublimasie

Sublimasie is om iets van een aspek na ‘n ander te verander. In die geval van sielkundige selfbeskerming is dit die proses om negatiewe emosies te verander of te kanaliseer na positiewe emosies.

Ons mag, as ‘n voorbeeld, sterk woede of frustrasie ervaar en hierdie woede of frustrasie tot ons voordeel gebruik wanneer ons dan vir ‘n strawwe oefensessie gaan. Ons mag selfs ons emosies sublimeer in die vorm van kuns. Die grootste kunswerke, goeie poësie en baie wonderlike liedjies is as gevolg van sublimasie geskep.

Ons mag ook van die volgende verdedigingsmeganismes, alhoewel hulle minder voorkom, gebruik maak.  Hierdie meganismes sluit onder andere die onderstaande in:

  • Isolering van gevoelens

Ons mag dalk die feite aan onsself erken, maar ons isoleer en blokkeer enige gevoelens wat daarmee saam mag gaan, geheel en al uit, asof dit ons gladnie traak nie.

  • Reaksie-formasie

In hierdie geval mag ons dalk teen ons eie begeertes reageer om op een manier op te tree, deur sterk begeertes vir die teenoorgestelde te vorm. Ons ken ook hierdie meganisme as om agter die deur te staan. Jy toon ‘n hewige reaksie oor dinge waaraan jyself skuldig is, maar dit nie wil erken nie. Shakespeare ken dit as: the lady doth protest too much, methinks.

  • Kompromievorming

Ons staan maar eerder terug en is tevrede met die minste, al is dit ook om probleme te vermy wanneer ons op ons regte aandring.

Ook om die vrede tussen verskillende partye te bewaar, byvoorbeeld wanneer iemand ‘n verrassingspartytjie wil reël vir iemand wat dit verag, sal jy ‘n alternatiewe voorstel maak wat beide partye akkommodeer, maar dikwels ontplof dit in jou gesig aangesien beide partye kwaad of ontevrede mag wees teenoor die vredemaker sou dit hulle nie pas nie.

  • Self-beperking 

Ons mag onsself aspris beperk of inperk en ons mond stil hou as ‘n verdedigingsmeganisme teen sogenaamde mislukking of verwerping.  Jy gee voor dat jy swak is, terwyl jy inderdaad sterk is.

As voorbeeld, sal mense voorgee dat hul hulpeloos of onbevoeg is, terwyl hulle inderdaad sterk en bevoeg is, maar nie bereid is om die uitdaging die hoof te bied nie, selfs al is hulle meer as bevoeg.

      • Draai teen onsself

Om onsself aggressief te blameer vir watookal, is minder pynlik as passiewe skuldgevoelens.

Om teen jouself te draai, is ‘n verdedigingsmeganisme waarin jy ‘n oorspronklike begeerte om ander te benadeel, op jouself  uithaal. 

‘n Goeie voorbeeld hiervan is wanneer iemand hulself aspris seermaak as ‘n soort misleidende altruïsme, in die behoefte om ‘n ander persoon seer te maak.  Dus maak ons onsself seer, al is dit bloot om uiting te gee aan ons behoefte om seer te maak.

  • Gedagte dissosiasie

Soms dissosieer ons onsself van dit wat ons gedoen, gesê of gedink het met geen bewuste herinnering aan ‘n sekere gebeurtenis van ‘n sekere aard op ‘n sekere tyd nie.  Ons onthou miskien nie belangrike aspekte van ‘n gebeurtenis of gebeure nie, asof ons los van dit alles staan, asof dit nooit gebeur het nie. Sommige mense met ‘n traumatiese geskiedenis mag dalk ‘n hele periode in hul lewe vergeet het, of uitgeblok het.

  • Introjeksie

Ons mag onsself selfs oor-identifiseer met heroïese fiktiewe helde in ‘n poging om ons eie uitdagings te vermy.

Introjeksie is die teenoorgestelde van projeksie soos ons dit vroeër bespreek het. Introjeksie, wat algemeen onder kinders en ouers voorkom, vind plaas wanneer ‘n persoon die oortuigings van ander mense internaliseer deur so sterk met hulle te identifiseer dat hulle nie daardie persoon of voorwerp van hulself kan onderskei nie.

Introjeksie behels daardie houdings, gedrag, emosies en persepsies wat mense gewoonlik van invloedryke of gesaghebbende mense in hul eie lewe oorneem en aanvaar as hul eie, sonder dat hulle veel daaroor dink of dit beoordeel. Hulle neem hierdie eienskappe aan as deel van hul persoonlikheid soos hulle dink hulle moet wees, omdat hierdie mense so is.

Om saam te vat

Sielkundige verdedigingsmeganismes is onbewuste strategieë wat ons brein gebruik om die werklikheid te manipuleer, te ontken of te verdraai om sodoende angs, bedreigings of ongewenste gevoelens te hanteer. Hierdie meganismes is gebaseer op die psigoanalitiese teorie van persoonlikheid, wat persoonlikheid sien as die interaksie tussen drie komponente: id, ego en superego.

Verdedigingsmeganismes kan mense help om stresvolle situasies te oorleef, maar dit kan ook hul bewustheid van hul ware emosies blokkeer en hul geestesgesondheid en verhoudings negatief beïnvloed.

Finale gedagte

Soos dit maar met alles in die lewe is, is matigheid dalk maar die beste roete. Om geen sielkundige verdedigingsmeganismes te gebruik nie, kan net so skadelik wees as om dit te misbruik.                             

Hierdie verdedigingsmeganismes kan tot ons voordeel gebruik word deurdat dit die lewensskokke vir ons kan absorbeer.  Wanneer ons egter, hierdie meganismes op die langtermyn, meestal onbewustelik gebruik mag dit lei tot sielkundige uitdagings, veral angs en depressie.

Indien ons ons angs en depressie ignoreer, mag die uitdagings somatiseer in die vorm van fisiese siektes en kwale. 

Scroll to Top