‘n Kritiese blik op sielkundige diagnoses
Om mee te begin
Ons ken almal die verhaal van die padda wat wil hê dat die prinses hom moet soen, want hy sal na die soen ‘n prins word. Óf ‘n padda óf ‘n prins. Niks tussenin nie, afhangende van die soen.
Ons is as mense so geneig om idees, gedagtes, konsepte en selfs menslike gedrag in boksies te plaas. Ons is mos mal oor diagnoses.
Alles of almal buite ons boks van ons werklikheid moet dus gediagnoseer word. Ons is só geneig om mense in boksies te wil plaas, te etiketteer, veral wanneer hulle geneig is om anders as ons te wees. Ons wil hulle dan sien as vreemd, betotteld, alternatief of watter etiket jy ook al daaraan wil heg.
My rebellie teen diagnoses
Ek het hierdie artikel in 2014 geskryf met die verskyning van die lang verwagte en omstrede DSM 5. Dit is nou die jaar 2023, en die DSM-5 is pas vervang met die DSM-5R (Revised) wat weer die landskappe van sielkundige diagnoses verander.
Die DSM-5 (wat die afkorting is vir Diagnostical and Statistical Manual of Mental Disorders, Edition 5) is die bybel van psigiaters, mediese dokters en sielkundiges se diagnosevormings van geestesversteurings en word gepubliseer deur die APA (American Pcychological Association). So word daar sedert 1952 pogings aangewend om mense te diagnoseer en in kategorieë van versteurings te plaas. Sedert 1952 tot vandag het die DSM gepoog om mense in boksies te plaas en is die boksies konstant verander en aangepas om die kompleksiteit van menswees te probeer klassifiseer. Hoe meer boksies, hoe meer chaos. In 1968 is die DSM-II vrygestel met 182 boksies. So is homoseksualiteit in die DSM-II as ‘n versteuring beskryf, maar in 1980 is daar hieroor gestem. Met ‘n klein meerderheid is daar besluit dat dit inderdaad nie ‘n versteuring is nie en is toe uit die DSM-III verwyder. Met die jare saam is die aantal versteurings sedert die DSM-II net meer en meer uitgebrei. Toe reeds het daar stemme opgegaan oor die verskil tussen diagnoses in die VSA en die res van die wêreld. Intussen, in 1987, het die aantal boksies in die DSM-III tot ‘n verdere 292 gegroei.
In 1994 het die DSM-IV sy verskyning gemaak met 297 (boksies) versteurings. Weliswaar net vyf meer, maar die getalle neem steeds toe.
Om jou ‘n idee te gee (‘n keur uit die DSM-5) –
(Jy hoef hierdie gedeelte slegs te lees indien jy krities is en wonder waarna ek verwys. Andersins kan jy oorslaan na die volgende punt.
Een van die grootste punte van kontroversie is dat daar nie meer ‘n diagnose bestaan soos rousmart nie. Alhoewel die simptome van rousmart presies soos dié van depressie lyk, is daar in die DSM-IV ‘n onderskeid gemaak, aangesien die verlies van iemand na aan jou gesien is as ‘n natuurlike rouproses. In die DSM-5 word dit nou deel van depressie en mag jy van nou af dalk eerder daarvoor chemies behandel word as om deur die natuurlike rouproses te gaan waardeur elke mens natuurlik moet gaan, aangesien die dood deel van die lewe is.
Die nuwe klassifikasie van Post traumatiese stres versteuring (PTSV) gaan, myns insiens, ook sterk onder skoot kom. PTSV is ‘n toestand wat ontstaan na die blootstelling aan ‘n traumatiese gebeurtenis waar jou lewe of fisiese integriteit bedreig word, of waar jy ‘n gebeurtenis ervaar het waar iemand anders se lewe of fisiese integriteit geneem of bedreig was. Volgens die DSM-IV is die individu se reaksie op hierdie gebeurtenis een van hulpeloosheid, vrees en ‘n gevoel van gruwel. Hierdie punt het nou uit die DSM-5 verdwyn. Dit mag nou wees dat iemand wat tot nou toe met PTSV gediagnoseer is, getrou hul medikasie en terapie ontvang en dan skielik nie meer aan PTSV ly nie. Of erger nog: iemand mag skielik nou PTSV hê, bloot omdat die kriteria verander het.
Nou het ons ook ‘n Ontwrigtende gemoeds disregulasie (OGD). Kinders wat vloermoere gooi is nie meer stout nie, maar het ‘n sielkundige uitdaging. Dit mag veroorsaak dat kinders wat gehoor wil word, of gefrustreerd is oor hul skooltas wat weg is, of net bloot andersins stout is, verder vol medikasie gepomp gaan word. Net omdat daar nou so ‘n diagnose is.
Brassery-eet (my vertaling vir binge eating) is nog ‘n nuwe versteuring. As jy jouself meer as 12 keer in drie maande kapabel eet, het jy ‘n uitdaging. Niemand vertel ons hoe die APA by hierdie som uitgekom het en hoeveel jy tydens ‘n Brassery-eet moet eet nie. Dit is ook nie duidelik of dit ‘n diagnose op sy eie moet wees en of dit ‘n simptoom van ‘n ander versteuring is nie. Ooreet kan egter ook die gevolg van depressie wees (volgens die kriteria van die DSM-IV).
Dit is, myns insiens, geen verrassing dat daar weinig tot geen verandering aangebring is in die diagnose van Major Depressie en Algemene Angs nie. Dit is die twee versteurings wat verreweg die meeste in psigiatriese kontekste voorkom. Aan die een kant van die argument, is dit waar dat hierdie twee steurnisse al so goed nagevors is. Aan die ander kant egter het farmaseutiese maatskappye reeds soveel geld daarin belê, dat daar verkieslik nie veel daaraan getorring moet word nie. Dit bly steeds ‘n raaisel om te verstaan hoe daar besluit is hoeveel van die kriteria jy aan moet voldoen om aan ‘n diagnose te voldoen. Daar is in die ou DSM-IV nege kriteria vir depressie. As jy aan enige vyf of meer van die kriteria voldoen, word jy met Depressie gediagnoseer. Daar is ses moontlike simptome vir angs. As jy aan enige drie of meer voldoen, word jy met angs gediagnoseer. Wie het bepaal aan hoeveel van die simptome jy moet voldoen om gediagnoseer te kan word? Sê nou maar jy voel ongelooflik depressief (een van die kriteria vir depressie) maar jy ly nie aan een van die ander nie – dan is jy met ander woorde nie depressief nie? Dit is tog vreemd dat met elke diagnose (volgens die kriteria) jy ten minste aan die helfte, plus een, van die moontlike simptome moet ly, om gediagnoseer te word. Die APA kon nie ooreenkom oor hoeveel simptome dit sou neem om dit ‘n versteuring te noem nie. Die wet van gemiddeldes het egter hier die oorhand gekry en net soos met demokrasie, sal die helfte plus een of die meerderheid bepaal wie gaan regeer. Ons sal maar moet wag om te sien hoe die DSM-5 hierdie tameletjie gaan oorbrug.
Die veel geroemde Bipolêre gemoedsversteuring (in die volksmond, Manies-depressiewe versteuring) is steeds daar. Dit staan nou bekend as Bipolêre spektrum versteuring (BSV) aangesien die onderskeid tussen Bipolêr 1 en Bipolêr 2 verdwyn het.
Asperger-sindroom het ook verdwyn. Hulle word nou gediagnoseer as iemand met ‘n Outisme spektrum versteuring (OSV). Netso verdwyn Outisme as ‘n versteuring en word almal ingewoel onder die kategorie OSV.
Verslawing is nog ‘n tameletjie. Is die persoon verslaaf of net afhanklik van sekere middelle? Word verslawing werklik veroorsaak deur die bestanddele in die middelle of word dit veroorsaak deur die dopamien wat die verslawing in jou brein vrystel? Net soos dwelms, is dobbel nou ook ‘n verslawing. Gaan dit dus steeds oor ‘n fisies verslawende substans? Wat is dan die verskil tussen Gedragsverslawing (GV) en Chemiese verslawing (CV)? Net soos dobbel, drank en dwelms verslawend kan raak, kan rekenaarspeletjies en selfs welsynswerk ook verslawend wees. In al die gevalle word dopamien in die brein vrygestel, wat die verslawende faktor is. Dit kan selfs verslawend wees om ‘n ander motoris voor jou toegang te gee. Gaan dit dus oor die middel of gaan dit oor die gevoel wat dit binne die persoon veroorsaak? Is onttrekking regtig fisies of is dit emosioneel? Ek hoop die DSM-5R kan dit aan ons verduidelik.
Wat is psigose? Is iets soos skisofrenie iets wat nie in ons verwysingsraamwerk inpas nie? Of nie by die APA se model van watookal normaal is, inpas nie. Sê nou maar die skisofreen, wat beweer hy is Jesus, Mohammed, Buddah of wie ookal, is werklik die uitverkorene? Ons weet hopeloos te min van iets soos die sogenaamde skisofrenie. Wonder ons nie maar almal wat realiteit regtig is nie?
Ekskoriasie (om vel van jou liggaam af te krap), is ‘n nuweling, maar naelbyt en tande kners is afwesig. Daar word nie gevra of dit dalk net simptome van ‘n ander versteuring kan wees nie. Ons weet nog nie waar dit gaan inpas nie, maar myns insiens is dat dit net nog ‘n boksie gaan word om die individu mee te kategoriseer. Ek weet nie.
Nog ‘n nuwe versteuring is ‘n Opgaarversteuring (OV) (Hoarding disorder). Hoewel OV nog nooit in die DSM opgeneem is nie, word dit gesien as ‘n vorm van Obsessief kompulsiewe versteuring (OKV). My vriend Karel, is ‘n tipiese Opgaarder. Tog het hy onlangs ‘n pragtige hek gebou vir iemand uit die materiaal wat hy opgegaar het. Hy gaar egter goed buite sy vrou se gesigveld op. Karel weet dit nog nie, maar hy is nou sielkundig gesond, maar hy gaan iewers een oggend wakker word met die diagnose van ‘n sielkundige versteuring en sal waarskynlik op medikasie moet gaan. Bloot omdat die APA so besluit het.
Daar is selfs nou iets soos ‘n Olfaktoriese verwysing sindroom (OVW), wat verwys na die vrees om sleg te ruik.
En so kan ons wonder watter vreemde diagnoses nog vir ons wag.
Wat is ‘n sielkundige versteuring dan nou regtig?
Ons wil mense binne ‘n boksie plaas, maar ons kry nie regtig antwoorde oor wat die aard of afmetings van die boksies nou regtig is nie. Moet ons in die patologie-model vasgevang bly? Moet sielkundiges, selfoon in die hand, soos medici met wit jasse in ‘n hospitaal rondloop opsoek na ‘n krisis soos ‘n dreigende selfdood? Dalk is selfdood meer ‘n keuse as ‘n krisis. Karel se kwessie laat die vraag wat ‘n sielkundige versteuring nou regtig is. Het Karel nou ‘n versteuring omdat hy goed opgaar? Het die kind met die OGD ‘n probleem omdat hy vergeet het waar hy sy tas gelos het? Het Daantjie ‘n uitdaging omdat hy so goed kan fokus op ‘n TV-speletjie dat hy ‘n kompetisie (en ‘n hele paar rand in die proses) kan wen? Is Oscar Pistorius werklik skuldig, of ly hy aan PTSV?
Daar kan ook vrae gevra word rakende kultuur-, ras- en geslagsverskille. Is iets wat in die VSA as ‘n versteuring gesien word, noodwendig in ander kulture ‘n versteuring? So byvoorbeeld word skisofrenie nou herbenoem as Dopamien Wanregulasie Versteuring (DWV), maar in Japan gaan dit blykbaar ‘n Integrasie versteuring genoem word. Dit impliseer dat die Japanese nie na die chemiese wanbalans wil verwys nie, maar bloot na die sielkundige kwessies.
Dit mag vir Westerlinge na ‘n versteuring klink as daar ‘n bees geslag word by iemand se begrafnis. Selfs Lobola mag as vreemd beskou word. Ons moet egter verstaan hoe ander kulture dinge integreer wat ons nie verstaan nie. Dit is so noodsaaklik om te verstaan waar ander kulture vandaan kom. Die DSM word deur die APA opgestel. Beteken dit dus dat dit deur die res van die wêreld, met hulle eie kulturele verskille, as ‘n soort van bybel beskou kan word?
Volgens die DSM-IV kan ‘n probleem net ‘n probleem wees wanneer dit jou werk-, sosiale- of enige ander funksioneringsarea negatief beïnvloed. Dit is nie duidelik of hierdie kriteria in die DSM-5R gaan voorkom nie. Jou sogenaamde probleem mag ook ‘n probleem of ‘n uitdaging wees wanneer dit ander mense negatief raak, maar dan mag dit juis die ander persoon se probleem wees. Die Franse filosoof, Jean-Paul Sartre het juis gereken dat die hel eintlik ander mense is. Jy kan meer hieroor lees op my webtuiste onder Pitkos, Hel is ander mense.
Dalk lê die oplossing daarin om eerder enige sielkundige uitdaging volgens grade van erns te kategoriseer, naamlik: lig, matig en ernstig. Dalk is dit ‘n oplossing vir ons probleem. Watookal die kriteria hiervoor mag wees voorsien ek dat daar wel ‘n paar hersienings van die DSM-5 gaan plaasvind om sulke uitdagings op te klaar.
Jy mag dalk agtergekom het dat ek dwarsdeur my webtuiste verkies om die woord uitdaging te gebruik in plaas van die woord probleem. Niemand het ooit probleme nie, hulle het bloot net uitdagings.
Dit laat my vrae vra oor die relevansie van die DSM hoegenaamd. Voordat ek hierby uitkom, moet ons eers die kwessie van die sogenaamde persoonlikheidsversteurings uitklaar.
Persoonlikheidsversteurings
Ek voorsien dat persoonlikheidsversteurings al hoe meer ‘n doring in die vlees van praktisyns gaan word en binnekort nie meer gaan in pas nie en selfs ook moontlik gaan verdwyn. Wat is ‘n persoonlikheidsversteuring regtig? Wat is die maatstaf waaraan ons dit meet? Kan dit moontlik wees dat iemand in hul menswees so stukkend is dat herstel nie moontlik is nie? Is so ‘n persoon vir ewig gedoem om ‘n psigopaat (Antisosiale Persoonlikheidsversteuring – APV) of ‘n Narcissis (NPV) te wees?
Wat is persoonlikheid in elk geval? Hoe definieer ons dit? Het dit nog ‘n plek in die DSM? Hoe gebeur dit dan dat ‘n persoonlikheidsversteurings soos Afhanklikheid persoonlikheidsversteuring nie meer deel van die DSM vorm nie? Dit blyk tans of die rede hiervoor bloot net ‘n gebrek aan navorsing is en dat niemand geïnteresseerd is om hierdie versteuring na te vors nie. Miskien is jy net so gefrustreerd met die afkortings soos ek. Waarvoor staan wat nou? Is APV ‘n Antisosiale persoonlikheidsversteuring of ‘n Afhanklikheid persoonlikheidsversteuring?
Histrioniese Persoonlikheidsversteuring het ook nou verdwyn. Nou is ons, lank na haar dood, vir Marlyn Monroe ‘n verskoning verskuldig . Die magtige APA het gereken sy was in haar diepste wese histeries sonder enige dieper inhoud, maar nou is daar niks verkeerd met haar nie. Sy mag dalk later weer ‘n diagnose ontvang sou iemand belangstel om verdere navorsing hieroor te doen, maar hierdie versteurings is ook nou nie heeltemal uit die DSM gelaat nie. Daar is een of ander asblik-kategorie waarin dit steeds rond hang, soekende na ‘n nuwe boksie.
Gelukkig is daar genoeg navorsing gedoen oor die Grensgraad persoonlikheidsversteuring (GPD) of in Engels, Borderline Personality Disorder om prinses Diana (wat juis die padda op die balkon van die Buckingham paleis moes soen) lank na haar dood net so in haar boksie te laat, ongeag haar omstandighede.
Mag dit dalk wees dat ‘n mens in hul diepste innerlike wese gedoem is om siek te wees? Of probeer die APA om hierdie dilemma te versag met hul kriteria van matig, gemiddeld tot ernstig om hierdie uitdaging te systap? Gaan ons dalk besef dat die persoon met die Obsessief Kompulsiewe Persoonlikheidsversteuring (OKPV) dalk maar net ‘n Obsessie Kompulsiewe Versteuring (OKV) in ‘n ernstige graad is? Of dat Grensgraad Persoonlikheidsversteuring (GPD) met hul intense vrees vir verwerping, maar net ‘n ernstige graad van angs is?
Die versteurings wat weggekom het
Diegene wat hulself beseer en hulself nie dood probeer maak nie, asook die seksverlaafdes, is tans vrygespreek. Ouers wat hul kinders vervreem het is tans ook vry. Diegene wat aan internetspeletjies verslaaf is, is ook vry. Hulle is bloot vry as gevolg van ‘n tekort aan navorsing en kan dalk in die afsienbare toekoms weer siek word. Dalk kan daar in die toekoms verdere diagnoses ontstaan soos Facebook Verslawing (FBV), Farm Ville Verslawing (FVV) Winkel Trollie Woede (WTW), Restaurant Woede (RW) en wat nog meer. Dalk kan Marilyn Monroe, na verdere navorsing, weer as versteurd gesien word – wie sal ooit weet?
Is dit dalk tyd vir ‘n nuwe paradigma?
Dalk is dit tyd om weg te beweeg van die proses om versteurings in boksies te plaas en dalk eerder die boksies aan te val of om dit te probeer wegvat.
Hierdie diagnoses word nou al hoe meer en ook meer kompleks. Skielik is daar nuwe boksies, nuwe diagnoses en oues val weg. Die DSM stelsel gaan steeds van die uitgangspunt dat sekere mense siek is en dat hierdie siektes beveg moet word. Dit het dalk tyd geword dat ons van hierdie versteurings wegbeweeg. Daar word nie vir ons vertel waarheen ons moet beweeg nie. Die afwesigheid van depressie is nie dieselfde as die teenwoordigheid van geluk, positiewe emosies en betekenis in die lewe nie. Hierdie positiewe, opbouende kwessies word nie in die DSM-5 aangespreek nie. Jy is egter welkom om my artikel oor Depressie onder Terapeutiese Fokus, op my webtuiste, www.jorganharris.co.za te lees.
Die verskyning van die DSM-5 kom reeds in ‘n tydperk waar die sogenaamde Positiewe Sielkunde (met baie vertakkings en name) al hoe meer veld wen. Hierdie denkrigting gaan van die standpunt af uit dat daar geen fout met enigiemand is nie. Jy is geskape met alles wat jy benodig om suksesvol te wees, as motto, volgens sekere van hierdie denkrigtings. Dit vra eerder wat ons goed laat voel, laat funksioneer, laat floreer. Dit beteken ook nie dat geluk die afwesigheid van depressie is nie, maar positiewe sielkunde is iets heeltemal op sy eie. Dit fokus eerder op die identifisering van die positiewe in die mens as om die negatiewe te bekamp.
Dalk moet die APA eerder vir ons ‘n gids saamstel met diagnostiese kriteria vir Smaking (Savouring), Dankbaarheid, Sielvolheid (Mindfulness), Optimisme, Veerkragtigheid (Resilience), Lewenslustigheid en soveel meer.
In plaas daarvan om iemand te etiketteer met byvoorbeeld depressie, of as ‘n monster, ‘n moordenaar of wat ookal en dit te behandel, kan ons eerder die positiewe kwaliteite, wat onder die maatemmer begrawe lê, opgrawe en dit tot ons voordeel gebruik. Wanneer jy op die positiewe in jou lewe fokus en daarop voort bou, sal die negatiewe vanself verdwyn.
Die fokus hoort dus nie te wees op wat verkéérd met die mens is nie, maar eerder op dit wat juis rég is met die mens. Dit gebeur ook wanneer daar vrae gevra word oor wat die positiewe intensie agter gedrag was, eerder as om die gedrag self te veroordeel. Dit mag dalk van ons, as individue, vra om nie te oordeel nie, maar om meer te probeer verstaan. Al is iemand se gedrag ook hoe verkeerd – daar was nog altyd ‘n positiewe bedoeling daar agter.
Dalk het hulle gedoen wat hulle gedink het die beste is, met die hulpbronne wat hulle gedink het hul oor beskik, op daardie tydstip. Dalk was hulle net so beperk in hul gedagtes dat hulle gedink het dat dit hul beste, enigste uitweg, of opsie was.
Wanneer ons dit verstaan, kan ons die wêreld ‘n beter plek maak. ‘n Beter lewe vir almal skep.
Ek weet regtig nie meer wat die verskil tussen paddas en prinse is nie. Of die prinses nou die padda in ‘n prins verander het, of dalk meer die padda in ‘n padda verander het meer as wat ‘n padda ooit kan wees, of dalk selfs meer as ‘n prins as wat ‘n prins ooit kan wees.
Die finale keuse hierin, lê by jou en jou alleen. Die hel is inderdaad nie ander mense nie, behalwe as jy hul toelaat om jou hel te raak, deur ander mense toe te laat om jou in ‘n boksie te plaas.
Om ‘n padda of ‘n prinse te wees, hang op die ou einde maar alles net van jou af.
Verdere verwysings
- Burke, A (prof). Lesing gelewer op 16 Maart 2013: DSM-5: Back to the future. Suid-Afrikaanse Vereniging vir Kliniese Hipnose (SAVKH), Pretoria.
- Harris, Jorgan. 2011. NLP – Ontgin die briljantheid in jou. Griffel Media. Kaapstad.
- org
- com
- net
- go.com