Positiewe sielkunde
Inleiding
In hierdie praktyk word daar sterk weg beweeg van die idee van patologie. Die vraag gaan nie meer oor wat verkeerd met die mens is nie. Ons analiseer ook nie meer mense nie. Ons fokus eerder op die sterkpunte van die mens en beskikbare hulpbronne om hul uitdagings te oorkom. Ons glo dat elke mens uniek en volmaak geskape is, met al die hulpbronne om suksesvol te wees. Daar bestaan nie iets soos geestesversteurings nie – net gesonde mense wat uitdagings het. Ons wil daardie uitdaging behandel as bloot ʼn groeigeleentheid vir jou.
Die feniks (phoenix), in antieke Egipte was ‘n ongelooflike groot en mooi voël. Daar is gesê dat die feniks so groot soos ‘n arend was, met ‘n lieflike helderrooi kleur, goue pluime en ‘n stem soos ‘n nagtegaal. Net een feniks kon op ‘n slag bestaan en het ‘n lang lewenspan gehad. Wanneer sy einde egter nader kom, het die feniks verbrand in ‘n vuur vol geurige aromas en speserye, tot die feniks heeltemal tot as verbrand het. Vanuit hierdie as het daar ‘n groter, beter, mooier en sterker voël verrys as ooit vantevore.
Die herrese feniks:
ʼn Patologie-model
Sedert 1952 tot vandag is pogings aangewend om mense te diagnoseer en in versteuringskategorieë te plaas. Sedert 1952 poog die diagnose handboek (tans die DSM 5) om mense in boksies te plaas. Hierdie boksies word konstant verander en aangepas om die kompleksiteit van menswees te probeer klassifiseer.
Hierdie diagnoses raak al hoe meer en ook komplekser. Skielik is daar nuwe boksies en nuwe diagnoses. Oues val weg en ander word bloot aangepas. Dalk het dit tyd geword dat ons van hierdie versteurings weg beweeg. Daar word egter nie vir ons vertel waarheen ons moet beweeg nie. Die afwesigheid van depressie is nie dieselfde as die teenwoordigheid van geluk, positiewe emosies en betekenis in die lewe nie.
In plaas daarvan om iemand te etiketteer as byvoorbeeld depressief, ‘n moordenaar, ‘n monster, of wat ookal en dit as sodanig te behandel, kan ons eerder die positiewe kwaliteite wat daar onder die maatemmer begrawe lê, gaan uitgrawe en dit tot ons voordeel gebruik. Wanneer jy aan die positiewes in jou lewe bou, daarop fokus, sal die negatiewes vanself verdwyn en met positiewes vervang word. Jy sal ast’ ware outomaties positiewe dinge tot jou aantrek.
Die fokus hoort dus nie te wees op wat verkeerd met die mens is nie, maar eerder op dit wat reg met die mens is. Dit gebeur ook wanneer daar vrae gevra word oor wat die positiewe intensie agter gedrag was, eerder as om die gedrag self te beoordeel. Dit vra dalk van ons om nie te oordeel nie, maar om te vra wat die intensie van daardie persoon was.
ʼn Positiewe model
In die positiewe sielkunde wil ons weg beweeg van die patologie-model. Ons wil nie fokus op depressie, angs en alle ander geestesversteurings nie. Ons wil fokus op die hulpbronne en talente wat jy het as goed-geskape mens.
Om depressie te bestry beteken nie dat die afwesigheid van depressie ʼn gevoel van geluk, positiewe emosies en betekenis in jou lewe gaan skep nie.
Ons wil in die hier-en-nou, sielvol, met al ons sintuie fokus op dit wat ons het.
Kernkomponente van positiewe sielkunde
Die Positiewe sielkunde fokus op die hulpbronne waaroor ‘n mens beskik om hulle te help om hul uitdagings te oorkom. Positiewe sielkunde fokus op konsepte soos smaking (savouring), dankbaarheid, sielvolheid (mindfulness), optimisme, veerkragtigheid (resilience), lewenslustigheid (vitality) en soveel meer.
Smaking
Smaking is wanneer jy jou gedagtes en aksies gebruik om positiewe emosies te ervaar en te waardeer. Dit is om alles wat na jou kant toe kom, te geniet, te smaak, in te drink en te beleef. Dis wanneer jy positief oor jouself en jou vermoëns voel.
Dankbaarheid
Dit is soveel makliker om te fokus op dit wat ons nie het nie eerder as om dankbaar te wees vir dit wat ons reeds het.
Die Tibetane het ʼn stelling wat soos volg lui: the moment when we are content, we have enough. Ons gaan nie volkome (content) wees wanneer ons genoeg het nie. Ons sal genoeg hê wanneer ons volkome is.
Dit is wanneer jy sielvol bewus word van die klein dingetjies rondom jou. Dis wanneer jy jou vyf sintuie gebruik om alles wat jy om jou het, te ervaar en te waardeer. Dit is kosbare oomblikke. Dankbaarheid is wanneer jy weg van jouself af fokus en fokus op die oomblik en op dit wat om jou aan die gang is. Miskien kan jy ʼn verskil maak in iemand anders se lewe met ʼn onverwagse daad van onbaatsugtigheid. Wie sal ooit weet?
Volg gerus hierdie skakel: https://www.youtube.com/watch?v=QYcXTlGLUgE
Sielvolle meditasie
Daar word nie elke dag van jou verwag of fisies stil te sit en te mediteer nie. Jy hoef nie in ʼn mandala-posisie te sit en allerhande rympies of vreemde deuntjies te neurie nie.
Meditasie beteken dat jy elke oomblik, waar jy ookal is en wat jy ookal doen, bewus raak van waar jy is, wat jy doen, wat jy voel, waarmee jy ookal besig is met al vyf jou sintuie. Meditasie beteken dat jy jou kos, wyn, tuin, jou omgewing op pad werk toe of watookal sielvol en in die oomblik van die hier-en-nou geniet.
Jy kan van tyd tot tyd net stil raak, niks doen nie. Jy kan bloot net asem haal, ontspan en bewus raak van wat jy ookal met jou vyf sintuie ervaar, beleef. Dit is sielvolle meditasie genoeg.
Geleerde optimisme
Jy kan leer om meer optimisties te wees. Jy is nie ʼn slagoffer nie. Jy is nie ʼn slagoffer van jou gene, opvoeding, verlede of van jou lewenservaringe nie.
Jou uitdaging is ook nie die gevolg van hoe jy groot geword het nie. Jy het dalk geleer dat jy ʼn slagoffer is. Maar jy is nie. As kind kon jy dalk ʼn slagoffer gewees het, maar vandag is jy net soveel ouer en wyser as gevolg van die hulpbronne wat jy uit jou lewenservarings en kennis wat jy as volwassene opgedoen het.
So ook is jy nie ʼn slagoffer van die gebeure in jou lewe nie. Daar is dinge wat gebeur het en jy het in die hier en nou die keuse om te voel soos ʼn slagoffer of om soos ʼn oorwinnaar te voel.
Jy kan kies om ʼn positiewe, selfvervulde professie, wat daardie denke herversterk, te volg. Of jy kan kies om negatief te bly dink en sodoende die patroon van jou negatiewe denke te bly herversterk. Die keuse bly joune.
Veerkragtigheid
Veerkragtigheid is daardie vermoë van die mens om na elke terugslag in die lewe sterker, beter terug te kom as ooit vantevore. Dis hierdie mense, wat soos ‘n feniks uit die as herrys, sterker, kragtiger en mooier as ooit vantevore.
Lewenslustigheid
Lewenslustigheid is vanselfsprekend. Dit is die lus om te lewe. Dit is om werklik te lewe en om ‘n sukses van jou lewe te maak. Dis wanneer jy moeiteloos die lus het om kreatiewe oplossings vir jou uitdagings te soek en te vind.
Dit is jou keuse of jy deur vrees beheer wil word of deur die lewe gedryf wil word. Jy kan kies om in die as te bly, of jy kan daaruit uitstyg. Beter, sterker en kragtiger as ooit tevore. Daardie keuse is altyd joune en joune alleen.