Hel is ander mense (en hulle opinies)
Inleidend
In 1944, net voor die einde van die Tweede Wêreld-oorlog, toe die wêreld in ‘n staat van hel verkeer het, het ‘n verhoogspel deur die Franse Eksistensiële filosoof, Jean-Paul Sartre, die verhoog getref.
Die verhoogstuk was oorspronklike getiteld: In Camera, wat verwys na die regsterm waarin ‘n privaat gesprek agter geslote deure plaasvind. Hierdie toneelstuk gaan oor die hiernamaals waar drie karakters wat gesterf het, gestraf word deurdat hulle saam in ‘n vertrek opgesluit word.
Hierdie drie verdoemde siele, Joseph Garcin, Inès Serrano en Estelle Rigault word vir ewig in dieselfde vertrek opgesluit, wat die hel verteenwoordig. Hulle het ewige pyniging en ‘n helse vuur verwag, maar in plaas daarvan bevind hulle hulself in ‘n heel netjiese vertrek. Aanvanklik wil nie een van die drie karakters erken hoekom hulle verdoem is nie. Joseph beweer dat hy terreggestel is omdat hy ‘n pasifis was. Estelle hou aan deur te sê dat sy ‘n fout gemaak het. Inès is die enigste een wat daarop aandring dat hulle ophou lieg en hul morele misdade, bely. Sy weier om te glo dat hulle almal per toeval saam opgeëindig het. Sy besef dat hulle in dieselfde vertrek beland het met die blote doel om mekaar misrabel te maak en mekaar se martelaars te wees.
Joseph stel voor dat hulle mekaar uitlos en stilbly. Maar Inès begin sing oor ‘n terregstelling terwyl ‘n ydel Estelle na ‘n spieël soek om haarself te bewonder. Inès probeer om vir Estelle te verlei deur aan te bied om haar spieël te wees. Sy beloof om haar alles te vertel wat sy sien, maar sy maak Estelle meer bang as enigiets anders. Dit word binnekort duidelik dat Inès aangetrokke tot Estelle voel. Estelle is weer aangetrokke tot Joseph. Joseph is egter nie lus vir enigiets of iemand nie.
Na lang argumente besluit hulle om hul wandade te bely sodat hulle weet wat om van mekaar te verwag. Joseph het sy vrou mishandel en tydens die oorlog uit sy land gevlug. Inès het haar neef se vrou verlei terwyl sy saam met hulle gebly het. Estelle het ‘n affair gehad, swanger geword en die kind vermoor, wat op sy beurt tot gevolg gehad het dat die kind se pa selfdood gepleeg het.
Ongeag hierdie belydenisse, het hulle steeds op mekaar se senuwees gewerk. Joseph begin ingee tot Estelle se verleiding en dit maak Inès van haar kop af. Joseph smeek Estelle om hom te oortuig dat hy nie ‘n lafaard was om van sy land te vlug tydens die oorlog nie. Intussen vertel Inès vir Joseph dat Estelle net voorgee dat sy tot hom aangetrokke is net om by ‘n man te kan wees, enige man. Joseph, op sy beurt, probeer ontsnap.
Hy probeer herhaaldelik om die deur oop te maak. Skielik gaan die deur oop, maar hy kom nie so ver om uit te stap nie. Ook die ander twee kies om eerder in die vertrek te bly.
Joseph wil daar bly tot hy oortuig is dat Inès hom kan vertrou. Sy weier egter, sê dat hy ‘n lafaard is en belowe om sy lewe vir ewig hel te maak. Joseph maak die afleiding dat die hel ander mense is en dat dit erger as enige marteling of fisiese straf is.
Estelle probeer steeds om Joseph te verlei, maar hy wil nie hieraan toegee met die gedagte dat Inès toekyk nie.
‘n Woedende Estelle begin Inès te steek met ‘n papiermes. Aangesien hulle reeds almal dood is, is hierdie aanval futiel en Inès begin selfs halfhartig haarself te steek, maar raak dan aan die lag.
Estelle besef hulle is almal hier vir ewig vasgevang en lag maar net saam. Almal lag totdat Joseph finaal tot die besef kom: Eh bien, continious. Rofweg vertaal as: ag wat, kom ons gaan net aan.
Dit kan nogal erg raak, as dit vir ewig en altyd so moet aangaan. Die hel is om vir ewig met iemand saam te moet leef wat jou teen die mure uitdryf, terwyl jy dit in hierdie lewe skaars vir minute met hulle sou kon verduur. Of dit ‘n huweliksmaat, ‘n vriend, of ‘n kollega by die werk is, hulle irriterende gewoontes, hul simpelheid, sinisme, onnoselheid en hulle voorkeure wat so met joune bots – dit is die hel.
Ander mense – dis die hel
Sartre se idee dat ander mense die hel is, word soms misverstaan. Hy het nie noodwendig bedoel dat ander mense hel, wreed of sleg is nie.
Sartre se idee was eerder dat wanneer ons oor onsself dink, ons die kennis wat ander oor ons het, as ons verwysingsraamwerk gebruik. Ons gebruik die oordeel van ander mense as bevestiging vir dit wat ons in elk geval van onsself dink. Ons laat toe dat ander mense ons hel word. Ons luister na wat ander mense van ons dink of oor ons te sê het en oordeel onsself op grond van ander se oningeligte opinies van ons.
Sartre ontken nie die feit dat die hemel ook ander mense, of dan ons reaksie op hulle of hul opinies is nie. Maar vir die doel van hierdie boodskap wat hy wil tuisbring, word daar op die hel-aspek gefokus.
Meer oor die hel is ander mense
Volgens Sartre is dit onmoontlik om opinies oor onsself via onsself te vorm. Ons kry dus ons opinies oor onsself via ander. As ons onsself hoog ag, het ons waarskynlik daardie opinie oor onsself gevorm na aanleiding van opinies van ander oor ons. Ons kon waarskynlik ook ‘n hoë agting oor onsself ontwikkel na aanleiding van terugvoering wat ons van ander mense kry as ons sukses behaal. Die teenoorgestelde sal natuurlik geld vir mense wat negatief oor hulself dink.
Sartre sluit nie noodwendig egoïsme en narcissisme hierby in nie. Hy postuleer dat dit veroorsaak kan word deur opinies en fantasieë wat ons oor onsself vervaardig na aanleiding van die opinies van ander.
Ons is dus gedoem om ander mense nodig te hê, of ons dit nou wil erken of nie. Hoe vry ons ookal van die opinies van ander mense wil wees – ons kan nie. Ons is vasgevang. Al wil jy vir die wêreld vertel dat jy nie omgee wat ander mense van jou dink nie – jy gee steeds om. Jy gee baie om. Dit raak jou. Ons is verslaaf aan ander se goedkeuring. Ons wil so graag hê dat mense ons lief moet hê, respekteer en bewonder vir wie ons is.
Bogenoemde staan nogal in skrille kontras met meeste sielkundige denkskole wat ‘n interne lokus van beheer propageer, waar mense hul eie meesters en nie die slagoffer van ander mense se opinies is nie. Meer hieroor later.
Of ons nou daarvan hou of nie, ander mense is daarop uit om ons op een of ander manier te gebruik. Of dit nou jou werkgewer is wat jou in diens neem om vir hul geld te maak, vriende wat jou vir geselskap gebruik of ander mense wat op een of ander manier iets wat jy kan bied, benodig. Ongeag die omstandighede, mense is daarop uit om jou te gebruik. Jou hulp kan ook tot jou eie voordeel (of nadeel) wees.
Stel jouself vir ‘n oomblik ‘n wêreld voor waar jy ander mense respekteer, bevriend en liefhet vir wie of wat hulle is en nie vir hul geld, status, mag, suksesse, besittings, voorkoms, kennis of bydraes wat hulle tot jou lewe mag maak nie.
Tussenspel
Sartre laat ons inderdaad in ‘n wurggreep van ‘n dilemma. Sy idee van die hel wat ander mense is, kan nie weggewens word nie. Sartre los egter vir ons ‘n skuiwergat (loophole) om onsself uit hierdie dilemma gewikkel te kry, deur die idee dat ons altyd keuses het. Dat ons dit toelaat. Dalk is ons maar net ons eie hel. Ek het nie noodwendig oplossings hiervoor nie, maar kan ‘n paar gedagtes deel.
‘n Eksterne lokus van beheer
Ons beoordeel mense dadelik op grond van hul kleredrag, motors, voorkoms, ras, opvoeding, sosiale status… ag, die lys is eindeloos.
Ons beoordeel onsself ook op grond van hoe ander ons beoordeel, of sou beoordeel in ons interpretasie van hoe hulle ons sou beoordeel.
Ons dink ander mense skep vir ons hierdie hel, maar in werklikheid skep ons ons eie hel.
Die sielkunde noem dit ‘n eksterne lokus van beheer (external locus of control). Ons het volgens die vader van hierdie teorie, Jullian B. Rotter, twee lokusse: intern en ekstern. ‘n Interne lokus van beheer is waar jy glo jy beheer jou eie lewe. ‘n Eksterne lokus van beheer is waar jy glo dat jou besluite en jou lewe deur faktore of mense in die omgewing om en buite jouself beheer word – jy het dus geen beheer oor jou eie besluite nie. As jy met iets misluk het, sal die persoon met ‘n interne lokus van beheer net hom- of haarself blameer. Mense met ‘n eksterne lokus van beheer sal ander mense of faktore vir hul eie mislukkings blameer. Ons is geneig om eerder met ‘n eksterne lokus van beheer te leef. Ons blameer omstandighede, die regering, die ekonomie, onvoorsiene omstandighede en ander dinge vir ons uitdagings. Selfs al sou dit waar kon wees dat dit hulle skuld is, gaan dit niks aan jou gevoelens of omstandighede verander nie.
Ons soek ewige jeug, rykdom en roem. Ons sal nie dood buite gesien word sonder mooi klere, presiese grimering en ons beste glimlag nie. Ons photoshop ons foto’s voor ons dit op sosiale media plaas. Ons koop boeke of tydkrifte wat die fokus daarop plaas om ander mense te beïndruk. Almal vertel ons hoe om jonger te lyk, langer te leef, mooier te lyk, die beste gadgets te hê, die mooiste motor te ry, hoe om geld te maak of te spaar en so kan ek aangaan. Ons plaas foto’s van hoe oulik ons is op Facebook en Instagram. Ons beïndruk mense met ons mooi huise en suksesse. Ons spandeer so baie van ons swaar verdiende geld net om by die Vannermerwes by te hou. Net om aanvaar te word. Ons vang onsself vas in hierdie hel van ander mense. Of dan eerder die hel wat ons vir onsself skep deur te dink wat hulle van ons sou dink.
Net soos ons drie karakters in Sartre se toneelstuk, is ons almal in dieselfde vertrek, om mekaar misrabel te maak. Ons steek, soos die drie karakters, ons ware self vir ander weg. Ons verdedig ons gedrag en as ons nie kan nie, skuil ons agter die feit dat ons ‘n fout gemaak het. Maar al waarin ons belangstel, soos Estelle, is om goed te lyk. Wanneer ons nie goed genoeg voel nie, of soos Inès, in ons liefde verlaat voel, maak ons die ander persoon vir wie ons eintlik lief is, se lewe hel. Ons doen dit eintlik as gevolg van ons eie kwessies en nie noodwendig omdat die ander persoon iets verkeerd gedoen het nie. Ons is mekaar se martelaars.
Dit is dus nie vreemd dat toetse gewys het dat mense met ‘n eksterne lokus van beheer gedoem is om ongelukkig te wees nie.
Verskoon tog die onderbreking… ek moet gou op Facebook gaan kyk wie die inskrywing wat ek geplaas het, ge-like het. Ek voel goed oor positiewe kommentaar wat iemand op iets wat ek geplaas het lewer, maar daar is ook iemand wat negatiewe kommentaar gelewer het. Hul negatiewe kommentaar is geneig om swaarder te weeg as al die ander positiewe, opbouende kommentaar.
Dalk is Sartre tog reg. Hoekom ontstel die negatiewe kommentaar my meer as die satisfaksie wat die positioner kommentaar my verskaf?
Dit is seker idealisties om te dink dat mense net fokus op ‘n interne lokus van beheer. Ons is eerder iewers op ‘n kontinuum tussen die twee.
Jy is altyd in beheer
Miskien moet ons soos mense met ‘n goeie ideaal (met ‘n interne lokus van beheer) eers die fout by onsself soek. Dis soos om eers die balk uit jou eie oog te haal voor jy die splinter uit iemand anders se oog probeer haal. Natuurlik is daar mense wat opinies oor ons het en hierdie mense het hulle eie issues. Ons gaan in die volgende afdeling meer hierop uitbrei.
Laat jy ander mense en hul opinies toe om jou na ‘n eksterne lokus van beheer te verskuif, soos in die geval met ons drie vriende?
Is die hel inderdaad ander mense, of is die hel dit wat ons vir onsself veroorsaak deur hoe ons ander mense en hul opinies interpreteer en aanvaar.
Jy is die hele tyd in beheer van jou lewe aangesien jy altyd keuses het. Jy het alles wat nodig is om suksesvol te wees. As jy nie beheer van jou lewe neem nie, sal ander mense dit met graagte vir jou beheer. Dit is nooit iemand anders se skuld nie. Jy is in beheer van jou lewe en dinge gebeur soos wat jy dit toelaat, al dan nie.
Om iemand anders te blameer, is om daardie persoon in beheer van jou lewe te plaas. Dis wanneer jy besef dat jy alleen in beheer van jou lewe is, dat jy nie meer toelaat dat ander jou beheer nie. Dan eers sal mense begin om jou anders te behandel. Maar die eerste verandering moet by jou begin. Mense word beter wanneer jy beter word – ‘n bekende aanhaling deur Brian Tracey.
Hoe meer jy verander, hoe meer verandering sal jy ervaar.
Moet dus nie voortgaan om ander in beheer van jou lewe te plaas deur hom of haar vir jou keuses te blameer nie. Moenie jouself so ontmagtig en beheer oor jou lewe verloor nie. Neem beheer oor jou eie lewe terug.
Wie de hel is hierdie mense wat die hel is, in elk geval?
Die hel word immers deur onsself veroorsaak, maar ons het steeds ook ‘n eksterne lokus van beheer. Dit mag jou ook help indien jy die mense wat die hel vir jou veroorsaak beter verstaan. Hierdie opinie-vormers beskik moontlik oor die volgende eienskappe:
- Hulle is oningelig:
Oorweeg gerus die volgende aanhalings:
hoe minder die feite, hoe sterker die opinies – Arnold H. Glasow.
jy is nie geregtig op jou eie opinie nie. Jy is geregtig op jou oningeligte opinie. Niemand is daarop geregtig om onkundig te wees nie – Harlan Ellison.
eendag sal jy ontdek dat die opinies van waardelose mense, wel, waardeloos is – Piers Anthony, A Spell for Chameleon.
Dit is inderdaad die maklikste ding om ‘n opinie oor iemand of enige iets uit te spreek. Mens hoef nie eens daaroor te dink nie. Volgens Carl Gustav Jung, kan hierdie mense gewoonlik nie dink nie. Opinie is die laagste vorm van menslike kennis. Dit vereis geen verantwoordelikheid of begrip. Die hoogste vorm van kennis is empatie, want dit vereis van ons om ons ego’s op die agtergrond te skuif en onsself in die ander persoon se wêreld te plaas. Dit vereis dat ons in die ander persoon se skoene moet staan. Dit gaan oor ‘n groter sin vir betekenis en sin in die wêreld.
Ten slotte het Carl Gustav Jung ook gesê: om te dink, is moeilik – dit is waarom die meeste mense oordeel.
- het hulle eie minderwaardigheidskwessies:
Hulle voel hulle kan hulself nie ophef tot waar jy is nie. In plaas daarvan om hulself te probeer verbeter tot jou standaard, sal hulle eerder probeer om jou af te trek na hul vlak. Bloot omdat hulle nie in hulself en hul eie vermoëns glo nie. Hou ook in gedagte dat dit makliker is om iemand af te trek as om jouself op te lig.
Ek dink nou aan iemand saam met wie ek in die koshuis gebly het tydens my universiteitsjare. Ek het die informele geneigtheid om iemand se intelligensie te meet aan hul vermoë om skaak te speel. As ek hier my eie ego mag streel, met ‘n goeie eksterne lokus van beheer – ek is ‘n baie goeie skaakspeler, daarom glo ek dat ek baie intelligent is, maar ek kon nooit teen *Gerrit wen nie. Natuurlik was Gerrit dus meer intelligent as ek, maar hoe kon dit moontlik wees? Alhoewel ons saam as eerstejaars begin het, was op daardie stadium reeds besig met my nagraadse kwalifikasie terwyl Gerrit steeds besig was met sy eerste-jaar vakke.
Ek het hom een aand hiermee gekonfronteer en vir hom gevra hoe dit moontlik is dat hy aanhoudelik sy vakke druip. Sy antwoord aan my was: ek druip my vakke omdat ek nie leer nie. Op my vraag hoekom hy nie leer nie, was sy antwoord: as ek nie leer nie, kan ek dit altyd as rede aanvoer waarom ek gedruip het, maar wat as ek wel geleer het en steeds druip?
- Het self nie veel in die lewe bereik nie:
Sommige mense wat afbrekende en negatiewe kommentaar lewer oor die suksesse van ander mense, is gewoonlik mense wat self nie veel in die lewe bereik het nie en sal juis diegene wat wel iets bereik het, altyd kritiseer.
- Is jaloers:
In een van die fabels van Aesopus sien ’n vos ’n tros ryp, uitgeswelde druiwe wat aan ’n wingerdloot hang. Hy spring boontoe om die druiwe te gryp, maar vind dat hy dit nie kan bykom nie. Hy probeer weer en weer, maar hy kry dit net nie raakgegryp nie. Uiteindelik, moeg en gefrustreerd, oortuig hy homself dat die druiwe klein en nog groen is en waarskynlik suur smaak. Ons praat hoeka van ”suur druiwe” wanneer iemand iets verkleineer of afbreek wat hy graag wil hê, maar nie kan kry nie!
Dalk is dit reeds duidelik waarom hulle jaloers op jou sou of moontlik mag wees en jou wil probeer afbreek. Dit is bloot omrede hulle nie voel dat hulle tot jou vlak kan styg nie, maar jou eerder sal wil aftrek tot hulle vlak. Hulle sal egter nie hul eie jaloesie raaksien nie, want min mense wil hul gevoelens van minderwaardigheid erken. Soos Inès en Estelle sal hulle eerder verkies om kwaad te voel.
Jealousy makes you nasty. Hulle het self dalk nie veel in die lewe bereik nie en is daarom jaloers op jou.
- Sien hulle eie skadukant nie raak nie:
Carl Gustav Jung, een van die vaders van die sielkunde, praat van die skadu of die mense se skadukant.
Jou skadukant is letterlik daardie deel van jou menswees waarvan jy nie hou nie. Daardie deel wat jy nie wil raak sien nie. Jou onderbewuste steek dit letterlik vir jou weg, sodat jy onbewus bly van daardie onaanvaarbare deel van jouself.
Volgens Jung is die skadu instinktief en irrasioneel en is geneig om raakgesien te word in sogenaamde projeksie, wat in die volgende punt aangespreek word.
- Gebruik projeksie as verdedigingsmeganisme:
‘n Verdedigingsmeganisme is onbewustelike gedragspatrone wat ‘n persoon gebruik om hom- of haarself te beskerm teen gevoelens van angs, verleentheid, minderwaardigheid of skuldgevoelens. Projeksie keer dat hierdie gevoelens tot hul bewustheid binnedring.
Projeksie is waar iemand op ‘n onbewustelike vlak hul eie skadukant, dit wil sê onaanvaarbare wense, eienskappe, tekortkominge, houdings of subjektiewe gevoelens aan ander toeskryf. So glo die kwaad persoon byvoorbeeld dat ander kwade gevoelens teenoor hom of haar koester.
- Hulle projekteer dus hul eie kwessies (issues) op jou:
Hierdie verskynsel staan ook bekend as blaamverskuiwing (blame shifting) waar mense hulself verdedig teen hul eie onaangename impulse deur te ontken dat hulle hierdie impulse het deur dit aan ander mense toe te dig. So mag die vroueslaner jou beskuldig dat jy aan vrouens slaan. Ons ken almal daardie spreekwoord om self agter die deur te staan en iemand anders daar te soek.
As ons weer na ons vriende in ons toneelstuk kyk, sien ons hier ‘n warm patat sindroom. Soos jy seker weet, kan ‘n patat hel-warm word. Sou jy so ‘n patat in jou hand hê en dit jou brand, gaan jy dit in die lug in opgooi of na iemand anders gooi. Jy gaan hulle blameer, want dit is veel makliker om woede te voel as om skuld te aanvaar. Iemand het eenmaal gesê dat sommige mense voorgee dat jy ‘n slegte persoon is, sodat hulle nie skuldig hoef te voel oor die dinge wat hulle aan jou gedoen het nie. Hulle wil dus hul negatiewe, afbrekende gedrag en woorde rakende jou op die manier regverdig. Dit veroorsaak dat mense gemakliker in hulself voel omdat hulle dink hul eienskappe is dieselfde as die van ander mense.
Wanneer jy besluit het dat die ander persoon nie van jou hou nie, verdedig jy net eintlik jou eie besluit om nie van hulle te hou nie. So vervul jy ‘n selfvervullende professie, aangesien meeste mense nie van mense hou wie nie van hulle hou nie.
Dit waarvan hulle jou beskuldig, is dus hoogswaarskynlik hul eie kwessies en jy het steeds die keuse of jy jou daaraan gaan steur of nie.
- Besef waarskynlik nie eers hulle maak jou seer nie:
In die meeste gevalle besef hierdie mense nie eens dat hulle jou seer maak nie. Hulle het maar hul eie self-esteem probleme en kan nie verstaan hoekom mense hulle vermy nie. Sodra jy dit besef en self nie oordeel nie, is wanneer jy die lewe vir jouself makliker maak.
Moenie dat jou eie woede jou gesonde oordeel bewolk nie. Hierdie opinie-vormers is te besig met hul eie kwessies om te besef dat hulle ‘n invloed op jou het (sou jy dit toelaat).
Hoe om hierdie mense te hanteer
- Dink anders daaroor:
Soos jy in die vorige punt gesien het, is hierdie negatiewe dinge wat hulle vir jou sê, hoogswaarskynlik hul eie kwessie en kan jy dit ook in daardie lig sien.
Besef dat deur hul stellings te aanvaar, jy aan hulle sekere magiese magte oor jou gee. Wie is hulle in elk geval om hierdie goed van jou te weet? Is hulle so oulik dat hulle selfs jou gedagtes kan lees? Ken hulle al die antwoorde? Hoe weet hulle hoe en wat jy is? Hulle kan nie in jou siel inkom of inkyk nie.
Mense wat gelukkig in hulself is, gaan net die positiewe dinge in ander mense sien. Mense wat ongelukkig in hulself is, gaan weer net negatiewe dinge in ander mense sien. Dink maar aan jouself: as jy goed voel oor jouself, is jy geneig om positiewe dinge in ander mense raak te sien, nie bedreig te voel deur hulle prestasies en suksesse nie en saam met hulle bly wees as hulle iets goed gedoen het of iets bereik het. Wanneer jy nie goed oor jouself voel nie, is wanneer jy jaloers, afgunstig en bedreig voel deur ander se suksesse. So geld dit vir mense wat bedreig voel deur jou. Gesels maar met mense wat dit regtig ver in die lewe gebring het – hulle het net goeie goed oor ander en die lewe te sê. Dan gaan praat jy weer met iemand wat soos ‘n mislukking voel en jy sal vinnig agterkom dat hulle niks goeds oor ander en die lewe te sê het nie. Hoe jy oor jouself voel, sal reflekteer op dit waarop jy fokus in ander en die lewe.
Indien jy steeds hiermee sukkel, kan jy dit oorweeg om hulp te gaan soek om jou te help met jou self-esteem. Die sneller mag dalk ou idees wees wat jy oor jouself of wat ander mense, soos jou ouers of onderwysers, van jou as kind gehad het.
A lion never loses sleep over the opinion of sheep – Booth Brothers.
Besef dat jy altyd in beheer is, soos ons dit in die vorige afdeling bespreek het.
Anthony Hopkins het dit so treffend gestel: my filosofie is dit: dit is nie my besigheid wat ander van my sê of dink nie. Ek is wat ek is en ek doen wat ek doen. Ek verwag niks en aanvaar alles. Dit maak die lewe soveel makliker.
- Doen eers self-ondersoek:
Maak eers seker dat jy nie dalk self die ander mens is wat die hel is nie. Jy mag dalk jou eie mag, impak of invloed oor ander mense onderskat. Almal soek aanvaarding. Jy mag verbaas wees dat juis daardie persoon wat jou hel is, dalk ook jou aanvaarding soek.
Maak seker of jy nie ‘n hoër opinie het oor die mense wat jy ag ‘n hoë opinie hoort te hê nie. Oordeel jy dalk mense wat jou oordeel? Het jy nodig om reg te wees oor mense wie dalk nodig het om reg te wees?
- Besluit eers of jy nodig het om hierdie gedrag te konfronteer:
Het jy nodig om hierdie gedrag te konfronteer? Is dit nie dalk maar net hul eie sirkus, hul eie narre nie? Is dit hul eie self-esteem uitdagings wat niks met jou te make het nie?
Ek het eendag gesien hoe ‘n Maltese poedel ‘n Duitse Herdershond bestorm. Hierdie Herdershond kon verseker met een hap die Maltese poedel middeldeur byt. Tog het die Herdershond gevlug van die Maltese poedel en hom nie gekonfronteer nie. Hoekom nie?
Hierdie Herdershond het, anders as mense, nie nodig om homself te bewys nie. Dis nie vir hom nodig om te bewys wie die sterkste is nie. Hy ken sy eie vermoëns en waartoe hy in staat is.
Jy het nie nodig om deel te neem aan elke geveg waarna jy uitgenooi word nie. Jy gaan slegs aan so ‘n geveg deelneem:
– as jy bang voel,
– as jy kwaad is, of
– as jy voel jy het iets om te verdedig, of te bewys.
Hoekom sal jy die uitnodiging tot so ‘n geveg aanvaar indien dit onnodig is? Jy hoef nie toe te laat dat ander mense se persoonlike kwessies en konflikte joune hoef te raak nie. Jy hoef niks te sê nie.
Silence is the best reply to a fool – Imam Ali.
- Vind meer uit oor hierdie mense:
Jy gaan dalk verras wees as jy agterkom dat jy nie die enigste persoon is wat deur hulle misbruik word nie. Daar is ander mense ook, wat jou sal laat besef dat jy nie regtig die probleem is nie – dalk nooit was nie.
Dalk besef jy hulle is ook net mense met hul eie uitdagings en onsekerhede. Jy kan selfs empatie vir hulle ontwikkel.
- Bly besef jy het ‘n doel op aarde:
Jy is hier geplaas om ‘n taak te voltooi. Getrou aan Sartre, Søren Kierkegaard, Karl Jaspers, Irvin Yalom en ander eksistensiële denkers se idees, is jy op aarde geplaas met jou Godgegewe doel. Geen mens, in hul pogings om jou te verwoes, kan jou keer om jou lewenstaak te voltooi nie. Hulle kan jou op alle vlakke ruïneer, maar nie ten opsigte van jou lewenstaak nie. Dit is nie in hulle hande nie, maar in God s’n.
Ten slotte
Die hel bly steeds ander mense en hul opinies. Net soos ons karakters in Sartre se In Camera, is dit die ontkenning van die ander mense oor hulle eie uitdagings. Die drie karakters in hierdie toneelstuk wil nie erken hoekom hulle verdoem is nie. Hulle het almal ‘n verklaring vir hul gedrag, maar hul goeie verklarings bly steeds hulle eie kwessies.
Sodoende probeer hulle die heeltyd om mekaar se aanvaarding te verkry, maar dit maak hul uitdagings net nog meer kompleks.
Is die hel ander mense? Ja, as jy dit toelaat. Hou egter in gedagte dat jy altyd in beheer is en dit nie hoef toe te laat nie. Soos Sartre self erken: die hemel kan ook ander mense wees. Dit gaan alles oor die keuses wat jy maak. Jy alleen is in beheer van jou keuses en jou lewe.
Dalk is ‘n interne lokus van beheer tog maar die antwoord.
Jy het ten spyte van alles, ‘n lewenstaak om te voltooi, ongeag die opinies van ander. Jy is geskape met alles wat nodig is om jou taak hier op aarde te kan uitvoer en om suksesvol te wees. Sien jou foute, anders as ons vriende in Sartre se toneelstuk, as ‘n groei- en leergeleentheid. Of die glas half vol of half leeg is, is irrelevant – die glas is hervulbaar.
En dis hoe jou hel jou hemel kan raak.
Ek dink tog ek gaan daardie persoon se negatiewe kommentaar op Facebook ignoreer…