Die verskil wat die verskil maak - © Jorgan Harris

Neuro-Linguistiese Programmering (NLP)

Ek het ‘n artikel oor NLP gepubliseer wat in die Hypnos (Scientific Journal of the South African Society for Clinical Hypnosis in April 2012) verskyn het.

NLP – Utilise the Brilliance in You

NLP – the difference that makes the difference © Jorgan Harris

 

Wat is NLP?

NLP is die afkorting vir die kommunikasie-model bekend as Neuro-linguistiese Programmering. 

NLP is die magiese bestanddeel wat tot nou toe die verlore skakel was in alle motiverings- en interpersoonlike opleiding. NLP sal jou help om binne die eerste drie minute nie net ‘n verhouding met iemand te bou nie, maar ook die maksimum uit enige verhouding te verkry terwyl jou selfsvertroue verder ontwikkel en verbeter.

Maar wat is NLP regtig?

  • NLP is ʼn houding.
  • Dis ʼn nuuskierigheid en ʼn gewilligheid om te eksperimenteer.
  • NLP is ʼn metode.
  • NLP is ʼn wetenskap om sekere aspekte rondom ons menswees te verduidelik.
  • NLP is ook ʼn stel tegnieke wat ons gebruik.
  • Voorts is NLP ʼn kuns.

Daar is vyf bestanddele in NLP:

  • NLP is die kuns van persoonlike briljantheid.
  • NLP is egter ook ‘n wetenskap van persoonlike briljantheid.
  • NLP is ʼn nuwe benadering om die proses van menslike kommunikasie beter te verstaan.
  • NLP bemoei ditself met die manier waarop ons inligting ontvang en sin daaruit maak. Vir party mense kan aanraking ʼn boodskap vinniger en kragtiger oordra, terwyl klanke, beelde of prentjies vir ander mense beter werk.
  • Laastens en ook die kragtigste bestanddeel, is jou onderbewuste. Jou onderbewuste is grootliks verantwoordelik vir die ongelooflike dinge wat tydens ‘n NLP-proses kan gebeur.

Hoekom NLP?

Vir baie mense is NLP ʼn wyse van lewe. NLP is ʼn lewensvaardigheid wat grootliks daartoe kan bydra om jou te help om jou volle potensiaal te ontgin. In 2011 het ek ‘n Afrikaanse boek oor NLP gepubliseer:  NLP – Ontgin die briljantheid in jou.

Hiermee kan jy sukses bereik in watookal vir jou belangrik is, byvoorbeeld:

  • jy kan meer oortuigend en selfhandhawend word;
  • jy kan kommunikasie begin geniet en ʼn meester daarin word, of dit nou tussen ‘n groep mense of in ‘n een-tot-een verhouding is;
  • jy kan begin om ongelooflike dinge te vermag deur middel van alledaagse taal, wat jou kan help om jou doelwitte (wat dit ookal mag wees) te bereik. Jy hoef nie eens ʼn taalkundige te wees om NLP te bemeester nie;
  • jy kan beheer neem oor hoe jy voel wanneer jy nodig het om in beheer te voel;
  • jy kan leer hoe om jou positiewe ervaringe vanuit die verlede (waar jy iets goed gedoen het, of waar jy briljant was, of goeie gevoelens gehad het) te herwin om jou instaat te stel om jou doelwitte te bereik;
  • jy kan die gedrag en vaardighede van ander mense wie jy bewonder, modelleer en toepas in jou lewe.

Toepassing van NLP in jou lewe

Jy kan NLP letterlik in enige area van jou lewe toepas. Professioneel en persoonlik. Soos ek reeds genoem het, is NLP ʼn leefwyse.

Met NLP kan jy:

  • mense motiveer;
  • mense oortuig;
  • persoonlikheidsbotsings (konflik) oorkom;
  • interpersoonlike interaksies, soos vergaderings, fasiliteer;
  • wen-wen situasies skep;
  • verskuilde agendas raaksien;
  • kantoorpolitiek hanteer;
  • weerstand om te verander, oorkom;
  • duidelike, oortuigende kommunikasie bewerkstellig;
  • mense met ʼn moeilike houding, anders oortuig;
  • wonderlike dinge regkry met alledaagse kommunikasie, hetsy in groepe of in ʼn een-tot-een verhouding;
  • beheer neem oor jou emosies wanneer dit belangrik is;
  • jou ervaringe, prestasies en goeie gevoelens vanuit jou verlede gebruik om daardie selfde gevoelens te herwin, om sodoende jou doelwitte te bereik;
  • beter en optimaal studeer deur te studeer in jou kommunikasie voorkeur;
  • jou spirituele ervaringe verhoog;
  • jouself of jou produk beter verkoop.

Wat is dan die verskil wat die verskil maak?

Welkom by die weird, wacky en wonderlike wêreld van Neuro-Linguistiese Programmering (NLP), die sleutel tot jou persoonlike briljantheid!

NLP kan jou lewe totaal en al verander. Ek het al soveel keer gesien hoe mense se lewens so maklik en vinnig kan verander.

Dit kan ook met jou gebeur, maklik, vinnig en sonder enige inspanning of moeite.

Hoe NLP jou kan help

NLP bied jou praktiese lewensriglyne wat jou bystaan om jou vermoëns en drome uit te leef:

  • jy kan leer om vir jouself doelwitte te stel (hetsy persoonlike- of lewensdoelwitte);
  • kommunikasie is alles. Jy kan nooit nie kommunikeer nie. Kommunikasie is die sleutel tot al ons sukses. NLP stel ditself ten doel om jou te help om effektief en briljant te kommunikeer om sodoende jou doelwitte te bereik. Jy kan mense letterlik lees deur van jou nuwe vaardighede gebruik te maak ten einde jou doel te bereik. Jy kan bewus raak en leer rakende jou persoonlike krag en hoe om beheer te neem in elke en enige situasie;
  • jy kan ʼn briljante verhouding met ander mense binne drie minute bou. Binne drie minute kan jy in staat wees om te doen watookal jy wil en ander mense sal uit jou hand uit eet; 
  • jy kan jou eie denke beheer en jou eie beperkende gedagtes oorwin, sowel as dié van die persoon met wie jy in interaksie is. Met hierdie nuwe vryheid van denke, kan jy die ongelooflikste dinge doen en ook die beste van die persoon met wie jy in interaksie is, na vore bring;
  • jy kan leer om ʼn wenner te wees. Ons gaan maniere ontdek oor hoe jy binne sekondes beheer oor jou emosies kan neem om sodoende beheer oor jou lewe te kan neem – of dit nou oor jou verlede, hede of toekoms is. Jy kan ook leer om vinnig ontslae te raak van al jou negatiewe gevoelens, emosies en gedagtes;
  • jy kan ʼn briljante self-esteem ontwikkel; en
  • jy kan jouself briljant handhaaf.

NLP is inderdaad die verskil wat die verskil maak.

Scroll to Top