Dankie onderbewuste – wat hipnose is en nie is nie - ©Jorgan Harris

Kliniese Hipnose

Wat hipnose is en nie -in ‘n neutedop

Inleiding

Hipnose is ‘n kragtige instrument om genesing, groei en transformasie te bevorder. Hipnose is ‘n staat van ontspanning waarin die krag van ons onderbewuste ge-aktiveer word om toegang te verkry tot ons innerlike hulpbronne, wysheid en krag om sonder enige inspanning deur enige uitdagting te werk.

Indien ons ons oortuigings kan verander, kan ons oortuigings ons (as mens) verander.

Hipnose word effektief in die volgende velde gebruik:
  • angs en stres;
  • depressie;
  • trauma;
  • selfbeeld en self-esteem;
  • eetversteurings en verslanking;
  • rook;
  • ongesonde gewoontes;
  • voorbereiding vir operasies en nasorg;
  • geboorte-opleiding;
  • akademiese- en sportprestasies;
  • herwinning van geheue;
  • slaapversteurings;
  • seksuele disfunksie en verhoudingsuitdagings;
  • sommige fisiese siektes en gesondheidsuitdagings.

Wat hipnose is en nie – in ‘n neutedop

Ek wil graag hê dat jy ingelig oor hipnose is, oor wat dit is en wat dit juis nié is nie.  Ingeligte mense kry meer sukses met hipnose.  Ek verstaan ook dat jy nie altyd die lus het om te lees nie, of dat jy konsentrasie uitdagings of ‘n gebrek aan motivering mag hê.

As jy nie deur alles wil lees nie, kan ek hipnose in die volgende punte saamvat.  As jy tevrede is hiermee, hoef jy nie verder te lees nie.  Indien nie, kan jy die res van die artikel lees.

Jy sal alles van hipnose verstaan wanneer jy besef dat:

  • hipnose is niks anders as net ‘n diep ontspanne staat nie. Dit is ‘n staat waarin jy altyd en deeglik bewus is van alles wat gebeur. Jy sal na die tyd nie glo dat jy in hipnose was nie. Jy sal niks doen, aanvaar of sê wat jy nie normaalweg sou sê, doen of aanvaar nie;
  • hipnose is soos om na ‘n vervelige toespraak, ‘n gebed in ‘n outydse kerk, of iemand wat nonsens praat, te luister. Jou gedagtes mag afdwaal na ander idees, plekke of situasies.  Dit is perfek so, want ons is geïnteresseerd in jou onbewuste, nie jou bewuste nie.  Wanneer jou gedagtes dus afdwaal, is dit presies wat ons in hipnose wil bereik. Jy mag selfs tydens hipnose dink dat jy aan die slaap geraak het;
  • hipnose is soos dagdroom. Terwyl jou gedagtes afdwaal is jou onderbewuste altyd betrokke en teenwoordig;
  • jy hoef nie te ontspan nie. Hoe harder jy probeer om te ontspan, hoe minder sal jy.  Laat net toe dat alles vanself gebeur.  Jy het geen verantwoordelikheid in die proses nie;
  • jy sal nie glo dat jy in hipnose was nie, totdat jy ‘n paar verrassings teëkom.

Bogenoemde is genoeg vir jou om te weet.  Indien jy meer wil weet, kan jy verder lees.

Wat hipnose nie is nie – meer volledig bespreek

Meeste mense is onder die indruk dat hipnose ‘n tipe slaaptoestand is waarin hulle van niks bewus is nie en dat hulle totaal onder die invloed van die hipnotis is. Voordat ons kan verduidelik wat hipnose regtig is, moet ons eers verstaan wat dit nie is nie:

Hipnose is nie ‘n tipe-slaaptoestand nie

Die woord hipnose is afgelei van die Griekse woord Hypnos. Hypnos is die Griekse god van slaap. Niks is verder verwyderd van die waarheid nie. Jy mag dalk soms voel dat jy tydens hipnose aan die slaap geraak het.  Jy het nie.  Jy het slegs ‘n Theta-trans bereik wat beteken dat jy die diepste vorm van trans wat moontlik is, bereik het. Jou onderbewuste is steeds aktief en reageer steeds op die suggesties wat ek aan jou onderbewuste voorstel.

Tydens hipnose is jy ten alle tye bewus van jouself en jou omgewing. Jy verloor nie vir ‘n enkele sekonde bewussyn nie en (alhoewel jy in ‘n diep trans mag wees, sal geluide en stoornisse in jou omgewing so ver van jou klink dat dit jou nie sal pla nie, solank dit nie vir jou ‘n bedreiging inhou nie. Wanneer iets bedreigends sou gebeur, sal jy eenvoudig uit trans kom om die nodige stappe te neem om jouself te beveilig.

Studies het gewys dat daar ‘n verskil tussen hipnose en slaap is. Studies oor breinaktiwiteit het getoon dat hoewel daar kenmerkende eienskappe van breinaktiwiteit tydens slaap teenwoordig is, is dieselfde nie waar tydens hipnose nie. Hipnose mag dalk vir ‘n buitestaander lyk soos slaap, omdat suggesties oor ontspanning oor die algemeen gegee word as deel van die hipnotiese roetine, maar gehipnotiseerdes is steeds in ‘n staat wat gelyk is aan wakker-wees.

Hipnose is nie gevaarlik nie

Die hipnotiese trans is geensins gevaarliker as ‘n slaaptoestand nie. In geheel gesien is daar geen gevare aan hipnose as dit deur etiese en gekwalifiseerde praktisyns beoefen word nie.

As hipnose gevaarlik was, sou ons onsself moes vertel om nie in ‘n ander staat van bewussyn in te glip nie, om nie te dagdroom nie, nie diep te konsentreer nie en nie totaal geabsorbeer te raak in dinge wat ons diep interesseer nie.

Dink daaraan: om na ‘n haarkapper toe te gaan, is een van die mees gevaarlike ervarings  wat daar kan wees. Hul werk met ‘n gevaarlike wapen, ‘n skêr en dit so na aan jou nek. Een steek en jy is dood! Sou hierdie wete jou verhoed om enigsins na ‘n haarkapper te gaan? Hipnose is ‘n kragtige wapen, maar moet ten alle tye eties beoefen word.

Sogenaamde sterk mense is nie vatbaar vir hipnose nie

Die teendeel is eerder waar. Intelligente, kreatiewe mense met ‘n sterk wil is beter kandidate vir hipnose. Daar is ‘n foutiewelike oortuiging dat net sogenaamde swak mense hipnotiseerbaar is en dat ‘n hipnoterapeut daarom onbeperkte beheer oor jou het.  Inteendeel, tydens hipnose is jy juis altyd in beheer. Jy besluit of jy enigiets sal toelaat, aldan nie. Jy kan selfs besluit oor hoe diep in trans jy wil gaan. Jy is dus nooit onder beheer van die hipnoterapeut nie. Jy is eintlik meer in beheer van die sessie en van jouself as normalweg.

Daar is mense wat nie gehipnotiseer kan word nie

As jy nie gehipnotiseer kan word nie, kan jy nie lewe nie.  Elke mens is op elke stadium van hul lewe op ‘n manier in hipnose, soos jy dalk nou al besef.

Die enigste rede waarom jy dalk nie in hipnose sal gaan nie, is:
  1. wanneer jy jou terapeut nie vertrou nie;
  2. wanneer daar nie ‘n goeie verhouding tussen jou en jou terapeut is nie;
  3. wanneer jy nie gehipnotiseer wil word nie.

Enigiemand wat gehipnotiseer wil word, kan.  Ek sal nooit hipnose probeer doen op mense wat nie wil nie.  Dit sal nooit werk nie.  Indien jy in hipnose wil gaan, selfs al dink jy dat jy nie kan nie, sal ons dit steeds kan doen.

Jy kan nie teen jou wil gehipnotiseer word nie

Alle hipnose is eintlik ‘n vorm van self-hipnose. Jy moet gehipnotiseer wil wees voordat jy in trans in kan gaan. Daar is egter metodes om iemand wie sogenaamd weerstandig is, wel in trans (diep ontspanning) te kry; maar selfs hierdie metodes sal nie effektief wees as jy nie gehipnotiseer wil wees nie. Dit is jou eie vermoë om jouself te hipnotiseer met my leiding. Die hipnoterapeut is bloot die fasiliteeder in die proses. Om gehipnotiseer te word is jou vermoë, nie myne nie.

Jy kan nie gedwing word om enigiets tydens hipnose to doen wat jy nie wil doen nie. Tydens hipnose sal jy ten alle tye beheer behou oor jou vermoë om op ‘n suggestie te reageer, alhoewel jy jouself toelaat om op ‘n suggestie te reageer, sal dit voel asof dit natuurlik, vanself gebeur.

Hipnose is nie ‘n vraag- en antwoord sessie nie

Die grootste misverstand is dat mense wil weet wat ek vir hulle tydens hipnose gaan vra. Ek gaan vir jou niks vra nie. Wat ek van jou wil weet, sal gevra word tydens die kliniese onderhoud. Ek gaan terapie doen en suggesties vir jou deurgee, of vir jou vra om sekere aksies in jou kop te doen sonder dat jy my enigsins iets daarvan hoef te vertel.

Die enigste keer wat ek vrae mag vra, is om jou te help om sekere dinge te onthou wat jy moontlik nie op hierdie oomblik kan onthou nie.  Soms is mense onseker oor iets wat met hulle in die verlede gebeur het en hulle nie kan onthou nie en vir hulp vra om hulle te help onthou.

Hipnose is nie die werk van die duiwel nie

Soos almal op aarde al ‘n trans beleef het in die vorm van dagdroom, is dit ‘n natuurlike talent, wat positief gebruik kan word in jou beste belang. Soos enigiemand anders, kan onopgeleide- en onetiese praktisyns ook hipnose misbruik.

Party mense dink dat die sogenaamde duiwel  ‘n vatplek kry wanneer jy gehipnotiseer word. Dit is bloot onmoontlik. Die Heilige Geskrifte vertel ons dat ons ten alle tye beskerm word.

Niks gaan uitkom nie

Baie mense is bang oor wat mag uitkom terwyl hulle in hipnose is. Eerste van alles: die dae van teruggaan na die trauma en om dit te herleef, is verby. Deesdae het ons beter en meer moderne tegnieke om trauma verwerk sonder om jou te hertraumatiseer.

Jy bly ten alle tye in volle beheer tydens hipnose. Hipnose kan soms gebruik word juis met die doel om onderdrukte herinneringe of inligting te verkry. Persone wie hipnose ondergaan vir daardie redes, kies om ‘n dieper trans te bereik as wat ons normaalweg tydens hipnose gebruik. Hulle is regtig geïnteresseerd om die onderdrukte inligting te wil onthou. ‘n Hipnoterapeut kan niemand dwing om enige inligting teen hulle wil bekend te maak nie.

Miskien begin jy besef dat hipnose eintlik ‘n toestand van breinkrag (mind power) is. ‘n Voornemende kliënt het my eenmaal gebel om te sê: ek dink my man verneuk my. Sal jy asseblief die waarheid uitvind? My antwoord aan haar was: as hy nou al so goed die waarheid kan verdraai, dink net hoeveel beter hy dit tydens hipnose gaan en kan doen! Aangesien hipnose ‘n toestand van breinkrag is, kan hy sy breinkrag selfs nog beter gebruik om selfs meer oortuigend te jok!

Geen hipnotis kan jou dwing om enigiets te doen, te sê of te aanvaar wat bots met jou morele- of etiese waardes, of wat jy nie normaalweg sou sê, doen of aanvaar nie.

Jy kan nie vasgevang raak in hipnose nie

Daar is geen bewyse dat iemand in hipnose vasgevang kan raak nie. Daar is ‘n studie gedoen waarin deelnemers gehipnotiseer was waarna die hipnotis die vertrek verlaat onder die voorwendsel dat daar ‘n probleem is waaraan hy aandag moet gee. Die deelnemers se reaksies is sonder hul medewete waargeneem. Die resultate in al hierdie gevalle was dat die deelnemers spontaan uit hipnose gekom het.

Jy sal net so spontaan uit hipnose kom as wat die geval sou wees wanneer jy byvoorbeeld ‘n middagslapie geniet het en daaruit wakker word.

Jy sal nie niks na die tyd onthou nie

Jy mag dalk sekere dinge nie onthou nie aangesien jou gedagtes afgedwaal het tydens jou transtoestand.  Dit is ook goed so, want ons praat met jou onderbewuste en nie met jou bewuste nie. Jy is vry om jou gedagtes te laat dwaal soos ons met die proses voortgaan. Sommige mense raak selfs aan die slaap. Jou onderbewuste bly egter steeds die heeltyd bewus van alles wat gebeur tydens die transtoestand.

Hoewel jy na sekere sessies alles kan onthou, sal daar ook sessies wees waarvan jy min sal onthou.  Die rede hiervoor is dat jou gedagtes afgedwaal het, of dat die materiaal waarmee ons werk vir jou te traumaties is en jou onderbewuste kan kies dat jy eerder nie daaraan herinner moet word nie.

Hoewel regressiewerk selde gedoen word in hierdie praktyk, aangesien ons beter metodes het om met trauma te werk, mag dit gebeur dat jy spontaan na die verlede regreseer. Indien dit die geval is, vra sulke kliënte nooit na die tyd wat gebeur het nie, indien hulle niks onthou nie.  Dit is omrede hulle kies om dit nie te wil onthou nie.

Dit het niks te make met ‘n diep trans aldan nie. ‘n Diep trans is nie eens nodig nie. Ons kan enigiets selfs tydens ‘n ligte trans doen.

Wat is hipnose dan regtig?

Het jy al ooit ‘n lang afstand bestuur en na die tyd gewonder hoe jy jou bestemming bereik het? Het jy al ooit na ‘n fliek gekyk sonder om eens iemand te hoor wat agter jou praat? Het jy ooit na ‘n vervelige toespraak geluister en besef dat jou gedagtes heeltemal op ‘n ander plek was en dat jy nie ‘n woord gehoor het van wat gesê was nie. Soos jy nou hier lees – is jy bewus van agtergrondgeluide as jy nie daarop konsentreer nie?

Dit is hipnose!

Breedweg is hipnose ‘n veranderde bewussynstoestand wat met elke mens gebeur net voordat jy aan die slaap raak. Tydens terapeutiese werk, verleng ons net hierdie kort tydjie van tussen-wakker- en-slaap, die sogenaamde twilight zone, sodat ons in hierdie staat met jou onderbewuste kan werk.

In kort: na ons eerste hipnose sessie, gaan jy nie glo dat jy hoegenaamd in hipnose was nie. Kliënte sê dikwels vir my: maar ek dink nie ek was in hipnose nie. Ek was heeltyd van alles bewus. Ek het heeltyd geluide binne en buite die gebou gehoor. Ek was nie onder nie. Jy sal alles hoor en van alle bewus wees. Dit is egter ook waar dat hoe meer hipnose sessies ons doen, hoe dieper sal jy met elke sessie in trans ingaan.

Hipnose is niks anders as net ‘n diep staat van ontspanning wat ‘n toestand van breinkrag tot gevolg het. As jy dit verstaan, verstaan jy hipnose! Jy sal nie eens glo dat jy enigsins gehipnotiseer was nie.


Daar word ook na hipnose verwys as hipnoterapie of hipnotiese suggestie. Dit is ‘n tipe trans toestand. Dit word normaalweg behaal met die hulp van ‘n hipnoterapeut en verskil van jou alledaagse bewustheid in die volgende opsigte:

  1. jou aandag is meer gefokus;
  2. jy is diep ontspanne en kalm; en
  3. jy is meer ontvanklik vir suggestie en minder krities, agterdogtig en wantrouig.

Ek verkies dit om na hipnose te verwys as ‘n vertrouensverhouding. In so ‘n verhouding is feitlik enigiets moontlik. As daar nie vertroue is nie, sal hipnose nie suksesvol wees nie. Daarom sal ek in ons eerste sessie vir jou vra om my enigiets oor myself te vra, professioneel of persoonlik.  Hoe meer gemaklik jy met my is, hoe groter ons kans op sukses.

Ons is nie seker hoe hipnose presies werk nie. Hipnoterapeute sê dat hipnose ‘n diep ontspanning skep en jou gedagtes stil maak. Wanneer jy gehipnotiseer is kan jy intens fokus op ‘n spesifieke gedagte, herinnering, gevoel of sensasie terwyl jy stoornisse van buite uitskakel.  Jy is dan meer as normaalweg oop vir suggesties wat gebruik kan word om jou gedrag te verander en jou gesondheid en welsyn te verbeter.

Verhooghipnose

Hou nou die bogenoemde beginsels in jou agterkop.

Wat presies gebeur op die verhoog?

  1. Eerstens sal die verhooghipnotis nooit bloot net deelnemers uitroep nie. Hy sal iets sê soos: enige vrywilligers, kom na die verhoog. Daar is jou eerste leidraad. Almal weet hy gaan snaakse goed met jou aanvang. Die feit dat jy gewillig is om dit te doen, beteken dat jy dit sal doen omdat jy wil en daarom sal hy dit kan regkry. Indien jy egter nie gewillig is nie, sal die mense vir die hipnotis lag!
  2. Tweedens – en dis wat jy nie op die televisie sal sien nie – hy sal vooraf eers met hulle gesels. Indien hy sou vermoed dat jy nie van hom hou nie, of nie vertrou nie, of vice versa, sal hy jou terugstuur na die gehoor. Indien hy besef dat jy oorkrities is, sal hy jou ook terugstuur.
  3. Dan die oomblik van waarheid – hy klap sy vingers en sê: slaap! En hulle slaap! Teen hierdie tyd weet jy reeds dat hipnose nie slaap is nie. Hoe is dit dan enigsins moontlik vir hom om net sy vingers te klap en dan is hulle gehipnotiseerd? Dit is jou volgende leidraad: dit beteken dat die verhooghipnotis hierdie mense al vantevore gehipnotiseer het en dus weet wie gewillig sal wees om saam te speel en wie nie. Jy sal dit self tydens hipnose ervaar.  Met ons eerste sessie sal dit tyd en inspanning neem om jou in hipnose te kry. Daarna neem dit minder tyd en inspanning.  Na ‘n aantal sessies sou ek ook bloot net kan sê:
  4. Soos voorheen genoem; hipnose is ‘n staat van breinkrag. Jy mag, as ‘n voorbeeld, op die verhoog wees en die hipnotis suggereer aan jou om soos ‘n ballerina te dans. Jy sal eerstens dit met jou interne morele sisteem nagaan of dit in orde vir jou is om dit te doen, al dan nie. Indien dit in orde is, sal jy jou breinkrag gebruik om byvoorbeeld ‘n televisie uitsending te onthou waar jy ‘n ballerina sien dans het. Jy sal die bewegings kan onthou en jy sal dit kan namaak. Jy kan selfs van jou breinkrag gebruik maak om op die punte van jou tone te dans deur jouself byvoorbeeld te verbeel dat jy ‘n staalpyp het van jou tone tot jou bene. Indien die hipnotis egter iets teen jou beginsels suggereer, sal jy dadelik uit hipnose uitkom, aangesien jy altyd ten volle in beheer is.
  5. Wanneer hy klaar is, sal hy jou wakker maak. Soos reeds genoem, sal jy altyd uit hipnose uit kom. Na die tyd mag jy onthou of selfs vergeet oor wat gebeur het. Jy mag dalk ook tydens ons sessies verras wees wanneer jy besef hoe werklik dinge gevoel het.
  6. En as jy jou naam vergat het, mag jy dalk verkies om dit eerder nie te wil onthou nie! Jou ewig getroue onderbewuste sal dit dan ook vir jou doen.

Die hipnose proses

Hipnose is nie net ‘n eenmalige ervaring nie. Gemiddeld neem hipnose tussen vier en agt sessies om deur ‘n uitdaging te werk. Dit mag meer of minder wees, afhangende van jou uitdaging. Dit is moeilik om presies te voorspel hoeveel sessies benodig sal word.

Hipnose word gewoonlik gedoen met ‘n sewe-dae interval, aangesien die onderbewuste sewe dae neem om suggesties te prosesseer. Jy sal eers na sewe dae weet wat die effek van die vorige sessie was.

Die eerste sessie

Daar sal nooit hipnose tydens die eerste sessie gedoen word nie. Aangesien hipnose ‘n vertrouensverhouding is, word die eerste sessie gebruik om vertroue te bou en om aan jou die geleentheid te gee om te sien of jy gemaklik is met my, die terapeutiese modaliteit, en behandeling wat voorgestel word. Die eerste sessie word ook deur die terapeut gebruik om vas te stel wat jou uitdaging is en hoe die dele van die legkaart in mekaar pas (om die psigodinamiek van jou uitdaging te verstaan). Daar is egter enkele uitsonderings soos rook, waar hipnose reeds in die eerste sessie plaasvind.

Daar word vervolgens ook seker gemaak dat jy wel bewus is van wat hipnose is en wat dit nie is nie ten einde jou vrese, vooroordele en moontlike valse verwagtinge uit die weg te ruim.

Die tweede sessie

Normaalweg word daar in hierdie sessie met hipnose begin. Aangesien jy die gang van terapie bepaal, mag dit gebeur dat daar meer dinge is wat jy met my wil bespreek en dat hipnose dalk nie moontlik mag wees vir nou nie. Hou in gedagte dat ons ten minste ‘n halfuur nodig het vir hipnose tydens ‘n sessie. Indien ons wel met ons eerste hipnose begin, mag daar in die eerste hipnose-sessie nie veel gebeur nie, vir die volgende redes:

  1. jy sal aanvanklik nie maklik in ‘n hipnotiese trans ingaan nie. Enige mens gaan weerstand bied teen iets waarmee hulle nie vertroud is nie, wat goed is, want dit is natuurlik om versigtig te wees vir iets wat onbekend is;
  2. angstige kliënte mag dit aanvanklik moeiliker vind om te ontspan. Hoe harder hulle probeer hoe moeiliker word dit. Stel jouself ‘n slapelose nag voor. Hoe meer jy teen die slaaploosheid baklei, hoe meer ontwyk die slaap jou. Die oomblik wanneer jy ophou probeer, is wanner slaap vanself gebeur. Presies dieselfde gebeur met hipnose;
  3. jy sal stelselmatig besef dat jy nie hoef te luister, dink, konsentreer of selfs saam te werk nie. Alles gebeur spontaan, maklik en moeiteloos. Jy kan bloot jou gedagtes laat gaan. Stel jouself voor jy luister na ‘n vervelige toespraak – jou gedagtes dwaal af en dat jy selfs aan die slaap mag raak. Jou onderbewuste ontvang steeds die boodskap sonder dat jy eers bewus is daarvan;
  4. jy mag selfs aan die slaap raak, aan jou werk dink, jouself verbeel dat jy op ‘n pratige eiland is met ‘n lieflike wateval;
  5. jy mag dalk selfs wil dink aan daardie pragtige man of vrou wat jy gister in Woolies gesien het;
  6. na ‘n hipnose-sessie sal jy huistoe gaan en dink dat niks verander het nie. Soos wat die tyd verby gaan sal jy stelselmatig begin om subtiele veranderinge in jou verhoudings- en daaglikse lewe agter te kom. Slegs dan sal jy die krag van jou onderbewuste waardeer. Die mense na aan jou sal hierdie veranderinge sien, selfs voordat jy dit self besef.

Jy sal besef dat jy sal net gehipnotiseer kan word as jy wil. As jy nie wil nie, sal dit nooit moontlik wees om jou te hipnotiseer nie.

Hipnose word gedefinieer as ‘n vertrouensverhouding. Indien jy jou terapeut vertrou, is die meeste van die werk reeds gedoen. Indien nie, neem dit asseblief met my op tot jou beste voordeel.

Jou brein is jou gereedskap. Jou terapeut is bloot die sleutel wat jou onderbewuste oopsluit. Jy beskik oor elke hulpbron om elke droom wat jy koester, te bewaarheid.

Die derde sessie en daarna

Eers tydens die derde of vierde sessie sal jy dieper transe begin ervaar. Die nuutjie is nou verby en nou kan ons begin werk aan jou uitdaging. Die diepte van jou trans is egter nie belangrik nie.

Van hier af kan ons vinnig en effektief werk.

Om op te som

Hipnose is ‘n onbewustelike proses. Meeste mense glo nie eens dat hulle gehipnotiseer was nie en is onbewus van die verandering en herstel wat plaasgevind het.

Jy hoef absoluut niks te doen nie. Jou onderbewuste doen alles vir jou. Maklik, gemaklik en sonder enige inspanning. Al wat jy hoef te doen is om te sê:

Dankie Onderbewuste!

Scroll to Top