Die wêreld van kwantum fisika (soos deur my oë)
Bestaan die werklikheid regtig soos ons dink ons dit ken, of is dit net ‘n idee in ons kop, ons verbeelding? Reeds in die beginjare van filosofie, het die antieke filosoof, Plato, dit gestel dat daar waarskynlik nie iets soos ‘n werklikheid bestaan nie, maar dat dit alles net ‘n idee in ons kop is. Dit kan nogal skrikwekkend wees as jy so hieroor begin dink. Bestaan die werklikheid regtig soos ons dit sien? Of is dit net ‘n skepping, ‘n illusie, ‘n verbeelding in ons gedagtes?
Sê nou maar jy besef een oggend dat alles om jou soos jy dit ken, nie regtig is nie, maar dat dit net ‘n skepping, ‘n sinnebeeld, in jou brein is? Dat niks anders werklik bestaan nie. Dat ander mense nie bestaan nie. Dat realiteit, soos jy dit sien en verstaan, nie bestaan nie. Dat niks bestaan nie, want al wat bestaan is dit wat jy in jou kop opgemaak het. Dat dit dalk alles net ‘n idee, ‘n gedagte in jou kop is.
Dat die lewe dalk net soos een groot droom voel. Of selfs net ‘n droom is. Het jy al snags ‘n droom gehad, wat so werklik gevoel het dat jy dit met al vyf jou sintuie kon ervaar? Het jy al ooit so ‘n lewendige, realistiese droom gehad dat jy as ‘n vooorbeeld, kos kon ruik brand, voel hoe die oond se element jou vingers brand wanneer jy die koek uit die oond haal?
In jou drome is daar werklik ander mense; daar is ‘n omgewing; daar is ‘n konteks en daar is werklike gebeure. Wanneer jy egter wakker word, besef jy dat dit glad nie realiteit was nie. Dit was maar net skeppings in jou brein wat jy as werklik ervaar het. Wat as die hele lewe maar net een groot droom is en dat dit wat jy as werklik ervaar, nooit bestaan het nie en soos ‘n droom, is alles net skeppings in jou brein.
Wat as ons hele lewe maar net ‘n droom is, ons dalk eendag wakker word en besef dat niks wat ons ervaar het, real was nie, maar net ‘n droom? Wat as die dood dalk net ‘n Groot Ontwaking is? Dat die lewe dalk net ‘n baie lang droom is. ‘n Lewenslange droom. Of dalk ‘n nagmerrie? Dit mag nogal ‘n skrikwekkende gedagte wees.
Ek meen ek haat pampoen. Ek kan dit nie oor my lippe kry nie. Jy mag dalk mal wees oor pampoen. Die werklikheid is dat pampoen steeds pampoen is. Die pampoen bly dieselfde, maar dit is ons verskillende ervaringe of assosiasies daarvan, die interpretasie wat ons in ons kop van pampoen gemaak het wat pampoen, pampoen maak. Of is dit die pampoen self se skuld?
Ons kan hierdie metafoor vergelyk met dieselfde uitdaging as met mense wat aan angs ly. Hulle maak in hul kop vir hulself sekere werklikhede op wat hul onderbewuste dan as die werklikheid ervaar. Wat as ander mense my gaan verneder? Die oomblik wat jy wat as denke gebruik, gebruik jy dieselfde deel van jou brein wat jy sou gebruik het asof die gebeurtenis tans besig is om te gebeur. Jou brein ervaar hierdie gebeurtenis as werklik en ontwikkel jy angs, bloot as gevolg van ‘n gedagte in jou kop. Jou brein interpreteer jou gedagte as die huidige realiteit plaas van net ‘n gedagte of ‘n herinnering aan iets wat reeds gebeur het.
Ek meen dit is Aristoteles wat met dieselfde probleem gesukkel het. Aristoteles het gewonder oor die Skepping. Het God, soos die Grieke in antieke tye geglo het, ‘n idee gehad oor hoe die Skepping moet lyk en toe die werklikheid geskep volgens sy idee? Of het God eers alles geskape en toe gesien hoe dit lyk en op grond daarvan betekenis daaraan geskep?
Is dit alles dus realiteit of is dit alles net ‘n idee, fiksie?
As ek vir ‘n oomblik net hedendaags mag gaan en ‘n Stephen Spielberg, ‘n Guiseppe Tornatore en selfs ‘n Leon Schuster gelyk aan ons filosowe kan stel, het hulle almal een ding in gemeen: hulle skep ‘n realiteit en daardie realiteit wat hulle skep, word ons werklikheid (in ons verbeelding) as gevolg van dit wat ons met ons sintuie waarneem.
Ons kyk na ‘n film. Ons weet dat dit net ‘n film is wat gemiddeld sowat twee ure duur. Maar in hierdie twee ure mag ons werklike gevoelens, sensasies en emosies ervaar soos spanning, vrees, woede, empatie, verligting en dalk nog meer. Ons ervaar hierdie emosies en gevoelens letterlik in ons liggaam. Ons voel die spanning, ons voel die emosie van hartseer, opwinding of watookal ons mag ervaar. Die stimulus van ons gevoelens is nie werklik nie, maar net ‘n skepping in ons kop, as gevolg van die film waarna ons kyk.
Ons hele realiteit kan dalk ook net ‘n idee wees van wat ons in ons kop daarvan maak. Die hele wêreld kan verander wanneer jy jou idee of jou waarheid verander, inderdaad soos wanneer ons hipnoties vasgevang is in ‘n fliek.
Kwantum fisika wys dan ook vir ons dat die wêreld nie ‘n soliede en onveranderbare entiteit is nie, maar dat dit eerder ‘n gedagte of ‘n illusie is wat ons in ons gedagtes skep.
Ons fisiese liggaam, as voorbeeld, bestaan uit verskillende sisteme en elke sisteem bestaan uit weefsel en organe. Weefsels en organe bestaan weer uit selle. Selle bestaan op hul beurt weer uit molekules en molekules is saamgestel deur atome. Atome bestaan uit sub-atomiese deeltjies en hierdie sub-atomiese deeltjies bestaan uit niks anders as energie nie.
Ons gedagtes, gevoelens, intensies en verwagtinge is niks anders as golwe van energie wat op ‘n sekere energie-vlak vibreer nie. Aan die einde van die dag is ek en jy net energie, bewegende energie. Denke en gevoelens is niks anders as energie nie. Ons fisiese wêreld is niks anders as net die manifestasie van energie nie.
Nie net bestaan ons as mense ten diepste uit energie nie. Die hele heelal bestaan uit energie, van die grootste galaksie (en ja, dit is ‘n erkende Afrikaanse woord vir galaxy) tot die kleinste stofdeeltjie. Die hele heelal is ‘n eindelose vloei van energie. Selfs die mees soliede objekte soos staalpype of sementmure is molekules in beweging wanneer jy daarna kyk onder ‘n kragtige mikroskoop.
Sou ons die dag doodgaan, gaan alles dood behalwe ons energie. Hoewel alle weefsel, organe, molekules, atome en sub-atomiese deeltjies dood mag gaan, kan energie egter nie doodgaan nie. Daardie energie keer terug na die hoofbron van energie. ‘n Ewige energie.
As ek hier myself in die rede mag val: Selfs in die Heilige Geskrifte word daar in die Evangelie van Johannes (Johannes 1:1) gesê dat daar in die begin die Woord was. En die Woord was by God en die Woord was self God (soos wat jy die begrip God ookal verstaan). In Genesis 1 word die hele hemel en aarde geskep deur Woorde. God het gespreek. Woorde is die energie wat ons realiteit skep.
Ek kan seker nie genoeg praat oor die krag van woorde nie. Woorde kan maak of breek. Woorde het die hele heelal geskep, maar woorde kan dit ook vernietig. Volgens die Christelike geskrifte, in Jakobus 3:6, is die tong ‘n vuur. Dit kan die hele lewe, van geboorte af tot die dood, aan die brand steek. Woorde maak of breek.
Wanneer ons pyn en chaos skep, beteken dit nie noodwendig dat ons sleg is of ‘n negatiewe intensie het nie, maar dat ons tydelik uit voeling geraak het met wie ons werklik is. Ons het uit voeling geraak met liefde. Maar ons het altyd ‘n keuse: ons kan saam met hierdie energie vloei of ons kan dit weerstaan. Om energie te weerstaan veroorsaak vir ons probleme, angs en ongemak.
As ek vir ‘n oomblik af kan dwaal, is dit presies wat gebeur wanneer ‘n outo-immuun siekte ontstaan. Outo-immuun siektes kan letterlik verstaan word as die self wat die self aanval op ‘n immunologiese vlak. Daar ontstaan ‘n konflik in die liggaam. Die lede van die liggaam, wat veronderstel is om saam te staan in liefde, begin om mekaar aan te val en aan die einde word die hele liggaam sieker totdat die liggaam sterf, ongeag die verskillende antigene se positiewe intensie om die liggaam te beskerm teen eksterne gevare soos infeksies en siektes.
Ek vermoed dat dit die rede is hoekom ek rassisme, klassisme, seksisme en alles wat met ‘n –isme eindig nooit sal verstaan nie. Ons beveg mekaar so omrede ons elkeen glo ons het die waarheid wat die liggaam sal laat voortleef, maar in werklikheid vermink ons hierdie liggaam, bietjie vir bietjie. Wanneer ons haat of kwaad is, verwyt of dinge teen ander mense hou, is ons maar net besig om onsself te vernietig. Nie net op immunologiese vlak nie, maar ook op energie-vlak. Dit is juis hier waar probleme, angs en ongemak intree.
Net ‘n laaste kant-aantekening: iemand het eenmaal gesê: om te vergewe is die mees selfsugtigste ding wat mens ooit kan doen. As jy nie kan vergewe nie, is dit maar net jy wat met al die pyn, seer, haat, vertwyfeling en wroeging sit. Die persoon vir wie jy kwaad is, weet heel waarskynlik nie eens dat jy kwaad vir hulle is nie. So vernietig jy niemand anders as jouself en dit is ook hier waar jy kies om jou energie verniet weg te gee. Soos Nelson Mandela dit gestel het: woede is soos om gif te drink en te hoop dat die ander persoon sal sterf.
Om nou terug te keer tot die punt. Ons is nooit veronderstel om verwyderd te wees van wie ons regtig is nie. Ons is nie veronderstel om verwyderd van ons energie te wees nie. Ons is almal deur energie op ‘n manier tot mekaar verbind. Ons is almal deel van een liggaam. Deur mekaar te beveg, beveg ons maar net onsself. Met haat, nyd, bitterheid, verwyt en wrok teenoor ons medemens vernietig ons net onsself, soos die liggaam ditself kan vernietig deur verdeeldheid op ‘n immunologiese vlak. Ek meen dit is die Sotho-mense wat ‘n spreekwoord het wat lui: ’n mens is ‘n mens deur mense.
Die keuse bly altyd joune. Jy skep jou eie realiteit deur die keuses wat jy maak. Dit is egter ook goed om te weet dat die Ewige Energie altyd daar is om ons te help om hierdie keuse te maak.
Of dalk is ons hele bestaan net een lang droom. ‘n Droom van ‘n ander werklikheid wat ons sal besef nadat ons uit ons droom wakker geword het in die Ware Realiteit. Die Ewige Lewe vasgevang in ‘n gedagte, ‘n droom, in energie.
Het ek maar net gewonder.