Punte om aan te dink wanneer jy terapie oorweeg - © Jorgan Harris

Het jy psigoterapie nodig of nie?

Dalk sukkel jy ook met die tergende vraag of jy vir psigoterapie moet gaan of nie. Jy was dalk nog nooit in terapie nie. Dalk weet jy nie eers wat om te verwag nie. Jy mag dalk wonder wat om te sê of wat om juis nie te sê nie. Is terapie werklik nodig? Kan jy dalk self jou uitdaging deurwerk en oplos? Het jy eerder medikasie nodig? Mors jy die sielkundige se tyd? Wat as hul gaan dink jy is van lotjie getik?

As jy met hierdie vrae sukkel, is hierdie artikel vir jou geskryf. Ek hoop dit kan sekere algemene vrae rondom terapie vir jou antwoord en jou help om jou keuse te maak.

Hier is 15 punte waaroor terapie gaan en wat dit vir jou kan beteken, wat jy in ag kan neem indien jy terapie oorweeg, maar onseker is of jy dit regtig nodig het.

Hierdie artikel bestaan uit drie hoofpunte:

  1. Is terapie regting nodig en hoe kies ek die geskikste terapeut?
  2. Hoe sien terapie jou?
  3. Wat kan jy verwag van terapie?

1.  Is terapie regtig nodig en hoe kies ek die geskikste terapeut?

  • Is terapie regtig nodig?

Jy mag dalk wonder, voordat jy ʼn terapeut kies, of terapie regtig nodig is. Wat is psigoterapie? Is dit maar net ʼn duur manier om iemand te kry om vir jou te luister?

Terapie is veel meer as om net te luister. Terapie is veel meer as om met jou hond te praat of om in die natuur rond te gaan stap om vrede in jou hart te kry of om vir ʼn maand in ‘n huis in die woud te gaan bly.

Terapie is ‘n aktiewe vorm van klankbord en luister om objektief en empaties ‘n idee te kry van dit wat jou hinder, anders as wat ‘n vriend of ‘n familielid na jou sal luister.

Terapie is ook veel meer as om net oor jou probleme te praat. Terapie is ‘n getuienis-gebasseerde wetenskap en ‘n kuns wat vaardigheid en kreatiwiteit vereis. Terapie gaan daaroor om jou te help, te lei om nuwe insigte te kry, om dit wat pla beter te interpreteer, bemeester en om beter te

 ‘n Terapeut sal bloot terugvoer gee op hul opbjektiewe waarnemings rakende jou uitdaging is, sonder om enige van die partye te veroordeel of te bevoordeel.

Terapie het nie noodwendig al die antwoorde nie. Terapie is wel ‘n reis op soek na die antwoorde. ‘n Sielkundige weet dat jy reeds al die antwoorde in jouself het. Dit is die terapeut se taak om deur jou (of saam met jou deur jou) eie geskiedenis, jou pyn, trauma, vrees, ens. te werk en jou te lei om self by die regte antwoord uit te kom. Die terapeut sal soms voorstelle aan jou maak, maar dit bly jou keuse om te besluit of hul voorstelle vir jou sal werk of nie.

    • ‘n Sielkundige of ‘n psigiater?

Jy het ‘n uitdaging. Moet jy ‘n sielkundige of ‘n psigiater gaan sien? Ek hoop die volgende kan jou hiermee help.

Die ooreenkoms tussen ‘n sielkundige en ‘n psigiater is dat albei psigopatologie ken en ewe goed weet hoe om ‘n diagnose te maak.

Die verskil lê in die behandeling. ‘n Psigiater is ‘n mediese dokter wat in psigiatrie spesialiseer en jou probleem medies sal behandel. Hul sal dalk vir jou sekere advies kan gee en jou op sekere van jou gedragspatrone kan uitwys, maar hul klem lê daarop om vir jou die regte medikasie te gee.

‘n Sielkundige is ‘n geesteswetenskaplike wat jou uitdaging aanspreek deur op jou gedagtes, gevoelens en jou reaksie te fokus. Hulle het sekere kennis oor medikasie, maar hul klem lê daarop om jou te help om jou uitdaging met jou eie hulpbronne te bowe te kom. Sou hulle voel dat jou uitdaging eerder met medikasie behandel moet word sal hulle jou na ‘n psigiater verwys om daardie komponent van jou uitdaging aan te spreek.

Die verskil word goed geïllustreer deur hulle verskillende sieninge oor iets soos depressie. Depressie is die gevolg van ‘n gebrek aan produsering van serotonien in jou brein. ‘n Psigiater sal vir jou ‘n anti-depressant voorskryf om te help om jou serotonien-produksie aan te help om sodoende jou depressie te oorwin. ‘n Sielkundige sal reken dat jou brein te min serotonien produseer omrede jou gedagtes negatief of irrasioneel van aard is. Wanneer jy weer rasioneel begin dink sal jou brein outomaties meer serotonien vervaardig.

Die psigiater sal voorts fokus op genetika en wil uitvind of daar ‘n genetiese probleem in jou familie is. As jy ‘n familiegeskiedenis van depressie of angs het, mag jy ‘n foutiewe geen binne jou hê. Aan die ander kant mag die sielkundige reken dat depressie of angs dalk  aangeleerde gedrag mag wees, aangesien jy van geslag tot geslag gekondisioneer is dat die wêreld, as ‘n voorbeeld, ‘n slegte of gevaarlike plek is en ‘n bedreiging vir jou inhou.

Aangesien jou oupa depressief was omrede hy tydens die Groot Depressie grootgeword het, het hy jou pa gekondisioneer dat die wêreld ‘n slegte plek is. Jou pa het dit geglo en ook aan depressie gely. Hy het jou weer gekondisioneer dat die wêreld alles net sleg is. Jy het dus ook so groot geword tot jy geleer het dat die wêreld inderdaad nie so sleg is nie en letterlik afgeleer het om depressief te wees en jou siening oor die wêreld verander het. Jy het dus afgeleer om depressief te wil wees. wees.

In my praktyk word die klem dus gelê op die sielkundige hipotese, maar daar is egter ook plek vir chemiese behandeling. Chemiese behandeling kan soms help om jou beter te laat voel om jou uitdagings meer doeltreffend aan te kan spreek. Die einddoel is om op die ou einde vry van medikasie te wees.

  • Maar wat as ek nie veel in gemeen met my terapeut het nie?

As jou terapeut, as ‘n voorbeeld nie getroud is nie, of nie kinders het nie, of nie self aan angs of depressie ly nie, beteken nie dat hulle jou nie verstaan nie. Dit kan selfs tot jou voordeel wees, aangesien hulle nie jou uitdaging kan reduseer tot hul eie nie en dus objektief kan bly.

ʼn Goeie terapeut behoort, ongeag hul eie voorkeure, ouderdom of kultuur, hul eie voorkeure op die agtergrond te plaas en hulself te transendeer na jou wêreld. As voorbeeld het ek al, ongeag my eie oortuigings, vir ʼn tradisioneel Afrika-kliënt voorgestel om ʼn bees aan die voorvaders te slag, vir ʼn Moslem-kliënt voorgestel om sy Imam te gaan spreek, selfs ʼn siener voorgestel indien kliënte wil kommunikeer met mense wat ons op aarde verlaat het.

Al is verskille tussen mense oor hoe groot, sal ons altyd een ding in gemeen hê:  ons sal altyd ‘n behoefte hê om te behoort, gehoor en verstaan te word.

Terapie beteken ‘n verhouding.  ‘n Verhouding van vertroue.  Indien daar enigiets is waaroor jy onseker is, is dit belangrik om jou terapeut daaroor uit te vra.

    • Wat is ʼn goeie terapeut?

Al hoe meer mense meld aan vir terapie. Juis omdat die stigmas en vooroordele teenoor psigoterapie aan die afneem is, neem al meer mense die vrymoedigheid om vir terapie te gaan. Die rede hiervoor is dat terapie werk.

Dit is wel waar dat ʼn goeie terapeut aan ʼn goeie universiteit studeer het. ʼn Goeie terapeut se kwalifikasies is dalk goed en belangrik. ʼn Goeie terapeut mag dalk gepubliseer het en wyd aangehaal word. ʼn Goeie terapeut mag van hoogs effektiewe tegnieke gebruik maak, maar dit alleen is nie genoeg nie.

Navorsing bewys dat terapie, meer as enigiets anders, ʼn terapeutiese verhouding is, dat dit ʼn interpersoonlike vertrouensverhouding is. Selfs hipnose word gedefinieer as ʼn vertrouensverhouding meer as enigiets anders.

ʼn Goeie terapeut is warm, gee om, is empaties, respekvol, het kennis, is eg, met onvoorwaardelike aanvaarding en konkreet in hul aanslag. ʼn Goeie terapeut sal nooit ʼn oordeel fel nie en ek gaan later weer na hierdie punt terugkeer.

Ook in my praktyk val die klem op hierdie beginsels. Dis vir my belangrik om ʼn uitdaging so gou en effektief as moontlik op te los, sonder om noodwendig in die haasgat van simpatie af te sak en om jou mediese fonds onnodig uit put nie. Hoewel die klem op resultate lê, word die waarde van die verhouding van vertroue tussen twee mense nooit onderskat nie.

  • Hoe veilig is ek in die proses?

Jy word beskerm deur die wet. Jou vertroulikheid en my professionele optrede word gewaarborg deur The Health Professions Council of South Africa (HPCSA). Jy is welkom om by ons Ontvangs ʼn kopie van die Etiese Kode aan te vra.

Dalk het jy teen hierdie tyd besef dat jou veiligheid ʼn groot prioriteit is. Jy moet veilig kan voel om te wees wie jy is, te sê wat jy wil en dat daar vertroulik en respekvol met jou en die inligting wat jy aan my toevertrou, omgegaan sal word sonder dat jy ooit voel dat jy ge-oordeel sal word. Dis net swak terapeute wat oordeel en dink dat jy by hulle waarde-sisteme in moet pas.

Sou dit gebeur dat ek ʼn verslag vir jou moet skryf, of inligting met ʼn derde party moet deel, sal jy altyd volledig kennis daarvan dra, moet ek jou altyd eers jou toestemming vra en jy het altyd die reg om enige inligting te weier.

In die geval van ʼn verslag, sal die verslag geskryf word en aan jou voorgelê word vir goedkeuring. ʼn Finale verslag sal in jou hande gegee word sodat jy presies weet wat daarin staan.

Dit mag soms gebeur dat die hof my kan verplig om te moet getuig. Dit het nog net by twee geleenthede met my gebeur. Selfs in die hof sal ek alles in my vermoëns doen om jou vertroulikheid te beskerm.

Daarbuite is baie beraders, lewensafrigters, terapeute, hipnotiste en nog meer. Sou jy besluit om een van hulle te gaan sien en baie van hulle doen wonderlike werk, het jy steeds nie noodwendig wetlike beskerming om vertroulikheid en etiese optrede nie.

Aan die einde van elke sessie word jou lêer en inligting in my liasseerkabinet toegesluit. Dit bly daar tot ons volgende afspraak. Indien jy my ooit in ʼn winkelsentrum sou raakloop, sal ek verby jou loop sonder om jou te groet – want daarbuite bestaan ek nie vir jou nie. As jy veilig genoeg voel om my te groet en te gesels, doen ek dit natuurlik met groot graagte.

2. Hoe sien terapie jou?

  • Jy is nie jou diagnose nie

Dit bring ons by ’n baie belangrike begrip. Hierdie begrip handel oor sogenaamde etikettering. Wanneer jy ’n naam aan iets gee, is jy geneig om jou eie opsies en jou uitkoms te beperk.

Wanneer ek jou diagnoseer, kan jy gerus weet dat dit net ʼn rigting-aanduider vir my is waarvolgens ons gaan werk. Sou ek jou byvoorbeeld met depressie diagnoseer, beteken dit dat jy depressie het en nie depressief is nie. Jy bly steeds ʼn gesonde persoon met ʼn uitdaging wat opgelos moet word, maar in jou wese kan jy nooit ʼn depressiewe mens of ʼn angstige mens wees nie.

Die wêreld van die NLP (Neuro-linguistiese Programmering) verwys hierna as etiketterings. ʼn Etikettering is enigiets wat mens nie op ʼn kruiwa kan sit nie. Jy kan nie depressie, angs, ʼn swakkeling, ʼn verloorder of watookal in ʼn kruiwa sit nie en daarom bestaan dit nie.

Jy bly steeds ʼn volmaak geskape mens wat iewers op die pad van die lewe ʼn uitdaging opgetel het. Dit maak nie van jou ‘n probleem nie. Jy het bloot net ‘n uitdaging, waaraan ons gaan werk en oplos.

Jy kan gerus verder hieroor gaan lees op my webtuiste: jorganharris.co.za. Gaan kyk op my blad na die artikel genaamd: Prinse word paddas, wat my siening rakende diagnoses is.

  • Niemand is swak of siek nie

Jy meld nie aan vir terapie omdat jy swak of siek is nie. Jy sal ook nooit as swak of siek gesien word nie. Jy is inderdaad die sterk een wat besluit het om jou lewe te kom verbeter. Jy is die sterk een wat besluit het om jou uitdagings in die oë te kyk.

Elke mens beskik oor eindelose hulpbronne en talente. Sommige daarvan is bloot onder die maatemmer versteek. Soms moet jy net die maatemmer oplig, sodat jy kan sien wat daar onder weggesteek is. Jy mag dalk talente, hulpbronne of gawes van jouself ontdek wat jy nie eens gedink het moontlik is nie.

Jy het ʼn hele gereedskapskis waarmee jy self jou uitdagings kan regmaakʼn Goeie terapeut sal jou help om jou eie gereedskapskis so effektief moontlik te gebruik. In plaas daarvan om syne te gebruik, help hulle jou om joune meer effektief te gebruik. Tot op hede het jy nog altyd ʼn spyker met ʼn tang ingeslaan. Dit het gewerk (met groot moeite), maar die terapeut weet dat jy ʼn hamer het en sal jou help en leer om jou eie hamer te gebruik om die spyker op die kop te slaan.

Die terapeut weet nooit van beter nie en gee daarom nie raad nie. Ek kan nooit in jou skoene staan nie. My hamer, spyker en muur is nie dieselfde as joune nie. Wat vir my werk mag dalk nie vir jou werk nie.

Terapie kan jou inderdaad help om jou eie sterkpunte, vermoëns en kreatiwiteit raak te sien.

  • Terapie het nie ʼn einddoelwit nie

In ʼn perfekte wêreld behoort elke mens, vir een sessie ʼn week vir die res van hul lewe, in terapie te wees. Daar is ʼn plafon en daardie plafon kan nooit bereik word nie, aangesien ons in ʼn onvolmaakte werklikheid lewe. Daarom moet ons ʼn logiese punt bereik waarin jy goed genoeg voel om op jou eie met jou lewe voort te kan gaan. Jy sal egter ʼn punt bereik waarin jy instinktief sal weet dat jy op jou eie kan aangaan.

Terapie gaan jou ook nie help om die heeltyd gelukkig te wees nie. Die lewe gebeur en niemand kan keer dat pyn deel van die lewe is nie. Daar is nie iets soos ewige geluk nie, maar terapie kan jou help om nie bang te wees vir daardie dinge as dit gebeur nie. Terapie sal jou leer om content te wees met die lewe en dinge soos dit gebeur.

    • Dit is niemand se skuld nie

Die feit dat daar iets nie lekker is nie, is nie jou skuld nie. Dit is ook nie die skuld van enigiemand rondom jou nie. Dit is ook nie die skuld van jou verlede of mense in jou verlede nie. Skuldgevoelens is in elk geval die mees nuttelose emosie wat jy ooit kan beleef.

Terapie gaan eerder oor die hede, hoe jy daaroor dink en hoe jy die verlede interpreteer.

Jy mag maar in terapie vuil wasgoed kom was. Om vuil wasgoed te was, is tog ʼn poging om jou wasgoed skoon te kry. Jy sal nooit veroordeel word nie en ek sal ook nie die ander mense betrokke, veroordeel nie. Die taak van ‘n sielkundige is om te probeer verstaan hoekom mense doen wat hulle doen.

  • Terapie is eintlik pret

Terapie raak pret sodra jy besef dat niks eintlik ooit so ernstig of verskriklik is nie.

Terapie raak groot pret wanneer ons kan lag oor en vir onsself en sien hoe absurd die lewe en sy probleme of uitdagings werklik is.

Ons spot nooit met jou as mens nie, maar ons spot oor hoe maklik oplosbaar jou uitdagings aan die einde van die proses eintlik is.

Navorsing het die terapeutiese waarde van lag bewys, maar jy sal dit eers besef wanneer jy vir jou eie uitdagings kan begin lag en besef hoe simpel hulle regtig is.

Daar is dus niks verkeerd met jou nie. Terapie kan net help om daardie probleme in jou lewe as uitdagings te sien.

Daar bestaan nie iets soos mal mense nie en die mense wat vir terapie gaan, gaan bloot om hulself beter te verstaan, om meer keuses uit te kan oefen om ʼn beter lewe te lei.

3. Wat kan jy van terapie verwag?

  • Jy moet net jouself kan wees

Dit is so belangrik dat jy in terapie veilig moet kan voel om jouself te wees en te sê wat jy ookal wil sê, hoe jy dit ookal wil sê.

In my kantoor is die atmosfeer ontspanne. Hier kan jy net jou eie unieke self wees. Sit met jou voete op die banke as jy wil. Bid as jy wil en vloek as jy wil en kom in jou pajamas as jy wil. Vertel my jou malste geheime en drome as jy wil. Jy hoef nie alles te vertel nie en as jy wil, moet jy veilig voel om dit te kan doen. Jy hoef nie in detail in te gaan nie. ʼn Goeie terapeut hoort jou te kan help met die minimum inligting sonder dat jy in die kalklig hoef te voel.

Ek meen dis Mark Twain wat gesê het dat jy ʼn vark moet slag as jy kwaad is, maar as jy baie kwaad is moet jy vloek!

Ons spreek mekaar op voornaamterme aan. Ek is nie ʼn dokter, meneer en vir kinders ʼn oom nie. Hoewel ek ʼn spesialis in sielkunde is, is jy ʼn spesialis in jouself. So min aswat jy van sielkunde af weet, net so min weet ek van jou. Daarom is ons, anders as by ʼn dokter, twee spesialiste in die kantoor. Ons raak op ʼn sekere manier selfs kollegas.

Terapie gaan dus oor ‘n verhouding. Omdat jy jouself die beste ken, is dit ook jou volste reg om vir jou terapeut te sê waarvan jy hou en waarvan jy nie hou nie. Jy mag dus kla sou ek iets doen waarvan jy nie hou nie of wat jou ongemaklik of onseker laat voel.

Hier gaan dit nie oor die terapeut se gevoelens nie, maar oor joune. In dieselfde asem sal jy ook instinktief weet wanneer terapie verby is. Jy mag dalk beter voel, of voel jy kry nie meer iets uit die terapie nie, of net instinktief weet, sonder dat jy dit noodwendig kan verduidelik wanneer terapie verby is. Daarom kan jy terapie termineer wanneer jy ook al daarvoor gereed voel.

  • Jy sal nooit ge-oordeel word nie

Dit kan intimiderend wees om met ʼn totale vreemdeling jou mees intieme probleme te bespreek. Ek wil egter graag hê dat jy moet weet dat jy vry kan voel om net jouself te wees in ʼn sielkundige se spreekkamer.

Vir dieselfde rede dat mure, hamers en spykers van mekaar verskil, kan die terapeut jou nooit oordeel nie. Enige terapeut wat oordeel plaas jou in hul eie skoene en jy kan nooit in my skoene staan soos ek nooit in joune kan staan nie.

Dis net ʼn swak terapeut wat oordeel, aangesien hulle nie die insig het om die persoon as ʼn goedgeskape mens voor hul sien nie.

Dan is daar die groot vraag oor wat normaal in elk geval is. Ons weet nie wat normaal is nie. Die antwoord hier is dat ons almal uniek verskillend is. Ons word egter van kleintyd geleer oor wat ons moet doen en moet wees en nie moet doen en nie moet wees nie. So laat ons toe dat ander mense vir ons besluit wat reg en verkeerd is. Wat vir my waar is, is nie noodwendig vir jou waar nie en jy het die keuses en vryheid om te doen watookal vir jou reg voel.

Dalk is jy ietwat betotteld (dis Afrikaans vir weird) en dit is wat jou uniek maak. Normale mense is vervelig. Persoonlik geniet ek betottelde mense, aangesien hulle kreatief en intelligent is.

Terapie kan dit selfs waardeer wanneer jy ʼn spyker met ʼn skroewedraaier inslaan. Ten minste is jy kreatief en dit is nooit verkeerd nie. Jy kan dalk selfs beter maniere aanleer hoe om ‘n spyker meer effektief in te slaan. Hoe hanteer ʼn mens dit wanneer die spyker dalk op so ʼn hoek lê dat ʼn hamer net glad nie daarby uit sal kom nie? Moenie bang wees dat jy selfs jou terapeut ʼn ding of twee kan leer nie. Ek leer elke dag nog by my kliënte!

  • Jy sal altyd gerespekteer word

My taak is nie om jou te oordeel nie, want dan het ek ʼn etikus, regter of ʼn predikant geword. My taak is om jou te help om daardie hulpbronne, wat ek weet jy het, te ontdek en te gebruik.

Dit is essensieel dat jy altyd ten volle gerespekteer sal word as ʼn persoon en dat daar ʼn goeie rede is hoekom jy ʼn spyker op die kop kan slaan met ʼn maatband!

Niks is ooit belaglik nie. Niks is ooit simpel nie. Die tyd wat jy met jou terapeut spandeer is jou tyd waarvoor jy betaal en dit is jou reg om enige iets wat vir jou belangrik is, met jou terapeut te kan bespreek.

Mense is geneig om te dink hul uitdagings is te eenvoudig of te simpel om die tyd van ʼn terapeut in beslag te neem of om dit met ʼn terapeut te bespreek. Onthou, dit is jou tyd; jy het my tyd gekoop.

Ongeag of dit ʼn uitdaging is wat jy met jou kollega by die werk het, die dood van ʼn troeteldier, of watookal – dit bly vir jou belangrik en omdat dit vir jou belangrik is, sal dit vir jou terapeut ook altyd van uiterste belang wees.

Die beginsel wat hier geld is dat daar geen universele waarheid is nie en dat jou eie waarheid vir jou die waarheid is. My waarheid is nie noodwendig jou waarheid nie, maar ʼn goeie terapeut hoort jou waarheid te kan verstaan en gemaklik daarin te kan beweeg.

    • Jy is in beheer van die proses

Soos jy reeds gesien het is die hele proses ʼn baie respekvolle proses. Soos jy reeds weet is ons twee spesialiste in die vertrek. Ek spesialiseer in sielkunde en jy spesialiseer in jouself. Dus is ons ʼn span wat saamwerk om ʼn uitdaging op te los. Iemand het eenmaal hierna verwys as ʼn therapeutic we-ness.

Jy weet die meeste as enige ander persoon van jouself en daarom lei jy die proses, met die terapeut wat altyd die rigting vir jou aanwys.

ʼn Dokter sal jou ondersoek en vir jou vertel wat fout is en ook vir jou vertel watter medikasie om te gebruik en wat om te doen om gesond te word.

ʼn Sielkundige sal vir jou vra wat fout is en voorstelle aan jou maak. Jy sal self besluit wat gedoen moet word, natuurlik met die hulp, leliding en ondersteuning van die terapeut.

Ek sal ook nooit vir jou sê hoeveel sessies jy nog benodig of vir hoeveel jy nog moet kom en of dit dalk tyd is om terapie te staak nie. Weereens is ek daar om vir jou ʼn aanduiding te gee, maar daardie besluit is joune.

Aangesien terapie jou instaat stel om weer op daardie diepste, innerlike, wyse deel van jou staat te maak, sal jy ʼn gut-feeling hê of jy nog sessies nodig het of nie. Jy sal instinktief net weet.

Ten slotte – terapie is ʼn vertrouensverhouding

Ek hoop dat jy teen hierdie tyd besef dat jy in my kamer totaal gemaklik kan voel. Jy kan vry voel om enige iets vir jou terapeut te sê sonder enige vrees dat ek sal dink jy is simpel, jou sal veroordeel of sal dink jy is mal.

Ek wil dit weereens beklemtoon dat die verhouding belangrik is. As jy enige vrae oor my het, vra asseblief.

Ek hoop dat jy gemaklik sal voel om alles met my te kan bespreek. Na amper 30 jaar se ervaring is daar nie regtig iets wat ek nog nie gehoor het nie.

Of jy nou jou hond aan die dood afgestaan het, ereksie-probleme ervaar, gemolesteer is en in jou lewe permissief is of was, of jy dwelms gebruik, aan dobbel verslaaf is, pornografie kyk, of jou man verneuk, vroueklere aantrek, nie swanger kan raak nie; of jy fantaseer oor seks met ʼn robot, jy hoort veilig te kan voel om dit met jou terapeut te bespreek.

Aan die einde van die dag, is vertroue alles waaroor terapie gaan.  Die spil waarom alles wentel. Die terapeut hoort alles te sien in die lig dat alle gedrag ‘n positiewe intensie het

Indien daar enige onduidelikhede is wat vir jou belangrik is, maar nie in hierdie artikel aangespreek was nie, vertrou ek dat jy teen hierdie tyd genoeg vrymoedigheid het om dit met jou terapeut te bespreek en sodoende duidelikheid daaroor te kry.

Scroll to Top