Die krag van jou gedagtes
Inleiding
Ek het in 2005 ʼn referaat aangebied tydens ‘n Internasionale Kongres van Hipnose in Krakow, Pole oor hipnose en outo-immuun siektes. Ek het die geval van Jeanne voorgedra wie na my verwys was met ʼn uiters raar siekte, genaamd scleroderma. Sy is in 1998 na my verwys vir depressie, aangesien sy net twee jaar gegun is om te lewe.
Ek het op daardie stadium niks van scleroderma geweet nie en moes eers navorsing daaroor gaan doen.
In ons eerste sessie het ek vir haar gevra: hoekom moet ek jou vir depressie behandel? Jy het rede om depressief te wees. Jy is in elk geval besig om dood te gaan. Dit was immers die realiteit. Hoekom werk ons nie eerder met jou siekte nie? Sy was aanvanklik geskok maar tog verlig oor my reaksie en het wel ingestem om met haar siekte te werk
Maar ek moes eers agterkom wat scleroderma werklik is.
Scleroderma is ʼn outo-immuun siekte
Mense het nooit ʼn siekte nie, hulle ervaar net iets as ʼn siekte of ʼn ongemaklikheid. (disease teenoor dis-ease).
Scleroderma is ʼn outo-immuun-siekte (soos Lupus, Gewrigsrumatiek, Veelvuldige Sclerose en Vigs). Outo-immuun-siektes beteken dat jou liggaam se immuunstelsel buite beheer geraak het en waar die liggaam foutiewelik sy eie gesonde selle begin aanval en vernietig. Met ander woorde die liggaam verloor sy vermoë om te onderskei tussen sy eie selle en die dreigende indringerselle.
Die primêre funksie van die outo-immuunstelsel is om vreemde substanse te identifiseer en hulle te keer om ons enige skade aan te doen. Dit behels die vermoë om onsself teen enige indringers te beskerm; maar dit behels ook die bewustheid van die verhouding tussen ons binnekant en ons buitekant. Tot watter mate ons beïnvloed word deur hierdie verhouding en die vermoë om te diskrimineer tussen dit wat ons is en dit wat nie-ons is – met ander woorde tussen die self en die nie-self. Wanneer ons immuunstelsel ooraktief optree teen eksterne antigene soos bakterieë of stuifmeel, kan daar ʼn allergie ontwikkel. Indien dit egter onderaktief optree, kan ʼn infeksie ontwikkel. Dus, wanneer jou immuunstelsel behoorlik werk, behoort dit te kan onderskei tussen die selle en chemikalieë wat joune is en dit wat nie joune is nie. Dit is veronderstel om jou liggaam te beskerm en enigiets wat nie-self of nie joune is nie, aan te val, soos byvoorbeeld gifstowwe of virusse. Outo-immuun siektes kan letterlik verstaan word as die self wat die self onbedoeld aanval op ʼn immunologiese vlak.
Die woord toleransie word gebruik om hierdie diskriminasie tussen die self en die nie-self te beskryf en val net die nie-self substanse aan. Intoleransie is die onvermoë om te onderskei tussen wat skadelik is en wat nie, waar die nie-self ditself voorhou as die self.
Dit kan vergelyk word met byvoorbeeld dwelms wat as aangenaam ervaar kan word, maar in wese skadelik is. Die proses van diskriminasie is ʼn belangrike komponent in ons sin vir identiteit. Dit gaan oor die vermoë om beheer te neem, self te besluit oor ons gedagtes en gevoelens, eerder as om maklik deur andere beïnvloed te word.
Wat behels scleroderma werklik?
Die term scleroderma kom van twee Griekse woorde: sclero wat hard beteken en derma wat vel beteken. Hierdie spesifieke woord word gebruik aangesien die verdikking van die vel een van die mees sigbare manifestasies van hierdie siekte is.
Simptome van scleroderma kan veral aan die vel gesien word, maar daar is ook onsigbare simptome waar die interne organe aangetas mag wees.
Dit is welbekend dat die liggaam, in die geval van scleroderma, ʼn oormaat van kollageen afskei. Kollageen is ʼn belangrike proteïne wat die vesels in die liggaam aanmekaar bind. Die oorproduksie van kollageen veroorsaak egter ʼn verdikking en verharding van die vel, probleme met organe en gewrigte, beperkte beweeglikheid, velsere, sowel as moontlike long- en hartprobleme.
Die self probeer hier om jou te beskerm teen die nie-self. Hierdie verdediging is egter oor-dadig, jou liggaam produseer ‘n te veel kollageen, wat lei tot dikvelligheid. In ‘n poging om die self teen die buite-wêreld te beskerm, word dit ast’ware soos ‘n ou stadsmuur te dik gebou en lewensnoodsaaklike hulbronne kan nie meer in- of uitkom nie.
Analoog-denke
Jy is die outeur van jou eie siekte.
Analoog-denke beteken dat ʼn simboliese betekenis van ʼn woord letterlik word in die onderbewussyn en verteenwoordig ditself dan op ʼn fisiese vlak.
Analoog denke is waar ons abstrakte denke in ons onderbewuste letterlik word.
Dink aan die volgende:
- ʼn persoon met ‘n vel-uitslag, mag jeuk om deur hulle beperkinge te breek;
- mense wat dinge nie wil sien nie, is geneig om probleme met hulle sig te ontwikkel;
- mense wie voel dat hulle nie regop kan staan in die lewe nie, mag probleme met hulle rug ervaar;
- mense wie voel dat daar geen soetheid (sweetness) in hulle lewe oor is nie, mag probleme met diabetes ontwikkel;
- ek het op ʼn keer ʼn onderwyseres gesien wat doof begin word het. Sy het my vertel dat sy nie meer die geraas in haar klaskamer wil hoor nie. Sy het hulle ʼn dowe oor begin gooi;
- kanker vreet aan jou. Jy het al dikwels gehoor mense sê: dit vreet soos kanker aan my;
- as jy nie ontslae kan raak van die spreekwoordelike kak in jou lewe nie, mag jy probleme met konstipasie ontwikkel;
- die vel is die laaste grens tussen jou en die wêreld om jou. Ons vel kan ons baie vertel van ons verhouding met die wêreld rondom ons.
Analoog-denke en scleroderma
Die nie-joune in die geval van ʼn outo-immuun siekte is waarin ons belang stel. Wat is dit wat jy joune gemaak het wat nie veronderstel is om joune te wees nie? Jy mag dalk oortuigings aangeneem het oor iets wat vir jou goed is, maar inderwaarheid nie goed vir jou is nie. ʼn Stad met hoë mure beskerm homself nie net teen vyande nie, maar sny homself ook van inkomende voorrade af.
Definieer grense: die vel
Ons vel is ons laaste grens met die wêreld om ons. Ons vel word rooi van woede of skaamte, dit bloos van liefde of verleentheid, word wit van skok, slaan uit in hoendervel in koue of verwagting, sweet tydens vrees of inspanning. Elke emosie se reaksie kan in die vel gesien word.
Die vel is die fisiese uitdrukking van ons diepste innerlike: ons maak kontak en kommunikeer met ander mense deur ons vel. Dit verteenwoordig ons uiterlike beperkings. Dit vorm die finale grens tussen ons en die wêreld om ons. Velprobleme word daarom dikwels geassosieer met kontakprobleme, spesifiek kommunikasie van enige aard wat ons grense bedreig in enige opsig.
Aanraking is een van die kragtigste maniere om deur hierdie beperkings te breek. Aanraking is die mees basiese vorm van kommunikasie – die oordrag van liefde, teerheid, genesing, sekuriteit, vertroue, veiligheid en passie. ʼn Baba kan selfs doodgaan as dit nie genoeg aangeraak word nie, terwyl volwassenes geestesversteurings en trauma kan ontwikkel sonder fisiese kontak.
Aanraking is ʼn natuurlike deel van intimiteit van enige aard, maar fisiese kontak is nie noodwendig altyd aangenaam en positief nie. Dit kan ook ʼn sneller vir vrees, seerkry of selfs ʼn gevoel van blootstelling en kwesbaarheid wees. ʼn Vrees vir aanraking mag dui op ʼn dieper vrees om onsself te deel met andere, moontlik as gevolg van ʼn onaangename aanraking in die verlede, veral as dit in die vorm van ʼn aanranding was. Daar mag gevoelens ontstaan soos vuil of lelik. Daar mag ook gevoelens van skaamte of skuldgevoelens teenwoordig wees.
Dik of harde vel
Wanneer daar areas van ʼn dik of harde vel teenwoordig is, mag dit ʼn aanduiding wees dat emosies soos vrees of vooroordeel jou binnne jou vel mag verhard, onbeweegbaar maak of selfs vasvang. Om jouself te verhard, is dan letterlik om sterk te wees of om niks te voel nie. Jouself ast’ ware af te sluit van wat buite is. Wanneer ons te veel kollageen vervaardig en ons vel te dik raak, verdoof dit ons vermoë om te voel en om seergemaak te word deur ander mense. Presies soos daardie dik en beskermende mure van die ou stad waarvan ons gepraat het.
Gewrigte
Gewrigte maak ons beweegbaar en buigbaar, letterlik buigbaar. Menigte van die simptome wat die gewrigte affekteer is inflammasie via pyn, wat op sy beurt lei tot beperkings in bewegings en selfs tot ʼn totale verstokking.
Wanneer die gewrigte verstok, word ʼn verstokte of rigiede houding ingeneem teenoor iets of iemand. ʼn Verstokte gewrig verloor sy funksionaliteit. Dink nou aan die volgende idiome: om te ver te strek, om te ver te gaan, om iemand onder druk te sit, of om oorspanne te raak. Om opgeskroef te raak.
Die storie van Jeanne
Jeanne het die volgende simptome van scleroderma gehad:
- verdikte vel;
- verstopping van are en kliere;
- verstopte traankliere en droeë oë;
- stywe gewrigte;
- bloeiende vingers;
- wonde wat septies begin word het (die gevolg van ʼn te-vinnige genesing) met geen littekens nie;
- ʼn onvermoë om haar mond oop te maak (ook as gevolg van die styfheid van haar vel);
- hoë bloeddruk.
Van ʼn perspektief van analoog denke, het ek oor die volgende gewonder:
- Is sy dalk dikvellig?
- Is sy besig om die vloei van die lewe te blokkeer deur haar are en kliere?
- Het haar oë droog geword? Hoekom huil sy nie meer nie? Het haar trane opgedroog?
- Het sy te styf en rigied geword in haar denke, met min of geen buigbaarheid? Die verslag van haar huisdokter wys dat sy te vinnig genees (’n wanbalans). As sy haar oorbelle uithaal vir 48 uur, sal die gaatjies in haar ore reeds weer toegegroei wees.
- Wat is die betekenis van vingers? Aanraking, vashou, hou, hantering, of ʼn houvas verkry? Wat beteken die woord seer of sweer? Is daar ʼn sweer wat oop wou bars?
- Wonde raak septies (die gevolg van ʼn genesing wat te vinnig plaasvind) en geen littekens na enige trauma nie. Is sy so op hete kole dat sy haarself nie eens enige pyn toelaat nie? Probeer sy op ʼn onderbewustelike vlak te vinnig genees van haar (onderbewustelike) pyn?
- Hoekom kan sy nie haar mond oopmaak nie? Is daar iets wat sy nodig het om te sê, maar sy nie kan, mag of wil s. Kan sy nie vir haarself praat nie? Dit is insiggewend om op te merk dat Jeanne ʼn sagte stem gehad het.
- Wat jaag haar bloeddruk op? Kook haar bloed?
Kort geskiedenis:
Jeanne is in 1944 gebore as die jongste van twee susters. Sy was sedert haar geboorte verwerp, aangesien haar ma ʼn seun wou gehad het. Sy was drie of vier jaar oud toe haar pa oorlede is. Sy het haar ma beskryf as grof, koud en dominerend.
Sy het haarself begin onttrek van die samelewing, lewe, haar ma en was kronies siek. Sy het haar eerste septiese vinger op die ouderdom van 13 gekry en teen die ouderdom van 23 is sy gediagnoseer met Karpale Tonnel Sindroom. Teen ouderdom 33 was haar hande feitlik nutteloos. In haar woorde: my verlies aan gevoel was nou baie duidelik.
In 1996, ouderdom 52, was sy finaal gediagnoseer met scleroderma. Sy skryf: ek was nou finansieël kruppel asook in my gesondheid. Ek wou net doodgaan, het verval in ʼn diep depressie en het my medikasie, wat ek nie kon bekostig nie, gestaak.
Ons het met ‘n proses van hipnose begin. Gedurende haar eerste sessie het sy begin huil. Na die sessie het sy my meegedeel dat dit die eerste keer in agt jaar is wat sy kon huil, trane kon huil. Tydens ons hipnose sessies het sy haarself in ‘n veilige spasies bevind. ‘n Spasie waarin sy heel en gesond was. Tydens hierdie proses het ek haar beter leer ken. Ek het geleer waaroor sy passievol voel, wat betekenis in haar lewe gee, al was dit op daardie stadium slegs oorlewing –fisies, finansieël, sowel as emosioneel.
Teen hierdie tyd het ek opgemerk dat sy meeste van die tyd blou klere dra. Toe ek daaroor navraag doen, vertel sy my dat haar ma altyd vir haar blou klere gekoop het en rooi klere vir haar suster. Toe sy haar ma daarom uitvra, was haar ma se reaksie: Rooi is vir die mooi, blou is vir jou. Behalwe dat dit haar self-esteem seer gemaak het, het dit ook gelei tot ʼn rolverwarring, want sy moes ʼn seun wees – ʼn nie joune.
Ons het begin ondersoek instel na wat haar siekte haar kon leer. Hier was nog ʼn belangrike deurbraak. Ek het vir haar gesê dat sy nie besig was om dood te gaan nie, maar dat sy besig was om ʼn selfdood te pleeg. Sy het besef dat sy haar eie siekte veroorsaak en dit beteken het dat sy in beheer is van haar eie lewe en dat sy haar lewe self kan genees. Sy het begin besef dat genesing moontlik was. Dalk wou sy tog leef.
Hoe kan haar scleroderma ‘n seëning wees? Uiteindelik het ek haar gevra: Is jy dikvellig? Met die vra van hierdie vraag, het haar hele geskiedenis voor my ontvou. Sy het my vertel van haar ma, ʼn traumatiese huwelik en ander vorme van misbruik waar sy net eenvoudig dikvellig moes wees om te oorleef. Sy het letterlik hard, onbeweeglik en vasgevang geraak. Sy het geen insae in haar lewe toegelaat nie. Haar beskermende mure het verdik. Dit was haar weerstand en haar onderbewuste het haar begin beskerm deur haar vel te verhard of te verdik, maar haar beskerming was eintlik besig om haar dood te maak. Haar immuunstelsel het verward geraak in ʼn poging om die nie-joune aan te val (sy is soos ʼn seun behandel), maar het begin om die joune aan te val (die sagtheid van haar vrou-wees). Daarom kon sy nie meer huil nie. Sy het letterlik haar trane geblokkeer, want seuns huil nie.
Na ʼn tydperk kon ek haar met hipnose terug neem na haar kindertyd. Ek het haar gevra om vir haar ma te sê watookal sy wou sê, maar nooit kon of mag nie en om aan haar ma te doen wat sy ookal wou doen. Sy het geweier om enige iets te sê (wat haar krimpende mond kan verduidelik). Ek het haar gevra of sy haar ma wil slaan. Sy het begin om in die lug in te slaan. Van hier af was daar bykans geen keer in haar genesingsproses nie. Selfs haar gewrigte het losser geraak. Sy was buigbaar genoeg om te kon slaan! Teen hierdie tyd het sy vir haarself ‘n rooi trui gekoop.
Sy skryf: Deur die maande het my vingers genees. My naels het behoorlik begin groei en my sensasies het terug gekeer. My tandarts het gesê dat my mond groter was en sy afmetings het gewys dat my mond se openingskapasiteit met 8 millimeter gerek het. Toetse het gewys dat my longe en niere nou amper normaal is en ek het energie wat ek nooit geweet het bestaan nie. Vir die eerste keer in my lewe het ek gevoel of ek lewe! Beter nog, my pyn is weg.
ʼn Paar sessies later kon sy finaal haar ma vergewe.
Jare later:
Ek het haar in Oktober 2011 ontmoet vir ʼn koppie koffie. Sy moes nou al vir twaalf jaar dood gewees het. Sy lewe steeds en is aan die gang. Sy gebruik geen medikasie nie. Sy is ook nie meer depressief nie. Sy werk in ʼn ouetehuis waar sy die invalides moet help. Sy moet baie beweeg en trappe klim. Daar is nie meer ʼn grens tussen haar en die wêreld rondom haar nie – sy het nie meer nodig gehad om dikvellig te wees nie.
Ek glo in sinchronisiteit. Dit was nie haar bedoeling om in ʼn ouetehuis te werk met invalides nie, maar dit het net gebeur dat sy met ou mense, gestremde mense, siek mense en sterwende mense moes werk.
In Jeanne se eie woorde:
Sover as wat ek kan onthou was my lewe altyd traumaties, onstabiel en mishandelend – van kindertyd tot in volwassenheid. Ek glo dit het begin toe ek ʼn baba was.
Die gevolg was dat ek seine uitgestuur het om mishandelende siele aan te trek en ek het dit aanvaar as my LOT in die lewe.
My huwelik in 1964 het soos ʼn seëning gelyk en soos ʼn kans op geluk, maar dit het net 16 jaar gehou. My man het na 14 jaar uitgetrek en my alleen gelaat met vier jong seuns. Na twee jaar het hy teruggekom en tussen my en die ander vrou rond beweeg, totdat ek uiteindelik in 1980 van hom geskei is.
Na baie jare van siekte is ek finaal deur my huisdokter, wat ook ‘n homeopaat was, met scleroderma gediagnoseer. Hy het vir my ‘n boek gegee om te lees: You can heal your life deur Louise Hay.
Nadat ek dit gelees het, het dit vir my iets gebied om aan vas te klou (ʼn bietjie hoop).
Teen die tyd wat ek hipnose ondergaan het, is my mediese sorg verplaas na ʼn staatshospitaal as gevolg van my finansiële situasie. Die verpleeg-personeel was verstom deur my skielike vooruitgang, maar die dokter het my baie stupid genoem. Hy het vir my gesê dat ek die feite in die oë moet begin kyk dat daar GEEN genesing vir scleroderma bestaan nie en dat ek heel waarskynlik voor kersfees die daaropvolgende jaar sou sterf.
Nou, teen die ouderdom van 68 en feitlik pynvry, voel die verlede op ʼn manier nie regtig nie. 15 jaar gelede het ek van voor af begin en het nog nooit weer terug gekyk nie. Ek trek nie langer mishandeling aan nie, maar ek leer steeds en hoop dat ek eendag ʼn betekenisvolle verhouding met iemand spesiaal kan begin!
Ek voel dat die verandering van my naam onder hipnose ʼn belangrike stap vorentoe was. Teen daardie tyd was dit nie vir my so belangrik nie, maar ek het intussen besef dit het my toegelaat het om die pyn agter my te laat en om MYSELF te VIND.
[Nota deur Jorgan: vir een of ander rede het ek tydens hipnose haar per ongeluk Jeanne genoem, in plaas van Jean, haar regte naam. Sy het hierna die naam Jeanne aanvaar as haar nuwe naam.]
Ek het my mede-sclerodermalyers dopgehou en myself belowe dat ek NOOIT voor hierdie verskriklike siekte sal swig nie. Ek sal dit beveg met elke vesel van my wese.
My advies vir enige iemand wat stry teen ʼn lewensbedreigende siekte is om STERK genoeg te wees om te GLO. En VOLG JOU HART, selfs al beteken dit om tradisionele advies te systap.
ʼn Mediese geskiedenis is GEEN kompetisie vir ons psige nie!
Nog jare later
Dit is nou begin 2024. Presies 23 jaar na haar sogenaamde dood, het ek hierdie kersfees weer my getroue jaarlikse kerskaartjie gekry. Ek wag vir my verjaardag-kaartjie in Mei!