Besin oor jou huidige seëninge – waarvan elkeen van ons soveel van het – nie in jou verlede se ongelukke, wat alle mense in ‘n meer of mindere mate het nie – Charles Dickens, a Chrismas Carol en ander Kersfees geskrifte – © Jorgan Harris
Dankbaarheid
Hoe voel jy oor jou verlede? Jou verlede bestaan uit herinneringe, goed en sleg, positief en negatief. Wanneer jy op al die negatiewe dinge uit jou verlede fokus, versterk jy enige huidige gevoelens van ongelukkigheid of neerslagtigheid. Om egter op dankbaarheid, ten spyte van die verlede te fokus, versterk jou huidige gevoelens van positiwiteit.
Die woord dankbaarheid
Volgens die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) is dankbaarheid ʼn gevoel van erkentlikheid (waardering) wat gevoelens van voldoening (tevredenheid) gee.
Sosiale wetenskap
Volgens vooraanstaande Amerikaanse Sielkundiges bestaan daar ʼn noue verband tussen dankbaarheid en vergifnis en daar is ook ’n noue ooreenkoms of verband tussen dankbaarheid aan die een kant en menslike geluk in die algemeen, aan die ander kant. ʼn Gelukkige mens is ʼn dankbare mens en ’n dankbare mens is ʼn gelukkige mens.
Dankbaarheid word volgens hulle gedefinieër as ‘n bewustheid van goeie dinge wat met jou gebeur en dat jy dit nooit as vanselfsprekend hoort te aanvaar nie. Jou vriende en familie weet jy is ʼn dankbare mens, omdat jy gereeld van tyd tot tyd ʼn punt daarvan maak om jou dankbaarheid te wys en dit uit te spreek.
Dankbaarheid, grafies voorgestel:
‘n Perspektief uit die veld van hipnoterapie
Dr. Michael Yapko, wêreldberoemd vir die gebruik van hipnose om depressie te behandel, skryf:
… wanneer mens op iets fokus, versterk jy daardie fokus in jou bewussyn en is jy besig om jouself deel van daardie fokus te maak.
As ons mense se aandag op iets spesifiek vestig – of die aandag daarvan weglei – het dit diepgaande gevolge op die kwaliteit van hul eie gewaarwordinge. Om mense se aandag te vestig op dit wat reg of verkeerd is met hulle, wek heelwat uiteenlopende gevoelens in mense.
Fokus
Daar is 12 swart kolletjies in die figuur hieronder. Wanneer jy begin fokus, kan jy hulle op verskillende plekke begin sien.
Daar is ‘n storie oor ‘n skoenfabriekbestuurder wat twee bemarkingsagente na ʼn sekere gebied in Afrika gestuur het om besigheidsmoontlikhede daar te gaan ondersoek. Nadat hulle bietjie rondgekyk het, het een van hulle ewe mismoedig ʼn boodskap na die fabriek teruggestuur: situasie hopeloos. Niemand dra skoene nie. Die ander een was weer baie opgewonde oor wat hy alles waargeneem het en sy boodskap het gelui: wonderlike besigheidsgeleentheid. Niemand het skoene nie.
Daar is nog ‘n wonderlike storie uit Amerika van ’n Indiaanse hoofman wat besig was om vir sy stamlede van twee honde in sy binneste te vertel. Hy vertel van die een hond, ‘n wit hond wat goed en dapper is en die ander een, ’n swart hond wat wraaksugtig en kwaad is. Beide honde is besig om tot die dood toe met mekaar te veg. ’n Jong vegter in die stam wat nie vir die einde van die storie kon wag nie, vra: watter een gaan wen? Die hoofman antwoord: die een wat jy voer.
Kom ek vertel jou nog ‘n storie uit Amerika. Die volgende verhaal illustreer hoe twee mense verskillend na dieselfde situasie kan kyk vanuit verskillende perspektiewe:
ʼn Welgestelde pa het sy seun op ‘n keer na die platteland gevat met die doel om vir hom te wys hoe arm mense lewe. Hulle het ʼn paar dae spandeer op ʼn plaas wat die pa beskou het as die woonplek van ʼn baie arm gesin. Op pad terug huistoe vra die pa vir sy seun: en wat het jy alles geleer? Die seun sê toe: dit was eenvoudig net wonderlik, Pa! Het jy toe gesien hoe arm mense lewe? vra die pa. O ja, antwoord die seun. En wat het jy alles geleer? Die seun antwoord: ek het gesien dat ons net een hond het, maar hulle het vier. Ons het ʼn swembad in die middel van ons tuin, maar hulle het ʼn hele rivier sonder ʼn einde. Ons het ingevoerde lampe in ons tuin, maar hulle het elke nag die helder sterre. Ons het ʼn patio in ons binnehof, maar hulle het ʼn hele horison sonder einde. Ons woon op ʼn erf in die stad. Hulle het landerye wat eindeloos strek. Ons het bediendes om ons te bedien, maar hulle dien mekaar. Ons het mure rondom ons erf om ons te beskerm. Hulle het vriende wat hulle beskerm. Ons koop ons kos in die supermark. Hulle kweek hulle kos op hul eie grond. Die pa het nie woorde gehad nie. En die seun het afgesluit: baie dankie dat Pa my kom wys het hoe arm ons regtig is.
Waarom is dit voordelig vir ons om dankbaarheid te beoefen?
Gedurende die afgelope dekade is daar honderde studies gedokumenteer wat die sosiale, fisiese en sielkundige voordele van dankbaarheid aantoon. Navorsing dui daarop dat hierdie voordele vir omtrent enigiemand beskikbaar is wat dankbaarheid beoefen, selfs te midde van teëspoed soos ouer mense wat met die finaliteit van die dood gekonfronteer word; vroue met borskanker en mense wat met kroniese spiersiektes worstel. Hier volg sommige van die top navorsinggebaseerde redes om dankbaarheid te beoefen.
- Dankbaarheid bring vir ons geluk. Navorsing deur Emmons en Sonja Lyubomirsky, deskundiges op die gebied van geluk asook die navorsing van vele ander wetenskaplikes het aangetoon dat dankbaarheid een van die mees betroubare metodes is om geluk en lewenstevredenheid te verbeter. Dit verhoog ook gevoelens van optimisme, vreugde, plesier, entoesiasme en ander positiewe emosies.
- Aan die ander kant verminder dankbaarheid gevoelens van angs en depressie.
- Dankbaarheid is goed vir ons liggaam. Studies deur Emmons en sy kollega, Michael McCullough het aangetoon dat dankbaarheid ons immuniteit versterk, bloeddruk verlaag, siektesimptome verminder en dat ons minder pyne en skete ervaar. Dit spoor ons aan om meer te oefen en beter na ons gesondheid om te sien.
- Dankbare mense slaap beter. Hulle slaap langer ure per nag, raak makliker aan die slaap en voel meer uitgerus wanneer hulle die volgende oggend wakker word. As jy beter wil slaap: tel eerder jou seëninge as skape!
- Dankbaarheid mag ook tot gevolg hê dat ons meer veerkragtig (resilient) is. Daar is bevind dat dankbaarheid mense help om te herstel van traumatiese gebeure, insluitende post traumatiese stres.
- Dankbaarheid versterk ook interpersoonlike verhoudings. Dit laat ons meer toegewyd teenoor ons vriende en geliefdes voel. Wanneer maats in enige bepaalde verhouding dankbaarheid teenoor mekaar deel, voel hulle meer tevrede (content) met hul verhouding. Dankbaarheid mag selfs aanleiding gee tot ʼn meer eweredige verspreiding van huishoudelike take en take in enige verhouding!
- Dankbaarheid bevorder vergifnis – selfs tussen geskeides met ‘n slegte geskiedenis.
- Dankbaarheid spoor ons aan tot diensbaarheid Dankbare mense is meer ingestel om hulpvaardig, onselfsugtig, liefdevol en deernisvol teenoor ander te wees.
- Dankbaarheid is goed vir As jongmense tussen 10-19 jaar dankbaarheid beoefen, ervaar hulle ʼn groter tevredenheid met hul lewe, asook meer positiewe gevoelens en ʼn hegter band met hulle gemeenskap en hulself.
- Dankbaarheid is goed vir skole. Studies het aangetoon dat dankbaarheid studente beter laat voel en optree teenoor hul skool of opleidingsinstansie. Dit kan veroorsaak dat onderwysers meer tevrede, bevredig en voldaan voel. Die moontlikheid tot emosionele uitbranding verminder aansienlik.
Dankbaarheid skuif jou fokus weg van dit wat ontbreek (kortkom) in jou lewe en beweeg jou nader aan die baie seëninge wat reeds in jou lewe teenwoordig is.
Hoe kweek ons dankbaarheid?
Is jy van nature ʼn pessimis? Dink dan gerus aan die volgende stelling: die voordele van dankbaarheid is nie net beskikbaar vir sommige mense met ʼn natuurlike ingesteldheid tot dankbaarheid nie. Dankbaarheid is ʼn vaardigheid wat ons kan ontwikkel en bemeester deur dit te beoefen om later verdere voordele daaruit te put.
Volgens navorsing kan die volgende, as effektiewe maniere om dankbaarheid te kweek, aanbeveel word:
- Hou ʼn dagboek van dankbaarheid aan:
Skryf ‘n paar dinge neer waaroor jy elke dag of week dankbaar is. Neem veral bewuste besluite wat jy kan doen om meer dankbaar te wees en skryf dit neer. Skryf oor besondere dinge, gebeurtenisse of spesifieke mense wat jou dankbaar laat voel het. Dink ook na oor hoe jou lewe daarna sou uitgesien het sou jy sonder hierdie dinge of mense wees, eerder om dit net as vanselfsprekend te aanvaar. Teken ook aangename verrassings aan – dinge wat jy glad nie verwag het nie. Sodoende versterk ons die goeie in ons lewe.
- Skryf ʼn dankbaarheidsbrief aan ʼn belangrike persoon in jou lewe:
Navorsing het gewys dat dankbaarheidsbriewe sterk en langdurige uitwerking op lewensgeluk bied, veral wanneer die briewe persoonlik geskryf word.
- Geniet die goeie dinge in jou lewe:
Daar is veel meer in die lewe as net oppervlakkige aantekeninge oor skoonheid en plesier wat elke dag na jou kant toe kom. Begin om elke aspek van jou lewe werklik weer van vooraf te geniet deur jou weer opnuut daar in te leef. Leer om Sielvol (Mindful) te leef en na die lewe deur nuwe oë te kyk. Vir verdere inligting, sien gerus my artikel oor Sielvolheid, op my webuiste.
- Fokus op intensies (positiewe bedoelinge):
Sou jy ʼn geskenk ontvang of iets goed met jou gebeur, mag jy jouself indink oor hoe iemand doelbewus probeer het om iets goed vir jou te laat gebeur en dikwels ʼn opoffering moes maak om dit vir jou te laat gebeur. Kyk na die positiewe intensies agter wat met jou gebeur of wat jy ontvang.
- Leer jou kinders om dankbaar te wees:
Jy kan reeds vroeg in hul lewe vir hulle dankbaarheid aanleer.
- Sien die positiewe dinge raak:
Kyk na wat elke dag gebeur ten spyte van oorweldigende negatiewe dinge wat dalk reeds gebeur het. Selfs klein positiewe dingetjies kan baie waardevol wees. Vier die klein oorwinnings.
- Jy kan selfs ‘n bietjie meer geestelik en filosofies oor die lewe raak:
Jy mag dalk selfs oor jou eie sterflikheid wil nadink. Dit mag jou dalk net meer dankbaar laat voel vir die lewe wat jy tans as vanselfsprekend aanvaar. Dalk wil jy ook dink aan die verskillende mense wat sin en betekenis aan jou lewe verleen.
Die beoefening van dankbaarheid kan jou lewensgeluk met tot 25% verhoog
Sielkundige navorsing het aangetoon dat mense se vlakke van geluk redelik stabiel bly oor die langtermyn. Dit maak nie saak of jy nou die lotery gewen het of ʼn klomp geld verloor het nie – jy sal na ongeveer drie maande weer vanself terugkeer na jou vorige vlak van geluk. Hierdie bevindinge bring in ʼn sekere sin probleme te mee vir mense wat hul vlak van geluk permanent wil verhoog. Jou geluk het ʼn sekere herstelpunt (set point) waarheen jy outomaties terugkeer nadat jy vir ʼn tyd bloot baie gelukkig of baie ongelukkig was. Onlangse navorsing in die sielkunde van dankbaarheid toon dat om dankbaar te wees mag dalk net die sleutel tot die verhoging van die herstelpunt van geluk te wees. Hierdie teorie word ondersteun deur erkende eksperimentele bewyse, soos hier onder verduidelik.
Tel jou seëninge teenoor jou laste
Dr. Robert Evans beskryf ʼn navorsingsprojek wat hy en sy kollega met drie groepe oor ʼn tydperk van tien weke uitgevoer het (Emmons & McCullough, 2003).
Voor die eksperiment begin het, moes deelnemers ʼn daaglikse dagboek aanhou waarin hulle hul gemoedstoestand, fisiese gesondheid en algemene gesindheid aangeteken het. Hierdie inligting is gebruik om bogenoemde te vergelyk met verdere inligting wat verkry is nadat die eksperiment voltooi is. Die deelnemers is in die volgende drie groepe ingedeel:
- die eerste groep is versoek om vyf dinge neer te skryf waaroor hulle dankbaar is of wat in die laaste week gebeur het. Hierdie groep is die dankbaarheidgroep genoem;
- die tweede groep is versoek om vyf daaglikse irritasies neer te skryf wat hulle die vorige week ervaar het. Hierdie groep is die irritasiegroep genoem;
- die derde groep is versoek om eenvoudig net vyf dinge neer te skryf wat die vorige week gebeur het. Hierdie groep is die kontrolegroep
Voorbeelde van dinge wat mense tydens dankbaarheid neergeskryf het:
- ʼn sonsondergang deur die wolke;
- die voorreg om te kan lewe;
- vrygewigheid van vriende.
Voorbeeld tydens die irritasietoestand:
- belastings;
- probleme om parkeerplek te kry;
- my kaas en macaroni het verbrand.
Mense in die dankbaarheidsgroep het ʼn volle 25% beter gevoel. Hulle was meer optimisties oor die toekoms, het beter gevoel oor hulle lewe en het 1.5 uur per week meer geoefen as mense in die irritasiegroep of mense in die kontrolegroep (omdat hulle meer energiek gevoel het).
Kan al hierdie veranderinge net te wyte aan ʼn mooi sonsondergang wees of is daar iets meer? Dr Emmons was self verras deur hierdie bevindinge, omdat daar ook redes is waarom die beoefening van dankbaarheid nie altyd so goed vir mense is nie en selfs nadelig kan wees.
Deur byvoorbeeld te fokus op dankbaarheid herinner ons aan wat ons ander skuld. Dit kan ons weer herinner aan ons afhanklikheid van ander en verminder dus die gevoel van persoonlike beheer of selfs bevoegdheid. Studies het getoon dat mense nie daarvan hou om iets aan ander verskuldig te wees nie – om skuldvry te wees, laat ons beter voel.
Is dit net die effek van positiewe vergelykings, of is dit werklik dankbaarheid?
Ten spyte van hierdie redes waarom dankbaarheid nie altyd geluk kan verhoog nie, blyk dit dat dit tog inderdaad gebeur. Maar is die voordeel van ‘n dankbaarheidstoestand bloot om te dink hoe ons beter af is as ander?
In ‘n tweede studie, baie soortgelyk aan die een hierbo, het Emmons en McCullough een van die beheermaatreëls verander. In plaas daarvan om mense te vra om enige gebeure van die week neer te skryf, is mense gevra om te lys waar hulle beter af was as ander. Die idee was dat mense tydens hierdie gewaarwording positiewe vergelykings maak, maar nie noodwendig in terme van dankbaarheid dink nie (hoewel dit nie uitgesluit kan word nie).
Weereens, het die resultate getoon dat diegene wat dankbaar was, aansienlik gelukkiger was as diegene wat positiewe vergelykings tussen hulself en ander gemaak het. Dit kom dus nie as ‘n verrassing dat diegene wat dankbaar was ook gelukkiger was as dié wat gefokus het op hulle daaglikse probleme.
Dankbaarheid kan selfs mense met chroniese gesondheidsprobleme help.
‘n Goeie punt van kritiek op die eerste twee studies was dat dit uitgevoer is op voorgraadse studente. Dit is baie goed om die geluk van jong, gesonde studente te verhoog, maar wat van mense met ernstige, chroniese gesondheidsprobleme?
In ‘n derde studie het Emmons en McCullough volwassenes gewerf wat neuromuskulêre versteurings gehad het. Hierdie versteuring is dikwels die vertraagde gevolge van infeksie wat deur die poliovirus veroorsaak word en deur polio-lyers ervaar word. Alhoewel dit nie lewensbedreigend is nie, kan die toestand ernstige spierpyn en -atrofie veroorsaak. Mense met hierdie toestand het ‘n goeie rede om ontevrede te wees met die hand wat die lewe hul toegedeel het.
In hierdie studie is ‘n dankbaarheidstoestand vergelyk met ‘n beheerkondisie waarin deelnemers oor hul daaglikse ervaring geskryf het. Na ‘n studie van 21 dae is bevind dat deelnemers wat in die dankbaarheidsgroep geval het, meer tevrede was met hul lewe in die algemeen, meer optimisties oor die komende week was en baie belangrik, beter geslaap het as die kontrolegroep. Mense wat goed slaap is oor die algemeen gesonder, geduldiger en gelukkiger as mense wat nie goed slaap nie.
Probeer die volgende
Kom ons dink na oor alles waarvoor ons dankbaar is in die lewe. Dink aan die afgelope 24 uur en noem ten minste 3 dinge waarvoor jy dankbaar is. Deur dit gereeld in jou werk, huwelik en gesinslewe te doen, is ook ‘n goeie idee. Die doel hiervan is om nie net dankbaarheid te oefen nie, maar om dankbaarheid ‘n gewoonte te maak.
Byvoorbeeld:
- ek het ʼn huis;
- ek kan my verband afbetaal;
- ek het ʼn motor;
- ek is gesond;
- ek het kos om te eet;
- ek het vriende en familie wat vir my lief is;
- ek het lopende warm en koue water;
- ek het skoon en netjiese klere;
- ek kan maklik op my eie beweeg (loop);
- ek het nie nou pyn nie;
Hoe kan ons dus weet hoe dankbaar ons is?
Hieronder is ’n voorbeeld van die Dankbaarheidsvraelys wat ontwikkel is deur twee vooraanstaande Amerikaanse navorsers, Michael McCullough en Robert Emmons, wat omvattende navorsing gedoen het oor beide dankbaarheid en vergifnis.
Gebruik die skaal hieronder en dui aan in hoe ‘n mate jy met elke stelling saamstem:
Telling van stellings
Telling van you stellings
1. Tel jou antwoorde se getalle vir 1, 2, 4 en 5 mekaar.
2. Keer die tellings vir items 3 en 6 om. Byvoorbeeld, as jy jouself ‘n 7 gegee het (Stem sterk saam), gee jouself nou ‘n telling van 1 (verskil serk); as jy jouself ‘n telling van 6 gegee het (stem saam), gee jouself nou ‘n telling van 2 (verskil), of as jy jouself ‘n telling van 5 gegee het (stem in ‘n mate saam), gee jouselfnou ‘n telling van 3 (verskil in ‘n mate), ‘n telling van 4 bly 4 (neutraal en kan nie omgekeur word nie).
3. Voeg die omgekeurde tellings vir items 3 en 6 by die totaal (d.w.s die total van stap 1). Dit is you Totale Dankbaarheid- Kwosient-6telling. Jou telling moet iewers tussen 6 en 42 val.
JOU TELLING
1 = Verskil Sterk
2 = Verskil
3 = Verskil in ʼn mate
4 = Neutraal
5 = Stem in ʼn mate saam
6 = Stem saam
7 = Stem geheel en al saam
Telling interpretasie:
Die riglyne vir interpretasie van hierdie vraelys is baseer op 1 224 volwassenes wat onlangs aan die opname deelgeneem het. Jy kan die resultate as riglyn gebruik om jou eie telling te interpreteer.
As jy ʼn telling van 35 of laer behaal het, is jy in die onderste kwart (0-25%) van die steekproef in terme van dankbaarheid – baie lae dankbaarheidsvlak.
As jy ʼn telling tussen 36 en 38 behaal het, val jy in die onderste helfte (26 -50%) van die mense wat die vraelys ingevul het – lae dankbaarheidsvlak.
As jy ʼn telling tussen 39 en 41 behaal het, is jy in die boonste kwart (51-88%) – hoë dankbaarheidsvlak.
As jy ʼn telling van 42 behaal het is jy in die boonste 12% – baie hoë dankbaarheidsvlak.
Bitter min mense behaal laasgenoemde telling.
Dames se tellings is effens hoër as die van mans en ouer mense behaal hoër tellings as jonger mense.