Op en oor die kruin van die golf - © Jorgan Harris

Bipolêre gemoeds-versteuring

Misdiagnoseerd en misverstaan

Bipolêre gemoedsversteuring is waarskynlik die mees verkeerd gediagnoseerde en misverstaande uitdaging van alle sielkundige afwykings.  Bipolêre versteuring kan sonder waarskuwing en uit die bloute net toeslaan.

Bipolêre gemoedsversteuring is letterlik om soos ‘n branderplankryer op die see uit te gaan.  Soms tref jy die kruin van die brander en jy ry die kruin met opwinding en ekstase.  Soms ry jy die brander so hoog dat jy in die lug opgeskiet word, ekstaties maar ook vreesaanjaend.  Soms slaan die brander jou van jou branderplank af en voel dit of jy gaan verdrink. Net om ‘n volgende keer dieselfde hoogtes en laagtes te ervaar.

Sandra* is al so gewoond daaraan om met Bipolêre gemoedsteuring saam te leef.  In haar eie woorde: elke dag betwyfel ek alles en wonder wat nou regtig reg en verkeerd is. Jy vra jouself af of jy gelukkig of teneergedruk is vir ‘n rede. Jy leef met die skielike gemoedskommelings, eie aan hierdie toestand.

Hoë vlakke van spanning mag ook ‘n algemene sneller vir Bipolêre gemoedsversteuring word.  Selfs hier mag jy dalk ‘n bietjie manies word.  Jy mag selfs sukkel om te slaap of om minder geduldig of impulsief te voel.

Daar word dikwels na Bipolêre gemoedsversteuring verwys as maniese depressie, of ‘n manies-depressiewe versteuring.   Hierdie terme is verouderd en word nie meer gebruik nie.

Op sy ergste het ek hallusinasies en psigose begin ervaar, as ‘n volledige losmaking van die werklikheid, waar ek die wêreld interpreteer soos niemand anders kan nie.  Ek sien dinge wat baie gevaarlik is en wie ek nie is nie, sê ‘n 52-jarige persoon.  Dit is ‘n baie vreesaanjaende plek.

Slaaploosheid, impulsiwiteit, hoë energie, gedagtes wat jaag, spraak afleibaarheid, euforie, hiper seksualiteit, swak besluitneming is maar enkele van die simptome van ‘n manie, wat ook psigose kan veroorsaak.

Jy mag hier dalk hulp benodig, maar jy mag dalk nie hulp aanvaar nie.   Bipolêre versteuring maak gereeld hul opwagting sonder waarskuwing in die laat tienerjare tot vroeë 20’s, hoewel dit geneig is om herhaaldelik in gesinne voor te kom en ook moontlik deur trauma veroorsaak kan word.

Bipolêre Versteuring – DSM 5 Diagnostiese kriteria

Om met ‘n dokter of geestesgesondheidswerker te praat, is die eerste stap om Bipolêre versteuring te identifiseer. Eerstens sal ‘n dokter ‘n fisiese evaluering doen om enige ander toestande wat simptome kan veroorsaak, uit te skakel. As daar geen ander toestande teenwoordig is nie, sal die dokter ‘n omvattende geestesgesondheidsevaluering doen om die simptome van die pasiënt te beoordeel in ooreenstemming met die spesifieke kriteria van die American Psychiatric Association se Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders (DSM 5).

Een van die mees misverstaande idees oor Bipolêre gemoedsversteuring is dat die verskuiwings tussen emosies, tussen manie (‘n verhoogde, uitgestrekte of prikkelbare bui) en depressie (lusteloosheid) skielik kan gebeur.

Om met Bipolêre gemoedsversteuring gediagnoseer te word, moet jy ten minste een week, die grootste deel van die dag, of byna elke dag die teenwoordigheid van ‘n manie of ‘n hipomanie ervaar. Hierdie maniese of hipomaniese bui moet minstens vier opeenvolgende dae duur en byna elke dag die grootste deel van die dag teenwoordig wees.

Maniese of hipomaniese episodes:

  • Jy mag dalk gedurende hierdie periode, drie of meer van die volgende simptome beleef wat vir jou veel anders is as jou gewone gedrag:

–  ‘n oordrewe gevoel van self-esteem of meerderwaardigheid

– ‘n verminderde behoefte aan slaap

–  verhoogde spraaksaamheid

–  gedagtes wat jaag

–  hoë vlakke van afleibaarheid

–  verhoogde toename in doelgedrewe aktiwiteite en ‘n gevoel van gejaagdheid

–  betrokkendheid in aktiwiteite wat pynlike gevolge mag hê, soos onbeperkte koop episodes, seksuele onverantwoordelikheid of onnosele beleggings.

  • Manie beteken nie noodwendig geluk nie

Ons mag selfs afgunstig wees op individue met Bipolêre versteuring wanneer hulle eindelose energie en kreatiwiteit toon sonder enige inhibisies tydens ‘n maniese episode, maar hulle rapporteer egter dat hulle dit nie as pret ervaar nie.

Dit is belangrik vir mense om te weet manie is nie noodwendig soos geluk nie, sê die geestesgesondheidsaktivis Lindi*, wat met Bipolêr gediagnoseer is en haar eie lewe al vantevore probeer neem het. 

Tydens so ‘n manie, hou jy op met slaap, is ongelooflik besig, kan nie stilsit nie, het eindelose energie sonder enige inhibisies met geweldige kreatitwiteit.

  • Woede-episodes

Jy besef dalk dat jy eens so kwaad was dat jy voel asof jy besig is om mal te raak. Jy mag dalk selfs nie veel, of enigsins iets van die geveg onthou nie.  Dit was bloot net nie ‘n gewone irritasie nie.  

  • Depressiewe episodes

Die depressiewe kant van Bipolêre versteuring word gekenmerk deur ‘n ernstige depressiewe episode wat lei tot ‘n depressiewe bui of verlies aan belangstelling of plesier in die lewe. Die DSM 5 bepaal dat ‘n persoon binne twee weke vyf of meer van die volgende simptome moet ervaar om met ‘n ernstige depressiewe episode gediagnoseer te word:

–      depressiewe bui die grootste deel van die dag, byna elke dag;

–      verlies aan belangstelling of plesier in alle, of byna alle aktiwiteite

–      beduidende gewigsverlies; ‘n afname of toename in eetlus;

–      om in doellose aktiwiteite betrokke te raak, soos om jou kamer se meubels te skuif

–      moegheid of verlies aan energie

–      gevoelens van waardeloosheid of skuldgevoelens

–      verminderde vermoë om te dink of te konsentreer, of besluiteloosheid

–      herhalende gedagtes oor die dood, herhalende selfdood gedagtes met of sonder ‘n spesifieke plan; of

–      ‘n selfdood poging

Verskillende tipes Bipolêre gemoedsversteuring

Meeste mense is nie daarvan bewus dat daar eintlik verskillende tipes Bipolêre versteuring is nie; almal word egter gekenmerk deur hul eie simptome.

Hoewel al die verskillende tipes soortgelyk is, is dit belangrik om te weet watter tipe Bipolêre versteuring jy het sodat jy die behandeling kan ontvang wat die beste vir jou sal werk.

  • Bipolêr 1 of Bipolêr 2?

In die verlede was daar onderskeid getref tussen Bipolêr 1 en Bipolêr 2.  Bipolêr 1 was gesien as ‘n veel erger vorm van Bipolêr as Bipolêr 2, wat dan ook bekend gestaan het as die sogemaande Sagte Bipolêre versteuring.  Met die koms van die DSM 5 het hierdie onderskeid weggeval, derhalwe bespreek ek dit nie verder nie.

  • Siklotimie

Siklotimie is ‘n tipe Bipolêre versteuring waarin die persoon episodes van hipomanie en depressie sal deurmaak, maar minder ernstig en vir korter periodes. Die simptome van siklotimie is ‘n minder ernstige vorm van Bipolêre versteuring.

  • Vinnige omwentelinge

Vinnige en skielike omwentelinge is ‘n ernstige vorm van Bipolêre versteuring wat gediagnoseer word wanneer ‘n persoon binne ‘n jaar meer as vier maniese of depressiewe episodes ervaar.  Dit beteken dat hulle van hoog na laag en weer terug na hoog sal gaan, skielik en sonder onderbrekings.

  • Nie andersins gespesifiseer nie (NAS)

Bipolêre versteuring, NAS word geklassifiseer as ‘n Bipolêre versteuring wat nie ‘n spesifieke patroon volg nie. ‘n Voorbeeld hiervan is om verskeie episodes van hipomanie te hê, maar sonder depressiewe simptome.

Is dit moontlik dat my gemoedswisseling dalk ’n Bipolêre versteuring mag wees?

Ons het almal ons goeie en slegte dae.  Soms voel ons aan die bopunt van die wêreld en ander dae voel ons af en aan die onderpunt van die wêreld, as ons byvoorbeeld ons werk verloor, deur ‘n slegte verhoudingsbreuk gaan of met ‘n vriend ‘n uitval gehad.  Het jy al ooit een aand gaan slaap en eufories gevoel, net om die volgende oggend wakker te word met ‘n leë en hopelose gevoel?  Het jy al ooit opgemerk dat jou hoë-energie vlakke en jaende gedagtes skielik verander na gevoelens van waardeloosheid en ‘n onvermoë om plesier te ervaar wanneer jy dieselfde dinge doen wat jy eens geniet het? Indien nie, is dit onwaarskynlik dat jy ‘n Bipolêre versteuring het.

Verskeie belangrike kenmerke van Bipolêre versteuring stel ons in staat om te onderskei tussen Bipolêre versteuring en die ongereelde gemoedskommelings of wisseling van buie:

  • is hierdie skommelinge en buie veroorsaak deur ‘n situasie, persoon of gebeurtenis, of kom dit uit die bloute, sonder oorsaak, na vore? Mense met Bipolêre versteuring ervaar ook gereeld maniese of depressiewe episodes sonder noemenswaardige redes. Hierteenoor is ‘n gevoel van humeurigheid meestal gekoppel aan ‘n situasie of gebeurtenis, veral tydens ‘n stresvolle tydperk, of selfs hormonale veranderinge in die liggaam;
  • anders as die ongereelde gemoedskommelings, moet ‘n maniese of hipomaniese episode vir ten minstens vier opeenvolgende dae duur, terwyl hul depressiewe episodes minstens twee weke op ‘n slag duur;
  • die intensiteit van die buie wat jy ervaar tydens ‘n gemoedskommeling, is vir daardie kort episodes waarskynlik aansienlik hoër op die intensiteitskaal as dié van mense met Bipolêre versteuring.
  • op sy ergste kan ‘n Bipolêre versteuring selfs hallusinasies en psigose tot gevolg hê – wanneer jy jouself heeltemal losmaak van die werklikheid. Slaaploosheid, impulsiwiteit, hoë energie, gejaagdheid in spraak, afleibaarheid’ euforie, hiper-seksualiteit en swak besluite is egter enkele van die simptome van ‘n manie, wat ook psigose kan veroorsaak.

Thandi* sê:  my ma was aanvanklik met skisofrenie gediagnoseer en in die vroeë 2000’s was die diagnose na Bipolêre versteuring verander. In sekere kultuurgroepe word geestesongesteldheid uiters misverstaan.  As jy anders optree, kan jy gesien word as besete, as jy hierdie stigma vir jouself kan voorstel.

Sielkundiges en terapeute stel voor dat jy boek hou van die gebeure of situasies in jou lewe wat jou gemoedskommelings veroorsaak het, asook van die gemoedskommelinge wat jy ervaar sonder enige oënskynlik oorsaak.

‘n Groter selfdood risiko;

Mense met Bipolêre versteuring loop ‘n groter gevaar vir selfdood aan beide kante van hul gemoed spektrum.  Wanneer hulle manies is, het hulle die energie, guts en dryfkrag om selfdood as ‘n oplossing te sien en dit deur te voer. Aan die depressiewe kant, kan hul hopeloos voel, sonder enige hoop vir ‘n toekoms en uitkoms en mag selfs te magteloos voel om selfdood gedagtes deur te voer.  Depressie is dikwels die gevolg van ‘n manie wanneer iemand uitspattige dinge gedoen het, waaroor hulle spyt is en skuldig voel, al was dit buite hul beheer.

Onbehandelde Bipolariteit is geneig om verhoudings, finansies, loopbane en gesinne van diegene wat met hierdie uitdaging saamleef, uitmekaar uit te ruk.

Finale idees

  • Vermy snellers, veral slaap deprivasie en die vermyding van stres is van kritieke belang vir mense wat hul Bipolariteit moet bestuur. Om sake te vererger vir mense wat probeer om die mas op te kom, leef ons in ‘n hoë-stres samelewing.
  • Bipolêre versteuring gaan altyd hand aan hand met vorige trauma of traumas in jou lewe. Dit is dus heeltemal moontlik om Bipolêre versteuring te oorwin wanneer jy suksesvol deur die trauma van jou verlede gewerk het. 
  • Alhoewel ons hierdie uitdaging kan oorwin deur met jou trauma(s) te werk, is dit belangrik om jou medikasie, altans vir nou, getrou te neem.
  • Maak seker dat jy genoeg slaap inkry, oefen, gesond eet, genoeg water drink en genoegsame sonlig kry.
  • Dit mag ook help om sekere vloeistowwe te vermy. Baie mense met Bipolêre Versteuring erken dat hulle koffie, alkohol, dagga en ander dwelms moet vermy.
  • Neem jou diagnose en die lewe nie te ernstig op nie. Jy mag dalk selfs eendag hieroor lag.
  • Sommige mense sê Bipolêr beteken gesplete persoonlikhede of grenspersoonlikhede (borderline personality disorder), of bloot ‘n mal persoon wat ‘n gevaar vir ander is, maar dit is egter nie een van hierdie nie.
  • Hou egter ook in gedagte dat die dood van geliefdes en verhoudingstres die grootste snellers vir terugvalle vir Bipolêre gemoedsversteuring mag wees.
  • Ek is van mening dat medikasie belangrik is om Bipolêr te bestuur, maar mense ervaar beter resultate met ‘n kombinasie van medikasie en psigoterapie. Selfs tydens behandeling kan hulle sulke episodes ervaar.
  • Psigoterapieë vir Bipolêr is egter verwaarloos. Te veel klem word om chemiese behandeling geplaas. Psigoterapie is egter ook van kritieke belang.
  • Sosiale ondersteuning is eweneens belangrik. Wanneer iemand in die greep van ‘n episode is, kan jy hulle laat weet dat jy daar is vir hulle. Hulle moet weet dat hulle nie alleen in die wêreld is nie.
  • Dit sal nie vir ewig aangaan nie. Hierdie gevoelens is nie permanent nie.
  • Wanneer jy jou Bipolêre versteuring stelselmatig en met ‘n oop gemoed benader en hanteer is dit nie iets wat jy hoef te vrees nie. Jy kan dit egter ook nie ignoreer nie, aangesien dit chaos sal veroorskaak.

Gevolgtrekking

Bipolêre Gemoedsversteuring hoef nie so ernstig te wees soos die stoornis tans in kliniese kringe gesien word nie.  Neem jou medikasie, maar besef ook dat jy dit nie noodwendig vir ewig hoef te neem nie. Dit is heeltemal moontlik om hierdie uitdaging te oorkom met psigoterapie. Dit is ‘n gemoedsversteuring en nie ‘n persoonlikheidsversteuring nie.  Dit is moontlik om die kruin van die golf te ry, sonder om in die lug opgeskiet te word of om te verdrink.

Ry die golf.  Moenie dat die golf jou ry nie.

Interpretasie van jou telling

  1. 22 of meer

‘n Telling van 22 of meer, tesame met episodes van kliniese depressie, beteken dat jy heel moontlik ‘n Bipolêre versteuring het) dat jy verdere evaluerings kan oorweeg

 

  1. Minder as 22

‘n Telling van minder as 22 word slegs deur ongeveer 2% van mense met Bipolêre versteuring ervaar. Wanneer die telling minder as 22 is, is die waarskynlikheid van Bipolariteit laag, maar tog nie onmoontlik nie. 

Scroll to Top