Handhaaf jouself
Inleiding
Mense vind dit gereeld baie moeilik om te vra vir wat hulle wil hê, maar vind dit selfs nog moeiliker om nee te sê vir wat hulle nie wil hê nie.
Ek hoop die volgende kan jou help om juis dit te bereik: om in staat te wees om vir jou eie regte op te staan.
Dit word selfhandhawing genoem. Selhandhawing is ‘n houding en
wyse van optrede in enige situasie waar jy nodig het om:
- jou gevoelens uit te spreek
- te vra vir wat jy wil hê, en
- nee te sê vir wat jy nie wil hê nie
op ‘n vriendelike, dog ferm manier.
Om in staat te wees om selfhandhawend te wees, mag jy dalk nodig hê om jou self-esteem te verhoog. Jy mag dalk ook hoër angsvlakke of depressie ervaar. Indien dit die geval is, mag dit help om met ‘n sielkundige te konsulteer.
Verskillende gedragstyle
Selfhandhawing is ‘n manier van optrede wat ‘n balans tref tussen twee uiterstes: aggressie en onderdanigheid.
Skematies kan dit so lyk:
Skematiese voorstelling van selfhandhawende gedrag
Wanneer ons na hierdie skema kyk sal jy sien dat daar drie vlakke van gedrag is.
- Onderdanige gedrag
Aan die onderkant sal jy die sogenaamde onderdanige gedrag vind. Hierdie gedrag behels dat jy jou onderwerp aan die voorkeure van andere terwyl jy jou eie regte en behoeftes op die agtergrond skuif. Jy sê nie wat jy voel en lig ander nie in oor wat jy wil hê nie. Soms weet jy nie eens wat jou gevoelens of behoeftes rakende die situaie is nie.
- Aggressiewe gedrag
Aan die bokant sal jy aggressiewe gedrag vind. Aggressiewe gedrag behels dat jy op ‘n manier kommunikeer wat opdringerig, bombasties en selfs vyandig teenoor ander is. Jy dring aan op wat jy wil hê en aanvaar nie nee vir ‘n antwoord nie. Hierdie gedrag word dikwels verwar met selfhandhawende gedrag.
- Selfhandhawende gedrag
Selfhandhawende gedrag is iewers in die middel van die drie vlakke. Selfhandhawende gedrag behels om te vra vir wat jy wil hê (of om nee te sê) in ‘n eenvoudige, direkte manier wat nie enige iemand te na kom, aanval of manipuleer nie. Jy kommunikeer jou gevoelens en behoeftes op ‘n eerlike en direkte manier terwyl jy respek en konsiderasie vir ander behou. Jy staan op vir jou regte sonder om verskoning te bied of om skuldig te voel. In essensie beteken selfhandhawing om verantwoordelikheid vir jou eie behoeftes te neem op ‘n manier wat die waardigheid van ander mense verseker. Ander mense voel gemaklik met jou wanneer jy selfhandhawend is aangesien hulle weet waar hulle met jou staan. Hulle respekteer jou eerlikheid en die feit dat jy reguit is.
Meer hieroor bespreek ek later in hierdie artikel
Mense voel oor die algemeen gemaklik met jou wanneer jy selfhandhawend is aangesien hulle weet waar hulle met jou staan, wat jou verwagtinge van hulle is en vice versa. Hulle respekteer jou eerlikheid en die feit dat jy reguit, tog vriendelik is.
Mense, veral diegene met Algemene angsversteuring (kyk gerus na my artikel oor Algemene angsversteuring op hierdie webtuiste) is geneig om onderdanige gedrag te toon.
Hulle vra nie vir wat hul wil hê nie en sê ook nie nee vir dit wat hul nie wil hê nie hetsy uit vrees dat mense vir hulle kwaad sal raak of sal verwerp of uit vrees dat hul ander mense se gevoelens mag seermaak of verwerp sal laat voel.
Hierdie gedrag veroorsaak egter frustrasie wat opbou. Hulle bly stil en onderdruk hul frustrasies tot eendag wanneer hulle ontplof en dan oorreageer op iets wat dalk nie eens die oordrewe reaksie werd was nie. Ek noem dit die drukkoker effek. Jy reageer met intense woede waarna mense, of jyself vir jou sê dat jy oorreageer het op iets wat regtig nie so ‘n groot kwessie (issue) was nie. Jou reaksie was egter die spreekwoordelike laaste strooi wat die kameel se rug gebreek het. Soos met ‘n drukkoker, het al die stoom wat jy opgebou het, letterlik ontplof. Jy voel skuldig oor jou reaksie en val dan terug na die Onderdanige gedrag waar die hele proses dan weer herhaal word.
Om meer selfhandhawend te word
Ek is groot gemaak om aangenaam (‘nice’) te wees. Dit is in orde so, behalwe dat aangenaam wees beteken dat jy nooit sê wat jy wil hê nie en nooit nee sê nie – dat jy nooit ‘n opinie kan hê wat van ander verskil nie. Ek het gedink dat die enigste manier om selfhandhawend te wees is om te skel en gil en rooi in die gesig te raak. Dit het my ‘n ruk geneem om te leer dat ek steeds eerlik en myself kan wees en nog steeds as aangenaam ervaar kan word.
Selfhandhawing is veel meer as om in staat te wees om jou klagtes te laat hoor. Dit is ‘n stel kommunikasievaardighede wat jou sal toelaat om respek en omgee teenoor jouself en ander te betoon. Dit beteken dat jy dit wat jy wil sê, kan sê wanneer dit die regte tyd is om dit te sê en steeds okay kan voel om dit te doen. Selfhandhawende vaardighede kan nuttig wees wanneer jy jou gevoelens of ongelukkigheid wil lug.
Wat beteken dit om selfhandhawend te wees? Die tabel hieronder, aangepas uit die werk van Dr. Lynn Alden (Paterson, McLean, Alden en Koch 1996), vergelyk selfhandhawing met onderdanigheid en aggressie. Soos jy deur die blokke kyk, maak regmerkies in die blok wat jou die beste beskryf. Wanneer jy klaar is kyk watter kolom het die meeste regmerkies.
Sleutelpunte oor selfhandhawing
Selfhandhawing gaan oor wat jy doen, nie wie jy is nie. Sommige mense voel hulle kan nie selfhandhawend wees nie, aangesien hulle nie die persoonlikheid daarvoor het nie. Selfhandhawing is egter ‘n vaardigheid en nie ‘n persoonlikheidseienskap nie. Dit mag in die begin vreemd voel, soos wat dit is wanneer jy ‘n nuwe vaardigheid aanleer. Dit word geleidelik makliker soos jy dit bemeerster. Nes dit tyd neem om te leer fietsry, neem dit tyd om gemaklik te raak om selfhandhawend op te tree.
Begin eenvoudig
Miskien is daar iemand in jou lewe met wie dit regtig baie moeilik is om selfhandhawend mee te kan wees. Indien dit die geval is, moet dan nie op hulle begin oefen nie. Begin eerder by mense wie jy as minder bedreigend ervaar. Soos jy meer selfhandhawend raak an jy begin om mense of situasies wat meer uitdagend van aard is aan te pak.
Jy hoef nie die heeltyd selfhandhawend te wees nie. Sommige situasies vra vir minder selfhandhawing as ander. Miskien moet jy maar ‘n koppie tee van Tannie Anna aanvaar, selfs al het jy gesê dat jy nie koffie wil hê nie. Dit mag ook dalk onveilig wees om selfhandhawend met iemand te wees wie jy weet gewelddadig kan raak. Wanneer dit egter veilig is en die kwessie vir jou belangrik genoeg is, sal selfhandhawing beslis beter resultate vir jou hê as die alternatiewes.
- Vra vir tyd
Party mense dink aan die regte of beter ding om te sê nadat die gesprek verby is. Hulle laat hulself ompraat en is dan later spyt daaroor. Wanneer jy in ‘n gesprek betrokke raak en besef dat jy meer selfhandhawend moet wees, maar jy kan nie op daardie stadium dink wat om te sê nie, vra vir meer tyd. Gebruik frases soos: ek kan jou nie nou antwoord nie. Of jy kan dalk sê: ek sal jou teen Dinsdag laat weet. Dit sal jou meer tyd gee om oor die situasie te dink. Soos selfhandhawing ‘n gewoonte raak, sal jy gouer kan dink aan die antwoorde wat jy wil gee.
Jy het basiese regte
Voordat jy selfhandhawend kan wees is dit nodig om sekere idees in gedagte te hou.
As volwasse mense het ons almal basiese regte. Om selfhandhawing te ontwikkel behels dat jy, net soos enigiemand anders, ‘n reg het tot al die dinge wat hieronder in die Persoonlike Handves van Regte gelys word.
Fotokopiëer die bostaande lys en sit dit in ‘n opsigtelike plek. As jy tyd neem om hierdie lys elke dag aandagtig deur te lees, sal jy geleidelik leer dat jy die reg het tot een en elkeen van hierdie regte, soos hulle hierbo voorkom.
Om selfhandhawend te wees
Om selfhandhawend te wees en te vra vir wat jy wil hê en om nee te sê vir wat jy nie wil hê nie, kan jy die volgende stappe volg.
Evalueer jou regte met die situasie voor jou
Gaan kyk weer na jou Persoonlike Handves van Regte. Wat is jou regte in hierdie situasie?
Voordat jy selfhandhawend kan wees, vra jouself die volgende drie vrae:
- wat is die ergste wat kan gebeur?
- as dit sou gebeur, hoe erg is dit in elk geval?
- wat is die kanse dat dit sal gebeur? (aangesien die meeste dinge waarvoor ons bang is in elk geval nooit gebeur nie).
Die drie sleutelstappe vir selfhandhawing
Bepaal ‘n tyd en plek om jou behoeftes te bespreek
Maak ‘n afspraak met die die betrokke persoon om die uitdaging te bespreek. Moenie hierdie sake bespreek as die ander persoon met iets ander besig is nie. Sê vir die ander persoon: Ek wil iets met jou bespreek. Wanneer sal dit jou pas? Dit is byvoorbeeld ‘n goeie idee om teenoor mekaar te sit by ‘n tafel wanneer julle die kwessie bespreek.
Hou jou stemtoon
- sagter
- stadiger
- laer
Dit sê so lekker in Engels: keep your tone of voice softer, slower, and lower. Hou in gedagte dat twee derdes van ons kommunikasie nie-verbaal is. Hoe jy ‘n ding sê, is veel belangriker as wat jy sê. Wanneer jy skel en skree, aktiveer jy net die ander persoon se veg-of-vlug reaksie. Jy kry ‘n verhoogde lading (toevloei) van adrenalien in jou bloedstroom. Dit ontlok gevoelens van baklei of weghardloop. Alle rasionaliteit is nou daarmee heen. Ons skree op mekaar om gehoor te word, maar ons hoor mekaar glad nie. Wanneer jy op ‘n ontspanne manier praat sal die ander persoon geneig wees om jou meer ernstig op te neem, te luister en ook rasioneel te reageer.
Neem tyd uit om jouself te ontlont, indien nodig
Wanneer jy of jou maat begin om kwaad te voel, moet julle besef dat woede niks gaan oplos nie. Neem eers tyd om af te koel. Dit word genoem: Tyd Uit (Time Out), waar jy eers wag totdat jy voldoende afgekoel het, voordat jy weer aan die saak aandag gee. Afkoeltyd word ook in sport soos rugby gebruik waar ‘n speler ‘n geel kaart kry en ‘n tyd lank langs die veld in die koelkas moet sit, voordat hul weer op die veld mag draf om met die spel voort te gaan. Enige Tyd Uit kan duur van vyf minute tot 24 uur.
Sê hoe jy oor die spesifieke situasie voel
Deur jou maat of die ander persoon te vertel hoe jy voel, laat jy hul weet hoeveel hulle gedrag jou gevoelens en jou reaksies raak. Wanneer jy sê hoe jy voel – maak seker dat jy verantwoordelikheid neem om jou gevoelens te lug eerder as om ander mense te blameer. Die beste manier hier is om altyd te onthou stellings oor jou gevoelens begin met ek, eerder as met jou. Met sogenaamde ek-stellings erken jy verantwoordelikheid vir jou gevoelens, terwyl sogenaamde jy-stellings die ander persoon beskuldig of veroordeel vir hoe jy voel. Wanneer jy dit doen, plaas jy ander mense op die verdediging wat dan kommunikasie belemmer. Begin ‘n sin met: ek voel dit of dat, in plaas van om te sê: jy maak my kwaad.
Stel jou oplossing oor hoe om die situasie te verander, voor:
Dit is die sleutelstap van selfhandhawend-wees. Jy vra eenvoudig vir wat jy wil hê (of nie wil hê nie) op ‘n reguit, direkte, tog vriendelike manier.
- gebruik selfhandhawende nie-verbale kommunikasie
- kyk direk na ‘n persoon as jy met hulle praat;
- gebruik kort, duidelike sinne. In ‘n normale stemtoon, nie te hard of te sag nie;
- hou jou liggaamsposisie oop;
- let op jou persoonlike ruimte. Moenie terugstaan of te na aan die ander persoon beweeg nie;
- hou jou versoek eenvoudig
- bly kalm. Wanneer jy kwaad of opgewonde raak, vat tyd uit en gaan raak elders van jou gevoelens of frustrasies ontslae voordat jy verder kommunikeer;
- wees spesifiek – vra presies vir wat jy wil hê en wees presies oor dit wat jy nie wil hê nie;
- gebruik ek-stellings, soos die volgende:
- Ek sal daarvan hou as …
- Ek wil …
- Ek sal dit waardeer as …
- maak beswaar teen die gedrag, nie teen die persoon nie
Laat hulle weet dat jy ‘n probleem het met iets wat hulle doen (of nie doen nie), nie met wie hulle as persoon is nie.
- moenie verskoning aanbied vir jou versoek nie
Soos jy gesien het in jou persoonlike handves van regte, het jy ‘n reg tot jou versoek.
- rig versoeke, nie aandrange of bevele nie
Vra vir wat jy wil hê of nie wil hê nie, op ‘n vriendelike dog ferm manier. Wanneer jy aandring op jou behoeftes, gaan jy ‘n ongewensde teenreaksie terug ontvang.
- sê vir die persoon wat die gevolge sou wees mits jy hul samewerking kry (al dan nie)
Met nabye vriende of intieme eggenote, kan dit voordelig wees as hulle weet dat daar positiewe gevolge is vir hul samewerking en dat dit ‘n eerlike aanbod is van gee-en-neem is eerder as manipulasie.
Leer om nee te sê
‘n Belangrike aspek van selfhandhawend wees, is jou vermoë om nee te sê vir versoeke wat jy nie kan of wil nakom nie. Om nee te sê beteken dat jy grense stel vir ander mense se aandrange op jou tyd en energie wanneer sulke aandrange met jou eie behoeftes en begeertes inmeng. Dit beteken ook dat jy dit kan doen sonder om skuldig daaroor te voel.
In sommige omstandighede, veral as jy mense moet hanteer met wie jy nie ‘n verhouding van enige aard wil vestig nie, kan jy net sê: nee-dankie, of nee, ek stel nie belang nie, op ‘n vriendelike, maar ferm manier, genoeg wees. Maar as die ander persoon aanhou, kan jy net jou stelling kalm herhaal sonder om verskoning aan te bied. Jy mag ook die vasgehaakte-plaat tegniek gebruik. Onthou jy die dae van langspeelplate? Wat gebeur as ‘n plaat vashaak… vashaak… vashaak… vashaak? Herhaal bloot jou: nee, ek stel nie belang nie, oor en oor en gebruik dieselfde woorde en dieselfde stemtoon. Gewoonlik stop mense na die derde poging. Onthou ook dat jy nie enige verduideliking hoef te gee nie. Laat jou nee net jou nee wees. Indien nodig, maak jou stelling sterker en meer empaties. Jy mag nodig hê om die volgende te doen:
- kyk die ander persoon direk in die oë,
- verhef jou stemtoon ietwat en,
- handhaaf jou posisie: ek sê – nee dankie.
In baie gevalle – met kennisse, vriende en familie – mag jy dalk ‘n rede aan die ander persoon wil verskaf oor hoekom jy nie aan hulle versoeke wil of kan voldoen nie. Hier is dit dikwels raadsaam om ‘n drie-stap prosedure te volg:
- erken die ander persoon se versoek deur dit te herhaal.
- verduidelik jou rede hoekom jy dit afkeur.
- sê nee.
(Opsioneel). Indien toepaslik, maak ‘n alternatiewe voorstel wat in jou en die ander persoon se behoeftes sal voldoen. Gebruik hierdie stap net as jy ‘n gemaklike manier sien waarin jy en die ander persoon mekaar in die middel kan ontmoet.
‘n Metafoor: wat die slang jou kan leer as jy te aangenaam is
Die slang was verskriklik en gevaarlik. Hy het die inwoners vreesbevange gelaat en die kinders gepik. Op ‘n dag het ‘n wyse man die dorp ingestap. Hy het gesien watter chaos die slang se dade onder die inwoners van die dorp gebring het.
Omrede hierdie net ‘n storie is, kon die wyse man met die slang praat. Nadat hy die uitgeworpe slang se vertroue oorgewen het, kon hy met die slang praat en het vir hom gesê: Luister Slang, jy maak nie net die mense hier ongelukkig nie, maar jy is in jouself duidelik ook misrabel.
Oefen bietjie vriendelikheid en sagtheid om die lewe van almal hier makliker te maak, asook in jou eie lewe.
So het die wyse man die volgende dag die plek verlaat.
Jare later het die wyse man toevallig weer deur dieselfde dorp gereis. Tot sy verbasing het hy gesien hoe die slang saam met die kinders speel. Hy kon nie glo hoe die voormalige, aggressiewe slang met wie hy jare vantevore gepraat het, nou so lekker met die kinders speel nie. Uiteindelik kon die slang homself bevry van sy vervolgers en seil na die wyses.
Jou advies was ‘n ramp, het die slang gesis. Om aangenaam te wees, het my misrabel gelaat. Nou is ek net ‘n speelding, mense lag vir my en ek word as vanselfsprekend aanvaar. Ek was vantevore beter af!
Die ou man het gereageer en gesê: Jy het my raad te letterlik opgeneem. Ek het gesê jy moet nie byt nie, maar ek het nie gesê dat jy nooit mag sis nie.
Vraelys – hoe selfhandhawend is jy?
Sleutel
Gee jouself ʼn telling vir elke stelling hieronder op ʼn skaal van 0 – 5:
0 = nooit, of glad nie soos ek nie
1 = selde, of nie eintlik soos ek nie
2 = soms, ʼn bietjie soos ek
3 = soms is dit soos ek is
4 = dikwels, nogal soos ek
5 = altyd, of presies soos ek
Skryf jou telling in die gekleurde venstertjie langsaan vir stelling neer:
Hoe hoër jou telling, hoe waarskynliker is dit dat jy daardie soort gedrag sal toon
Kolom A = Onderdanig
Kolom B = Aggressief
Kolom C = Selfhandhawend
Kolom D = Indirek (passief/aggressief)
Verstaan jou tellings
Jy kan jou tellings interpreteer deur die volgende inligting te gebruik:
- Die hoogste telling dui op jou oorheersende gedrag.
- Die laagste telling mag ʼn aanduiding wees van gedrag wat jy die minste verkies of gebruik.
- Indien al jou tellings laag is, mag dit ʼn aanduiding wees van oorheersende passiwiteit, ‘n gebrek aan selfvertroue en twyfel in jou eie vermoëns terwyl jy die vrae beantwoord het.
- Indien selfhandhawende en passiewe tellings na-aan mekaar is mag dit ʼn aanduiding wees dat jou selfhandhawende benadering sterker begin word. Dit beteken dat jy meer dikwels selfhandhawend optree, alhoewel ʼn oorheersende passiewe onsekerheid mag veroorsaak dat jy terugval na ʼn neiging om mense tevrede te probeer stel.
- As die passiewe en aggressiewe telling na-aan mekaar is, mag dit ʼn aanduiding wees van ‘n lae selfagting en onsekerheid, wat onderliggend aan beide is. Jy mag byvoorbeeld jou gevoelens opkrop en dan uitbars as gevolg van frustrasie wanneer jy dit nie langer kan onderdruk nie. Daarna voel jy skuldig oor jou uitbarsting en keer weer terug tot ʼn passiewe standpunt.
- Indien die selfhandhawende en aggressiewe tellings na-aan mekaar is, mag dit ʼn aanduiding wees van ʼn wanbalans tussen jou vermoë om jouself uit te druk en ʼn oorheersende gevoel van frustrasie. Hoe meer jy egter met selfhandhawing eksperimenteer, deur jouself duidelik uit te druk, hoe meer gaan jy daarin slaag om balans te verkry.
Hoe kan jy hierdie resultate gebruik tot jou voordeel?
Die vraelys help jou om jou gedragspatrone beter te verstaan en jy kan verder bou op jou nuwe bevindinge.
- Toets jou gedrag vir die volgende 2 weke na aanleiding van jou resultate . Praat met mense wat jy kan vertrou, vra hulle om hul eerlike opinie, hoe hulle jou sien en wat dit in jou gedrag is wat vir hulle kenmerkend van jou is.
- Let op na spesifieke situasies of mense wat jou onseker en nie-selfhandhawend laat optree. Wat presies is dit in die sitausie of aan die persoon wat hierdie reaksie by jou uitlok?