Daar bestaan nie iets soos dom vrae nie, en niemand word ‘n dwaas voordat hulle opgehou het om vrae te vra nie
~ Charles Proteus Steinmetz ~
Voordat jy jouself diagnoseer met ‘n lae selfbeeld en depressie, maak seker dat jy nie in die geselskap van gekke is nie
~ Sigmund Freud ~
As jy kwaad is, tel tot vier; maar as jy baie kwaad is, vloek
~ Mark Twain ~
Mees Algemene Vrae (FAQ's)
Antwoord:
- Rekeninge word gehef volgens die voorskrifte van die BHF (Board of Healthcare Funders). Hierdie praktyk is ingekontrakteer by bykans alle mediese fondse.
- Mediese fonds tariewe word gehef volgens die tariewe wat deur verskillende mediese fondse betaal word.
- Neem asseblief kennis dat ‘n uitdaging nie deur een sessie opgelos gaan word nie – dit mag ‘n aantal sessies neem. (Sien asseblief Vraag 2).
- Rekeninge word elektronies na jou Mediese Fonds gestuur en hulle vergoed hierdie praktyk direk. Jy hoef dus nie vooraf te betaal nie.
- Hoewel ons van die jongste tegnologie gebruik maak om jou onmiddellik in te lig wanneer jou fondse uitgeput is, sal dit goed wees as jy met jou mediese fonds in aanraking kom en bevestig wat jou jaarlikse limiet is. Dit bly steeds jou verantwoordelikheid om uit te vind wat jou voordele is.
- Indien jou voordele uitgeput is, kan jy in aanmerking kom vir ‘n privaat tarief korting.
Indien jy nie aan ‘n Mediese Fonds behoort nie, is die private tarief vir 2025, R950 per 40 tot 50 minute sessie. Hierdie tarief is betaalbaar in kontant, kredietkaart of ‘n EFT-transaksie. - Sekere toestande, soos depressie en veral bipolêre gemoedsversteuring word gedek deur die sogenaamde PMB (Prescribed Medical Benefits) waardeur jou mediese fonds volgens wetgewing verplig word om vir hierdie sessies te betaal, sonder dat dit van jou spaarfonds verhaal word. Doen asseblief betyds aansoek by jou fonds om ‘n PMB-vorm te bekom. Ons sekretaresse kan jou ook hiermee help.
- Volgens wet moet alle afsprake wat gekanselleer word, 24 uur of meer voor die tyd gekanselleer word. Afsprake wat in minder as 24 uur gekanselleer word, sal betaalbaar wees.
- Ons is egter ook menslik en kan verstaan as jy ‘n geldige rede het waarom jy die sessie moet kanselleer. Dit mag soms gebeur dat ‘n ander kliënt jou gekanselleerde afspraak wil gebruik. In so ‘n geval sal jy dan nie verantwoordelik gehou word vir die rekening nie.
- Sou jy ‘n afspraak vergeet of dit nie bywoon nie, sal jy natuurlik ook vir die rekening aanspreeklik gehou word.
- Rente word gehef op agterstallige rekeninge, want jou agterstallige rekening gaan my rente laat betaal op my agterstallige rekeninge!
- Sou jy nie jou afspraak nakom nie, mag jy skalks aan die onderkant van die waglys geplaas word.
Antwoord:
- Dit is uiteraard onmoontlik om te kan sê hoe lank terapie sal duur. Dit verskil van persoon tot persoon, uitdaging tot uitdaging.
- Ek werk gemiddeld tussen vier tot agt sessies per kliënt. Dit mag wees dat jou uitdaging meer of minder kompleks mag wees, wat terapie mag verkort of verleng. Van my kant af onderneem ek om so vinnig en effektief moontlik te werk om sodoende tyd en kostes te bespaar.
- Jy bepaal grootliks die gang van terapie. Ek laat my sterk deur jou lei. Dit beteken ook dat jy die tyd bestuur. Ek sal van tyd tot tyd voorstelle maak, maar as jy wil hê ons moet hipnose of enige ander ingrepe tydens ‘n sessie doen, moet ons ten minste ‘n halfuur tot ons beskiking daarvoor hê.
- Ons gaan die eerste sessie gebruik om jou uitdaging te ondersoek. Ek moet eers ‘n perspektief rondom jou uitdaging
kry en jy mag dalk nie veel baat uit jou eerste sessie nie. Die eerste sessie is ook jou kans om te sien of jy met my kan werk, al dan nie. - Terapie sal jou help om in aanraking met jou gevoelens te kom en jy sal instinktief weet wanneer ons aan die einde van ons terapeutiese reis gekom het.
Antwoord:
Ek sien my kliënte normaalweg een keer per week.
Dit neem die onderbewuste normaalweg sewe dae om ‘n ingreep te verwerk. Ons sal na sewe dae weet wat die impak van die vorige sessie was en kan dan daarop voortbou.
Sommige kliënte verkies een keer elke twee weke of een maal per maand kom. Jy is welkom om dit te doen, mits die dagboek dit toelaat.
Antwoord:
Die duur van ‘n sessie is ongeveer 50 minute. Jy word volgens mediese fonds tariewe op die 40-50 minute skaal gehef.
As jy laat is vir jou afspraak, moet ons die hele sessie inpas in die tyd wat oorbly. As ek laat is vir die afspraak, is dit my probleem!
Antwoord:
Jy bepaal die gang van terapie.
Die eerste sessie word gewoonlik gebruik om:
- te bepaal wat jou uitdaging is;
- dit te verstaan;
- ‘n behandelingsplan uit te werk; en
- vir jouself te besluit of jy saam met my kan werk of nie.
Normaalweg word daar in die tweede sessie met terapie begin. Dalk het jy nodig om meer uit te brei op jou uitdaging. My taak is primêr om na jou te luister, te verstaan, te fassiliteer en terugvoering te gee.
Jy sal weet wanneer jy genoeg gesê het en jy kan besluit wanneer ons met tegnieke kan begin. As ons met ‘n tegniek wil begin, moet jy seker maak dat ons ongeveer ‘n halfuur tot ons beskikking het om dit te kan deurvoer.
Alhoewel jy altyd in beheer van ons sessie en die tydsbestuur daarvan bly sal ek jou probeer lei, waar en indien nodig.
Dit is egter baie belangrik dat die gang van ons sessies deur jou bepaal word. Indien jy eerder sessies wil gebruik om te praat, of om net af te blaas, is dit my primêre taak om na jou te luister, vrae te vra en terugvoer te gee. Ons sal slegs met tegnieke begin wanneer jy klaar gepraat het. Om te praat oor jou uitdaging, bly egter die primêre taak van psigoterapie.
Antwoord:
Ek sal nooit hierdie besluit neem nie. Ek het nie bloedtoetse, ‘n stetoskoop of ander maniere om die besluite namens jou te kan neem nie. Jy sal net weet.
Jy sal voel dat jy my nie meer nodig het nie. Jy mag voel dat jy nie meer baat uit ons sessies put nie, of selfs dat terapie vir jou vervelig mag raak. Hierdie is jou onderbewuste se boodskap dat jy terapie kan termineer.
Die lewe gebeur egter. Daar mag dalk weer iets gebeur wat jou mag sneller. In daardie geval maak jy net weer ‘n afspraak.
Sommige kliënt kom weer terug – sommiges na ‘n week, sommiges na jare. Hulle kom terug vir een of twee sessies – sommige vir ‘n hele reeks, afhangende van wat intussen gebeur het of wat jou behoefte is.
Antwoord: :
Hierdie praktyk volg ‘n eklektiese benadering. Dit beteken dat alle dissiplines, afhangende van jou behoeftes, binne die sielkunde gebruik word.
Daar word egter in hierdie praktyk meer op alternatiewe terapieë gefokus. Jy kan meer daaroor nalees op my webtuiste. Voel ook vry om my meer daaroor uit te vra.
Ek maak spesifiek gebruik van moderne, vinnige en effektiewe terapeutiese sisteme om die beste resultate in die minste aantal sessies te verkry. Jy is welkom om meer op my webtuiste te lees oor:
Lees gerus op my webtuiste oor:
- Kliniese Hipnose
- BWRT
- NLP
- EcCT , en ander tegnieke
- Sielvolheid
- Positiewe sielkunde; en
Ek is egter ook opgelei om meer tradisionele, langer termyn terapie te doen, sou jy dit verkies.
Antwoord:
Ten opsigte van vertroulikheid het ek ‘n groot verantwoordelikheid teenoor jou en die inligting wat jy deel. Sielkundiges is onderworpe aan ‘n streng etiese kode wat daar gestel is deur die Health Professions Council of South Africa (HPCSA). Hierdie kode waarborg jou, as kliënt, ten alle tye professionele en etiese gedrag van my af. Indien ek nie aan hierdie kode voldoen nie, kan jy my by die Raad gaan verkla. ‘n Afskrif van die kode kan by ons ontvangsdame aangevra word, by admin@jorganharris.co.za.
Wees ten alle tye bewus daarvan dat al die inligting wat jy met my deel, as hoogs vertroulik hanteer sal word. Ek mag inligting oor jou slegs bekend maak met jou skriftelike toestemming. Ek mag nie eers inligting oor jou aan jou wederhelfte, ouers of kinders bekend maak sonder jou skriftelike toestemming nie.
Selfs al is jy minderjarig, word jou vertroulikheid gewaarborg deur die wet.
Die enigste uitsondering is wanneer daar ‘n noodsituasie ontstaan en ek van oordeel is dat ek ter wille van jou en ander se veiligheid, inligting moet vrystel. Ek sal egter steeds verantwoordelik met die inligting omgaan.
‘n Hof kan my natuurlik ook dwing om inligting vry te stel. Ek doen dit dan normaalweg onder protes. Selfs dan sal ek net die nodigste inligting vrystel en steeds alles in my vermoë doen om jou te beskerm.
Antwoord:
Jy hoef nie deur iemand soos ‘n dokter of psigiater verwys te word nie.
Jy kan bloot uit eie keuse aanmeld vir terapie.
Antwoord:
Jy hoef jouself nie hieroor te bekommer nie. Die atmosfeer is gemaklik en ontspanne. Ons maak ook gebruik van voornaam terme en praat in terme van jy en nou, selfs al is jy minderjarig.
Terapie is ‘n verhouding. Ek sal graag wil hê dat jy so gemaklik moontlik sal voel. Kla of vra gerus as jy onseker of ongemaklik oor enige iets voel.
Jy sal nooit veroordeel word nie, maar slegs verstaan word. ‘n Sielkundige is nie ‘n regter nie, maar iemand wat jou wil verstaan, wil weet waar jy vandaan kom. Net ‘n onbevoegde sielkundige sal jou veroordeel.
Selfone moet verkieslik afgeskakel of op silent gestel word, veral tydens hipnose. Die lui van ‘n foon kan vir jou die grootste irritasie veroorsaak en onderbreek ons sessie onnodiglik.
Antwoord:
Geloofsoortuiging hoort hier geen rol te speel nie. Ek werk nie met jou siel, soos verkeerdelik deur die woord sielkunde verstaan word nie. Ek werk met jou psige. Ek beskou myself nie gebonde aan enige godsdiens nie, maar eerder as spiritueel.
Ek respekteer enige godsdiens en het kliënte van alle geloofsgroepe. Ek mag dalk selfs nuuskierig wees oor jou geloof, of dalk jou gebrek daaraan. Ek glo steeds aan ‘n Hoër Wese, hoe jy dit ookal verstaan.
Antwoord:
Hier ryg ons nie derms uit nie. Ons wil jou nie verder traumatiseer nie.
Dit is die wonder van oerbrein terapieë. In gewone terapie word daar gewerk op nuwe insig. Daar word algemeen geglo dat insig en begrip jou uitdaging sal verander, wat egter nie die geval is nie.
Die uitdaging lê in jou breinstam en jou limbiese sisteem – dis daardie oerbrein in die agterste gedeelte van jou brein, wat net geïnteresseerd is in jou oorlewing. Hierdie deel van jou brein het nie noodwendig insig nie, maar dit laat jou slegs beter of slegter voel. Alhoewel jy nie heeltemal die prosesse verstaan en wat gebeur nie, sal jy net agterkom dat jy beter, anders voel.
Jy kan kies om jou uitdaging ten volle te verstaan en nie beter te voel nie. Of jy kan kies om jou uitdaging nie te verstaan nie, maar wel beter daaroor te voel. Laasgenoemde is wat ons in hierdie praktyk doen.
Antwoord:
Niemand mag ooit ge-etiketteer word op grond van ras, geslag of seksuele oriëntasie nie. Ons bly, ongeag wat ookal steeds wie ons is.
Kom waai gerus jou reënboog vlag hier met trots!
Antwoord:
Ek benader rokers anders as my ander kliënte. Ons begin reeds tydens die eerste sessie met hipnose. Daarom is dit uiters belangrik om eers my artikel: Vry van rook op my webtuiste te lees voordat jy ‘n afspraak maak.
Antwoord:
Ja, ek doen aanlyn terapie. Ek het kliënte wat ek wêreldwyd konsulteer met aanlyn terapie. Ek verkies om dit te doen via WhatsApp Video Call of Skype.
Aanlyn terapie werk pragtig vir gewone psigoterapie, die sogenaamde praatterapie. Dit is veral ook baie effektief vir Breinwerkende Rekursiewe Terapie (BWRT).
Ek is gemaklik om hipnose aanlyn te doen met kliënte wat voorheen hipnose by my gehad het.
Alhoewel dit nie ideaal is om hipnose vir die eerste maal aanlyn te doen nie, kan ons oor die moontlikheid daarvan praat.
Antwoord:
Besoek “Kontak ons” op hierdie webtuiste, https://jorganharris.co.za/kontak/
Jy kan gerus vir Elizabeth kontak by 021 982 2554 of by admin@jorganharris.co.za
Antwoord:
Ons telefoonstelsel is gekoppel aan elektrisiteit. Wanneer beurtkrag plaasvind, sal ons telefoon nie lui nie. Probeer asseblief weer later, of e-pos ons.
Antwoord:
Dit is vir my belangrik dat jy die beste uit terapie kry. Indien jy enige vrae oor hierdie dokument het, voel vry om my daaroor uit te vra. Jy is ook welkom om vir my ‘n epos te stuur by info@jorganharris.co.za.
Indien daar enige sake rondom terapie is wat jou kwel, moet jy dit asseblief met my bespreek. Dit kan nadelig vir terapie wees indien jy ongelukkig is, of voel dat jy my nie kan vertrou nie. Ek hoop dat terapie vir jou ‘n ervaring van groei en ontwikkeling in jou menswees sal wees en dat jy mag ontdek hoe maklik dit is om werklik te lewe.
Terapie maak net die lewe makliker