Moontlike sielkunde agter tinnitus
Wat is tinnitus?
Tinnitus is ʼn gefluit of geraas in jou ore. Hierdie gefluit kan dikwels so ʼn hoë toon hê dat dit kan voel of jy mal gaan raak. Dis ʼn konstante gelui in jou ore, amper soos sonbesies, wat net nie op wil hou nie. Dit kom en gaan, maar word veral erger wanneer jy gespanne raak.
Jy het miskien al soveel dokters en spesialiste gaan sien en hulle vertel jou dat sekere van die oorhaartjies plat geval het en daar is niks wat hulle daaraan kan doen nie. Selfs medici kan jou nie help nie.
Dit los ons met die vraag – is die oorsaak van tinnitus fisies of dalk sielkundig?
Is daar dalk ʼn sielkundige konneksie?
In die hipnose wêreld is daar ʼn baie opwindende veld – die veld van die Psigo-Neuro Immunologie (PNI). Die basiese beginsel van PNI is dat enige fisiese uitdaging dalk ʼn sielkundige oorsprong mag hê. Indien ons die sielkundige oorsaak agter die fisiese uitdaging kan identifiseer, kan ons dalk net daardie uitdaging op ʼn sielkundige vlak oorwin.
Hiermee probeer ek geensins sê dat daar nie plek vir mediese wetenskap is nie, inteendeel. Die mediese wetenskap is soveel ouer as sielkunde en soveel meer gevorderd. Ek sal jou altyd aanbeveel om die mediese pad sover moontlik te stap, maar jy kan tesame met mediese sorg, ook alternatiewe opsies oorweeg.
Jy kan egter die volgende in gedagte hou: jy bestaan uit ʼn onderbewuste en ʼn bewuste. Jou bewustelike gedeelte is logies en rasioneel en verstaan argumente asook simboliek, maar dit verstaan egter nie emosies en gevoelens nie.
Jou onderbewuste daarenteen het die fokus op oorlewing as primêre funksie.
Analoog denke
Analoog denke beteken dat ‘n simboliese betekenis van ‘n woord vir die onderbewuse letterlik word en hierdie betekenis dan fisies word.
Laat jou gedagtes vir ʼn oomblik hieroor gaan:
- iemand wat ‘n vel-uitslag ervaar, mag dalk jeuk om deur hul beperkinge te breek en dit te oorkom
- mense wie voel dat hulle nie regop in die lewe kan staan nie, ontwikkel dikwels rugprobleme;
- mense wat nie van die spreekwoordelik kak in hulle lewe ontslae kan raak nie, ontwikkel dikwels probleme met konstipasie.
Gaan kyk gerus na die artikel wat ek gedoen het oor my referaat in Krakow (Pole) oor Analoog denke en Outo-immuun siektes by jorganharris.co.za.
Tinnitus en Analoog denke
Volgens Analoog Denke mag dit dalk wees dat tinnitus jou wil keer om te hoor wat jy nie wil hoor nie. Miskien het jy dit as kind gedoen, wat ek en my susters beslis gedoen het. Ons:
- het in ‘n argument betrokke geraak;
- wou nie mekaar se argumente aanhoor nie;
- het ons ore toegedruk, of
- liedjies begin sing of hardop gepraat om nie die ander een se argument te hoor nie.
Wat is dit dus wat jy nie wil hoor nie?
Drie gevallestudies
- Megan* is ʼn onderwyseres. Haar klas was ongeorganiseerd en raserig. Sy het gesukkel om beheer oor haar klas te kry wat bygedra het tot haar angstigheid. Uit desperaatheid het sy op die klas geskree. ‘n Kind het haar met ʼn mes aangeval en skrams gewond. Megan was na daardie aanval getraumatiseerd en het tinnitus ontwikkel.
- Britney* is ʼn ma van ‘n seun wat deur ‘n ander kind geboelie word. Dit gaan nie goed met sy skoolwerk nie en sy is baie bekommerd dat hy gaan druip. Sy het een dag so ontsteld geraak, dat sy in die stort ʼn fladdering (angsaanval)gekry het. Sy het begin skree, huil en praat dat die hele badkamer weergalm. Toe sy haarself weer kry, het sy op die grond gesit. Die volgende dag het die geskree in haar ore begin en haar angsvlakke was erger as ooit. Daarna het haar tinnitus begin.
- Marie* het ook tinnitus ontwikkel na haar ma se dood ‘n jaar vantevore. Net voor haar dood, het Marie se ma haar by die werk gekontak. In asemnood het sy Marie gesmeek om hulp. Marie was by die werk en kon nie dadelik by haar ma uitkom nie.
Later het Marie die hospitaal geskakel. Hulle het haar ingelig dat haar ma in die Intensiewe Sorg Eenheid (ICU) opgeneem was. Kort daarna het die hospitaal Marie terug geskakel om haar in te lig dat haar ma oorlede is. Marie kon haar ma nie betyds bereik nie.
Siende dat sy nie die hospitaal se boodskap wou aanhoor nie het Marie se onderbewuste probeer voorkom dat slegte nuus haar ore bereik. Gevolglik het tinnitus haar voorkom om slegte nuus te hoor.
Die ooreenkomste tussen hierdie drie gevalle-studies
In al drie gevalle het hulle:
- iets gehoor wat geweldig ontstellend vir hulle was;
- slegte nuus gehoor wat vir hulle ‘n gevoel van magteloosheid veroorsaak het;
- angs ervaar en het hul tinnitus vererger nagelang hul angs- en spanningsvlakke verhoog het;
- pogings aangewend om die slegte nuus wat hulle gehoor het, uit hul koppe te blok.
Dis amper asof die onderbewuste daardie traumatiese boodskappe wil verdring deur te raas sodat daardie woorde nie in hul kop kan bly herhaal nie. Net soos ons as kinders eerder ʼn geraas gemaak het om nie die ander een se argument te hoor nie, raas tinnitus lyers se ore onbewustelik om te verhoed dat hulle nie meer daardie intense negatiewe boodskappe kan aanhoor nie. Tinnitus dwing jou egter ook om jou fokus te verskuif na jou eie innerlike stem en om aandag te gee aan wat jy werklik voel en aan dit wat in jou lewe aangaan.
Na behandeling, het die tinnitus in al drie gevalle of drasties afgeneem of verdwyn. Behandeling met hipnose behels die volgende:
- desensitisering van daardie negatiewe boodskappe wat gehoor is en help jou om vrede te vind met wat gebeur het;
- angs word aangespreek;
- om die gevoel van magteloosheid om te keer na ‘n gevoel van bemagtiging;
- jy word gehelp om weer na jou innerlike stem te luister en om in kontak met jou eie gevoelens te kom en hierdie boodskappe anders te vertolk (in ‘n ander lig te sien).
Milton Erickson se waarneming
Milton Erickson word oor die algemeen gesien as die vader van moderne hipnose. Selfs lank nadat Sigmund Freud hipnose afgewys het, het Erickson daarin geslaag om nuwe lewe aan hipnose te gee.
Dit bly steeds ongelooflik om te besef hoe kragtig jou onderbewuste kan wees. Net soos jou onderbewuste vir jou uitdagings kan veroorsaak, kan jou onderbewuste jou help om dit te oorwin. Die mens is so buigsaam en aanpasbaar en kan by enige verandering aanpas.
Erickson het hierdie beginsel so mooi raak gesien. Hy het, as ʼn nuuskierige student, eendag ʼn fabriek ingegaan waar stoomketels vervaardig word. Toe hy die dag die fabriek binnegaan was die geraas oorverdowend. Hy kon nie ʼn woord hoor wat werkers in die fabriek sê nie. Tog het dit hom opgeval dat die werknemers met mekaar praat en mekaar kon hoor. Hy het vir die fabriekbestuurder gevra of hy die nag in die fabriek mag slaap. Die verbaaste bestuurder het ingestem en Erickson het daardie nag in die geraas geslaap. Tot sy eie verbasing het Erickson te midde van die geraas egter aan die slaap geraak. Toe hy die volgende oggend wakker word, kon hy elke woord wat die werkers sê, hoor.
Dis wanneer jy in geraas kan ontspan dat jy weer gaan hoor wat ander mense en ook jou innerlike stem vir jou regtig sê. Wanneer jy verby die geraas luister, is waar die geraas ophou en jou tinnitus genees word.
*Nie hulle regte name nie