Bemagtiging na seksuele molestasie
Inleiding
Seksuele misbruik of kindermolestering is ‘n term wat gebruik word wanneer ʼn kind vir seksuele bevrediging uitgebuit word. Dit kan verskeie aktiwiteite behels, van ʼn persoon wat hulself aan ʼn kind ontbloot tot onvanpaste aanraking, selfs verkragting.
Statistiek weerspieël beslis nie die ware omvang van hierdie misdaad nie omdat dit deur geheimhouding omring word.
Die 2019/2020 Jaarlikse Misdaad Statistiek (Annual Crime Statistics) soos aanbebied deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) toon dat meer as 24 000 kinders seksueel aangerand is gedurende die genoemde tydperk.
Een in elke vyf kinders is slagoffers van seksuele aanranding. Hierdie syfer verteenwoordig ‘n syfer van 19.8%, vergeleke met die globale gemiddeldd van 18% vir meisies en 8% vir seuns.
Vir meer inligting kan jy die volle artikel lees op:
- Rape, childhood sexual abuse continues to plague SA – Health-e News), en
- Lifting the veil on violence against children in South Africa | Statistics South Africa (statssa.gov.za)
Die meeste mense vind dit moeilik om te aanvaar dat kindermolestering enigsins iets is wat gebeur. Kindermolestering is egter veel meer algemeen aswat gedink of besef word. Dit kom in alle sosiale klasse en in alle gemeenskappe voor en is nie beperk tot bepaalde ras- of ekonomiese groep nie.
Kry hulp indien jy enige van die volgende ervaar:
- gedagtes oor selfdood;
- selfbesering of die drang om jouself seer te maak;
- erge nagmerries, dagdrome en terugflitse wat jou ontstel;
- onverantwoordelike optrede;
- ʼn depressiewe gemoedstoestand of ʼn geskiedenis van depressie.
Jy is gemolesteer wanneer:
- enigiemand sonder toestemming met jou enige vorm van seksuele interaksie gehad het op ʼn ouderdom waarop jy nie emosioneel gereed of voorbereid was nie;
- jy op ʼn seksuele wyse aangeraak is;
- jy na pornografiese boeke of films moes kyk of na dienooreenkomstige gesprekke moes luister;
- iemand hulself aan jou ontbloot het;
- iemand jou gebad het op ʼn manier wat vir jou ongemaklik was;
- jy vasgehou of vertroetel is op ‘n manier wat jou ongemaklik laat voel het;
- enige vorm van orale seks op jou afforseer is;
- mense jou kamer of badkamer sonder jou toestemming binnegekom het terwyl jy ontklee;
- iemand obsene of suggestiewe voorstelle of dreigemente aan jou gemaak het.
Samevattend kom dit daarop neer dat as enigiemand ouer as jy, van dieselfde of teenoorgestelde geslag, enige vorm van ‘n seksuele aard met jou beoefen het voordat jy sestien jaar oud was (of dit nou volle penetrasie was of blote betasting van dele waar jou onderklere sou wees, selfs bokant jou klere) is jy seksueel gemolesteer. Jy mag die presiese simptome van molestasie ervaar soos wat ek dit later in hierdie dokument sal bespreek.
Gevolge van molestering
Elke kind is uniek – dus sal die gevolge van molestering van mens tot mens verskil. Tog is dit waarskynlik dat seksuele misbruik uiters ernstige sielkundige gevolge op die kort- en lang termyn kan hê indien die kind nie geskikte behandeling ontvang nie. Daar is vier hooffaktore wat die sielkundige uitwerking op seksueel misbruikte kinders verklaar:
Traumatiese seksualisering
Die kind mag wanopvattings oor seksuele gedrag ontwikkel. Seksualiteit kan geassosieer word met vrees, negatiewe emosies en herinneringe. Die kind mag voel dat die enigste manier om teerheid, liefde, aanvaarding en aandag te ontvang deur seksuele gedrag is. Gevolglik mag so iemand soms oordrewe seksuele gedrag toon óf enige aard van seksuele aktiwiteit vermy. Volwassenes wat as kinders seksueel gemolesteer was, het dikwels verhoudings- en seksuele probleme;
Seksuele stigmatisering
Seksuele misbruik stigmatiseer die kind omdat die molesteerder die kind blameer, verkleineer en dwing om dit geheim te hou. Wanneer misbruik op die lappe kom gebeur dit heel dikwels dat ander mense ook die kind blameer. Gevolglik voel die kind skaam en skuldig en ontwikkel ʼn negatiewe selfbeeld wat aanleiding gee tot probleme soos depressie, eetversteurings, vermyding van verhoudings en gedrag soos self-besering, middel-misbruik of selfs selfdood;
Gevoelens van verraad
Die seksueel misbruikte kind ervaar verraad, dikwels juis deur die mense wat hulle eintlik moes beskerm het. Die aanvanklike verraad deur die molesteerder word dikwels bevestig en vererger deur verraad van ander volwassenes wat die kind blameer of weier om hul te beskerm of te glo wanneer die misbruik aan die lig kom. Hierdie verraad lei tot ʼn verlies aan vertroue in ander mense en gevoelens van hartseer, intense woede en moontlike wraakfantasieë. Gemolesteerdes vind dit moeilik om ander mense in volwassenheid te vertrou;
Gevoelens van hulpeloosheid
Kinders wat seksueel gemolesteer word voel ook ‘n intense gevoel van magteloosheid aangesien hulle dit nie kon voorkom of verhoed het nie. Die kind kan hierdie ervaring van magteloosheid veralgemeen en ʼn gevoel ontwikkel dat hulle ʼn hulpelose slagoffer is wat ook tot depressie en angs kan lei.
Uitdagings wat volwasse oorwinnaars mag ervaar, is:
- ongewensde en onwillekeurige herinneringe aan die misbruik in gedagtes, gevoelens, nagmerries of terugflitse;
- probleme met selfbeeld en selfrespek;
- ‘n gesukkel om bevredigende en wedersydse vertrouensverhoudings te hê (hulle bevind hulself dikwels in disfunksionele of gewelddadige verhoudings)
- ‘n gevoel van doodsheid of afgesny van ander;
- seksuele probleme;
- middelmisbruik;
- eetversteurings (obesiteit, anorexia of bulimia);
Slagoffers van seksuele molestering ly gewoonlik aan Post-traumatiese Stresversteuring (PTSV). Gaan kyk gerus na my artikel oor Post-traumatiese Stresversteuring op my webtuiste.
Ander gevolge wat slagoffers mag ervaar:
Skuldgevoelens
Iemand het eenmaal ‘n baie omstrede, dog baie waar stelling oor molestering gemaak: behalwe vir fisiese pyn en morele probleme, is molestasie andersins ʼn heel aangename ervaring. As jy hieroor dink is daar waarheid in hierdie stelling. Molestasie is seks en seks is ‘n lekker ervaring. Dit is hoe ons as mens bedraad is. Daar is fisiese genot maar dis presies hier waar die probleme ontstaan.
Die molesteerder mag dalk dinge doen en sê soos:
– dis ons geheim;
– ek doen dit omdat ek lief vir jou is;
– die kind word oorlaai met geskenke of lekkergoed en hulle mag die molesteerder nie verraai nie.
– sekerlik het jy dit ook geniet?
– hou jy daarvan as ek dit, of dat doen of verkies jy eerder dit of dat?
Selfblaam
Skuldgevoelens duik gedurig op in die verhale van gemolesteerdes, dat hulle aan ʼn voortdurende skuldkompleks kan ly, veral in die gevoel dat hulle iets verkeerd gedoen het. Slagoffers mag hulsels blameer en vrae vra soos:
– hoekom het ek dit nie gekeer nie?
– hoekom ek?
– wat is fout met my dat dit met my gebeur het?
– verdien ek dit om so behandel te word?
– het ek vir hom aanleiding gegee of dalk uitgelok?
Die gemolesteerde probeer dikwels kompenseer deur in te gee teenoor ander en mense tevrede te probeer stel. Die gevolg is dat hulle deur ander bly misbruik word en hul lewe lank ʼn slagoffer bly. Hulle het nooit geleer om nee te sê nie en het nooit besef dat hulle oorwinnaars is wat oorleef het nie. Hulle bly magteloos en hulpeloos voel en aanvaar dat dit hulle lot in die lewe is en dat hulle niks daaraan kan doen of verander nie.
As volwassenes is gemolesteerdes dikwels geneig om die kind wie hul was, te blameer met die denke van die volwassene wat hulle vandag is. Hou egter ook in gedagtes dat jy ook maar net ʼn kind was wat nie soveel beheer, kennis, ervaring en volwasse denke gehad het aswat jy vandag het nie. Hoe kan ʼn kind nee sê vir ʼn volwassene? Volwassenes weet mos van beter. Iewers besef jy dat hier iets verkeerd is. Jy bevraagteken jou gedagtes siende dat volwassenes mos nie verkeerd kan wees nie?
Skaamte en skande
Slagoffers van molestering dink dikwels die volgende:
– ek voel so vuil, so misbruik. Ek weet nie hoe my man vir my lief kan wees nie;
– ek kan nie daarmee saamleef dat ek aan soiets kon deelneem nie;
– ek gril nou nog as ek daaraan dink.
Skaamte en ʼn gevoel van skande gaan hand aan hand met skuldgevoelens. Hierdie gevoelens is baie diep in die onderbewussyn gesetel, waarvandaan dit die slagoffer se lewe kan beheer. Skuldgevoelens is egter nie logies nie en rasionele argumente kan nie noodwendig jou skuld bewys nie. Jy moet verstaan dat dit nie nodig is om so te voel nie, maar ten spyte van al jou pogings om jouself anders te oortuig, bly hierdie gevoelens en gedagtes aan jou vreet.
Lae selfbeeld
ʼn Lae selfbeeld kan ontwikkel uit die negatiewe boodskappe wat die molesteerders vir hul slagoffer gee wat gevolglik dan ook die negatiewe boodskappe word wat die slagoffers aan hulself gee. Hierdie boodskappe kan die volgende behels:
– ek is sleg;
– seks is al waarvoor ek goed is;
– ek verdien nie om ordentlik behandel te word nie;
– ek het nie die reg om nee te sê nie;
– ek het altyd dom gevoel en gevoel dat ek onderpresteer;
– ek voel waardeloos, asof daar niks is wat ek goed kan doen nie;
– ek het nog nooit selfvertroue gehad nie, selfs al het ek hoe hard probeer om perfek te wees;
– ek voel soos ‘n mislukking;
– ek voel soos ‘n slagoffer;
– ek haat myself;
– ek het ‘n konstante vrees om verwerp te word;
– ek probeer perfek wees, sonder sukses;
– ek sal beter wees – ek kan beter doen;
– ek voel minderwaardig;
– ek is oorsensitief.
Hierdie patroon word gevoed deur herhaalde negatiewe gedagtes oor jouself, wat mettertyd ʼn gewoonte word en wat ook nie sondermeer deur argumente, positiewe, opbouende of ondersteunende woorde van vriende verander kan word nie. Hierdie leuens bly jou realiteit.
Oor- en onderprestasie
Slagoffers van molestering toon hoofsaaklik twee tipes gedragspatrone:
– Die eerste is die onderpresteerders wat van die begin af ʼn verloordershouding teenoor die lewe inneem, nie eens probeer nie, hulself afkraak en by voorbaat aanvaar dat hulle nie suksesvol kan wees nie.
– Die ander tipe is die perfeksioniste wat hulself ten alle koste wil bewys in ʼn desperate poging om hulself staande te hou. Hulle idealiseer sukses en jaag dit na. Om aanvaar te word, moet ek alles reg doen, is die onbewustelike dryfveer vir hulle optrede. Hulle werk self deur dit en voel onwaardig as hulle dit nie bereik nie. Uiteindelik bevredig sukses hulle ook nie. Hoe harder hulle probeer om die minderwaardigheidsgevoelens weg te presteer, hoe meer ontwyk die bevrediging hulle.
Die verlies van kinderjare
Jou kinderjare is veronderstel om sorgvy en die beste jare van jou lewe te wees. Kinders het die reg om gelukkig te wees in ‘n veilige omgewing. Die gemolesteerde kind se sorgvrye kinderjare word wreed versteur deur trauma waarvoor hulle nie gevra of verdien het nie. Omdat hulle geleer het om herinneringe te onderdruk, word groot stukke van hulle kinderjare dikwels (soms genadiglik) uitgewis.
Ek wonder of jy die spreekwoord ken wat sê: om die baba saam met die badwater uit te gooi. Dit beteken letterlik om van die goeie ook ontslae te raak, in ʼn poging om van die slegte ontslae te raak. Ek hoor dit so gereeld dat ‘n kliënt vir my sê dat hulle ʼn sekere tydperk van hulle lewe glad nie kan onthou nie. Hulle onthou gebeure voor ‘n bepaalde tyd en dan weer na ‘n spesifieke tydperk, maar nie daardie spesifieke tydgleuf nie. Tog kry hulle flitse van molestasie of ander trauma, maar skryf dit toe aan verbeelding. Hoe dit ookal sy: hulle het onbewustelik in ʼn poging om die negatiewe herinneringe te onderdruk, ook die positiewe herinneringe onderdruk – die baba saam met die badwater uitgegooi.
Daar is egter soveel meer verliese hier as net kinderjare.
Die effek van leuens
Die gemolesteerde kind het dikwels ʼn beperkte perspektief van die wêreld, wat die gevolg is dat hulle vals en verdraaide boodskappe oor baie basiese lewensfeite ontvang het – aspekte soos mag, beheer, intimiteit, seks, liefde, respek, vertroue, of wat dit beteken om vrou te wees. Jy kan hierdie leuens vir jare, ja, selfs ʼn leeftyd, met jou saamdra sonder om by ʼn punt te kom waar jy vir jouself dink en jou eie besluite oor die lewe en spesifiek intimiteit kan neem. Enkele voorbeelde van die vals en verdraaide boodskappe is die volgende:
– al wat mans van ʼn vrou wil hê, is seks;
– mense is totaal onbetroubaar;
– wat is liefde? Dit bestaan nie;
– ’n mens kan niks aan jou lot doen nie. Jy moet dit bloot
Emosionele verwarring
Meeste slagoffers bevind hulself tydens molestering in ʼn toestand van dissosiasie, wat beteken dat hulle uitsny en die gebeure as onwerklik beleef, asof dit met iemand anders gebeur, asof hulle bloot toeskouers is.
In baie gevalle het hulle vergeet dat dit gebeur het, maar kry dan en wan terugflitse. In baie gevalle word dit ʼn patroon, sodat die gemolesteerde kind mettertyd uit voeling raak met hul eie gevoelens. Hul emosionele belewenis word so deurmekaargekrap dat hulle nie meer presies weet wat hulle voel nie en dus emosioneel verward en afgestomp raak. Hulle ignoreer dikwels hul gevoelens en kan slegs met moeite daaroor praat.
ʼn Gemolesteerde kind kan ʼn wantroue ontwikkel teen enige tipe gevoelens, omdat dit so dikwels met pyn geassosieer word dat hulle leer om nie net pynlike gevoelens nie, maar baie ander gevoelens ook dood te druk. Hierdie bring ons terug na wat vroeer genoem was van die baba saam met die badwater uitgooi.
Die gevolg is dat die kinders dikwels hul spontaneïteit verloor en wegkruip agter ʼn masker van gereserveerdheid. Gevoelens kan ook op die agtergrond geskuif word deur die misbruik van alkohol en middels, ooreet of oormatige betrokkenheid by aktiwiteite soos sport, werk en studies – enigiets om die aandag weg te lei van die pynlike emosies. Of om aan hulself en ander te bewys dat hulle goed genoeg is vir meer as net seks en mishandeling.
Emosionele verwarring is ook ʼn direkte gevolg van molestering. Dit beteken die gemolesteerde tree dikwels as kind en as volwassene emosioneel ontoepaslik op. Hulle mag dalk lag as hulle veronderstel is om hartseer te wees, kwaad word oor dinge wat eintlik as snaaks of minder ernstig opgeneem moet word, kry woedebuie, is onvoorspelbaar en hul emosies wissel gedurig. Sommiges sny hul gevoelens uit, of blokkeer dit en trek terug in hul dop.
Dit is nie maklik om presies te beskryf wat hierdie emosionele verwarring behels nie, maar hier volg ʼn paar voorbeelde wat ek al gehoor het:
– ek het altyd my gevoelens geïgnoreer, asof dit apart van my was en nie ekself is nie;
– my gevoelens as kind is verraai. Ek het skuldig gevoel, maar dan het die molesteerder gesê almal doen dit.
– Ek was kwaad, maar kon dit nie wys nie. Ek was bang, maar hy het gesê daar is niks om voor bang te wees nie. Wat hy met my gedoen het, was sleg maar hy het my probeer oortuig dat ander meisies dit geniet;
– hy het gesê hy doen dit omdat hy lief is vir my, maar is dit wat liefde beteken? Hoe liefde gewys word. Geen wonder ek weet nie wat ek veronderstel is om te voel nie.
Aangesien die slagoffer as volwassene steeds die slagoffer is, kan hulle probleme ondervind om woede toepaslik uit te druk in situasies waar dit geregverdig is. Party mense wat ‘n molestasie beleef het, reageer deur hul woede so te onderdruk dat hulle dit nie as woede herken nie. Baie slagoffers is onder die indruk dat hulle dit verwerk het en dat dit hulle nie meer pla nie, dat hulle verstaan dat die molesteerder ʼn probleem het. Maar as daar dieper in die emosie gedelf word, is die gemolesteerde verras deur hoe intens die emosies werklik steeds is en verstaan nie waar dit vandaan kom nie.
Intimiteit en seksualiteit
Die seksuele- en intimiteitslewe van die gemolesteerde word veral erg negatief geraak. Molestasie is per se seks in ʼn sin van die woord en die kind kry ʼn totale wanpersepsie van wat seks werklik behoort te wees. Seks word verwar met liefde en in die soeke na liefde, wat elke mens maar soek, tree seks in en word hulle herhaaldelik misbruik, selfs in volwassenheid. Dit versterk sekere persepsies soos dat hulle nie goed genoeg is nie, verwerp word, net goed is vir seks en so meer.
Dit wil voorkom asof een of meer van die volgende verskynsels by die gemolesteerde in volwassenheid voorkom.
– Permissiwiteit
Dit kom soms voor asof die gemolesteerde maklik is en rondslaap. Dit kan natuurlik gebeur in hul soeke na liefde, net om daarna te besef dat hulle maar net weer misbruik was, met die gebruiklike nagevolge. Permissiwiteit is soms ʼn fase waardeur die gemolesteerde gaan en word baie keer opgevolg deur die volgende punt:
– Seksuele koudheid
Dit gebeur soms later, veral in die gemolesteerde se huwelikslewe dat sommige vroue totaal belangstelling in seks verloor juis as gevolg van die negatiewe assosiasies wat daarmee gepaart gaan. Ander begin vasgedruk en angstig raak en is bang vir seks of gril daarvoor.
Kwessies met vertroue
Jy mag dalk regdeur jou lewe sukkel met vertroue, veral teenoor jou lewensmaat:
– vind jy dit moeilik om mense te vertrou?
– het jy moeite om mense naby jou toe te laat?
– kan jy ʼn gesonde verhouding aanknoop en volhou?
– het jy intieme, nabye vriende?
– is dit moeilik om ander te vertroetel of om self vertroetel te word?
– hou jy mense op ʼn afstand?
– is jy liefdevol of het jy moeite om liefde te wys?
– voel jy eensaam en vervreem van mense?
– voel dit of jy aanhoudend deur mense misbruik word?
Eetversteurings
Die gemolesteerde beleef in volwassenheid dikwels sekere eetstoornisse:
– Obesiteit
Die meeste gemolesteerdes ervaar probleme met vetsug. Hulle ervaar dit meestal rondom die areas van hul maag en heupe. Dis asof hulle hierdie area van seerkry wil wegsteek, beskerm, toemaak onder vet. Bewustelik wil hulle gewig verloor, maar onbewustelik maak die gewig hulle onaantreklik vir mans, aangesien dit verdere misbruik kan voorkom.
– Anorexia en bulimia.
Anorexia en bulimia nervosa kom ook redelik algemeen by gemolesteerdes voor. Dit is asof hulle so maer wil wees – as’t ware wil wegkruip, verdwyn om nie raak gesien te word nie.
Ouerskap
Ouerskap mag moontlik vir jou ‘n uitdaging wees. Jy mag dalk die volgende ervaar:
– voel dit soms vir jou of jy jou eie kinders mishandel?
– is dit moeilik om na jou kinders uit te reik en hulle naby jou toe te laat?
– is jy oorbeskermend?
Ongemaklike gevoelens
Ervaar jy dalk dat jy voortdurende en onverklaarbare ongemaklike gevoelens ervaar en nie verstaan waar hierdie gevoelens vandaan kom nie. Jy mag jouself dalk die volgende vrae afvra:
– was daar tye in jou lewe dat jy ernstige selfdood gedagtes gehad het?
– identifiseer jy met mense op TV wat gemolesteer is en voel jy om saam met hulle te huil?
– voel alles soms vir jou onwerklik?
– ervaar jy soms aggressiewe en gewelddadige emosies?
– is dit so dat jy baie min tot niks van jou kinderjare kan onthou?
– vind jy dit moeilik om jou gevoelens spontaan te wys?
– beleef jy die hele spektrum van gevoelens of onderdruk jy sommige emosies?
– voel dit vir jou of jy uit voeling met jou emosies is?
– voel jy dikwels verward of onseker?
– voel jy emosioneel onstabiel?
– voel jy dikwels gespanne of depressief?
– is dit vir jou soms moeilik om jou gevoelens te beheer?
Slaapprobleme
Iemand wat seksuele trauma as kind gehad het ervaar meer as dikwels probleme met slaap. Ervaar jy:
– dikwels nagmerries?
– probleme, meer as gereeld, om aan die slaap te raak?
– die gevoel dat daar iemand by jou in die kamer is?
– herhaalde drome met seksuele temas?
– dat jy dikwels dieselfde tyd van die nag wakker met gevoelens van angs?
– angstigheid by die gedagte dat jy moet gaan slaap of dat dit slapenstyd is?
Kompulsies en obsessies
Daar mag heel moontlik simptome van ‘n Obsessief kompulsiewe versteuring (OKD) of meer bekend in Engels as (OCD) teenwoordig wees. Ervaar jy:
– engtevrees, veral as jy ʼn kelder of ondergrondse verdieping moet binnegaan?
– dat daar sekere voorwerpe is wat vir jou ʼn eienaardige aantrekkingskrag het?
– dat jy nie alleen in jou kamer is nie of dat daar iemand of iets by jou in jou kamer is?
– dat jy bang is om alleen by die huis gelaat te word?
Al die vrae wat hierbo gevra word kan ons ‘n vae aanduiding gee van die primêre areas van jou lewe waar die gevolge van mishandeling in jou volwasse lewe ervaar kan word. Dit gee vir jou ‘n idee van hoe omvangryk die gevolge van molestasie kan wees.
As jy as kind gemolesteer is en aan die ander kant uitgekom het, bewys dit dat jy waarskynlik sedert jou kinderjare maniere gevind het om jouself te beskerm teen die pyn en herinneringe van molestering.
Hierdie metodes word sielkundige verdedigingsmeganismes genoem.
Sielkundige verdedigingsmeganismes
Ons maak almal gebruik van sielkundige verdedigingsmeganismes om ons te help om emosionele trauma te absorbeer om te oorleef. Hierdie verdedigingsmeganismes is amper soos ‘n skokbreker van ‘n kar. Dit help jou om die skok van enige trauma, fisies of emosioneel, te absorbeer. Lees gerus my artikel oor sielkundige verdedigingsmeganismes op my webtuiste vir meer inligting oor hierdie onderwerp.
As kind was dit vir die slagoffer van molestering noodsaaklik, want dit het hulle laat oorleef, die lewe draaglik gemaak en hulle in staat gestel om met die lewe voort te gaan. So iemand kan daarom gerus met deernis en respek terugkyk na hoe hulle as kind daarin geslaag het om steeds te funksioneer.
As volwassenes is gemolesteerdes geneig om dié metodes van hul kinderjare voort te sit en word dit maklik deel van hulself en hul daaglikse lewens. Ongelukkig werk dit in die volwasse jare nie meer vir die persoon nie, maar teen hulle.
Die volgende verdedigingsmeganismes is aan ons bekend in die sielkunde:
Repressering
Repressering oftewel onderdrukking is die algemeenste verdedigingsmeganisme. Dit behels dat pynlike ervarings vanaf die bewuste na die onderbewuste gekanaliseer word waar dit minder of geen pyn veroorsaak.
Die groot uitdaging van repressering is dat jy nie bewustelike toegang tot herinneringe en emosies, wat in die onderbewuste gestoor word, het nie. Die gevolg is dat jy die slagoffer word van kragte wat buite jou bewuste beheer word. Hierdie aspekte van jou lewe word deur ‘n onsigbare dinamika gereguleer wat op die volgende moontlike maniere mag manifesteer:
– jy vrees sekere dinge en jy weet nie waarom nie;
– jy kry woede-uitbarstings vir die eenvoudigste dingetjies;
– jy ervaar vaginale krampe en pyn tydens seksuele omgang;
– jy raak selfs beangs wanneer mense jou aanraak.
Repressering kan op twee vlakke plaasvind:
– in sy ekstreme vorm onderdruk die persoon alle herinneringe rakende wat gebeur het en het hulle dus werklik geheueverlies en onthou niks van wat gebeur het nie.
– die ander vorm is dat hulle wel kan onthou wat gebeur het, maar hulle represseer die emosies waarmee dit gepaard gegaan het, amper soos ‘n verslaggewer wat nuus op ʼn meganiese, byna gevoellose manier oor die molestering weergee. Die effek is gewoonlik dat hulle nie werklik in kontak met hul gevoelens is nie. Dat hulle emosioneel verward of afgestomp kan wees en tye van depressie kan ervaar, sonder om te weet hoekom.
Minimalisering
Omdat molestering so ʼn algemene verskynsel is, word dit maklik afgemaak as niks besonders nie. Iets wat met baie mense gebeur het en dat jou geval niks spesiaals of buitengewoon is nie.
Minimalisering dui op ʼn meganisme waar jy die impak van die gebeure afmaak as een of meer van die volgende:
– dit was tog nie so erg nie;
– ek het dit lankal verwerk;
– sulke dinge gebeur mos maar;
– hy het maar net ʼn bietjie aan my gevat;
– daar is nie juis veel om oor na te dink, of aan te dink nie;
– ag, dit het lank gelede gebeur. Ek moet nou daarvan vergeet en daaroor kom.
Minimalisering is ʼn onbewuste daad van ontkenning. Jy erken dat die molestering plaasgevind het, maar ontken die effek wat dit op jou gehad het of steeds het. Familie en moeders reageer dikwels met minimalisering wanneer hulle van die molestering te hore kom. Selfs professionele persone neem jou ontboeseming dikwels nie ernstig op nie, maak dit af of reageer bloot nie daarop nie. Tog is alle vorme van molestering traumaties en moet ernstig opgeneem word.
Rasionalisering
Rasionalisering beteken dat jy redelike en logiese verklarings vir gebeure uitdink en byna teoreties daaroor praat asof jy ʼn gevallestudie is wat ontleed moet word:
– hy kon dit nie verhelp nie; hy was dronk;
– hy het moeilike kinderjare gehad;
– hy kon dit nie verhelp het nie, want hy is self gemolesteer.
Ek sê nie dat dit verkeerd is om logiese en rasionele denke te gebruik om die gebeure in ʼn realistiese raamwerk te plaas en te verklaar nie. Dit is egter wel skadelik as dit daartoe lei dat jy jou gevoelens onderdruk of ignoreer. Mens leef nie net met die gedeelte bokant hul skouers nie; daar is ook ʼn hart en siel wat in ag geneem moet word.
Ontkenning
Ontkenning beteken dat jy jouself oortuig dat soiets nooit met jou kon gebeur het nie. Soos die spreekwoordelike volstruis steek jy jou kop in die grond en maak of die werklikheid nie bestaan nie. Jy kan ook vergeet dat dit gebeur het. Die herinneringe word bloot onder die mat ingevee met gedagtes soos:
– dit het nie met my gebeur nie;
– dit het geen effek op my nie.
Dissosiasie
Dissosiasie vind plaas wanneer iemand blootgestel word aan ʼn ondraaglike situasie waaruit hulle fisies nie kan ontsnap nie. As hul nie die emosie en pyn kan hanteer nie, tree ʼn dissosiasie as verdedigingsmeganisme in werking. Die slagoffer dissosieer deur hulself af te sluit, te blokkeer om hulself te isoleer teen pyn. Hulle verbeel huself dat dit nie met hulle gebeur nie, of dat hul iemand anders is.
Slagoffers van mishandeling kan geheueverlies ontwikkel vir groot gedeeltes van hulle kinderjare en sal dinge sê soos:
– ek het gelê en na die kersboom se liggies gekyk toe hy my gemolesteer het;
– ek kan niks tussen die ouderdomme van ses en agt onthou nie;
Mense kan algehele geheueverlies hê en beide die gebeure en die emosies wat daarmee gepaard gaan vergeet, of jy kan wel die gebeure onthou, maar die emosies vergeet.
Net soos in die geval van Repressie vergeet die brein nie werklik nie. Hierdie gerepresseerde inhoud en emosies begin dikwels jare later terugkeer in die vorm van terugflitse. In terapie kom hierdie herinneringe gewoonlik terug en vir ʼn tyd lank kan die kliënt selfs erger voel.
Veelvuldige persoonlikheid
Hierdie verskynsel is egter baie raar en gebeur slegs in ekstreme gevalle. Deesdae staan dit bekend as Dissosiatiewe identiteitsversteuring (DiV) of dan Dissociative Identity Disorder (DiD).
DiV is die mees ekstreme vorm van verdediging wat die psige kan gebruik om ʼn persoon te beskerm en seker ook die fassinerendste verskynsel in die wêreld van die sielkunde. Dit is voorheen as baie raar beskou en is byna uitsluitlik gevind by volwassenes wat op ‘n jong ouderdom erg mishandel en gemolesteer was.
The Three Faces of Eve en Sybel was populêre boeke (ook verwerk tot rolprente) oor dié verskynsel wat die verbeelding van mense aangegryp het.
Post-traumatiese stresversteuring
Daar is ʼn sterk ooreenkoms tussen die vertraagde stresrespons van slagoffers van molestering en Posttraumatiese stresversteuring (PTSV). PTSV is nie ʼn geestessiekte nie. Dit beskryf eerder ʼn verskeidenheid van emosionele reaksies wat veroorsaak word deur die blootstelling aan traumatiese gebeure soos oorlog, natuurrampe, motorongelukke, verkragting en seksuele molestering.
Jy mag dalk sommige van die volgende simtome ervaar:
Terugflitse
Terugflitse of flashbacks is herinneringe aan die molestering wat vanuit die onderbewuste na jou bewuste deurbreek. Terugflitse is dikwels vaag en onduidelik aan die begin van die terapeutiese proses, maar word gewoonlik duideliker namate die proses vorder. Die proses word dikwels gekataliseer deur sekere gebeure soos:
– insidente soortgelyk aan oorspronklike gebeure en wat jou daaraan herinner, soos die ontdekking dat ʼn familielid gemolesteer word;
– die dood van die molesteerder;
– swangerskap en die geboorte van ʼn kind;
– ʼn kind wat die ouderdom bereik waarop jy gemolesteer was
– beëindiging van ʼn verslawing, byvoorbeeld aan kos, alkohol of pille;
– konfrontasie met die molesteerder;
– TV- of radioprogramme oor seksuele molestering.
Enige insident kan die sneller wees wat inhoude uit die onderbewussyn te voorskyn laat kom, maar hierdie lys beskryf dié wat die meeste voorkom.
Molestering en gerepresseerde (onderdrukte) geheue-sindroom
Gerepresseerde geheue-sindroom is ʼn ander term wat gebruik word om die tweede kenmerk van PSTV, naamlik geheueverlies, te beskryf. Die meeste gemolesteerdes ondervind ʼn mate van geheueverlies oor wat met hulle gebeur het. ʼn Vrou onthou dalk hoe ʼn insident begin het, maar vergeet hoe dit geëindig het omdat dit so pynlik was. Die pyn is dikwels geleë in die vernederende manier waarop die slagoffer agterna behandel word: soos om haar te ignoreer, te maak of niks gebeur het nie, uit die kamer te stap, dreigemente te maak of haar toe te snou dat sy sleg is.
By gerepresseerde geheue-sindroom vind ons veral die volgende belangrike kenmerke:
– vrese en vermyding van sekere dinge en voorwerpe, wat as irrasioneel bestempel kan word, asook ʼn fassinering met sekere dinge waarvoor daar nie ʼn verklaring gevind kan word nie;
– kenmerkende terugflitse deur drome of liggaamlike sensasies wat direk of in verbloemde vorm met molestering te make het. Hierdie beelde of blibs verskyn wanneer jy wakker is en kan enige tyd van die dag en nag deur jou gedagtes flits;
– tekens van dissosiasie: kinders dissosieer dikwels tydens molestering. Later kan dit so deel word van hul daaglikse lewe dat hulle permanent gevoelens van onwerklikheid, gevoelloosheid en doodsheid ervaar;
– tyd- of geheueverlies – daar is gapings in die gemolesteerde se herinneringe en hulle kan byvoorbeeld nie die tydperk tussen agt en tien jaar onthou nie. Hulle kan ook sekere mense vergeet wat tydens die molesteringstydperk by hul lewe betrokke was (gewoonlik die molesteerder).
Ander simptome van PTSV
Gaan kyk gerus na my artikel oor Post-traumatiese Stresversteuring op my webtuiste, www.jorganharris.co.za vir meer inligting oor die simptome van PTSV.
Waarom het jy stil gebly?
Seksuele teistering floreer in ʼn samelewing waar stilte en ontkenning heers. Ek hoor die volgende so dikwels by slagoffers:
- wat ek jou nou gaan vertel, is die moeilikste ding in my lewe.
- jy is die eerste persoon vir wie ek dit vertel.
- selfs my man weet nie hiervan nie.
Die vraag is: waarom is dit so moeilik om te vertel? Jy was tog onskuldig. Juis die feit dat jy dit so moeilik vind om daaroor te praat, wys hoe diep dit werklik sny en hoe groot impak dit op jou lewe het.
Wanneer jy die dinamika van molestering verstaan, verstaan jy waarom die kind nie vir haar ma van die molestering vertel nie.
As kind bly jy stil vir enige of al die volgende redes:
jy is deur die molesteerder afgedreig
ʼn Algemene truuk wat molesteerders gebruik om ʼn slagoffer tot stilswye te dwing, is om dit by haar in te prent dat dit hulle fout is of skuld was.
Daar is talle maniere waarop die molesteerder die kind afdreig:
– ek sal jou in ʼn gestig laat opsluit;
– ek sal jou ma vertel wat jy gedoen het;
– niemand sal jou tog glo nie;
– jou ma gaan baie kwaad wees en jou na ʼn kosskool stuur;
– wat dink jy gaan mense van jou dink as hulle moet weet wat jy gedoen het;
– jou pa sal jou doodslaan;
– dis jou skuld.
Hierdie dreigemente plaas die kind in ʼn onmoontlike posisie. Hulle weet nie of die molesteerder se dreigemente die waarheid is of sal realiseer nie. Kinders is oop vir suggestie en het nie die oordeelsvermoë om so ʼn dreigement rasioneel te beoordeel nie. Hulle het dikwels geen keuse as om die molesteerder se dreigemente te glo en stil te bly nie. Hulle bly dus stil met ‘n enorme innerlike konflik.
Jy is te bang of te skaam om te vertel
Omdat die molesteerder jou skuldig laat voel, is jy te skaam om vir iemand te vertel. Jy weet nie wat jou ma se reaksie gaan wees nie. Gaan sy kwaad wees? Sal sy my glo? Sal sy dink ek is ʼn slegte kind? Is dit nie miskien tog maar my skuld nie? Het ek nie iets verkeerd gedoen nie?
Jy is omgekoop
Die kind word omgekoop met lekkers, geskenke en beloftes. Die molesteerder speel op hulle gevoel en manipuleer hulle deur hul te verseker dat sy optrede nie verkeerd is nie en dat dit die manier is waarop mense met mekaar speel. Hulle kan hulself selfs ook laat omkoop om nie te vertel nie, juis omrede hulle bang is hulle verloor die toegeneentheid van die ouer persoon as hulle nee sou sê (in gevalle waar hulle lief is vir die molesteerder). Hierdie tipe molestering veroorsaak dikwels erge skuldgevoelens in die volwasse jare.
Jy was bang vir die gevolge vir die gesin
ʼn Kind is veral in ʼn dilemma, as die pa die molesteerder is. Die gesin is afhanklik van hom as broodwinner en hy kan hierdie posisie misbruik.
Hulle mag dinge sê soos:
– as jy gaan uitpraat, gaan jou ouers skei;
– as jy praat, gaan julle honger ly;
– as jy vertel, gaan die familie vir julle kwaad wees;
– sou jy klik, gaan jou gesin uitmekaar gedryf word.
Hierdie tipe manipulasie is uiters gemeen en die kind het geen verweer daarteen nie. Dit is ʼn verskriklike las om te dra wanneer jy gedwing word om te dink dat jou gesin se welsyn afhang van jou stilswye.
Jy het probeer vertel, maar niemand het jou geglo nie
Moeders se natuurlike reaksie wanneer hulle verneem van molestasie is skok en ontkenning. Hulle is geneig om op die volgende maniere te reageer:
– dit kan nie waar wees nie;
– hulle suig die stories uit hul duim;
– hulle het ʼn ooraktiewe verbeelding;
– dit is al die TV-programme en video’s wat die kinders deesdae kyk.
ʼn Mens hoor dikwels dat kinders wel vertel het dat hulle gemolesteer was, maar nie geglo word nie. Dit versterk verder hul gevoel van magteloosheid, die gevoel dat hulle uitgelewer is aan ʼn situasie waaraan hulle niks kan doen nie.
Ons het vroeër in die dokument verdedigingsmeganismes bespreek. Dit mag gebeur dat die ma as ‘n gevolg van haar eie skok, in ontkenning gaan.
Verstaan iets meer van die molesteerder
Hul eie psigodinamiek
Meeste molesteerders het wel erg versteurde persoonlikhede. Daar is molesteerders in alle sosiale stande, rasse en opvoedkundige status. Meeste molesteerders is ernstig versteurde mense wat nie tussen reg en verkeerd kan onderskei nie – alkoholiste, versteurde persoonlikhede, gevoellose, despotiese, rigiede, kinderagtige en onvolwasse mense. Baie molesteerders is wel so, maar dit is nie noodwendig altyd die geval nie.
Sommige molesteerders is despoties, regeer hul huise met ʼn ysterhand, domineer hul vrouens, kan as outoritêr en streng beskryf word en is ingestel op dissipline. Molestering van ʼn dogter kan dan beskou word as ʼn uitvloeisel van hierdie behoefte om te heers, te domineer en te regeer. Die dogter is sy besitting op wie hy sy stempel kan of moet afdruk.
Ander molesteerders is ontoereikend, passief en het nie die vermoë om hulself te handhaaf nie. Hulle voel minderwaardig teenoor ander mense en het min mag by die werk, maar tuis kraai hulle koning.
- Meeste molesteerders:
– is self gemolesteer as kind;
– kan nie ʼn normale verhouding met ʼn vrou hê nie en wend hom na kinders wat nie nee kan sê nie;
– is onseker van hulself;
– sal selde erken dat hulle ‘n probleem het;
– misluk in beroeps- of sosiale funksionering;
Die verband tussen PTSV en OKV (Obsessief-komulsiewe versteuring), beter beken as OCD
Nie alle molesteerders is boos en probeer jou lewe verwoes nie. Soos voorheen genoem, is hulle hoogswaarskynlik ook getraumatiseerde mense met hul eie onsekerheid en trauma, wat hul eie simptome van self-twyfel, PTSV en Obsessief-kompulsiewe versteuring (OKV) ervaar.
Daar is ‘n verband tussen PTSV en OKV waar die individu obsessiewe denke ontwikkel na trauma en hierdie denke word verlig deur kompulsies (kompulsiewe en herhalende gedrag) om hierdie gedagtes uit te werk. Hul reageer met impulse eerder as denke wanneer hulle doen wat hul doen.
Hul optrede kan ook in die lig van die onderstaande gesien word:
– hul gedrag mag dalk lyk soos ‘n beplande optrede elke keer as hul iemand molesteer;
– maar wat eintlik gebeur is dat hul primitiewe brein hul gedrag veroorsaak en hul neo-korteks (die denkende brein) word tydens hul optrede ge-de-aktiveer as gevolg van ‘n oorproduksie van adrenaline;
– hierdie gedagtes en optrede is selfs vir die molesteerder ongewens, onwelkom en angswekkend;
– navorsing bewys dat hierdie gedagtes en optrede nie beheer kan word tydens verhoogde stimulasie van die primitiewe brein nie;
– die oortreder word elke keer bewus van die gevolge van hul optrede, maar hierdie ontnugtering gebeur egter eers nadat die neo-korteks weer ge-aktiveer word en die voorval reeds gebeur het;
– dit veroorsaak berou, maar die berou is te laat en vreet aan die molesteerder se gewete;
– anders as psigose en skisofrenie, keer die molesteerder byna onmiddellik terug na rasionele denke na hul optrede;
– net ‘n paar oortreders soek hulp, maar toepaslike hulp word nie altyd aangebied nie.
– ‘n nuwe narratief is nodig waar die oortreder beskou kan word as nie net ‘n oortreder nie, maar ook ‘n slagoffer self, wat ook hulp nodig het om as ‘n slagoffer beskou te word. Dit kan slegs bereik word as daar ‘n beter begrip van seksuele trauma gedurende die kinderjare en daaropvolgende OKV is, sowel as rehabilitasie wat fokus op die primitiewe deel van die brein, waar hierdie obsessies vasgevang is.
Daar is hulp
Jy mag dalk glo dat die res van jou lewe vernietig is en dat jy gedoem is. Dit is gelukkig nie waar nie. Sielkundige behandeling kan jou help om deur jou trauma te werk. Dit is ʼn baie gekompliseerde uitdaging wat vir jou moeilik, selfs onmoontlik lyk om te verwerk, maar in werklikheid is dit met die regte hulp, moontlik.
Die kombinasie van hipnoterapie en BrainWorking Recursive Therapy (BWRT) kan jou help om die gebeure te verwerk en jou help om ‘n nuwe perspektief te kry oor hoe om daaruit te leer, wat jou in staat stel om jou lewe voluit te leef!
Naskrif
Ek stel sterk voor dat jy die volgende boeke lees:
- die Boek: Praat daaroor, deur Nico Roos.
- Dis ek, Anna en Anna, teen die staatis ʼn ander boek waarop ek staatgemaak het, geskryf deur Elbe Lotter. In hierdie boeke beskryf sy haar eie verhaal. Dis ontstellend, maar die moeite werd om te lees.