Die wolf in skaapsklere - © Jorgan Harris

Emosionele mishandeling

Die groot verleiding en misleiding

‘n Wolf in skaapsklere is ‘n Bybelse idioom wat verwys na mense wat ‘n rol speel wat heeltemal anders lyk as wie en wat hulle werklik is.  In der waarheid is hierdie mense gevaarlik en valse meesters. 

Hierdie idioom is deur dierkundiges oorgeneem om predatoriese gedrag mee te beskryf waar die roofdier homself voordoen as swak en hulpeloos. Hulle mislei hul prooi en sodra die prooi naderkom, word hulle oorrompel.

Daar word, meestal verkeerdelik, geglo dat die uitdrukking ’n wolf in skaapsklere van ‘n fabel van Aesopos kom, waar wolwe deur skaapwagters verkeerdelik as skape aangesien en vertrou is.

Volgens Aesopos se fabel wou ‘n wolf skape vang om te eet, maar dit was onmoontlik, aangesien die skaapwagters hul skape te goed opgepas en geken het. Die wolf het een aand egter ‘n skaapvel gekry waarvan die skaapwagter vergeet het.  Die volgende dag het die wolf homself in die skaapvel geklee en tussen die skape gaan wei.  ‘n Lammetjie het begin om die wolf in skaapsklere te volg.  Die wolf het sy kans gevat en die lammetjie opgeëet.

Die Stockholm sindroom

Gert (nie sy regte naam nie) was iemand met ‘n tros-B (cluster-B) persoonlikheidversteuring.  Ons gaan deurgans in hierdie artikel na die tros-B’s verwys en ek gaan dit later aan jou verduidelik.

As jy vir Gert ontmoet, gaan jy dadelik baie van hom hou.  Hy is ‘n vriendelike, aangename mens met ‘n skoon, netjiese voorkoms.  ‘n Mens met beginsels – iemand wat jou kan meesleur vanaf daardie eerste oomblik dat jy hom ontmoet. Gert was hoofouderling van sy kerk.  Hy het die jeug van die kerk met sterk beginsels en rigtingvasheid gelei.  Die kerk se jeugbeweging was so sterk dat ander gemeentes sy gemeente se jeugprogram begin navolg het.

Die gemeente het ‘n nuwe predikant gekry.  Hy was ook ‘n opgeleide sielkundige.  Die nuwe, dog ervare, predikant was beïndruk met Gert se leiding in die gemeente.  Gert het groot planne vir die gemeente gehad, soos om ‘n nuwe, groot kerk-ouditorium te bou sonder dat dit die gemeente enige geld sou kos.  Gert kon enigiemand om sy pinkie draai.  So besluit Gert eendag om ‘n groot stad in ons land in te vaar en begin links en regs eiendomme te koop en verkoop (met geld en eiendomme wat hy nie het of besit nie).  ‘n Dag of twee later, verskyn hy op die voorblad van ‘n nasionale koerant.  Gert het daardie dag amper gesorg vir ‘n ineenstorting van die totale eiendomsmark van daardie stad en dit deur groot sakemanne om sy pinkie te draai.

Gert het nooit die nagevolge hiervan besef nie en met die een skema na die ander vorendag gekom. Intussen het Gert se vrou van hom geskei vir redes wat geen mens ooit kon verstaan nie.  Gert was dan ‘n baie aangename ou, maar Gert se dag het ook gekom. Twee polisiemanne, vangwa en lasbrief in die hand, daag by sy huis op om hom inhegtenis te neem. ‘n Lasbrief beteken immers dat daar geen vrae gevra word nie. Neem die man in hegtenis – sluit hom toe. Gert bel egter sy predikant en sielkundige.  Die volgende oomblik is die predikant en sielkundige, asook die polisiemanne oortuig van sy onskuld en ry die polisie, lasbrief en al, sonder Gert daar weg.

Na nog ‘n lang ruk, breek Gert se dag weer aan.  Hy verskyn egter die keer in die hof.  Gert vertel in die hof lang en tragiese stories dat selfs die regter sy sakdoek moes uithaal om die trane uit sy oë te vee.  Weereens stap Gert skotvry by die hof uit.

Weer breek Gert se dag aan, maar die keer word hy uiteindelik gevonnis tot gevangenisstraf.  Gert begin ‘n Bybelstudiegroep in die tronk.  Hierdie groep raak later so hoog en heilig dat Korrektiewe Dienste nie meer daarmee kon huishou nie.  Gert word derhalwe na ‘n ander tronk oorgeplaas, waar hy ook met ‘n Bybelstudiegroep begin.  My onthou van Gert eindig hier.  Wat hierna gebeur het weet ek nie, maar ek is daarvan oortuig dat Gert vrygelaat is omdat hulle hom ook nie kon beheer nie.

Jy het dalk hierdie persoon ontmoet wat jou voete onder jou uitslaan met hul sjarme, omgee en ordentikheid. Jy het gevoel dat hierdie persoon regtig omgee en opregte belangstelling in jou as mens toon. Dinge gebeur nou vinnig. Jy raak halsoorkop verlief.  Hulle is alles wat jy ooit wou hê en nog meer.  Alles is idillies en jy voel jy het die jackpot getref. Dan kom die ontnugtering. Jy begin jouself betwyfel, selfs bevraagteken.  Wat het hier verkeerd gegaan? Hoekom het jy geval vir die wolf in skaapsklere, die engel in die gewaad van ‘n mens? En skielik verander alles.  Dinge maak net glad nie meer sin nie.  Dit moet iets wees wat jy verkeerd gedoen het, aangesien hierdie persoon perfek is. 

Hierdie dinamiek is egter nie beperk tot liefdesverhoudings nie. Jou wolf mag dalk ‘n vriend, ‘n ouer, ‘n kind, ‘n broer of suster, of selfs ‘n kollega by die werk wees.  Dit mag ‘n baas of ‘n vriend wees.  Navorsing wys daarop dat net soveel vroue as mans emosionele mishandelaars is.  Slagoffers van emosionele mishandeling wonder gewoonlik wat fout met hulle is. Jy het hierdie wonderlike man of vrou ontmoet. Kort nadat julle saam intrek, verloof of getroud is, begin die mishandeling. Die nuus is vol van emosionele mishandelaars wat gewelddadig raak en hul maats aanrand of vermoor. Daar is ook die meer subtiele vorme van mishandeling waar jy geen fisiese wonde sien nie, maar daar is diep emosionele wonde wat nie vir die blote oog sigbaar is nie. Jy glo dat die fout by jou lê, want hierdie persoon is dan perfek en wonderlik. As jy ander mense wat hulle ken hiervan vertel, gaan hulle jou in elk geval nie glo nie. Jy is ʼn slagoffer van emosionele mishandeling deur ‘n tros-B. Onverklaarbaar bly jy egter steeds lojaal aan hierdie persoon.

Dit herinner aan wat in Stockholm gebeur het. Vier werknemers van ’n bank in Stockholm is tussen 23-28 Augustus 1973 deur bankrowers, tydens ‘n mislukte bankroof, aangehou. Intussen het die polisie opgedaag en die gebou omsingel.  ‘n Gyselaarsituasie het ontstaan met die werknemers in die middel, die rowers rondom hulle en die polisie rondom die bankgebou.  Gedurende hierdie tyd het die slagoffers emosioneel geheg geraak aan die rowers en het selfs bystand van die regering geweier.  Hulle het selfs die rowers verdedig, nadat hulle bevry was van hul ses dag lange beproewing. 

Die slagoffers het lojaal teenoor hul vyande geraak. Hulle was afhanklik van hierdie rowers vir toestemming vir kos, medisyne, komberse en om die badkamer te gebruik. Die rowers was immers die mense wat hulle gehelp het teen die sogenaamde vyand (die polisie). Een van die vroue het later verloof geraak aan een van die misdadigers. ʼn Ander vrou het ʼn fonds gestig om die misdadigers te help met hulle regskoste. Hierdie gyselaars het ʼn emosionele band met hulle aanhouers gevorm. Die ironie is dat die vyand (die rowers) nou die vriende geword het en die vriende (die polisie) die vyand. Die wolwe het skaapsklere aan gehad. Vandaar die hedendaagse term: Stockholm-sindroom.

Ons kan so maklik gemaklik raak met ‘n onnatuurlike lewe dat ons  egter in die onnatuurlike omstandighede veilig voel. Dit is immers beter as die duiwel wat jy nie ken nie. 

Die Stockholm-sindroom is inderdaad ‘n trauma respons.  Mense met trauma, veral langdurige trauma begin magteloos voel en regresseer dan terug na ‘n soort van gemaksone om nie self besluite hoef te neem nie. Hierdie getraumatiseerdes begin ‘n verbintenis met die vyand, wat nou die vriend is, te vorm aangesien hulle nie besluite hoef te neem nie en dus ook nie verantwoordelikheid hoef te aanvaar nie. Die aanvanklike stryd om beheer is daarmee heen en dit kan selfs aangenaam raak om besluite aan iemand anders oor te laat. 

Die wêreld van die slagoffers van Stockholm sindroom krimp tot ‘n klein wêreldjie in hul verhouding met die mishandelaar. Net soos die klein spasie van die bank die werknemers (gevangenes) se heelal geword het. Hulle word selfs vreesbevange vir die wrede wêreld daarbuite sonder die beskerming van die mishandelaar.

Die beroemde Duitse filosoof en psigo-analis Erich Fromm, beskryf dan ook hierdie verskynsel in sy 1941-werk, The Fear of Freedom, waarin hy die konsep van vryheid en die persoonlike impak van die afwesigheid van vryheid ondersoek. Hy vra onder andere of vryheid ‘n las kan raak, iets wat te moeilik is vir die mens om te hanteer.  Iets waarvan die mens probeer ontsnap. Die mens het net so ‘n groot behoefte vir onderdanigheid as hul behoefte tot vryheid. Dit vra of die mens genoeg vertroue in hulself het om ‘n oordeel te kan fel. Dit blyk egter die veiliger opsie te wees om ons mishandelaars daardie besluite te laat neem.

‘n Wolf in skaapsklere

Jy het hoogwaarskynlik ‘n wolf ontmoet was so mak soos ‘n lam lyk, dat selfs ‘n lammetjie hierdie wolf sou vertrou. Ongelukkig was die wolf verleidelik vermom.  Hierdie persoon ly dalk aan ‘n tros-B persoonlikheidsversteuring (cluster-B personality disorder). ‘n Tros-B is tipies ‘n wolf in skaapsklere wat ek hieronder sal verduidelik. Ek praat graag van die 4 – 1 + 1 Wolf.

In terme van die DSM 5 (Diagnostical and Statistical Manual of Mental Disorders, Edition 5), die formele diagnose-handleiding, het ‘n persoonlikheidsversteuring te make met gedagtes, gevoelens en impulsiewe reaksies wat anders is aswat ons as normaal in ons kultuur beskou.

Volgens die DSM 5 is daar vier persoonlikheidsversteurings. Ek gaan elkeen hier onder bespreek:

Antisosiale persoonlikheidsversteuring (APV)

Daar word in die literatuur na hierdie mense verwys as die sosiopate of psigopate.  In die formele sielkunde tref ons nie ‘n onderskeid hier nie en noem dit bloot antisosiale persoonlikheidsversteuring (APV).  Die klassieke psigopaat of dan APV is nie noodwendig ‘n reeksmoordenaar nie en kom algemeen voor hoewel hulle maar ongeveer 1% van die populasie uitmaak.

APV kan kortliks gedefinieer word as ‘n versteuring waarin ‘n persoon die regte van ander mense verontagsaam en skend. Vanaf ouderdom 15 kan ons die eienskappe in enige drie of meer van die onderstaande kriteria identifiseer:

  1. ‘n gebrek daaraan om sosiale norme na te kom, kom nie die wet na nie en doen dinge wat kan lei tot arrestasie;
  2. bedrieglike gedrag wat gesien kan word in herhaaldelike leuens, vervalsing van identiteit, bedrog of om ander te beswendel vir persoonlike voordeel of plesier;
  3. impulsiwiteit of ‘n gebrek om vooruit te beplan
  4. geïrriteerdheid en aggressie wat gesien kan word in herhaaldelike fisiese gevegte of aanrandings; 
  5. roekelose minagting van eie veiligheid en die veiligheid van ander; 
  6. gedurige onverantwoordelikheid, soos gesien kan word deur die gebrek om ‘n werk te behou of om finansiële verpligtinge na te kom;
  7. gebrek aan berou, soos gesien kan word in ongeërgdheid of dit rasionaliseer deur voor te hou dat hulle seergemaak, mishandel of van gesteel is.

Grenslyn persoonlikeidsversteuring (GPV) beter bekend as Borderline personality disorder (BPD)

GPV word gekenmerk deur ‘n voortdurende patroon van onstabiele selfbeeld en -interpersoonlike verhoudings wat in vroeë volwassenheid begin, met ten minste 5 van die volgende kriteria:

  1. waansinnige pogings om verwerping te vermy, synde dit werklike of verbeelde verwerping is;
  2. ‘n patroon van onstabiele en intense interpersoonlike verhoudings wat gekenmerk word deur afwisselende ekstreme van oor-idealisering en afkeuring;
  3. identiteitsverteuring: ‘n kenmerkende en voortdurende onstabiele selfbeeld of selfsiening;
  4. impulsiwiteit in ten minste twee van die volgende areas wat skade vir die self in kan hou (bv. geld spandering, seks, substansmisbruik, roekelose bestuur of om op ooreet-episodes te gaan);
  5. herhalende selfdood gedrag, gebare, dreigemente, of self-beserende gedrag;
  6. affektiewe onstabiliteit as gevolg van ‘n verandering van gemoed;
  7. chroniese gevoelens van leegheid;
  8. ontoepaslike, intense woede of probleme om woede te oorkom;
  9. kortstondige, stresverwante paranoïede verbeelding of erge dissosiatiewe simptome.

Narcissistiese persoonlikheidsversteuring (NPV)

NPV is ‘n voortdurende patroon van grootheidswaan (in fantasie of gedrag), ‘n behoefte vir bewondering en ‘n gebrek aan empatie, wat begin by vroeë volwassenheid wat gesien kan word in 5 of meer van die volgende:

  1. ‘n grootheidswaan vir selfbelangrikheid (soos om byvoorbeeld hul sukses en talent te oordryf en verwag om erken te word as die beste sonder dat hulle noodwendig daardie suksesse behaal het);
  2. voortdurende gedagtes van onbeperkte sukses, mag, briljansie, skoonheid of ideale liefde;
  3. glo dat hul spesiaal en uniek is en net verstaan kan word, of geassosieer kan word met ander spesiale of hoë status mense of instansies;
  4. vereis oormatige bewondering;
  5. het ‘n sin van eie-geregtigheid, soos onredelike verwagtinge om oormatige voorkeurbehandeling te kry of dat ander na hul pype moet dans;
  6. buit ander mense uit: soos om mense te gebruik vir hul eie gewin;
  7. het ‘n gebrek aan empatie: is onwillig om die gevoelens en behoeftes van ander te erken, te herken of om daarmee te kan identifiseer;
  8. is dikwels jaloers op ander of glo hulle is jaloers op hulle;
  9. toon arrogante, hoogmoedige gedrag of houdings.

Histrioniese persoonlikheidsversteuring

Hierdie versteuring word gekenmerk deur aandag-soekende gedrag, dikwels dramatiese gedrag om die goedkeuring van ander mense te verkry.

Daar is al vir lank ‘n onsekerheid of so ‘n versteuring regtig bestaan en as dit bestaan, of dit regtig inpas by die tros-B persoonlikheidsversteurings. Ons gaan dus nie verder op hierdie persoonlikheidsversteuring ingaan nie.

Daarom noem ek dit die -1 versteuring.

Alkoholgebruiksversteuring (AGV)

Terloops, daar word nie meer in die sielkunde verwys na die begrip alkoholis of alkoholisme nie.  Daar word eerder verwys na die term alkoholgebruiksversteuring.

Volgens die DSM 5 is alkoholgebruiksversteuring ‘n problematiese patroon van alkoholgebruik wat lei tot klinies beduidende inkorting of ongemaklikhheid, soos aangedui deur ten minste twee van die volgende kriteria, wat binne ‘n tydperk van 12 maande voorkom.

Wanneer iemand die afgelope jaar twee of meer van die volgende simptome van die volgende kriteria ervaar het, kan hul gediagnoseer word met AGV:

  1. Alkohol word dikwels in groter hoeveelhede ingeneem oor ‘n langer tydperk as wat die gebruiker dit wou doen. Drink jy meer as wat jy aanvanklik bedoel het om te drink?
  2. Daar is ‘n aanhoudende begeerte of onsuksesvolle pogings om hul alkohol verbruik te verminder of te beheer. Wil jy ophou, maar kan nie?
  3. Baie tyd word bestee aan aktiwiteite wat nodig is om alkohol te verkry, te gebruik of om van die gevolge daarvan te herstel. Neem drank jou lewe oor?
  4. ‘n Smagting (craving), of ‘n sterk begeerte of drang om alkohol te gebruik. As jy nie kan drink nie, dink jy die heeltyd aan drank?
  5. Herhaalde alkoholgebruik wat daartoe lei dat die persoon in gebreke bly om hul verpligtinge by die werk, skool of huis na te kom. Staan jou drinkery in die pad van daaglikse aktiwiteite?
  6. Voortgesette alkoholgebruik ongeag aanhoudende of herhaalde sosiale of interpersoonlike probleme wat veroorsaak of vererger word deur die gevolge van alkohol. Kom drank in die pad van jou verhoudings?
  7. Belangrike sosiale-, beroeps- of ontspanningsaktiwiteite word prysgegee of verminder as gevolg van alkoholgebruik. Mis jy uit op belangrike dinge as gevolg van alkohol?
  8. Herhaalde alkoholgebruik in situasies waarin dit fisies gevaarlik mag wees. Drink jy in omstandighede waar dit gevaarlik is, of doen jy onnosele dinge terwyl jy drink, soos om te bestuur onder die invloed van alkohol?
  9. Alkoholgebruik word voortgesit, al besef die gebruiker dat enige fisiese of sielkundige probleme heelwaarskynlik deur alkohol veroorsaak of vererger word. Weet jy drank is nie goed vir jou nie, maar jy doen dit in elk geval?
  10. Toleransie, of verhoogde hoeveelhede alkohol wat benodig word om dieselfde effek te verkry, of die verkryging van ‘n verminderde effek wanneer dieselfde hoeveelheid alkoholgebruik word. Moet jy meer drink as voorheen?
  11. Onttrekking, of die kenmerkende onttrekkingsimptome vir alkohol sowel as die neem van ‘n bensodiasepiene (kalmeermiddels) om alkoholonttrekkingsimptome te verlig of te vermy. Voel jy onttrekkingsimptome wanneer jy ophou drink?

Ligte, matige en ernstige alkoholgebruiksversteuring (AGV)

Die DSM-5 klassifiseer AGV’s verder volgens erns, bepaal deur die hoeveelheid van die elf diagnostiese kriteria waaraan voldoen word.

  • ligte AGV’s – gedefinieer as die teenwoordigheid van 2-3 kriteria;
  • matige AGV’s – gedefinieer as die teenwoordigheid van 4-5 kriteria;
  • ernstige AGV’s – gedefinieer as die teenwoordigheid van 6 of meer kriteria.

Alkoholgebruiksversteuring is nie ‘n tros-B versteuring nie, maar doodrustige mense verander soms in monsters as hulle gedrink het en toon dieselfde simptome onder die invloed van drank as die tros-B persoonlikhede. Dit gebeur nie by almal met alkoholgebruiksversteuring nie, maar sommige mense met hierdie versteuring neem die gedrag van tros-B versteurings aan onder die invloed van drank.

Daarom noem ek dit weer die +1 versteuring.

Ek wil dit baie duidelik stel dat die bogenoemde dit nie ten doel het om mense te diagnoseer nie.  Dit vat soms maande se intensiewe ondersoek om tot so ‘n diagnose te kom.  Die idee is meer om vir jou ‘n beeld te gee van hoe die profiel van so ‘n emosionele mishandelaar mag lyk en hoekom hulle optree soos hulle optree, wat jy ook later in hierdie dokument agter sal kom.

Die belangrikste doel van hierdie artikel is egter om te besef dat dit moontlik nie altyd jou skuld mag wees nie. Soos wat jy ook later in hierdie artikel sal verstaan, is dat jy angs- en selfbeeldprobleme mag ontwikkel.  Die einddoel is om jou te laat besef dat jy nie verkeerd, mal of die een met die probleem is nie.  Wat belangrik is, is dat hierdie 4 -1 +1 se verskille nie so belangrik is as die ooreenkomste nie.

Die ooreenkomste wat hulle deel is dat hulle:

  • woede, of dit nou op fisiese-, verbale- of emosionele mishandelingsvlak na vore kom;
  • nie belangstel om kwessies op te los nie en van drama hou;
  • beherend, selfs manipulerend en verslaaf aan die gevoel van mag is;
  • gedisorganiseerd is;
  • emosionele uitbarstings het;
  • selfsugtig is;
  • onvoorspelbaar is;
  • ‘n gebrek aan empatie het en nie enigsins in jou opinies, gedagtes en gevoelens belangstel nie;
  • geen insig in hul eie optrede het nie;
  • hul naasbestaandes emosioneel mishandel;
  • nie op ‘n gesonde veilige manier kommunikeer nie;
  • manipulerend is;
  • geen skuldgevoelens of erkenning vir hul dade toon nie;
  • geen verantwoordelikheid vir hul gedrag neem nie;
  • geen respek vir ander se waardes het nie en;
  • emosioneel afwesig is.

Alhoewel ons hier van ooreenkomste praat, is dit soms moeilik om die verskil tussen die verskillende versteurings te bepaal – daarom dat ons van tros-B persoonlikheidsversteurings praat.  Die grootste ooreenkoms tussen hierdie versteurings is dat hulle almal emosionele mishandelaars is.

Die verskille is:

antisosiale persoonlikheidsversteurings is nie gepla deur die seerkry wat hulle veroorsaak nie;

  • mense met narcissistiese en grenslyn persoonlikheidsversteuring aan die ander kant, word gedryf deur ‘n gevoel om veilig te voel; om hulle gevoel van vrees te verminder;
  • mense met narcissistiese persoonlikheidsversteuring se grootste vrees is om uitgevang te word;
  • mense met grensgraad persoonlikheidsversteuring se grootste vrees is om verwerp te word;
  • mense met alkoholgebruiksversteuring is bloot net kwaad as hulle gedrink het.

Dit is nie net jy wat deur hierdie mense om die bos gelei word deur hulle ongelooflike sjarme en oortuigingsvermoë nie.  Hierdie mense beïndruk almal om redes wat ons later sal sien.  Dit is hierdie mense wie base, leiers, regeerders en mense van mag word, aangesien hulle die meeste oortuigingsvermoëns het. Hierdie is die mense wat in magsposisies gekom het en die wêreld in chaos gedompel het.  Sonder om verder daarop in te gaan kan jy self in die geskiedenis terugdink aan hoeveel van hierdie mense diktators geword het en hul lande, soms selfs die hele wêreld in chaos gedompel het – dink maar aan leiers soos Adolf Hitler, Alexander die Grote, Joseph Stalin, Saddam Hussein en vele meer.  Dit is die mense wat ‘n hele bevolking kon kry om vir hulle te stem om die mag te verkry. Hulle is charismaties en sal in mag kom, of dit is om ‘n wêreldleier te word, ‘n baas, of finansiëel, intellektueel of sosiaal ‘n suksesvolle mens te word. 

Gert kon ‘n hele klomp ervare sakemanne om sy pinkie draai.  Hierdie tipe mense het al voortvarende lande verwoes, magtige instansies bankrot gelaat, pratige, magtige en mooi vroue en mans het al halsoorkop vir hul ongelooflike sjarme geval. 

Hoe skape gevang, geëet en weer uitgespoeg word

Die mishandelaar verlei jou, kry jou in hul kloue, mishandel jou en spoeg jou dan weer uit.  Die proses opgesom, lyk min of meer soos volg:

  1. die proses skop af met die visvang of die romantiese Jy word met alle romantiese dade en woorde letterlik in gekatrol;
  2. wat dan opgevolg word deur die spanningsfase waar spanning bou en kommunikasie verlore gaan;
  3. hierop volg die mishandelingsfase, wat;
  4. weer opgevolg word deur die versoeningsfase waarin die mishandelaar verskoning vra en belowe om te verander, of die empaat blameer vir alles, of sê dit was nie so erg nie – dinge gaan van nou af anders, beter wees;
  5. gevolg deur die kalmte fase, waar die insidente vergete is;
  6. en dan begin alles weer vanvooraf waar jy iewers in hierdie fases uitgespoeg om net daar gelos te word.

Kom ons bekyk hierdie fases meer in diepte:

Romantiese of visvang fase

Alvorens die wolf die skaap kan vang, moet hulle eers hul skaapsklere aantrek sodat die skaap kan dink dat dit een van hul eie spesie is. Die wolf skep vertroue by jou en vang jou so in hul strik.

Schalk* het as student, jare gelede, hierdie vriend ontmoet.  Dit was die ongelooflikste mens.  Hulle het alles gedeel en mekaar op ‘n sielsvlak ontmoet wat geen sterfling ooit sou verstaan nie.  Hul wêreld was gevul met intellek, gedigte, kuns en musiek. Schalk sê hulle het een met mekaar gevoel.  Hy was aantreklik, gevoelvol, simpatiek, opgewek, intellektueel en bloot ongelooflik.

Anton* het vir Schalk so ingetrek in ‘n gedeelde wêreld wat nie van hier was nie.  Skielik was Schalk se jare-lange vriende nie meer goed genoeg nie.  Hulle was nie op dieselfde vlak as hy en Anton nie.  Hulle sou dit nooit verstaan nie. Schalk sou naweke saam met hom spandeer in sy pragtige huis in ‘n ander ongelooflike wêreld. Anton sou hom vertel van ‘n ander vriendskap wat hy gehad het wat net so intiem was, dat hulle soms ‘n bed gedeel het.  Schalk sou nie omgee om selfs ‘n bed met hom te deel, as deel van hul sielsgenootskap nie. Hy het nog nooit nader aan enigiemand gevoel as aan hom nie. Schalk, heeltemal hetroseksueel, sou ook nie omgee om sy siel en lyf met hom te deel nie.

Anton het egter ‘n meisie gehad wat soos ‘n nagtegaal gesing het.  Daar was ‘n onmiddellike aantrekking tussen Schalk en haar.  Anton het besef dat sy verlief op hom was. Een aand, in ongelooflike broederliefde het Anton aan Schalk vertel dat sy eintlik verlief was op hom wat Schalk is en dat Anton haar vir hom wil gee. Wie het al ooit sulke vriendskap ervaar? Dit was werklikwaar die ongelooflikste, mees onvoorwaardelike gebaar. Hulle het mekaar daardie aand omhels soos geen geliefdes ooit het nie, soos Schalk nog nooit ‘n meisie, nie eens sy ma, omhels het nie. Schalk en Lanelle* het kort daarna in ‘n verhouding betrokke geraak met Anton se seën en liefde daarop.

In hierdie fase gooi die wolf hul aas in die water, heerlik en lekker en wag vir jou om te byt. Jy word oorlaai met romantiek, sjarme, liefde en empatie (of sogenaamde empatie). Dit is vir niemand moeilik om nie aan hierdie aas te byt nie.  Jy dink jy het die boerpot geslaan.  Hierdie persoon is net te ongelooflik vir woorde.

Hulle kom so eg en opreg voor, dat mense jou nie sal glo as jy vir hulle vertel wat regtig gebeur nie.  Hulle mislei selfs ervare sielkundiges met die grootste gemak.  Soos ek reeds genoem het, kies die tros-B’s mooi, suksesvolle of ryk lewensmaats, aangesien dit hulle ego streel.  Sodra julle saam begin bly of trou, begin die mishandeling.  Hulle voel bedreig en moet alles moontlik doen om hulle maat onder hul beheer te bring.  Hulle begin om hul maats te isoleer van hul familie, vriende, geld, hulpbronne, breek selfs hul self-esteem deur onder ander van Gasbeligting (wat ek later sal verduidelik) gebruik te maak.

Dit is natuurlik om seker te maak dat hul maats hulle nie verlaat nie, maar eerder onafskeidbaar afhanklik van hulle raak. 

Na hulle broederlike omhelsing die vorige aand het Anton die volgende dag vir Lanelle gebel en gedreig om pamflette te druk om vir die hele kampus te vertel hoe sy meisie en beste vriend hom verloën het.  Schalk kon nie verstaan hoe hierdie wonderlike vriendskap skielik daarmee heen was nie.  Anton het hom skielik gehaat en ondermyn.  Anton het dieselfde patroon gevolg met sy daaropvolgende verhoudinge. Jy mag dalk dink dat jy die verkeerde een is in dit wat tussen julle verkeerd geloop het totdat jy agterkom dat hierdie patroon ditself bly herhaal en dat jy maar net die gemenedeler is.

Anton het intussen in ‘n nuwe verhouding betrokke geraak met ‘n ander man.  Sake tussen hulle het ook skeefgeloop en hy het hierdie man blootgestel in die pers, presies soos hy Lanelle gedreig het.  Die aandag wat die pers gelok het, het ander geraamtes in Anton se lewe blootgelê. Tragies het Anton sy eie lewe beëindig.

Die tros-B’s hou hulself voor as hierdie ongelooflike mense wat hul slagoffer se voete onder hulle uitslaan. 

Maar hoe vang hulle dan vis?

  • Eerstens, assesseer hulle

Hierdie mense het die wonderlikste vermoë om jou baie vinnig op te som.  Hulle is op die uitkyk vir mense met sekere karaktertrekke, veral lojaliteit, eerlikheid, geloofwaardigheid, medelye en optimisme.  Daar mag meer wees, maar hierdie is die belangrikste eienskappe waarvoor hulle op die uitkyk is. Hulle is ook op die uitkyk vir mense met sterk waardes en oortuiginge, geloof in godsdiens of in die mensdom.  Hulle is veral op die uitkyk vir mense met groot empatie.  Hulle soek die sogenaamde naïewe, goedgelowige empate uit (waarvan ek jou later meer sal vertel). Hulle soek mense wat in hul eie lewens self seergekry het en teer dan op die empatie van hierdie mense wat weet hoe dit voel om seer te kry.

  • Tweedens, wen hulle jou vertroue

Hierdie mense het ‘n ongelooflike vermoë om jou hoop en drome te kan lees. Hulle het die vermoë om jou letterlik in te suig met hulle ongelooflike en intense belangstelling in jou, jou lewe en wêreld.  Hulle skep hierdie surrealistiese wêreld en toon besonderse begrip vir jou.  ‘n Fantasie wat lyk of dit werklikheid word.  Dit voel net te goed om waar te wees.  Hulle laat jou voel soos niemand jou nog ooit laat voel of verstaan het nie.  Of dit nou in besigheid, liefde – of op watter vlak ookal is.  Hulle sal die kruideniersware koop, jou huur betaal of jou oorlaai met komplimente of geskenke, duur oorsese reise of die mees gelukkigste toekomstige gesin ooit. Jy val in hulle arms, want jy is oorweldig.  Die aas is net te goed.  Jy voel dat jy die Boerpot gewen het!

  • Derdens, neem hulle

Soos jy later in hierdie artikel sal agterkom, begin jy besef dat jy hierdie persoon se eiendom geword het, fisies, geestelik, finansieel en ook emosioneel. Jy trek baie gou saam met die persoon in of trou blitsvinnig.  Jy bou jou hele wêreld rondom hierdie persoon.  Jy gee nie om wat jou vriende of familie sê nie – hulle is waarskynlik net jaloers.  Julle is immers sielsgenote (soul mates).  En voor jy mishandel kan sê, deel julle alles – selfs ‘n bankrekening en wagwoorde. Om nie eens te praat van die passie tussen julle nie.  Jy het nog nooit soveel passie, intensiteit en liefde ervaar nie. Jy word net vertel hoe wonderlik jy is, jou bad word getap met roosblare en selfs meer. Jy word meer as gereeld vertel hoe lief hulle vir jou is.  Dit word liefdesbombardering (love bombing) genoem. Die persoon is die ongelooflikste, mees betrokke, mees versorgende, mees liefdevolle steunpilaar wat jy ooit sal kry.

Jy begin geleidelik besef dat iets verkeerd is.  Iets voel net nie reg nie. Jy kan nie jou vinger daarop plaas nie, maar dink dat die probleem by jou lê.  Jy kom mettertyd agter dat hy ‘n ander vrou uitneem.  Skielik het sy laatnag gesprekke met ‘n ander man. Maar jy glo hulle leuens – eet dit vir soetkoek op. Jy glo dit is maar net jou eie verbeelding en dat jy anders moet dink. Jy begin stelselmatig ook besef, asof jy uit ‘n winterslaap ontwaak, dat hy lanklaas vir ‘n ete betaal het.  Intimiteit en passie is nou iets van die verlede. Ten minste kom dit van tyd tot tyd terug en ander mense dink steeds hierdie persoon is wonderlik. Dit is waarskynlik maar net jou verbeelding. Daar is egter iets wat net verkeerd bly voel.  Iets wat net nie wil klop nie, maar jy bly vasklou aan hierdie droom waarop jy verlief geraak het.

Jare terug was daar ‘n manstydskrif wat op ‘n bepaalde bladsy altyd ‘n foto van ‘n mooi meisie geplaas het wat baie lyf gewys het.  Hulle het dit genoem: hey it is your ex-girlfriend.  Die artikel was in die vorm van ‘n onderhoud met hierdie meisie oor haar gewese mansvriend.  Daarin kon sy alles sê wat hy verkeerd gedoen het en waarom hy sy hart uit kan eet omdat hy haar verloor het.  Heel onder in die hoekie was daar ‘n foto van die ex geplaas waarin hy in net een sin kon reageer.  Een vorige mansvriend se kommentaar was: ek sal altyd my aanvanklike wanopvattings van jou bly koester. (I will always cherish my initial misconceptions of you).  

Jy is ingesluk, maar nou moet jy in-gehou (sic!) word.

Die spanningsfase

Spanning breek nou aan.  Jy begin besef iets is verkeerd.  Jy kan net nie jou vinger daarop plaas nie, maar jy begin die mishandelaar bevraagteken, gesprekke uit te lok, selfs te bevraagteken.  Emosionele mishandeling volg wanneer hierdie spanningsfase aanbreek.   Jy begin om hierdie kwessies aan te spreek en word begroet met emosionele mishandeling.

Emosionele mishandelingsfase

Ons gaan vir ‘n lang ruk by hierdie fase stilstaan.  Ons werk hier met die kern van die uitdaging – emosionele mishandeling.

Emosionele mishandeling is ʼn tipe breinspoeling wat sistematies die mishandelde se selfvertroue en sin vir selfwaarde afbreek. Emosionele mishandeling is wanneer jy konstant moet hoor hoe sleg jy, jou vriende, jou familie, jou werk, jou waardes en alles wat vir jou belangrik is, is. Dit veroorsaak dat jy nie meer in jouself glo nie, al spreek die feite die teendeel en al besef jy ten diepste die teendeel. Jy hoor hierdie dinge oor en oor.  Later begin jy dit (teen alle rasionele feite) te glo.  Emosionele mishandeling kom in sy diepste wese neer op aggressie.  

Aggressie kom in verskillende vorme voor. Kom ons gaan kyk na die mees basiese vorme:

  • Overte mishandeling

Overte mishandeling is aggressie wat jy met die blote oog kan sien.  Dit kom voor op die volgende voor-die-hand-liggende maniere:

  • fisiese aggressie

Dis die mees overte vorm van aggressie waar daar fisies aggressief opgetree word. Waar jy of jou besittings verinneweer word, jy verkrag word, jou kinders, selfs jou troeteldiere aangerand of selfs vermoor word;

  • verbale aggressie

Verbale aggressie behels beledigings, afkraking, etikettering (name calling), sarkasme, beskuldigings, blamering, dreigemente, verkleinering, kritiek en bevele. Die mishandelaar plaas hulself in ʼn meerderwaardige posisie en eien hulself die reg toe om jou te kritiseer. Verbale aggressie kan ook meer koverte vorme inneem soos advies, analisering, verkleinering en ondervraging. Dis egter net meer subtiele maniere om jou minderwaardig te laat voel, alhoewel dit soos hulp lyk. Ek weet van beter en jy kan nie sonder my nie;

  • emosionele aggressie of emosionele mishandeling (abuse)

Dit behels dat iemand ʼn ander persoon onder hul beheer probeer kry, deur mag en beheer. Daar word gepoog om mag oor jou te verkry deur van ʼn verskeidenheid tegnieke gebruik te maak.  Dinge soos vrees, vernedering, intimidasie, skuldgevoelens, manipulasie, dwang, konstante kritiek en selfs fisiese aanranding om jou te onderwerp aan hulle en hul verwagtinge. Ons gesels later meer hieroor.

  • Koverte mishandeling

Koverte mishandeling is subtiele mishandeling wat jy nie dadelik of selfs met die blote oog raaksien nie. Jy word subtiel gemanipuleer en daar word subtiel beheer oor jou hele lewe geneem.

ʼn Professor in sielkunde wou eendag vir sy studente demonstreer hoe kondisionering werk. Die studente moes een persoon op kampus identifiseer. Elke keer as hulle hierdie persoon op kampus gesien het, moes hulle vir hom sê dat hy bleek lyk en hom vra of hy nie dalk siek, naar voel of dalk diarree het nie. Dit terwyl hierdie student niks makeer het nie. Hy het op daardie betrokke dag hierdie stellings soveel keer gehoor dat hy, as gevolg van die herhaling daarvan, dit begin glo het. Dit was ook presies wat met hom gebeur het.  Sonder enige rasionele redes, het hy begin opgooi en diarree kry.

Dit is wat met die mishandelde gebeur. Hulle begin later glo dat hulle die een is wat fouteer of iets verkeerds gedoen het. Dat dit alles hulle skuld is, al het hulle niks daarmee te make gehad nie.

Koverte mishandelaars mishandel, verneder en maak veral hul naaste geliefdes seer.  Hulle maak gebruik van ‘n magdom taktieke om hul slagoffers se realiteit te verwar, verantwoordelikheid te ontduik en jou die heeltyd op die verdediging te kry sodat jy later so verward raak en nie die probleem op kan los nie. Wat jy hieronder sal lees is alles deel van die afleidingstaktieke wat hulle gebruik sodat jy nie meer seker is oor wat julle eintlik bespreek het nie, of dat jy so van jou gedagtelyn afgeforseer word, dat jy selfs nie eens meer kan onthou wat die punt was wat jy probeer maak het nie. Wanneer jy die volgende lees, lees dit in die lig van hulle eie onsekerhede wat ek later meer volledig sal bespreek.

Hulle maak gebruik van die volgende:

  • gasbeligting (gaslighting)

Gasbeligting is ʼn vorm van emosionele mishandeling waarin die mishandelaar die situasie herhaaldelik manipuleer om die slagoffer te kry om hul eie geheue en persepsies te wantrou. Dit laat die slagoffer alles waarop hulle hul hele lewe staatgemaak het bevraagteken en maak hulle onseker van alles. Gasbeligting word veroorsaak deurdat die slagoffer alles sal glo wat die mishandelaar vir hulle vertel, ongeag hul eie ervaring van die situasie.

Tipiese voorbeelde van gasbeligtingsdialoë sal wees: dit het nooit gebeur nie, is jy regtig seker daarvan, jy verbeel jouself en is jy mal? Gasbeligting is een van die mees sluwe manipulasies om jou sin vir werklikheid te vernietig. Jy weet nie meer wat is die waarheid en wat is nie.  Soms kan gasbeligting aggressief en reguit wees en soms is dit so subtiel dat jy dit nie eens agterkom nie. Jy vertrou niemand meer nie, veral nie jouself nie.

In 1938 het die verhoogstuk, Gas Light die lig gesien.  In hierdie verhoogstuk probeer die man sy vrou mal maak deur van ʼn verskeidenheid tegnieke gebruik te maak om haar in haar eie geestesgesondheid en persepsies te laat twyfel. Die man verdof die res van die huis se ligte terwyl hy gebruik maak van lanterns om na skatte in die solder te soek. Wanneer sy vrou dit agterkom, dring hy daarop aan dat dit nie waar is nie, maar slegs haar verbeelding is. Hierdeur probeer hy sy vrou en ander mense oortuig dat sy kranksinnig is en dinge verkeerd onthou. Dit is omdat sy nie die ware realiteit kan sien nie en sodoende begin sy haar eie oordeel wantrou. Sy begin ook glo dat dit haar fout is. Die vrou word te bang om enige kwessie te opper, omrede sy vrees dat sy verkeerd mag wees of dit nie reg onthou nie. Sy sal dan sogenaamd “gehelp” word om dinge reg te onthou. 

Dit is egter ‘n proses wat oor tyd gebeur. Dit begin aanvanklik met ‘n leuen hier, ‘n geveg of opmerking daar en dan word dit geleidelik al hoe meer.  Jy kom dit nie eens agter nie.  Aanvanklik dink jy dat dit maar normaal is. Jy dink nie eintlik daaraan nie of vergeet selfs daarvan.  Later besef jy dat daar iets verkeerd is, maar jy kan nie jou vinger daarop plaas nie.  Dit bring ons terug by die storie van die padda en die pot water? Eers het die navorsers ‘n padda in ‘n pot kokende water gegooi.  Die padda het dadelik uitgespring, want die water het hom gebrand.  Daarna het hulle die padda in ‘n pot met koue water gesit, waarin die padda gemaklik gesit het.  Hulle het die water geleidelik warmer gemaak en die padda se sisteem het geleidelik aangepas.   Later het die water kookpunt bereik en die padda verbrand.

Maar voordat jy heeltemal verbrand, of voordat jy kies om die verhouding te verlaat, word daar iets goed vir jou gesê.  Koue water word nou in die pot bygevoeg. Dit verwar jou totaal en al, vang jou heeltemal onkant en jy bly in die verhouding. Ek sal later weer hierna verwys wanneer liefdesbombardering verduidelik word.  Eintlik wil die mishandelaar hul maat se realiteit verander sodat hul eie realiteit vir hulself nie so vreesaanjaend is nie. Hulle verdedigingsmeganismes (sien gerus my artikel oor Sielkundige verdedigingsmeganismes op hierdie webtuiste) is so oorweldigend, dat hul sin vir integriteit of gewete totaal onderdruk is.  Dit gaan vir hulself om hul behoeftes, asof dit ‘n stryd om oorlewing is.

  • dissosiasie

Hulle onthou dinge veel anders as ander mense of soms onthou hulle dinge glad nie. Ons mag dink dat hulle lieg, maar hulle lieg nie – hulle onthou dinge net veel anders as wat ons doen.  Hulle glo hul leuens is realiteit en die ware verloop van sake, al weet jy dit is nie die geval nie. Hulle beskik ook oor die vermoë om aan die einde van jul verhouding totaal en al van jou te vergeet, asof jy nooit bestaan het nie;

  • projeksie

Projeksie is eintlik ‘n sielkundige verdedigingsmeganisme wat ons almal maar gebruik. Jy kan meer hieroor lees op my webtuiste oor sielkundige verdedigingsmeganismes op www.jorganharris.co.za in die artikel Sielkundige verdedigingsmeganismes. Projeksie is wanneer ons ons eie eienskappe wat ons nie van onsself wil erken nie, letterlik op ander mense projekteer.  Ek dink jy het ‘n lelike neus, is ‘n eenvoudige voorbeeld van projeksie.  Ek hou nie van my eie neus nie, maar ek kan of wil dit nie in die gesig staar nie en sien net ander mense se lelike neuse raak.  Ek dink jy is pateties, is ‘n ander klassieke voorbeeld.  Ek kan my eie gevoel van pateties-wees nie hanteer nie en ontken dit deur iemand anders as pateties te sien.

Projeksie by die tros-B’s vind net op ‘n meer intense en patologiese vlak plaas.  Hierdie mense weier gewoonlik om verantwoordelikheid te neem vir hul eie optredes en verplaas dan hul eie negatiewe gedrag op ander mense, veral die mense naaste aan hulle.  Byvoorbeeld: Hulle mag te veel drink, maar sal jou die heeltyd beskuldig dat jy die een is wat te diep in die bottel kyk. Of hulle beskuldig jou dat jy leuens vertel of dat jy mal is en so lei hulle jou aandag af van dit wat hulle eintlik besig is om te doen.

Gewoonlik sal hulle ander mense beskuldig van tros-B versteurings. Hulle sal intense navorsing op Google doen om te bewys dat ander mense tros-B’s is, maar hulle sien nie hul eie versteuring raak nie; 

  • blaamverskuiwing

In noue aansluiting by ons vorige punt, kry ons die sogenaamde blaamverskuiwing.  Jy probeer die persoon se gedrag of optrede aanspreek, maar die blaam word heeltyd na jou toe teruggeskuif.  Kort voor lank is jy op die verdediging en kom die persoon met hul eie gedrag weg. Mishandelaars blameer ander mense vir alles om sodoende te weier om verantwoordelikheid vir hul aksies te aanvaar, die mishandelde skuldig te laat voel en te laat voel dat hulle nie goed genoeg is nie.  ‘n Tipiese voorbeeld hiervan is: ek drink nie te veel nie, dit is jy wat te veel drink, of ek drink te veel omdat jy die heeltyd vir my wyn skink. Ek tree so op omdat jy te min aandag aan my gee; 

  • ontkenning en miskenning

Jou persepsie en mening van dinge word as minderwaardig geag. Jy word as mens en in jou opinie ontken, sou jou mening enigsins van hulle mening verskil. Jou gevoelens word ook ontken en dit lei tot die verlies aan selfvertroue.  Ontkenning kan ook beteken dat die mishandelaar, wanneer jy hulle konfronteer, ontken dat hulle dit ooit gesê het of jou gevoelens ontken. Byvoorbeeld: Ek het dit nooit gesê nie.  Jy verbeel jou.  Jy weet hulle het dit gesê, maar jy betwyfel jouself. Selfs al het jy die bewyse, sal hulle dit steeds ontken.  Jy begin om jou eie geheue of persepsie van gebeurtenisse te bevaagteken. Hoe meer dit gebeur, hoe meer bevraagteken jy jou eie realiteit en hoe meer begin jy hulle realiteit aanvaar. Die padda pas aan soos die water in die pot warmer raak. Dit is alles tegnieke om jou te laat vergeet wat die eintlike ding is waaroor julle praat of verskil het.

  • weerhouding

Weerhouding is ʼn ander vorm van ontkenning. Dit word soms ook passiewe aggressie genoem. Weerhouding behels die weiering om na jou te luister, met jou te kommunikeer, selfs emosionele of fisiese onttrekking, beter bekend as die sogenaamde silent treatment.

  • gespreksverandering

Hierdie punt sluit baie nou aan by die vorige punt.  Die gesprek word die heeltyd verskuif om aandag van die punt af te lei.  Gesprekke om die probleem op te los, lei absoluut na nêrens. Hulle maak jou argumente af as verkeerd of niksseggend.  Hulle verwar en frustreer jou.  Die gesprek dwaal altyd af van die punt wat jy wil maak.  Hulle swaai die gesprek so om dat jy soos die skuldige lyk en kort voor lank is jy weer op die verdediging of besig om verskoning te vra.  Voor jy jou oë uitvee is jy weer die verkeerde en skuldige een en jy het geen idee hoe jy weer in hierdie posisie beland het nie. Alles word in die pot gegooi om jou van stryk af te bring. Skielik kom ander aspekte in – of dit nou jou kindertyd, vriende, loopbaan, iets wat jy sewe jaar gelede gedoen het of lewenskeuses is.  Die gesprek word altyd na jou teruggegooi. Hulle verplaas dus die fokus wat op hulle (en hul eie probleme) was na jou. Jy verloor die punt en mettertyd weet jy nie meer waar jy in die argument is of selfs wat jou eie standpunt was nie.

Mike* en Susan* is getroud na ‘n blitsromanse.  Dit was wonderlik en Susan was in alle opsigte die regte vrou vir hom.  Kort na die troue kom Mike agter dat Susan ‘n alkoholprobleem het en dat sy mishandelend raak wanneer sy gedrink het.  Hierdie argumente het gereeld gebeur as sy gedrink het.  Mike is ‘n empaat, waaroor ek later gaan uitbrei en het gespanne geraak elke keer as die argumente opgekom het, selfs reeds wanneer die bottel uit die kas gehaal word.  Die bakleiery het veroorsaak dat daar afstand tussen hulle ontstaan het en dat daar na die wittebrood geen intimiteit meer was nie.  Meeste van hierdie dronk-bakleiery het gegaan oor die gebrek aan intimiteit waar sy hom onder andere ook impotent genoem het. Mike het aan haar probeer verduidelik dat dit nie die probleem was nie, maar dat hierdie dronk-bakleierye hom ver van haar af laat voel en te gespanne maak om intiem te kan of wil wees.  Sy sou egter voortgaan om hom van impotensie te beskuldig.  Wanneer hy homself probeer verdedig deur te sê dat hulle wel intiem was op die wittebrood en dat daar nie ‘n probleem was nie, was haar reaksie dat dit net twee keer gebeur het.  Mike probeer dan verduidelik dat dit meer as twee keer gebeur het.  Die geveg verskuif nou na die hoeveelheid kere dit op die wittebrood gebeur het en die aandag word totaal en al weg gelei van die oorspronklike probleem, haar drankprobleem en wat gebeur as sy gedrink het;

  • val jou belange aan

Jy sal afgekraak word met alles wat vir jou belangrik is. Hulle sal jou werk, jou familie, jou belangstellings, stokperdjies of jou ambisies afkraak, want hulle weet waar jou swakpunte lê. Hulle weet wat jou seermaak en hulle sal soos ‘n bokser met ‘n opponent met ‘n oopgekloofte oog die heeltyd op daardie oog bly mik en slaan.  Om ‘n vrou die seerste te maak, is om haar kinders seer te maak.  Die mishandelaar sal juis dit uitbuit, selfs al is dit sy eie kinders.  Hulle gee bloot nie om nie – dit gaan net oor hulself en hul gevoelens en behoeftes.

Anne* het geweet dat Jacques se pa vir hom baie belangrik is.  Sy sou nie skroom om vir hom te vertel watter mislukking sy pa is, hoe hy ‘n alkoholis is, hoe hy nutteloos is nie.  Dat hy nie sou skroom om na haar bene te staar as sy met ‘n kort rokkie die trappe opklim nie;

  • minimalisering

Minimalisering is ʼn minder ekstreme vorm van ontkenning en miskenning. Wanneer jy sê hoe jy oor iets voel wat hulle gesê of gedoen het, kan jy stellings hoor soos:  jy is te sensitief; jy oordryf nou; jy ruk dit buite verband. Jou gevoelens word as minder belangrik of selfs onbelangrik (trivia) afgemaak.

Jou self-esteem word in die proses geminimaliseer of afgebreek. Jou gevoelens is eintlik onbelangrik of simpel. Selfs agter ‘n sogenaamde onskuldige grap, lê daar mishandeling;

  • kognitiewe dissonansie

Kognitiewe dissonansie, is soos ons reeds gesien het – waar die mishandelaar, ten spyte van die feite wat jy vir hulle gee, steeds die feite ontken en jou laat twyfel. Soos genoem staan hulle bankvas in wat hulle glo die realiteit en die waarheid is en in die proses begin jy ook kognitiewe dissonansie ervaar en jy betwyfel jouself, ongeag die feite op die tafel. Jy kan ook nie verstaan hoe jy dinge so verkeerd kon lees deurdat hierdie perfekte persoon wat jy aanvanklik ontmoet het, nou so kan optree nie.  Die fout moet by jou lê.  Met die begrip kognitiewe dissonansie sal ons ook later sien dat die mishandelaar dit regkry om mense teen jou te draai.

  • leuens

Jy kan hierdie mishandelaars ook herken aan die konstante leuens wat hulle vertel.  Daar word soms gepraat van patologiese leuenaars.  Hulle sal selfs oortuigende leuens vertel, al is daar geen rede om te lieg nie.  Leuens soos:  wat hulle saam met hul ontbyt gedrink het, hoe laat hulle opgestaan het.  Hulle sal leuens vertel al is dit onnodig of van geen waarde.  Dit is asof hulle sukkel om te kan onderskei tussen waarheid en leuen. Soms hou hulle inligting terug, wat ook as ‘n vorm van leuens gesien kan word. Daar is egter ‘n rede vir hulle leuens wat ons dan ook later sal bespreek.

Ek wonder of jy reeds die idee kan kry dat hierdie mense waarskynlik nooit leuens vertel nie. Selfs al wys jy hul leuens vir hulle uit sal hulle dit nie erken nie.  Dit kom voor asof daardie leuens volgens hul eie kognitiewe dissonansie hulle eie waarheid is.  Hul leuens is hul realiteit en word baie oortuigend vertel, maar hierdie leuens laat jou ook weer onseker voel rakende jouself en jou eie waarheid.  Jy weet dit is ‘n leuen maar is ook nou nie meer so seker van jouself nie.

  • konstante chaos

Die mishandelaar begin berekend raak met argumente en is in konstante konflik met die mishandelde en mag selfs verslaaf wees aan drama, aangesien dit opwinding skep.   Hierdie aspek van opwinding kan ons gerus in die agterkop hou, want ons gaan later weer hierby uitkom;

  • gefabriseerde reaksies

Hulle skep aspris chaos en sit dan terug, speel onskuldig en blameer jou wanneer jy daarop reageer of ontsteld raak. Ons gaan dit later weer sien wanneer ons reaktiewe mishandeling bespreek. Hulle sal jou uitlok tot reaksie en wanneer jy dan ingee en reageer, sal hulle jou soos die verkeerde een laat voel en vir jou iets vertel soos: ek gaan nie hierdie argument met jou voortsit nie.  Hulle kan vir jou op ‘n baie kalm, rustige manier vra hoekom jy dan so kwaad is. Hierdie mense is geneig om sag en stadiger van nature te praat. Dit laat jou verder voel asof daar iets met jou verkeerd is.  Hulle is ook lief daarvoor om jou uit te lok en wanneer jy dan reageer met woede, ‘n opname van jou reaksie te maak en dit vir almal wie wil hoor en nie wil hoor nie, speel. Hul aanvanklike mishandeling en uitlokking word natuurlik nie opgeneem en gespeel nie;

  • dominansie

Die mishandelaar wil beheer hê oor elke faset in jou lewe – wil alles weet wat jy doen, waar jy is, wie jy sien ens. terwyl die mishandelaar al die vryheid het om te doen wat hulle wil en jy mag geen vrae vra nie;

  • isolering

Isolering is die einddoel van emosionele mishandeling. Jy word totaal afgesny van jou ondersteuningsnetwerk wat jou dalk mag vertel dat daar niks verkeerd is met jou nie. Jy word afgesny van mense wat moontlike bedreigings vir hulle kan wees op die gebied van liefde. Jy word geïsoleer van potensiële nuwe vriende, veral van die teenoorgestelde geslag.  Jy word selfs geïsoleer van jou familie, vriende en enige persoon wat jou dalk net anders mag oortuig. Jy word van alles geïsoleer, selfs van jou eie finansies, sodat jy totaal in hulle mag is en glad nie daaruit kan kom nie. Die einddoel is om te verseker dat jy so alleen en van alles ontneem is, dat hierdie persoon alles in jou lewe word. Hulle wil die spilpunt wees waarom jou lewe en wêreld draai. Sodoende raak jy so afhanklik van hulle, dat jy hulle nooit sal, kan of wil verlaat nie.  Soos ons later sal sien, het die mishandelaar ‘n swak sin vir self-esteem.  Hulle voel maklik bedreig en isoleer jou om hulself te beskerm.

Christine* se man, Nicholas*, sou altyd so ‘n atmosfeer veroorsaak wanneer haar beste vriendin, Stephanie* by haar gaan kuier het. Stephanie het eerder gesorg dat sy ry wanneer Christine se man tuis gekom het.  Christine was net so gespanne as hy tuis gekom het.  As hy by haar is mag sy nie regtig vriende oorgehad het of selfs die telefoon gebruik nie, sou hy haar net dalk iets wil vra en sy dan besig is.

Sy moes uiteindelik haar werk bedank en het van hom afhanklik geraak, soveel so dat sy selfs na hul egskeiding vir ‘n ruk nog daar moes aanbly, ten spyte van die feit dat sy weer ‘n onderwyspos gekry het.  Sy moes egter eers spaar om huur en ‘n deposito te kon bekostig.   Hy het haar met die seuns (wat haar alles is) afgepers en gesê dat hy seker sal maak dat sy hulle sal verloor.  Hy het seker gemaak die seuns gaan na ‘n hoërskool waar hy hulle dan ook daar in die koshuis gesit het.  Hy het hulle die grootste leuens rakende hul ma vertel sodat hulle van haar onttrek. Hy wou haar breek en het haar gebreek.  Sy noem hom nou haar X-box. (So terloops: die een seun is nou 21 jaar oud en kry die ergste angsaanvalle.  Hy is ook woedend vir sy ma oor sy nooit vir hulle as seuns ‘baklei’ het nie en hulle aan hul pa oorgelaat en daaroor was hy woedend teenoor sy ma. Hierdie was natuurlik leuens wat Nicholas vir die seuns opgedis het. Nicholas glo tot vandag toe – en sê dit nou nog vir die seuns – dat Christine na hom toe sal terugkruip. Dit nadat hulle al meer as 12 jaar geskei is.

Die mishandeling raak nooit beter nie, maar neem progressief toe. Dit beïnvloed jou selfbeeld negatief en jy begin glo dat niemand jou ooit sal wil hê nie. Jy glo dat dit beter sal raak, maar dit raak nooit beter nie. Soveel mense glo dat ʼn huwelik en kinders die uitdaging sal oplos. Dit los nie die probleem op nie, dit eskaleer dit eerder. Juis oor dit vir die mishandelelaar meer ammunisie gee om jou mee te mishandel;

  • emosionele afpersing

Die mishandelaar misbruik jou eie vrese, skuldgevoelens, medelye en waardes om te kry wat hulle wil hê. Hulle sal jou byvoorbeeld dreig met die beëindiging van die verhouding, jou totaal verwerp, vir jou die koue skouer gee, jou afdreig met ander mense wat in hulle belangstel. Alles speletjies om jou bang te maak vir die verlies van hierdie persoon;

  • onvoorspelbare reaksies

Daar is drastiese en skielike gemoedsverandering, of woede-uitbastings wat uit die bloute kom. Jy sien dit nie kom nie, verwag dit nie. Wat vandag reg of aanvaarbaar is om te sê of te doen, mag môre om een of ander rede nie aanvaarbaar of reg wees nie. Jy weet nooit wat vir jou wag nie, jy is altyd gespanne en waaksaam om nie die verkeerde ding te doen of te sê nie, uit vrees vir daardie gevreesde woede. Dit veroorsaak konstante vrees, selfs angs by jou;

  • verwerping

Jou teenwoordigheid, waardes of selfwaarde word verwerp. Jou sienings word as onbelangrik afgemaak;

  • koverte rugstekery en verraad

Die mishandelaar kan jou net so vinnig in die rug steek.  Hulle sal jou bespreek met jou of hulle vriende ongeag hoe jy daaroor voel met ‘n teenreaksie soos:  jy weet mos ons vriende hou nie geheime vir mekaar nie.   Hulle mag selfs na daardie vorige minnaars of minnaresse terugkeer en vir hulle vertel hoe mal jy is, al het jy vantevore gehoor hoe mal hulle is.

Hulle kan jou netso, sonder enige waarskuwing, verlaat en in ‘n ander verhouding instap asof dit niks vreemds is nie.  Jy bly agter en dink hoe kon jy nie goed genoeg gewees het nie.  Hulle laat jou mooi verstaan dat hierdie persoon alles reg doen en dat die verhouding wonderlik is.  Jy is heel waarskynlik ‘n sogenaamde empaat, wat ek dan ook later sal bespreek;

  • driehoekvorming

Wanneer jy in ‘n verhouding met so iemand betrokke raak kan jy aanvanklik besef dat jy skielik nie meer van mense hou van wie jy nog altyd gehou het nie.  Later sal dit ook jou beurt wees dat mense wie altyd van jou gehou het, nou skielik ook nie meer van jou hou nie.  Nie meer by jou kuier of jou kontak nie.  Jou selfs vermy. Hulle doen dit so goed.  Hulle kom onskuldig voor, asof hulle die slagoffers is en hartseerstories vertel van hoe jy hulle te na gekom het.

Anne* het te na gekom gevoel deur iets wat haar broer gesê het.  Sy het hom eenvoudig uit haar lewe uitgeskuif. Hulle het ‘n ander suster met wie haar broer en Anne ‘n goeie verhouding gehad het.  Sy het na hierdie suster en haar man gegaan en vir hulle onwaarhede vertel op haar kenmerkende oortuigende manier.  Hulle het geen keuse gehad as om haar te glo nie. Hy is bloot uit die familie geskuif tot hul ouers se ontsteltenis, sonder dat Anne enigsins skuldig hieroor sou voel en dit sou rasionaliseer met die verweer dat dit die waarheid is en dat sy te na gekom was.

Die mishandelaar sal dan vir jou vertel dat hierdie mense ook dink dat daar fout is met jou.  Al het daardie persone waarskynlik daardie woorde nooit gesê nie, laat dit jou nog meer onseker en geïsoleerd voel.

Driehoekvorming kan ook ‘n ander vorm aanneem waarin die mening van ‘n ander persoon in die interaksie ingebring word.  Daar word ‘n ander persoon, ‘n kennis, ‘n kollega of ‘n totale vreemdeling ingebring en daardie persoon hoor die storie van die mishandelaar se perspektief af tot so ‘n mate dat daardie persoon die mishandelaar sal glo.  Weereens laat dit jou in jouself twyfel, want die ander persoon stem dan nou saam met die mishandelaar;

  • smeerveldtogte

 Smeerveldtogte is dalk driehoekvorming in die oortreffende trap.  Jy word gesien as die mishandelaar en hulle die slagoffer.  Daar word nou vir meer en meer mense vertel watter toksiese persoon jy is. Veral ook jou familie en naaste vriende word betrek in ‘n poging om jou te isoleer en af te breek. Hulle saboteur jou reputasie en jy staan meer en meer alleen.  Uitgestoot uit die samelewing.  Nie net word jy geïsoleer nie, maar hierdie mense mag selfs begin om deel te neem aan hierdie smeerveldtogte wat jou selfbeeld nog verder afbreek en jou nog meer geïsoleerd laat voel;

  • vlieënde ape (flying monkeys)

Elizabeth* is ‘n jare-lange vriendin.  Ek ken haar en haar karakter baie goed.  Sy was getroud met ‘n mishandelaar.  Hy het die egskeiding met hand en tand beveg en meer as ‘n dekade nadat sy hom verlaat het, het hy steeds haar lewe hel gemaak.  Hy sou seker maak dat sy toesig en beheer oor die kinders verloor, wat inderdaad ook gebeur het. Dit maak nie saak hoe sy haar saak voor sielkundiges, psigiaters, maatskaplike werkers en regters gestel het nie.  Hulle was almal oortuig dat sy die probleem was. Jy onthou seker nog vir Gert se oorredingsvermoë aan die begin van die artikel.

Hierdie mishandelaars kry dit op ‘n briljante manier reg om ander mense teen jou te draai, veral as die verhouding tot ‘n einde gekom het. Hulle sal vir hierdie mense allerlei leuens vertel tot so ‘n mate dat almal die mishandelaar sal glo, ten spyte van die feite wat jy vir hulle sou gee. Kognitiewe dissonansie het dan ook by hierdie mense ingetree. Jy word nou nog verder geïsoleer en natuurlik voel jy nog meer alleen, getraumatiseerd met veral verdere selftwyfel. 

Ten slotte: Dit maak nie saak wat jy doen nie, jy sal altyd die slegte een wees. Jy sal dit glo na herhaaldelike mishandeling en ander mense (die vlieënde ape) sal dit ook glo. Jy word oortuig dat jy die een is wat die probleem het.  Jy het hulp nodig.  Nooit hulle nie.

Die versoeningsfase

Hier sal die mishandelaar verskoning vra en belowe om te verander. Vir ‘n kort rukkie mag dit voel of jy terug is in die Visvang-fase, waar alles weer wonderlik is. Jy raak weer hopeloos verlief.

Hierdie fase mag egter ook gekenmerk word deurdat hulle jou mag blameer vir alles, of sê dit was nie so erg nie. As jy verander, kan dinge weer so goed wees soos aan die begin.

Kalmtefase

In hierdie fase gaan dinge nie goed nie, maar ook nie sleg nie. Dit is soos ‘n stilte voor die storm, ‘n wapenstilstand.  Jy is egter net te dankbaar dat dinge nie sleg gaan nie en verwelkom die vrede wat heers. Wat ook hier sal gebeur is dat die mishandelde vriende, familie sal vra om sekere dinge nie te doen of te sê nie, juis sodat die water nie vertroebel word nie.

Uitspoegfase

Skielik voel jy dat jy nie meer goed genoeg is nie. Jy voel nutteloos.  Hierdie persoon het jou nou net verlaat of vervang met iemand anders en jy wonder wat hierdie nuwe persoon doen wat jy nie kon doen, wees of regkry nie. Jy voel bloot nie goed genoeg nie, selfs verwerp. Jy voel uitgewas en uitgespoeg. Geweeg en te lig gevind.

Hoekom het hierdie dinge met jou gebeur?

  • Ek is geneig om te dink dat daar nie iets soos ‘n tipiese slagoffer bestaan nie. Hierdie mense kan enigiemand met hulle sjarme oortuig.  Daarom sê ek gereeld: jy was die verkeerde mens, op die verkeerde tyd, op die verkeerde plek.  Enigiemand kan ‘n slagoffer wees. Hou in gedagte dat hierdie mense lewenslange ervaring en oefening het in emosionele mishandeling.  Baie van hulle kom self uit emosioneel mishandelde huishoudings.
  • Dit lyk tog of sogenaamde empate (empaths) die grootste slagoffers blyk te wees. ‘n Empaat is iemand wat die emosies van ander mense sterk kan aanvoel en beleef. Hulle is gewoonlik versorgende mense wat baie omgee vir ander.  Hulle is gewoonlik dokters, sielkundiges, onderwysers, maatskaplike werkers, predikante, ensomeer. Dit herinner terug aan die kaskenades van Gert wat ek jou in die begin van die artikel vertel het.

Die empaat is ook iemand wat nie opgee nie en hoe harder die empaat probeer om dinge reg te stel, hoe minder suksesvol is hulle. Dit laat hulle met ‘n gevoel van minderwaardigheid.  Empate glo dat hulle hierdie mense kan red en hulle kan nie.  Aan die ander kant mag empate ook gewonde mense wees wat die seerkry van die lewe al te goed ken.  Dit is juis hul omgee wat hulle tipiese slagoffers van die mishandelaar maak.  Die ironie is dat die empate meeste van die tyd suksesvolle, talentvolle en fisiese mooi mense is. Dit is juis hierdie mense wat deur die mishandelaar raakgesien word as ‘n aanvulling tot hul eie ego’s, maar elke mens is onvolmaak en dit is juis dit wat tot die mishandelaar se mishandeling lei.

Die empaat het egter ook hul eie kindertyd traumas wat juis van hulle ‘n empaat gemaak het.  Dit is dalk die regte tyd om daardie kwessies aan te spreek.

  • Die mishandelaar sien egter die slagoffer later van tyd as ‘n bedreiging vir hul eie ego. Hulle moet die heeltyd die hef in die hand hê en as gevolg van hul diep gewortelde self-esteem probleme, sal hulle alles doen om die slagoffer in hul lewe te behou.  Al is dit om hulle af te sny van alle ondersteuning, soos familie, vriende, finansies, selfs hul eie selfvertroue.  Ons moet hier altyd besef dat dit nie gaan oor die empaat wat swak is nie. Inteendeel, dit is juis die empaat se innerlike krag wat hulle in hierdie posisie laat beland het.  Deurdat die mishandelaar die empaat gekies het, kan selfs ‘n reuse kompliment wees! ‘n Kompliment wat jy eintlik nie wou hê nie!

Ter opsomming, kon een of meer van die volgende punte ‘n rede wees waarom jy jouself in hierdie posisie bevind:

  • Jy was die verkeerde person, op die verkeerde tyd, op die verkeerde plek toe jy hierdie persoon ontmoet het. Enigiemand kan vir soiemand val.
  • Jy is dalk hoog in aansien, aantreklik of suksesvol wat ‘n aantrekking is vir hierdie mense.
  • Jy is ‘n empaat.

Wat regtig nou met jou gebeur

Emosionele mishandeling kan lei tot langdurige sielkundige probleme.  Emosionele mishandeling vind meestal in liefdesverhoudings plaas, maar dit mag ook in ander kontekste gebeur soos in die werksomgewing of selfs met vriende en ook tussen ouers en kinders. 

Tydens of na ‘n verhouding met ‘n tros-B mag jy een of meer van die volgende ervaar:

  • Angs

Wanneer jy in ‘n verhouding van enige aard met soiemand betrokke is of was, sal jy besef dat jy kroniese spanning, angs en trauma ervaar. Hierdie stres en trauma lei tot ‘n verskeidenheid sielkundige versteurings, waarvan angs die bekendste een is.

Angs word beskryf as die gevolg van sogenaamde irrasionele denke.  Ek noem angs die wat as? sindroom.  Sien gerus my artikel oor algemene angs op my webtuiste.  Angs is ‘n boodskap wat die bewuste, (of dan nou neokorteks) vanaf jou denkende brein, ontvang.  Dit is gewoonlik die negatiewe dinge wat jy vir jouself sê.  Hierdie gedagtes gaan na jou limibiese limbiese brein wat dit aanstuur na jou oerbrein (ook bekend as jou reptielbrein). Hierdie deel van jou brein aanvaar en interpreteer jou irrasionele gedagtes as werklikheid en vervaardig adrenalien vir die sogaamde veg-of-vlug-of vries reaksie;

  • Selfvertroue uitdagings

As jy gereeld hoor hoe dom of sleg jy is (irrasionele gedagte) gaan hierdie boodskape na jou limbiese sisteem, wat net ingestel is op oorlewing. Jou limbiese sisteem begin dadelik adrenalien vervaardig wat angs tot gevolg het.

Wat hierdie tipe mishandeling anders en erger as fisiese mishandeling maak is dat jy geen fisiese wonde kan sien nie en dit derhalwe moeiliker is om te identifiseer of te bewys. Dit maak dit egter nie minder traumaties nie.  Die skade is eerder emosioneel en in meeste gevalle blywend van aard.  Dit laat die slagoffer met gevoelens van ontoereikendheid, onnoselheid en waardeloosheid.  Hierdie mishandeling gebeur egter nie deurlopend nie, wat die slagoffer verwar.

Jy word so oortuig oor hoe waardeloos jy is, dat jy later glo dat niemand jou sal wil hê nie en jy dus maar vasklou aan wat jy wel het. Jou grootste vrees is om alleen te wees en jy word daarvan oortuig dat jy alleen sal wees, aangesien niemand jou sal wil hê nie en dat jy nêrens het om heen te gaan nie. As gevolg hiervan bly jy by die mishandelaar en glo jy dat jy dankbaar hoort te wees dat hulle nog steeds daar sal wees vir jou.  Jy word gekritiseer van jou voorkoms tot jou kleredrag;

  • Onnodige skuldgevoelens

In meeste gevalle is jy ‘n empaat. Jy wil almal se uitdagings oplos en voel skuldig as jy dit nie kan doen nie.

Die illusie word geskep dat dit wat verkeerd geloop het alles die mishandelde se skuld is en bydra tot die mishandelde se gevoelens van waardeloosheid, nutteloosheid en self-blaam. Die mishandelde glo later dat alles hul skuld is, hoe belaglik dit ookal mag klink;

  • Depressie

Die vader van die sielkunde, Sigmund Freud, het eenmaal gesê: depressie is woede sonder entoesiasme.  Jy is kwaad oor wat gebeur, of gebeur het, maar jy is magteloos aangesien jy niks daaraan kan doen nie, soos ek verduidelik het.   Jy kan ook meer oor depressie lees op my webtuiste, www.jorganharris.co.za, in die artikel Depressie;

  • Selfdood gedagtes

Wanneer jy kwaad is, wil jy seermaak.  As jy nie seer kan maak nie, soos die magteloosheidsgevoel in die vorige punt, maak jy jouself seer op verskillende maniere, hetsy selfbesering, emosioneel of fisies tot die mees ekstreme vorm van selfbesering, selfdood;

  • PTSV of KPTSV

Posttraumatiese stresversteuring (PTSV) word ook bomskok, gevegsuitputting, ongeluk-neurose of post- verkragting sindroom genoem.

Posttraumatiese stres veroorsaak ʼn ongemak en ʼn inmenging in jou daaglikse lewe. Dit gebeur gewoonlik na ʼn traumatiese gebeurtenis. So ʼn persoon word dikwels gekwel deur voortdurende en vreesaanjaende herinneringe rondom ʼn traumatiese gebeurtenis. Jy kan meer hieroor lees op my webtuiste, www.jorganharris.co.za en klik op Posttraumatiese stresversteuring.

KPTSV of ook komplekse posttraumatiese stresverteuring (Complex PTSD) is ‘n sindroom wat tans nie in die DSM 5 opgeksryf is nie.  Mense met KPTSV was nie noodwendig blootgestel aan akute trauma waar hul lewe of fisiese integriteit bedreig was nie.

Tog toon hierdie mense dieselfde simptome as mense met PTSV na hul aan emosionele trauma blootgestel is; 

  • Jy begin middels misbruik

Die mishandelde begin al hoe meer alkohol of middels soos medikasie of selfs dwelms gebruik om hul spanning en trauma te verdoof. Hulle mag selfs verslawings aan hierdie middelle ontwikkel.  Selfs verslawings waar daar geen chemiese middelle betrokke is nie, soos dobbel- en inkopieverslawing is al aangemeld.

  • Verdere simptome wat slagoffers mag ervaar

Mense wat aan emosionele trauma blootgestel is, mag ook simtome soos chroniese pyn, migraines, eetversteurings- en spysverteringsprobleme ervaar.  Hierdie toestande is fisiologiese en sielkundig simptome van spanning;

  • Wraakgevoelens

 Jy mag dalk voel dat om wraak te neem sal kan werk. Dit kan, maar net op die korttermyn. Jy wil hierdie persoon net terug kry.  Dalk deur vir almal te vertel wie hulle regtig is… indien die vlieënde ape jou ooit sou glo.  Jy wil hulle nuwe geliefde vertel, selfs waarsku, van die mishandelaar se affairs.  Jy wil hulle ruïneer.  Jy wil van jou woede, jou seer ontslae raak.

Om so ‘n mishandelaar te probeer vasvat om te besef dat iets verkeerd is, of om wraak te neem, of om hulle te kry om te verander, is letterlik soos om ‘n koekie seep in ‘n bad vol water met ‘n vurk te probeer raaksteek en uit die bad te tel.  Dit is net onmoontlik.  Die seep sal jou altyd bly ontglip en hoe meer gefrustreerd jy raak, hoe minder sal jy die seep kan raaksteek;

  • Reaktiewe mishandeling (reactive abuse)

Jy is ook maar net mens en iewers gaan iets ingee. Jy kan net soveel mishandeling verduur.

Jo* was vir meer as twee jaar betrokke by iemand wat hom emosioneel mishandel het. Hy het gedurende die tyd altyd probeer om dinge op konstruktiewe maniere op te los, om antwoorde te vind. Geen een van sy pogings was suksesvol nie.  Hy het van drie dinge bewus geraak:

  • as hy haar terug mishandel, hou die mishandeling op;
  • dit het hom bemagtig en weer in beheer laat voel deur hom op haar te wreek met reaktiewe mishandeling;
  • hy kon so van sy frustrasie ontslae raak.

Nodeloos om te sê: die huwelik het nie gewerk nie.

Die mishandelaar sal dikwels die blaam van mishandeling verplaas na die slagoffer.  Die mishandelaar sal dikwels voorgee dat die mishandelde eintlik die mishandelaar is as gevolg van die mishandelde se reaksie. Wat die slagoffer ervaar is die sogenaamde reaktiewe mishandeling.

Susan het die een aand weer aan die drink geraak en begin om vir Mike te mishandel. Mike het haar gevra om op te hou en dat hulle die kwessie die volgende oggend kan bespreek. Susan het eenvoudig net aangehou om hom te mishandel en uit te lok.  Mike kon voel hoe die woede in hom opbou en op sy tande gekners om net stil te bly. Na ongeveer ‘n uur se mishandeling en aanslae, kon hy nie meer nie en reageer met reactive abuse en snou haar aaklige dinge, buite sy karakter, toe.  Op daardie stadium neem sy toe sy woorde met haar selfoon op en stuur dit aan haar vriende.  Dit is baie duidelik op die opname dat die mishandelde vieslike dinge sê en eintlik die skuldige is.

Die slagoffer mag reageer deur te skree, mal te gaan, uit te reageer of om die mishandelaar te beledig.  Die mishandelaar se reaksie is om doodeenvoudig die mishandelde te laat weet dat hulle eintlik die mishandelaar is en al die vlieënde ape sal dit weet.  Die mishandelaar maak staat op hierdie reactive abuse aangesien dit hulle bewys is dat die slagoffer onstabiel is en om so die slagoffer verder te gasbelig.

Hulle laat die slagoffer glo dat dit hulle fout is en die empaat aanvaar die blaam en begin glo dat hulle die een is wat verkeerd is.  Dat die fout by hulle lê;

  • Vrees, sê nou dit gebeur weer?

Baie mense is so bang om na ‘n verhouding met ‘n tros-B weer in ‘n verhouding betrokke te raak uit die blote vrees dat hulle weer in so ‘n tipe verhouding mag beland. 10 Jaar na Chrisine en Nicholas se egskeiding is Christine steeds huiwerig en onseker om in ‘n nuwe verhouding in te gaan, bloot uit vrees om weer vasgevang te word in ‘n tros B-verhouding. Ongelukkig is dit ook so dat baie mense weer en weer met sulke tipe mense in verhoudinge mag opeindig.  Dit is baie moeilik om jou vrese hier te besweer, maar die volgende mag help;

  • statistiek toon dat hierdie mense ongeveer tussen 1 tot 7% van die populasie vorm. Die kanse dat jy nie weer by so ‘n persoon betrokke sal raak nie, is dus statisties tussen 93 en 99%. Maar die realiteit is ongelukkig dat nes die mishandelaar die empaat (uit ‘n massa skare) sal raak sien is die empaat ook geneig om mishandelaars tot hulle aan te trek – amper soos daardie af vlerk-voëltjie sindroom;
  • die goue reël is, dat wanneer iets te goed voel om waar te wees, is dit waarskynlik te goed om waar te wees;
  • jy het ervaring met hierdie mense en die kanse is skraler dat jy weer gevang sal word, want jy weet waarvoor om na uit te kyk;
  • wanneer hierdie persoon van ander mense praat as ekstreem positief of ekstreem negatief, as ongelooflik tot ongelooflik minderwaardig;
  • wanneeer jy nie goed genoeg voel nie;
  • wanneer jy gemanipuleerd voel.

Dit sal goed wees om ‘n terapeut te gaan sien om die empaat in jou en jou eie trauma’s deur te werk.

Wie hulle werklik is

Jy staan voor ‘n gebou.  Dit lyk soos ‘n paleis of ‘n kasteel.  Die mooiste, die sterkste en die perfekte.  Jy voel oorweldig deur hierdie gebou se volmaaktheid. Tot jy deur die voordeur stap… in ‘n plakkershut, ‘n krot. Die paleis was net ‘n fanfare.

Mishandelaars is mense met hul eie kwessies soos depressie, angs, posttraumatiese stres en woede, maar verdoesel al hierdie eienskappe agter die sjarme waarmee hulle jou inkatrol;

Oorhoofse ooreenkomste tussen die verskillende mishandelaars

  • Die mishandelaar is jaloers, besitlik en kruis-ondervra hul maat op ‘n gereelde basis;
  • die mishandelaar beheer hul maat se hele lewe: met wie hulle vriende mag wees of nie, wat hulle mag aantrek of nie, wat hulle mag doen of nie, selfs hul finansies word deur die mishandelaar beheer;
  • die mishandelaar kan vriende bekom met mense soos polisiemanne, regsmense, invloedryke mense, selfs die mishandelde se eie familie om hulle in die moeilikheid te laat beland sou hul verkeerd optree;
  • die mishandelaar breek in op die mishandelde se privaatheid, soos om deur hul wagwoorde te breek en op hul Facebook, Instagram, X of epos in te gaan om hul private boodskappe te lees;
  • die mishandelaar het heelwaarskynlik groot geword in ʼn emosioneel mishandelde omgewing. Mishandelde kinders toon as volwassenes meer vyandelike- en aggressiewe gedrag, maar is ironies genoeg ook geweldig afhanklik van hul maats wie hulle juis mishandel;
  • hulle het negatiewe opinies rakende hulself en hul vermoëns;
  • hulle het oor die algemeen ʼn negatiewe persepsie rakende die wêreld om hulle;
  • hulle leer dat mishandeling ʼn manier is om hul eie gevoelens van jaloesie, gemoedskommelings, swak selfbeeld, magteloosheid, vrees, seerkry en woede te hanteer of weg te steek;
  • die mishandelaar is gevolglik aangetrokke tot wie hulself sien as hulpeloos, wie nie hul eie gevoelens, persepsies of sienings na waarde ag nie.
  • die mishandelaar sukkel ironies genoeg met dieselfde kwessies as waarmee jy nou sukkel. Die wolf in skaapklere is dalk juis die skaap in wolfsklere…

Verskille tussen die verskillende mishandelaars

Dit mag dalk waar wees dat die Anitisosiales egter nie onsensitief met geen empatie, skuldgevoelens of selfbewustheid is nie.

Die narcissiste en die grensgeval persoonlikheidsversteurings is egter so vreesbevange, al lyk dit na presies die teenoorgestelde, dat hulle alles sal doen om hul vrese te vermy.  Hul grootste vrees is dat hulle verwerp (abandoned) sal word.  Hulle beskou die wêreld as een groot bedreiging en sal alles doen om hierdie sogenaamde bedreiging af te weer. 

In teenstelling met die mitologie dat Narcissus verlief op homself geraak het toe hy sy eie beeld in die water gesien het, is die waarheid inteendeel die volgende:

  • hulle is vasgevang in hul eie ontwikkeling – daar is trauma in hulle geskiedenis waardeur hulle nie gewerk het nie;
  • hulle voel diep in hulself dat hulle disfunksioneel en is so bang is dat ander mense dit sal ontdek. Dis juis om hierdie rede dat hulle soveel energie insit om hulself as die perfekte pasmaat te probeer bewys;
  • hulle probeer so hard om perfek te wees, dat hulle meer as dikwels invloedryke en suksesvolle mense word. Mense sien hulle dikwels as wonderlike en suksesvolle mense, maar dit is vir hulle harde werk om dit te projekteer en die fort te hou. Hul openbare gedrag is dikwels onberispelik. Daarom is dit geen wonder dat hulle hul nuwe lewensmaats kan bekoor en onder ‘n wanindruk kan bring;
  • hul persoonlik lewe is egter ‘n perd van ‘n ander kleur. Hulle leef in die vrees dat jy deur hulle gaan sien en ‘n bedreiging vir hulle image sal wees. Hierdie idee van nie-perfekwees is vir hulle vreesaanjaend, daarom dat hulle reageer met emosionele mishandeling, al is die bedreiging net in hulle verbeelding;
  • hierdie vrees kan dikwels ontplof (erupt) of hierdie vrees kan ditself dikwels uitspeel in ‘n woedebui. Aanval is immers die beste vorm van verdediging;
  • tros-B’s het hulself ten diepste nie lief nie – hulle verag eintlik hulself. Beide mense met die narcissistiese en grensgraad persoonlikheidsversteuring het ‘n intense vrees vir verwerping (abandonment) sou hulle ontmasker word;
  • om hierdie vrees te oorwin moet hulle hul maats beheer. Om die bedreiging af te weer moet die maat dus gediskrediteer word.

Tot nou toe mag dit lyk of ek hierdie tros-B mense demoniseer.  Ek kan dit nie genoeg beklemtoon dat hierdie mense steeds egte (real) mense met egte gevoelens is nie.  Dit is geweldig moeilik om met hierdie mense saam te leef, maar ons moet ook in gedagte hou dat dit vir hulle selfs nog moeiliker is om hiermee saam te leef. Hierdie mense is nie noodwendig monsters wat net vloermoere gooi en ander manipuleer nie. Hulle het ook hul eie skuldgevoelens, selfverwyte en skaamte oor die gevolge en impak van hul optrede.  Hulle onderdruk egter hierdie skuldgevoelens deur van sogenaamde sielkundige verdedigingsmeganismes gebruik te maak. Lees gerus meer oor verdedigingsmeganismes op my webtuiste, www.jorganharris.co.ca.  Hierdie gevoelens word so diep onderdruk dat dit nooit na die bewuste toe deurdring nie. Dit is nie noodwendig iets wat hulle kan beheer nie. Soms is hul versoenende optrede dalk nie net manipulasie om jou terug te wen nie, soms is hul liefdesbombardering ook die gevolg van hul eie selfverwyt en is hulle manier om te probeer kompenseer vir wat hulle weet hulle verkeerd gedoen het.  Ons moet altyd in gedagte hou dat hulle optrede die gevolge is van hul eie trauma. Ons moet ook in gedagte hou dat hierdie mense getraumatiseerd en ongelooflik eensaam voel.

Hulle probeer so hard om normaal te wees, maar word kwaad vir hulself as hulle nie daarin slaag nie. Soveel so dat hulle selfs as ‘n kreet vir hulp met selfdood sal dreig, selfs al is dit net nog ‘n vorm van manipulasie. Hoewel hulle selde tot die daad oorgaan, is hulle voorkoms van selfdood ook beduidend hoër as die gemiddelde mens. Hulle is ook pynlik bewus van hoe moeilik dit vir ander mense is om met hulle saam te leef. Hulle verag hulself soms vir wat hulle aan ander mense doen, maar weet nie hoe om dit te verander nie.

Moet jy ry of moet jy bly?

Hierdie is ‘n baie moeilike vraag.  Dit hang van jou af.  Jy sal self hieroor moet besluit.  Jy kan kies om hiervan weg te stap en vrede te vind. Dit klink na die maklikste uitweg aangesien jy weet dat dinge dalk glad nie gaan verander nie.  Dalk is jy net te lief vir hierdie persoon. Dalk kies jy om te bly.  Dit is die moeiliker roete, maar dit is moontlik.  Jy sal egter hare op jou tande moet hê. Die beloning mag die moeite werd wees.

Dalk besef jy dat dit die beste uitweg is om die verhouding te beëindig. Ek besef dat dit baie moeilik is om dit te doen.  Jy bly hoop om die wonderlike tye wat julle saam beleef het, te herleef.  Sou jy wel besluit om die verhouding te beëindig, mag die ander persoon die volgende doen om dit op direkte, asook subtiele maniere so moeilik moontlik vir jou te maak.  Jy sal onthou dat hulle nie sogenaamde verwerping kan hanteer nie.

Die mishandelaar mag:

  • voorgee asof dit hulle nie raak nie, asof jy nooit bestaan het nie. DSM-5 beskryf dit as erge dissosiasie (severe dissociation). Dit is net asof jy nog nooit bestaan het nie.  Dit mag jou laat twyfel in jouself en jou as empaat, nog harder laat probeer;
  • die ou sjarme mag dalk weer terugkom. Jy word weereens ge-Hoover. Ek is seker jy ken die ou Hoover-stofsuier. Hierdie stofsuier suig jou in met ‘n oortuigende vertoon van vriendelikheid, affeksie en aanvaarding. Dit word soms ook liefdesbombardering genoem en jy voel dalk weer so spesiaal soos in die heel begin;
  • hulle mag dalk huil en smeek dat jy hulle moet terugvat en belowe hulle het nou insig gekry en verander;
  • jou verder brutaal mishandel en jou in jouself laat twyfel;
  • hulle mag dalk obessief raak en jou stalk waar jy ookal gaan, wat jy ookal doen;
  • hulle mag selfs wraak wil neem. Wraak mag verskillende vorme aanneem.  Hulle mag hul op jou finansieël wreek deur te probeer om jou finasieël kaal uit te trek.  Hulle mag jou kinders van jou probeer wegneem, of om jou naam skade aan te rig.  Hulle gee nie om watter skade hulle ander mense aanrig nie, solank hulle net wraak op jou kan neem;

Wat jy kan doen sou jy besluit om op te breek of te skei

Grys klippie (Gray rock)

Hou nou in gedagte, die tros-B persoonlikheidsversteurings soek drama.  Hulle soek juis jou reaksie.  Hulle het ‘n ou woede in hulle wat ‘n uitlaatklep moet kry. Hulle sal jou uitlok tot reaksie, al moet hulle uit hul pad gaan om dit te kry. Jy sal egter hierdie argumente verloor, soos jy dit altyd verloor en gasverlig en derglik raak.

Jy is egter ‘n empaat wat jouself wil bewys en daarom kan jy so maklik in hul spel ingetrek word met ‘n argument wat jy nie kan wen nie.  Jy gaan nie hierdie mense ooit tot insigte kry nie.  Daarom word die Grys Klippie (Gray Rock) metode aanbeveel.

’n Seuntjie stap al langs die rivier af. Hy versamel klippies.  Al die blink en gekleurde klippies trek sy aandag en tel hy op. Maar daardie vervelige, vaal, ovaalvormige grys klippe trek nie sy aandag nie en bly net daar lê.

Dit is presies wat jy moet doen – jy moet vir daardie mense net ‘n vervelige grys klip raak en nie ingee op die mishandelaar se soeke na drama nie.

Jy mag dalk nou wonder hoe mens die grysklip tegniek toepas.

Eerstens sou ek dit sterk aanbeveel om totaal en al kontak te vermy.  Sou daar enige kontak moet wees, soos reëlings aangaande die kinders, hou dit kort en bly by die feite. Die mishandelaar gaan argumente en drama soek. Vermy dit ten alle koste.

Indien dit wel gebeur dat jy in ‘n gesprek betrokke moet raak, wees dan so vervelig soos ‘n grys klip. ‘n Grysklip-gesprek kan as volg lyk: Wat het jy vandag gedoen? O, ek het ‘n sepie gekyk, ‘n sokkie gestop en gekyk hoe ‘n pampoemblom groei.

Wat jy kan doen sou jy besluit om te bly

Jy wou nooit in so ʼn verhouding wees nie. Jy het nie hiervoor gesoek of gevra nie. Enigiemand kon met so ʼn persoon in ʼn verhouding betrokke raak en jy het. Hierdie mense is aanvanklik net te ongelooflik, net te wonderlik om hulle nie deel van jou lewe te wil maak nie. Dat dit gevoel het dat dit te goed was om waar te wees. Jy het later ontdek dat dit wel te goed was om waar te wees.  Erken eerstens jou gevoelens van magteloosheid, seer, vrees en woede.  Sê vir jouself dis hoe jy nou voel en dit is wat dit is. Hou egter ook die volgende in gedagte:

  • Besef dat jy dalk op ‘n illusie en nie die werklikheid, verlief geraak het,

Hierdie persoon het ‘n wêreld geskep waarop jy totaal en al verlief geraak het, maar wat nie die werklikheid, die realiteit is nie.  Jy mag dalk terug verlang na daardie miskonsepsie van ‘n fantastiese wêreld wat bloot nie bestaan nie.

Onthou die storie: I will always cherish my initial misconceptions of you. (Ek sal altyd my aanvanklike wanpersepsies van jou bly koester).

  • Besef dat dit nie jou skuld is nie

Die mishandelaar wil hê dat jy moet glo of dink dat dit jou skuld is. Dat alles nét jou skuld is. Niks kan ooit altyd jou skuld wees nie. It takes two to tango.

  • Jy hoef nie jouself te verdedig nie

Wanneer jy jouself verdedig, skep jy net verdere ammunisie vir die mishandelaar om jou verder aan te val. Jy voel meer magteloos en bevraagteken jouself net meer.  Jy sal in elk geval elke keer die argument verloor.  Daar is geen wen-wen situasie nie.  Die mishandelaar sal elke keer die argument omdraai totdat jy jouself betwyfel en moed opgee. 

  • Respondeer in plaas van reageer

Respondeer – bly kalm.  Jy weet reeds dat die mishandelaar jou nie wil verstaan nie, of jou met respek wil behandel nie, of nie belangstel in jou opinies, gedagtes of gevoelens nie.  Haal diep asem en ontspan. Weet dit is nie jou probleem nie, maar hul probleem. Deur kalm te bly kan jy jou mag terugneem.  Wanneer jy egter jouself probeer verdedig of verduidelik, sal jy egter geen verskil maak of geen nuwe insig vir hierdie mense bring nie, behalwe net om selfs meer magteloos te voel en jouself te ontstel

  • Gevoelens is nie feite nie

Hou in gedagte dat dit hulle gevoelens is.  Besef dat jy met iemand werk wat met ‘n persoonlikheidsversteuring sukkel. Wat hulle op die tafel sit is hulle probleem, nie joune nie.

  • Bly bewus van jou aandeel in die konflik

Dit is maklik om vinger te wys na die mishandelaar as die een met die probleem. Hou egter ook in gedagte dat jy moontlik dalk ‘n empaat mag wees met jou eie kwessies en wel mag oorreageer.

  • Bly ook bewus van jou eie moontlike gevoelens van vrees, verantwoordelikheid, spyt en skuld

Hierdie gevoelens het geen gesonde doel nie.  Iemand het eenmaal gesê dat skuldgevoelens die mees nuttelose emosie is wat mens kan hê. Dit los geen probleme op nie en kan nie tyd terugdraai nie.  Dit is egter eerder ‘n mors van tyd en energie.

  • Wees selfhandhawend (assertief)

Selfhandhawing beteken om reguit, tog vriendelik te vra vir wat jy wil hê en nee te sê vir wat jy nie wil hê nie. 

  • Maak seker dat jy bedoel wat jy sê;
  • Maak seker dat jy nie net uit woede praat of reageer nie;
  • Wees gereed vir ‘n moontlike uitval

Dit beteken ook dat jy jou grense sal moet stel. Reageer op die proses van wat tussen julle gebeur en nie die inhoud nie. Dit beteken dat jy kan reageer op dit wat tussen julle gebeur, eerder, as om te reageer op dit wat tussen julle gesê word. Jy kan reageer met iets soos:

  • Ek sal met jou praat as jy nie op my skree nie.
  • Ek sal met jou praat wanneer jy kalmer is.
  • Ek gaan nie saam met jou ry as jy kwaad is nie.
  • Ek gaan nie al my geld vir jou gee nie.

Jy kan meer hieroor lees in my artikel: Selfhandhawing op my webtuiste.

  • Probeer om kalm te bly

Onthou, hulle soek drama en wil graag drama hê. Deur opgewerk te raak, speel jy presies in hulle kraal.

  • Onttrek jouself van tyd tot tyd uit die situasie

Jy mag dalk net fisies padgee. Gaan loop om die blok.  Gaan na ‘n restaurant en drink ‘n bier.  Gaan slaap oor by ‘n vriend of ‘n gastehuis.

  • Kyk na jouself

Kyk na jouself, fisies, emosioneel en spiritueel. Jy mag agterkom dat jy jouself verwaarloos.  Jy drink dalk te veel, of kyk nie na jouself nie. Dalk wil jy meer oefen, kerk toe gaan, na jou dieet omsien, of ‘n nuwe belangstelling of stokperdjie ontwikkel.

  • Besef dat jy hulle nie kan genees nie

Jy weet teen hierdie tyd dat jy ‘n sogenaamde empaat mag wees. Jy probeer so hard om hulle te verander, maar jy kry dit nie reg nie.  Juis daarom sal jy nie opgee nie en net nog harder probeer. As jy voel jy kry dit nie reg nie, voel jy soos ‘n mislukking. Jy sal eerder weer probeer, weer seerkry, alles in jou vermoë doen om nie soos ‘n mislukking te voel nie.  Hoe harder jy probeer, hoe minder kry jy dit reg.  Juis om hierdie rede bly empate veel langer in ‘n verhouding met die mishandelaar as wat hulle ooit moes. 

Die empaat voel soos ‘n mislukking en wonder waar hulle gefaal het.  Die mishandelaar gaan gewoonlik baie gou in ‘n nuwe verhouding en laat die empaat baie gou verstaan dat hulle iemand anders ontmoet het. Iemand wat hulle verstaan en die antwoord op alles is.  Dit laat jou nog meer nutteloos voel.  Dit is nog ‘n rede hoekom jy, as empaat, jou eie trauma in jou verlede moet ondersoek en deurwerk.

Daar is redelik onlangs ‘n terapie ontwikkel vir grenslyn persoonlikheidsversteurings.  Die sogenaamde Dialectical Behaviour Therapy (DBT)word tans gebruik vir die behandeling van tros-B persoonlikheidsversteurings. Tans fokus hulle op die grenslyn persoonlikheidsversteuring (BPD’s) aangesien dit een van die maklikste behandelbare versteuring van die tros-B’s is.

DBT behels dat iemand met spesifiek grenslyn persoonlikheidsversteuring (BPD’s) terapie moet ontvang elke week, sonder uitsondering, vir ten minste tien jaar.  Met groot opgewondenheid het sielkundiges agtergekom dat hulle ‘n tien present suksessyfer bereik het na tien jaar van terapie elke week. 

  • Jy kan nie hierdie persoon verander nie

Ek probeer geensins om jou hiermee te oortuig dat die mishandelaar nie kan verander nie. In my ervaring is daar wel mishandelaars wat werklik verander en daarmee volhou, maar daar is ook die mishandelaars wat weldra weer na hul ou weë terug keer. ʼn Damaskus-ervaring is raar en dit vat tyd om deur hierdie dinge te werk. Daar is nie ʼn quick fix nie. Dis eers na ʼn lang en aanhoudende proses waar die mishandelaar werklik deur hul kwessies werk, wanneer verandering kan plaasvind.  As die mishandelaar werklik so lief is vir jou soos wat hulle sê, sal hulle vir jou wag tot jy gereed is.

Indien dit werklik oor jou gevoelens gaan, as die mishandelaar werklik besorg is oor jou of jou welstand, sal hulle jou besluite aanvaar om te bly of te gaan. Indien nie, gaan dit maar net weereens oor hul eie gevoelens en is dit nie liefde nie, maar ʼn obsessie en dan is ons maar net weer terug by hulle eie gevoelens en die ontkenning van jou gevoelens. 

  • Leer om jouself na waarde te ag

Jy kan besef dat jy, as perfek geskape mens, toegerus is met alles wat nodig is om suksesvol te wees. Besef dat daar in wese niks met jou verkeerd is nie.  Jy het sekere regte as mens en niemand verdien om emosioneel mishandel te word nie.

  • Jy kan agterkom wat die mishandelaar se eie emosionele kwessies is

Jy kan besef dat hierdie persoon iewers ʼn gevoel van intense verwerping of uiterste minderwaardigheid ervaar het. Deur jou ten alle koste te beheer en onder hul beheer te hou, probeer die mishandelaar hierdie gevoelens onderdruk. Die enigste manier om dit te vermy is om jou heeltemal onder hul beheer te hou, ten alle koste.

  • Bly bewus van projeksie

Jy kan dalk net bewus bly dat die mishandelaar hul kwessies op jou projekteer, soos wat ons projeksie vroeër in hierdie artikel bespreek het. 

  • Sien ʼn sielkundige om jou te help met die impak van emosionele mishandeling:

‘n Sielkundige kan jou ook help om gesonder maniere aan te leer om hierdie mishandelaars te hanteer.  Om mooier te kyk na jou eie behoeftes en om jou te help besef dat dit nie jou fout is nie.

  • Jy kan ook ʼn geregspad loop

In die wetskringe word mishandeling (fisies en emosioneel) as kriminele teistering gesien. Spreek jou prokureur hieroor.

Onthou – jy is nie alleen nie.

Daar is baie soos jy en hulp is beskikbaar by jou sielkundige, psigiater, dokter, regsadviseur of selfs die polisie.

Jy hoef nie verder toe te laat dat hierdie mense jou lewe verwoes as gevolg van hul eie kwessies is, wat nie eens jou probleem hoort te wees nie.

*  Skuilname

Die wolf in skaapsklere - © Jorgan Harris
Scroll to Top