Posttraumatiese Stresversteuring (PTSV)
Wat is posttraumatiese stresversteuring (PTSV)?
Posttraumatiese stresversteuring (PTSV) word soms ook bomskok, gevegsuitputting, ongeluk-neurose, selfs bossies of post-verkragting sindroom genoem.
Posttraumatiese stres veroorsaak ʼn ongemak en ʼn versteuring in jou daaglikse lewe. Dit gebeur gewoonlik na ʼn traumatiese gebeurtenis. So ʼn persoon word dikwels gekwel deur voortdurende en vreesaanjaende herinneringe rondom ʼn traumatiese gebeurtenis.
In die woorde van Peter A. Levine: trauma is hel op aarde. Opgeloste trauma is ʼn geskenk van die gode
Wie word geraak deur PTSV?
Daar word gereken dat tot tien persent van die populasie geraak word deur PTSV. Aanvanklik is gedink dat hierdie versteuring net voorkom by oorlogsveterane, maar hierdie versteuring kan voorkom by enigiemand wat blootgestel was aan ʼn betekenisvolle traumatiese gebeurtenis of gebeurtenisse.
Wat is die simptome van PTSV?
Simptome van PTSV ontstaan gewoonlik eers drie maande of langer na trauma, maar soms kan die toestand eers na vore kom maande, selfs jare na ‘n traumatiese gebeurtenis.
Kom ons kyk eers wat ʼn Posttraumatiese stresversteuring werklik is soos beskryf in die DSM 5.
Nota: Die volgende kriteria is van toepassing op volwassenes, adolessente en kinders ouer as 6 jaar.
A. Blootstelling aan werklike of ʼn dreigende dood, ernstige besering, of seksuele geweld in een (of meer) van die volgende maniere:
- ʼn Direkte ervaring van ‘n traumatiese gebeurtenis
- ‘n Direkte waarneming wanneer dit met iemand anders gebeur
- Wanneer die traumatiese gebeurtenis met ʼn nabye familielid of nabye vriend gebeur. In die geval van ʼn werklike of bedreigde dood, was die gebeurtenis gewelddadig of die konfrontasie met ʼn ongeluk
- Wanneer jy herhaaldelik of ekstreem blootgestel word aan besonderhede van die gebeure (bv. wanneer jy menslike oorskot bymekaar moet maak of polisiemanne wat herhaaldelik blootgesel word aan noue besonderhede van kindermisbruik)
Nota: Kriterium A 4 geld nie vir blootstelling deur elektroniese media, televisie, foto’s, films of prente nie, behalwe as die blootstelling werksverwant van aard is.
B. Die teenwoordigheid van een (of meer) van die volgende indringende simptome wat met die traumatiese gebeurtenis/gebeure geassosieer word, wat begin nadat die traumatiese gebeurtenis/gebeure gebeur het:
- Herhaalde, onwillekeurige en indringende ontstellende herinneringe aan die traumatiese gebeurtenis/gebeure
- Herhalende ontstellende drome waarin die inhoud en/of die gevoel van die droom verband hou met die traumatiese gebeurtenis/gebeure
- Dissosiatiewe reaksies (bv. terugflitse) waarin die individu voel of optree asof die traumatiese gebeurtenis/gebeure weer plaasvind
- Intense of voortdurende sielkundige ontsteltenis deur die blootstelling aan interne of eksterne leidrade wat ʼn aspek van die traumatiese gebeurtenis/gebeure simboliseer of verteenwoordig
- Kenmerkende fisiologiese reaksies by interne of eksterne leidrade wat ʼn aspek van die traumatiese gebeurtenis/gebeure simboliseer of verteenwoordig
- Gedurige vermyding van stimuli wat met die traumatiese gebeurtenis of gebeure geassosieer word, wat begin na die gebeurtenis/gebeure, soos bewys deur een of beide van die volgende:
- Vermyding van of pogings tot vermyding van ontstellende herinneringe, gedagtes of gevoelens oor of soortgelyke assosiasies met die traumatiese gebeurtenis/gebeure
- Vermyding of pogings tot vermyding van eksterne herinneringe (mense, plekke, gesprekke, aktiwiteite, objekte, situasies) wat ontstellende herinneringe, gedagtes of gevoelens van die gebeurtenis/gebeure of iets soortgelyk aan die gebeurtenis/gebeure opwek
- Negatiewe veranderinge in kognisies en gemoed wat met die traumatiese gebeurtenis/gebeure geassosieer word, wat begin of versleg het nadat die traumatiese gebeurtenis/gebeure plaasgevind het, soos bewys deur twee (of meer) van die volgende:
- Onvermoë om ʼn belangrike aspek van die traumatiese gebeurtenis/gebeure te onthou
- Voortdurende en oordrewe negatiewe denke of verwagtinge oor jouself, ander, of die wêreld (bv. ek is sleg, niemand kan vertrou word nie, die wêreld is heeltemal sleg, my hele senuweestelsel is permanent geruïneer)
- Voortdurende, versteurde kognisies oor die oorsaak of gevolge van die traumatiese gebeurtenis/gebeure wat daartoe lei dat die individu hulself of andere blameer
- Aanhoudende negatiewe emosionele toestand (bv. vrees, gruwel, woede, skuld, of skaamte)
- Kenmerkende verminderde belangstelling of deelname in betekenisvolle aktiwiteite
- Gevoelens van afgetrokkenheid of vervreemding van andere
- Gedurige onvermoë om positiewe emosies te beleef (bv. onvermoë om geluk, bevrediging of liefdevolle gevoelens te beleef)
- Kenmerkende veranderinge in opwekking en reaktiwiteit wat met die traumatiese gebeurtenis/gebeure geassosieer word, wat begin of versleg het na die traumatiese gebeurtenis/gebeure plaas gevind het, soos bewys deur twee (of meer) van die volgende:
- Geïrriteerde gedrag en woede-uitbarstings (met min of geen uitlokking) wat tipies manifesteer in die vorm van verbale of fisiese aggressie teenoor mense of dinge
- Hiper-waaksaamheid
- Roekelose of selfvernietigende gedrag
- Oormatige skrikreaksie
- Konsentrasieprobleme
- Slaapversteuring (bv. probleme om aan die slaap te raak, om aan die slaap te bly, of rustelose slaap)
- Durasie van die versteuring (Kriteria B, C, D en E) is meer as 1 maand
- Die versteuring veroorsaak klinies betekenisvolle ongemak of verlamming in sosiale- werks-, of ander belangrike areas van funksionering
- Die versteuring kan nie toegeskryf word aan die fisiologiese effekte van ʼn substans nie (bv. medikasie, alkohol) of ʼn ander mediese toestand nie
Verdere verduideliking van PTSV
- Mense wat aan PTSV ly, herbeleef ‘n traumatiese gebeurtenis of gebeurtenisse op verskillende maniere. Hulle kry soms skielike herinneringe aan die gebeurtenis asof dit in die hier-en-nou weer gebeur. Dit kan gebeur in die vorm van ʼn terugflits of nagmerries. Hierdie herinneringe kan ook gesneller word wanneer die persoon blootgestel word aan leidrade wat hulle aan hierdie gebeurtenis mag herinner.
Ek dink nou spesifiek aan ʼn kliënt wat in ʼn bekende kettingwinkelgroep in ʼn rooftog ʼn slagoffer was. ‘n Man met ‘n geel T-hemp aan het hom met ‘n vuurwapen aangehou. Elke keer as hy ʼn winkel van hierdie groep sien of selfs net ʼn advertensie van hierdie groep sien, ʼn pistool of enige persoon met ʼn geel T-hemp aan gewaar, kry hy erge sielkundige en fisiese ongemak soos wat ek in die paragraaf hier onder beskryf.
- Soiemand sal sulke leidrade ten alle koste probeer vermy. Dit beïnvloed hul verhoudings met die mense naaste aan hulle. Soiemand vermy ook nabyheid met mense na aan hulle. Emosies word erg onderdruk, soms so erg dat die getraumatiseerde geen emosies kan ervaar nie.
PTSV lyers probeer situasies vermy wat hulle aan die trauma mag herinner, aangesien die simptome mag vererger as hulle aan snellers (triggers) blootgestel word wat hulle aan die trauma mag herinner. Wanneer hulle wel blootgestel word aan sulke situasies, beleef hulle sielkundige ongemak soos angs en spanning of onaangename emosies. Hulle mag ook fisiese simptome beleef soos sweterigheid, vinniger hartklop, bewerigheid, naarheid ens.
Oor ʼn tyd mag hulle so bevrees word, dat hul lewe gekenmerk word deur pogings om hierdie situasies te vermy. Hulle kan soms belangrike aspekte van die trauma nie onthou nie en het ʼn verminderde belangstelling of deelname aan betekenisvolle aktiwiteite.
- Mense wat aan PTSV ly, sukkel dikwels met slaap. Hulle sukkel om aan die slaap te raak of te bly en het dikwels rustelose nagte. Hulle is dikwels geïrriteerd en het gereeld uitdagings met konsentrasie of hul korttermyn geheue. Hulle neig om hiper-waaksaam te wees en dit is asof hulle die heeltyd oor hul skouer kyk. Daar is dan ook die oormatige skrikreaksies waarin hulle oormatig sal skrik vir enige geluid wat hulle aan die trauma mag herinner soos ʼn harde slag wat hulle herinner aan ʼn geweerskoot.
Kan jy dink wat gebeur met iemand as hulle herhaaldelik aan hierdie leidrade blootgestel word? Al hierdie simptome stapel op, raak meer intens en gereelde blootstelling eskaleer die PTSV simptome.
- Dit is duidelik dat sulke mense na ʼn traumatiese insident ontlont (debrief) moet word. Dit gebeur ongelukkig nie altyd nie. Daar moet ook in gedagte gehou word dat dit nie noodwendig die bedreiging van jou eie lewe nie, maar ook die aanskouing van ʼn gebeurtenis waar iemand anders se lewe bedreig of geneem is, PTSV tot gevolg kan hê. Hoe meer onbehandelde gebeure, hoe sterker die snellers en hoe moeiliker en langer die herstel van PTSV. Studies het gewys dat mense wat dadelik ontlont word, ʼn beduidende kleiner kans het om PTSV te ontwikkel.
- Hierdie uitdaging word vererger deurdat ʼn PTSV nie onmiddellik na ʼn trauma ontstaan nie en kan maande, selfs jare later ontstaan. Die individu mag voel dat hulle niks makeer nie en makeer inderdaad ook nie veel nie. ʼn Klinikus sal ook bitter min, indien enige van hierdie simptome aanvanklik raaksien. Wanneer die simptome wel toeslaan, mag die individu nie verstaan waar dit nou skielik vandaan kom nie.
Die effek op die getraumatiseerde persoon se lewe kan juis gesien word in die simptome van PTSV.
- Dit is werklik moeilik om met so iemand hieroor te praat, om te hoor wat hulle voel, want soos jy in die kriteria van PTSV kon agterkom, wil hulle nie hieroor praat nie. Die terapie wat tans die botoon voer is dat ware manne nie huil nie. Cowboys huil mos nie. ‘n Glas of of twee te veel alkohol sal die werk doen en die uitdaging oplos en hulle drink net voort. Party maak selfs grappies daaroor in die hoop dat dit teen môre iets van die verlede sal wees, maar die herinneringe, visuele herinneringe in die onderbewuste gaan nie weg nie. Daardie inprenting in die onderbewuste gaan nooit weg nie.
- Wat hier gebeur, is dat ons verskillende verdedigingsmeganismes het om ons teen sulke herinneringe te beskerm. Een van die beste verdedigingsmeganismes wat in PTSV gebruik word, is suppressie (oftewel onderdrukking). Wat letterlik hier gebeur is dat daar ʼn groot betonblok op hierdie emosies geplaas word wat die emosies letterlik onderdruk. Hierdie onderdrukte emosies druk egter terug, dis emosies van trauma, woede en depressie. Nou ontstaan ‘n stryd tussen die woede en trauma wat op druk terwyl die verdedigingsmeganisme afwaarts druk. Hierdie teenwigte veroorsaak ʼn angstigheid (of stres in algemene terme). Stres in die letterlike sin van die woord is wanneer daar druk van twee teenoorgestelde pole uitgevoer word. Hierdie pynlike ervaringe dreig om deur die oppervlakte te breek.
Alkohol laat jou ontspan en onderdruk angs. Die gebruik van alkohol is ook ʼn poging om ontslae te raak van hierdie pynlike ervaringe en dit net te vergeet. Wanneer so ʼn persoon onder die invloed is, kom hierdie onderdrukte emosies, veral woede, na vore, wat meestal, foutiewelik op die mense na-aan hulle uitgehaal word. In die meeste gevalle manifesteer hierdie woede tuis in die vorm van gesinsgeweld, selfdood of selfs gesinsmoord en dra hul wederhelftes en kinders die gevolge van ongeprosesseerde trauma. Moord en selfdood is die uiterste vorm van woede wat op die uiteinde teen die mense naaste aan die getraumatiseerde persoon en hulself gerig word.
Daarmee saam kan daar gevolge wees van depressie, angs en ook sosiale onttrekking.
- Daar is hierdie idee, veral onder polisiemanne en soldate dat PTSV net met swak mense gebeur. Die waarheid is dat PTSV met die sterkste van ons kan gebeur. Daar gebeur ʼn chemiese reaksie in jou brein, soos met almal van ons. Dit kan met enige een van ons gebeur en het niks te make met of jy swak of sterk is nie. Dis in hierdie opsig net soos kanker. Kanker kan met ʼn sieklike persoon gebeur of met ʼn fikse, sterk rugbyspeler. PTSV diskrimineer nie. Van kinders tot sterk soldate kan PTSV kry.
- Om hulp te soek is nie ‘n swakheid nie. Dis juis wanneer jy sterk is en die waagmoed het om ‘n uitdaging te erken en hulp daarvoor te soek.
Terapie
Terapie vir PTSV kan eintlik so eenvoudig wees. Deur middel van BWRT of hipnose met die gebruik van NLP, kan so ʼn gebeurtenis of gebeure redelik vinnig gedesensitiseer word. Die dae is verby waar ʼn terapeut die kliënt terug neem na die ervaring en hulle dit laat herbeleef. Dit word deesdae op ʼn gedissosieerde manier gedoen. Kliënte ervaar minimale trauma en is verbaas wanneer hulle agter kom hoe maklik dit werklik is om van hierdie simptome ontslae te raak, sonder dat hulle enige iets daadwerklik hoef te doen. Die getraumatiseerde hoef nie te ly nie. Dis nie nodig om jou lewe te verwoes met hierdie spoke nie. Gryp die beskikbare hulp met beide hande aan! Dit is daar. Dit is ʼn geskenk van die gode.
Toets jouself – ly jy aan PTSV?
Die Impact of Event Scale (IES) is ʼn kort vraelys van 15 vrae wat die hoeveelheid ongemak wat jy met ʼn spesifieke gebeurtenis assosieer, kan meet. Dit is in 1979 deur Mardi Horowitz, Nancy Wilner en William Alvarez ontwikkel.
Studies wys dat die IES nuttig is in die identifisering van beide trauma en minder intense vorme van spanning. Dit toon ook aan hoeveel so ʼn traumatiese gebeurtenis jou tans negatief beinvloed.
Hier volg die vrae en instruksies vir die Impact of Event Scale.
Hieronder volg ʼn lys van opmerkings wat gemaak is deur mense na spanningsvolle lewensgebeurtenisse. Merk asseblief elke item om aan te toon presies hoe gereeld jy die volgende stellings ervaar het gedurende die laaste sewe dae.
Impact of Event Skaal (15 vrae):
Kies slegs een antwoord per stelling.
Impact of Event Skaal (15 vrae):
Kies net een antwoord in elke ry.
| Glad nie | Skaars | Soms | Dikwels | ||
| 1. | Ek het daaraan gedink selfs al wou ek nie. | 0 | 1 | 3 | 5 |
| 2. | Ek het dit vermy om myself toe te laat om ontsteld te raak toe ek daaroor gedink het of daaraan herinner was. | 0 | 1 | 3 | 5 |
| 3. | Ek het probeer om dit uit my geheue uit te verwyder. | 0 | 1 | 3 | 5 |
| 4. | Ek het probleme gehad om aan die slaap te raak of om aan die slaap te bly omdat beelde of gedagtes hieroor in my kop bly terugkom het. | 0 | 1 | 3 | 5 |
| 5. | Ek ervaar golwe van sterk gevoelens hieroor. | 0 | 1 | 3 | 5 |
| 6. | Ek het drome hieroor gehad. | 0 | 1 | 3 | 5 |
| 7. | Ek het weg gebly van dinge wat my hieraan herinner het. | 0 | 1 | 3 | 5 |
| 8. | Ek het gevoel asof dit nie gebeur het het nie of asof dit nie regtig was nie. | 0 | 1 | 3 | 5 |
| 9. | Ek het probeer om nie hieroor te praat nie. | 0 | 1 | 3 | 5 |
| 10. | Beelde hiervan het in my gedagtes ingespring. | 0 | 1 | 3 | 5 |
| 11. | Ander dinge het my hieraan laat dink. | 0 | 1 | 3 | 5 |
| 12. | Ek was bewus daarvan dat ek steeds baie gevoelens hieroor het, maar ek het het dit nie hanteer nie (daarmee “gedeal nie”). | 0 | 1 | 3 | 5 |
| 13. | Ek het probeer om nie hieraan te dink nie. | 0 | 1 | 3 | 5 |
| 14. | Enige iets wat my hieraan herinner, het gevoelens hieroor na my terug gebring. | 0 | 1 | 3 | 5 |
| 15. | My gevoelens hieroor was soort van dood of dof of gevoelloos. | 0 | 1 | 3 | 5 |
_____________________________________
TOTALE IES: ___________
Telling: Neem die totaal van elke kolom en tel dit op vir ʼn finale spannings telling.
Byvoorbeeld, elke item wat gemerk is in die “glad nie” kolom se waarde is 0. Elke item wat gemerk is in die “skaars” kolom se waarde is 1. In die “soms” kolom is die waarde 3 en in die “dikwels” kolom is die waarde 5. Tel die totale van al die kolomme op om die totale telling te verkry.
Die volgende afdeling sal jou help om die betekenis van jou telling te verstaan.
Wat beteken my telling op die Impact of Event Scale?
Die Impact of Event Scale is nuttig in hoe ʼn spanningsvolle gebeurtenis jou mag raak. Byvoorbeeld, op die oorspronklike 15-item Impact of Event Scale (IES), mag die tellings wissel van 0 tot 75. Jy kan die IES tellings as volg interpreteer:
Interpretasie van die Original Impact of Event Skaal:
0 – 8 Geen betekenisvolle impak
9 – 25 Impak gebeurtenis – jy mag geraak wees.
26 – 43 Kragtige impak – jy is verseker geraak. Jy het dalk terapie nodig.
44 – 75 Ernstige impak – dit mag jou vermoë om te funksioneer ernstig beïnvloed. Terapie is verseker nodig.