Breinwerkende Rekursiewe Terapie® (BWRT)
Wat is BWRT?
Dit maak nie saak wat jou uitdaging is nie – dit is hoogwaarskynlik dat hierdie kragtige nuwe terapie jou kan help om dit te bowe te kom. BWRT is ‘n deurdagte, moderne metode wat sy oorsprong het in die jongste navorsing in die tegnologie van die brein en hoe jou breinpatrone jou welsyn raak. As jy dus weet presies hoe jy wil voel en waar jy wil wees, maar net nie daarby kan uitkom nie, is BWRT dalk net die antwoord vir jou uitdaging.
Dit maak nie saak hoe lank jou uitdaging al met jou saamkom of hoeveel keer jy al trauma ervaar het nie, BWRT kan jou juis help om te kies hoe jy daaroor wil voel en hoe jy gaan optree. BWRT beteken dat jy nie langer daarmee hoef te worstel nie en dat jy dit maklik kan oorwin.
BWRT is ‘n nuwe, rewolusionêre, hoogs effektiewe en grondverskuiwende terapie, sowel as ‘n dinamiese terapeutiese model van sielkunde wat perfek inpas in die huidige idees van neurowetenskap. Dit is een van die mees opwindende verwikkelinge in psigoterapie, aangesien die proses blitsvinnig en effektief is om verandering teweeg te bring in die minimum aantal sessies, in vergelyking met ander terapieë.
BWRT is in 2011 ontwikkel deur Terence Watts (bygestaan deur Rafiq Lockhat as navorsingsvennoot). Dit werk vanuit die beginsel dat ons brein op gebeure reageer en besluite daarop gebaseer neem, voordat ons selfs fisies daarvan bewus raak. Jou brein is egter ongelooflik aanpasbaar en kan nuwe dinge op ‘n vinnige en effektiewe manier aanleer.
BWRT verskil van enige vorm van konvensionele terapie, deurdat dit nie onnodige vrae vra nie. Dit doen ook nie analise paralise nie. Dit mors ook nie onnodige tyd nie. Ons werk met jou brein en ons verander letterlik jou neurologie met neurowetenskap op ‘n vinnige, veilige en effektiewe manier.
BWRT pas goed in by nuwe denke in die veld van sielkunde. BWRT, net soos Sielvolheid (Mindfulness), NLP en Positiewe Sielkunde is geneig om weg te beweeg van die tradisionele, patologiese model van sielkunde waar daar gefokus word op dit wat verkeerd is met die mens. BWRT fokus eerder op die oomblik, die hier-en-nou wat uiteindelik ‘n impak op jou toekoms het – waar jy wil wees. BWRT help jou om jou uitdagings te oorkom, wat tans die rede is hoekom jy nog nie daar kon uitkom nie.
Daar word gebruik gemaak van natuurlike sielkundige prosesse om neuronbane wat tans ongewenste gedrag, gedagtes en gevoelens tot gevolg het, te herstel.
BWRT kan jou brein se natuurlike reaksie op enige trauma in sy spore stop en daardie negatiewe neuronbaan herlei na ‘n positiewe reaksie, om sodoende negatiewe toestande soos depressie en angs te oorkom. BWRT gebruik geen toestelle, gevorderde tegnologieë of medikasie nie. BWRT behels bloot kommunikasie tussen kliënt en terapeut soos baie ander vorme van terapie.
Watts glo dat baie fisiese gesondheidsprobleme gewortel lê in – of ten minste beinvloed word deur – sielkundige uitdagings. Daarom kan BWRT ook effektief wees om die simptome van diabetes, veelvuldige sklerose en ‘n aantal outo-immuunsiektes te hanteer. Hy sê: die doel van BWRT is om mense die lewe te gee wat hulle verdien – en dit is presies wat BWRT doen.
Dit gaan daaroor om mense tevredenheid in hul lewe te gee en om hulle as gelyke aan andere te laat voel. BWRT doen dit beter as enige ander terapie wat ek nog ooit gebruik het.
Hoe werk BWRT?
Ons leer iets nuuts aan deur dit herhaaldelik oor en oor te doen tot dit vir ons tweede natuur word. BWRT gebruik dieselfde beginsel om nuwe neurologiese paadjies (neural pathways) oftewel in mooi Afrikaans, neuronbane in ons brein te skep. BWRT poog om ongewensde denke, gedrag en gevoelens wat jy wil verander, te vervang met beter, meer gewensde denke, gevoelens of optredes. BWRT gebruik ook jou eie kragtige verbeelding, kreatiewe denke en denkprosesse om juis hierdie doelwitte te bereik.
BWRT is uniek en geïnspireer deur die navorsing van die Nobel pryswenner, Benjamin Libet (in 1983). Sy navorsing het gewys dat daar ‘n meetbare wagperiode is (meer as ⅓ van ‘n sekonde) tussen die oomblik wanneer die brein op enige stimulus reageer en wanneer ons bewus raak van daardie aksie. Met ander woorde, teen die tyd wat ons bewus raak van wat ons doen, is ons alreeds besig om dit te doen nog lank voor ons fisiese brein betrokke raak.
Ons kan dit grafies as volg voorstel:
Merkwaardig genoeg, is selfs die besluit wat ons neem om van gedagte te verander, reeds geneem voordat ons bewustelik daardie besluite geneem het. BWRT gee vir ons die geleentheid om in daardie spasie tussen die begin van ‘n optrede en die bewuswording daarvan te werk. Ons kry dus die geleentheid om negatiewe, destruktiewe gedagtes te verander asof hulle nooit daar was nie. Ek vertel jou later meer hiervan.
Hierdie terapie is grootliks inhoudvry. Jou eie denkprosesse word gebruik om ‘n verligting vir jou simptome te kry sonder dat jy regtig hoef te sê presies wat dit is wat jou uitdaging is. Daar word gebruik gemaak van ‘n streng protokol wat maksimum effektiwiteit en totale veiligheid verseker.
Spesifieke uitdagings wat met BWRT behandel kan word:
- enige vorm van trauma;
- posttraumatiese stresversteuring (PTSV);
- seksuele trauma;
- verwerpingskwessies;
- uitdagings met vertroue;
- verwydering van negatiewe emosies;
- stres en angs;
- paniek-aanvalle;
- gewoontes, insluitende rook, dobbel, ooreet, drink, koop ens;
- vrese, insluitende die vrees vir mislukking;
- fobies;
- obsessief kompulsiewe versteuring (OKD);
- verhoudingsuitdagings;
- rousmart;
- depressive, asook
Die voordele van BWRT
Volgens Watts lê BWRTse doeltreffendheid daarin dat dit mense met ‘n verskeidenheid van uitdagings kan help. Van depressie en angs tot obsessiewe-kompulsiewe versteuring (OKD oftewel, OCD) en fobies. Die proses van BWRT is, volgens hom, uiters vinnig en neem dikwels net een sessie om jou uitdaging te oorkom.
Watts voeg by dat dit voordelig is om mense met post-traumatiese stresversteuring (PTSV), spesifiek na ‘n groot trauma, veral na die grens-oorlog in Suid-Afrika, te behandel. Daardie soldate het na net een BWRT sessie, in vergelyking met die drie-week tydraamwerk wat normaalweg geassosieer word met die toestand, herstel.
Alhoewel daar dikwels na BWRT verwys word as ‘n kitsoplossing, is dit volgens Watts nie net ‘n korttermynoplossing nie, aangesien dit ‘n baie diep, permanente verandering in mense veroorsaak. Watts sê die terugvalsyfer na BWRT-behandeling is baie laag, met meer as 99% van pasiënte wat goed op BWRT reageer en geen opvolgsessie benodig nie.
BWRT is ‘n vinnige proses
Verby is die dae van maande en maande se terapie. Jy mag verbaas wees oor hoe vinnig BWRT positiewe gevoelens vir jou teweeg mag bring. Ongeag die oorsprong of die erns van jou uitdaging, of hoe lank jy dit al mag ervaar – die benadering bly dieselfde. Al wat ons nodig het om te doen is om jou neurologie te verander. Dit alles gebeur in een of twee BWRT sessies, afhangende van jou uitdaging.
BWRT is ‘n private proses
Ons kan enige uitdagings suksesvol behandel sonder dat jy nodig het om daaroor te praat. Jy sal nie uitgevra word oor jou kindertyd, jou gesin, sekslewe, verhoudings, jou verlede of enigiets wat jy graag privaat sou wou hou nie, behalwe as jy die behoefte het om daaroor te praat. Die enigste inligting wat ek benodig is om te weet wat jy wil bereik, hoe jy wil voel en waar jy wil wees.
BWRT is nie indringend nie
Al die werk word op ‘n bewustelike vlak gedoen. Jy sal dus die heeltyd bewus wees van die proses. Soos genoem, gaan ons ook nie in die detail van jou uitdaging in nie. Juis hierom sal jy nie weer getraumatiseer word nie.
BWRT fokus op die uitkoms
BWRT is nie regtig geïnteresseerd in waar jou uitdaging vandaan kom nie. Ons fokus eerder op die positiewe uitkoms daarvan – waar jy wil wees.
Dit maak nie saak hoe lank terug dit gebeur het of die intensiteit daarvan nie
Dit maak nie saak hoe traumaties ‘n voorval was of vir hoe lank jy aan hierdie simptome ly nie. Die brein werk nie chronologies nie. Dit heg geen waarde aan ruimte en tyd nie. Dit fokus slegs op emosies. Dit maak ook nie saak hoe ernstig ‘n voorval was of hoe ernstig jou depressie, angs of watter simptome ookal as gevolg van jou trauma mag wees nie. BWRT werk met die gevoelens en emosies wat jy in die hier en nou ervaar. Die voorval self is net die sneller vir jou emosies, gevoelens en gedrag.
Die resultate is blywend
Alhoewel ou neuronbane nie uitgevee kan word nie, kan jy nuwe neuronbane vestig en kan nuwe boodskappe deur die nuwe neuronbane beweeg wat nie ‘n terugslag sal beleef nie.
Wat gebeur tydens ‘n BWRT sessie?
Jou brein is soos ‘n rekenaar. Terloops: alle rekenaar prototipes is ontwerp volgens die menslike brein. Die sagteware wat jou brein gebruik is jou herinneringe en emosies. Hierdie ou sagteware skep egter vir jou uitdagings. Ons gaan letterlik hierdie ou sagteware herskryf en vervang met nuwe, positiewe en opbouende sagteware.
Jy sal deur die proses gelei word met jou oë toe en in ‘n totaal wakker staat totdat jy jou verlangde gevoel bereik het. Alhoewel jy volledig bewus is van alles wat aangaan, mag jy moontlik nie altyd verstaan wat aan die gebeur is nie. Tydens die ongeveer 20 tot 25 minute proses sal jy ‘n beduidende verligting van jou simptome ervaar wat permanent van aard kan wees. Hierdie prosesseringsproses kan tot 72 uur, na die aanvanklike sessie, voortduur. Jy mag selfs gedurende hierdie periode self serger as vantevore voel. Dit is baie raar dat dit sal gebeur, maar dit is egter goeie nuus, aangesien jou onderbewuste besig is om nuwe neuronbane te bou.
Jy sal gedurende die sessie gelei word om jou eie gedagtes te volg – sonder dat ek eens nodig het om te weet wat daardie gedagtes is. Die proses is heeltemal logies, prakties en plat op die aarde. Al wat jy benodig om suksesvol te wees is om regtig positiewe veranderinge in jou lewe te wil aanbring.
Hierdie verandering word op ‘n baie spesiale manier gedoen om ‘n totaal natuurlike verandering in jou teweeg te bring. Hierdie verandering kom vanuit jouself, eerder as vanuit voorstelle wat ek sou gee.
Jy hoef nie die komplekse neurowetenskaplike teorie agter BWRT te verstaan om ‘n verskil in jou lewenskwaliteit te maak nie, alhoewel ek dit in die volgende afdeling volledig verduidelik.
Die neurowetenskap agter BWRT
Ek gaan vervolgens BWRT op twee maniere aan jou verduidelik. Die eerste benadering is nie noodwendig akademies korrek nie, maar sal vir jou ‘n idee gee van die meganika agter BWRT. Die tweede verduideliking is meer wetenskaplik van aard.
‘n Eenvoudiger benadering
Jou brein bestaan uit tussen 85 tot 100 triljoen neorone en elkeen is op sy beurt weer verbind met ‘n volgende 1 000 tot soveel as 10 000 ander neurone. Dit beteken dat daar duisende triljoene sulke verbindinge in jou brein mag wees.
Neurone lyk amper soos koring-are in ‘n koringland. Het jy al gesien hoe dit lyk wanneer ‘n wind deur ‘n koringland waai? Dit lyk asof een aar aan ‘n ander raak, wat weer op sy beurt aan die volgende een raak, en so gaan dit voort. Dit lyk letterlik asof daar ‘n paadjie deur die koringland vorm.
Jou brein werk min of meer op dieselfde beginsels. Daar is triljoene neurone in jou brein. Vir elke denkproses wat jy het is daar ‘n neuron wat aan die volgende een raak, wat op sy beurt weer aan ‘n volgende neuron raak en dit vorm ‘n neural pathway, of in Afrikaans ‘n neuronbaan.
As jy ontelbare neurone in jou brein het, dink net hoeveel ontelbaar verskillende verbindings en neuronbane jy in jou brein het. Jy het vanoggend jou skoenveters vasgemaak, waarvoor jy ‘n neuronbaan benodig. Jy het tande geborsel waarvoor jy ‘n ander neuronbaan benodig. Ek kan nie begin om te dink hoeveel neuronbane jy sou benodig om jou motor te bestuur of om jou beroep te kan beoefen nie.
Volgens BWRT is jy ‘n totaal perfekte funksionerende individu, met al jou triljoene neurobane wat in perfekte bane loop. Indien daar net een neuronbaan, uit al die triljoene neuronbane, in die verkeerde rigting loop, kan dit jou hele sisteem belemmer, selfs die uitkoms verander.
Deur middel van net taal en verbeelding kan ons met BWRT hierdie neuronbaan stuit en herkanaliseer na ‘n baan wat vir jou werk en jou lewe kan verander. Ons hoef voorts nie deur elke uitdaging in jou lewe te werk nie. Dit werk soos die omstamp van domino’s. Alle domino’s met dieselfde emosionele tema sal dus omval sodra jy die mees traumatiese domino van jou uitdaging omgestamp het. Daarom hoef ons nie deur elke uitdaging in jou lewe te werk nie. Al jou uitdagings met dieselfde emosionele tema sal omval as ons die mees traumatiese ervaring wat met daardie emosie geassosieer word, met BWRT gedesensitiseer het.
‘n Meer ingewikkelde benadering (opsioneel en slegs vir mense wat meer van die neurowetenskap agter BWRT wil verstaan)
Soos ek reeds genoem het, bestaan jou brein uit tussen 85 tot 100 triljoen neurone (breinselletjies) wat reeds op sewejarige ouderdom byna volwasse is (feitlik met dieselfde gewig en grootte as ‘n volwasse brein). Daarna is daar nie meer ‘n verdere groei van die aantal selle nie, maar ‘n ingewikkelde netwerk van komplekse en ingewikkelde verbindinge tussen verskillende selle vind nou verder plaas. Daar is duisende triljoene sulke verbindings.
Sommige neurone werk onophoudelik terwyl ander weer net met tussen-poses, sodra hulle boodskappe van ander neurone ontvang, werk. Elkeen van hierdie selle produseer ongeveer 20 miljoen milli-volt eenhede krag per sel en inligting word gekodeer (volgens ‘n bepaalde kode) deur die voortdurende herhaling van impulse. Dit is hierdie elektrisiteit wat ons kan sien op ‘n E.E.G. (‘n toestel wat breingolwe registreer en op papier weergee in die vorm van ‘n grafiek).
‘n Neuron bestaan uit 3 dele:
- Die selletjie self wat ‘n kern bevat en die nukleus genoem word.
- Die dendriete, wat die takke vorm vir die ontvanger draadjies (vgl. ‘n telefoon-draad tussen 2 telefone) en boodskappe optel wat vanaf ander neurone afkomstig is.
- Die akson, wat die stuur-draadjies genoem word waarlangs die boodskappe gestuur word nadat dit deur die kern of nukleus geëvalueer is. Dit word dan weer deur die ontvanger draadjies verder aangestuur.
Die stuur-draadjie (akson) van die een sel raak nooit aan die ontvanger-draadjies (dendriet) van die ander selle nie. Daar is ‘n gaping tussenin wat die sinaps genoem word. Die boodskap moet dus oor hierdie gaping spring om verder vorentoe te kan aanbeweeg. Dan word die hele proses deur die daaropvolgende sel weer herhaal. Breinboodskappe kan hierdie sprong 500 tot 1000 keer per sekonde uitvoer, maar die gemiddelde spoed is ongeveer 100 keer per sekonde.
Daar is in werklikheid geen verbinding tussen twee neurone nie en daar is ook nie ‘n elektriese stroom tussen hulle nie. Die boodskappe wat deur die stuur-draad gestuur word beland in klein protein blasies wat boutons (Frans vir knoppies of knopies) genoem word, omdat die blasies soos knoppies of knopies lyk. Die werklike oordrag van boodskappe oor die sinaps vind egter op ‘n chemiese wyse plaas. Chemikalieë wat deur die boutons geproduseer word skiet of spuit die boodskap van die een kant na die ander kant oor die spasie tussenin (soos ‘n springmielie wat verhit word, pof en dan spring). Indien die proses oor en oor herhaal word, vermeerder die boutons beide in grootte en hoeveelheid, wat die gaping (sinaps) tussen die selle verklein. Sodoende word die afstand waaroor die boodskap moet spring al hoe nouer. Hoe meer boutons daar is, hoe minder energie word benodig en op die manier word gewoontes gevorm. Hoe meer kere ons dus ʼn handeling uitvoer, hoe stewiger word die gewoonte vasgelê. Boutons, wat boodskappe oordra langs die gevestigde paadjies in die brein word as permanent beskou. Dus: as ʼn gewoonte eers vasgelê is in die brein, is daardie gewoonte permanent. Dit gaan nie weer weg nie.
Ons verloor nie ons bestaande boutons nie, maar ons kan altyd weer nuwes bou. Dink aan jou gewoontes. Dink dan aan jou boutons. Hoe gaan jy jou gewoontes verander as jy nie van jou boutons ontslae kan raak? Hoe gaan jy jou getroue senders van jare lange gewoontes, patrone verander?
Gewoontes soos:
- hoe gaan dit met jou? – goed dankie en met jou?
- ruik sigaretrook – steek ʼn sigaret aan;
- hoor die foon lui – tel dit op en antwoord;
- baas kom in die vertrek – lyk dadelik besig;
- gaan na ʼn troue – word emosioneel;
- sien ʼn leer teen ʼn muur – loop om die leer;
- sien ʼn verkeersbeampte met ʼn spoedkamera – ry dadelik stadiger;
- ruik jou gunsteling gereg – mond water.
Hoe kan mens al hierdie gevestigde gewoontes verander? Kan ons dit enigsins verander?
Ja, ons kan. Die bemoedigende nuus is: ons weet vandag dat al kan ons nie ou boutons vernietig nie, kan ons nuwe boutons laat groei en nuwe paadjies rondom die oues bou (soos tydens ʼn hartomleiding-operasiewaar die bloed na die hart deur ʼn alternatiewe roete begelei word). Dit is altyd die doel van terapie: om jou te help om nuwe boutons te bou omdat die oues nie voldoende werk nie. Dit verg inspanning van jou, want energie is die belangrikste faktor wat jy benodig om nuwe paadjies en boutons te kan bou, en nie tyd nie.
Energie bou nuwe gewoonte paadjies
As ons ʼn nuwe paadjie deur ʼn koringland wil laat loop, kan ons dit vinniger doen deur herhaaldelik en dikwels ons voete hard en ferm op die grond neer te sit. Doelgerigtheid verskaf maksimum energie. Dit maak nie saak watter soort energie jy in jou liggaam ervaar nie – of dit nou emosionele-, fisiese- of seksuele energie is – al hierdie vorme van energie kan gebruik word om nuwe gewoontes (nuwe boutons) te bou of te kweek. Om byvoorbeeld te leer dans is ʼn goeie voorbeeld om nuwe boutons te bou.
Om mee af te sluit
Ou, gevestigde gewoontes kan deur BWRT herskryf word. ‘n Nuwe, positiewer jy, ‘n beter toekoms is binne jou bereik. Moontlik gemaak binne ‘n 20 – 25 minute BWRT-sessie.